Wat is die mens! (2)
Wat is die mens! (2)
Daar is natuurlik nie net ooreenkoms tussen God en mens nie. Daar is ook verskil. Hierdie verskil is enersyds daar omdat God wel Gód is. God het ons geskep en God het ons deur Christus verlos. Hierop kan ons net dankbaar reageer. Ons kan nie God wees nie, maar word tog opgeroep om soos God te wees. Andersyds is daar natuurlik ook verskil tussen God en mens omdat ons ménse is. Daar is ‘n fyn balans in wat ons moet wees en wat ons nie moet wees nie. Wanneer ons met God probeer ooreenkom juis wanneer ons anders moet wees, is dit sonde en wanneer ons anders is juis wanneer ons moet ooreenkom, is dit ook sonde. So kan ons oor die eeue heen duidelik sien hoe die mens hierdie rolle voortdurend verwar het.
Ons kan dit ook anders probeer uitdruk. Omdat God ‘n verbond met die mens gesluit het, is daar nou ‘n ontvangkant sowel as ‘n geekant in hierdie verhouding – Ek sal vir jou God wees en jy sal vir my ‘n volk wees. Gehoorsaamheid kan nie sonder gesag bestaan nie, soos dankbaarheid nie sonder genade, en hoop nie sonder beloftes nie. Maar hierdie hoofletter “Ja” van God vir die mens, moet voer tot die kleinletter “ja” van mens tot mens. Soos ons van God ontvang en aan God gee, so moet ons ook aan mekaar gee en van mekaar ontvang. Sonde is nou wanneer hierdie wisselwerking van gee en ontvang nie deur ons gereflekteer word nie.
Wanneer die individuele mens alle fokus kry, word die mens in sy of haar enkelvoud, losgemaak van groter verbande en dus atomisties gesien. Die individu se belange mag, volgens hierdie siening, nooit deur die gemeenskap of groep se belange oorheers word nie. Vryheid is dan individuele vryheid, gelykheid die gelykheid van individue en regte die regte van individue. Daarom word ook gesê dat toe die eerste mens, teen God se uitdruklike verbod, van die verbode vrug geëet het, dit eintlik ‘n triomf van die individuele mens was wat in vryheid self besluit het wat vir hom of haar die beste is. Adam was nie die eerste Hebreër nie, ook nie die eerste man nie, maar die eerste mens. Die feit dat hierdie mens die beeld van God is, gaan hierdie gedagtegang voort, hou in dat hy of sy oor ‘n waardigheid (dignity) beskik wat verhewe is bo elke organisasie van die menslike gemeenskap of selfs die staat.
Dit beteken dan ook dat hierdie individuele mens inherent goed is en tas dit die mens wesenlik aan om die teendeel te beweer. Die beeldskap waarborg hierdie goedheid en vermoë tot regte keuses. Nie die resultaat van die keuse is egter die vryheid nie, maar die keuse self. Daarom kan die voorstander van hierdie siening ook sê: al sal ek sterf voordat ek jou standpunt aanvaar, is ek ook bereid om te sterf vir jou reg om jou standpunt uit te spreek. Die mens word dus intrinsiek in hom of haar die gesag en die norm vir alles.
Hierdie mens het basiese regte en dit moet in die wetboek gewaarborg word. Hierdie reg is onvervreembaar, onaantasbaar en onvernietigbaar. Dit bepaal menswees. Bekend is die stelling van Artikel 1 van die Verenigde Nasies se bekende Universele Verklaring van die Regte van die Mens (1948): “Alle mense is vry en gelyk gebore wat waardigheid en regte betref.” Daarom moet daar ‘n gees van leef en laat leef heers. Dit beteken natuurlik dat alle norme gerelativeer word omdat elkeen geregtig is op ‘n eie maatstaf.
Die belangrikste gebrek by ‘n mensbeskouing waar die individu oorgeaksentueer word en waar nie ‘n gemeenskaplike waardesisteem geld nie, is ‘n willekeurige vryheidsbegrip aanwesig en natuurlik ook die miskenning van grotere verbande.
Die aksentuering van die individu het darem ook waarde. Die oortuiging moes uiteindelik seëvier dat een ras of een geslag nie verhewe bo ‘n ander is nie. Die neiging om die uitdrukking “beeld van God” in Genesis 1:27, Christologies in terme van Kolossense te verstaan, is nie korrek nie. Hierdie afleiding is nie net eksegeties foutief nie, maar laat die moontlikheid inderdaad oop dat die een punt van Genesis 1:26 naamlik dat die méns-homo sapiens-die beeld van God is, nie gehoor is nie. (Genesis 9:24-27) probeer interpreteer as die een mens se verhewenheid oor ‘n ander nie. Hierdie dwaling was wel tot in die agtiende eeu gebruik om slawerny te regverdig.
Die waarde van die individuele mens het ook die betekenis dat die posisie van die vrou teenoor die man herwaardeer is. Vir hoe lank het die kerk nie die vrou ondergeskik aan die man verklaar nie! (Wanneer gaan die huweliksformulier tog aangepas word!). Dit is maar kwalik drie dekades dat die vrou in Afrikaanssprekende kerke in die amp erken is. Maar hierdie besluit het nie maklik gekom nie! Die OAV wou byvoorbeeld nog Febe in Romeine 16:1 slegs ‘n dienares noem en nie ‘n diaken nie, ten spyte van die duidelike Grieks! Die boodskap van Galasiërs 3:28 bly egter deurslaggewend vir die verstaan van die posisie van die vrou: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.” Dit is opmerklik dat Paulus in hierdie teks nie volstaan met die uitdrukking, “Jood of Griek” nie (per slot van rekening gaan die argument oor die feit dat Grieke nie besny hoef te word as hulle tot geloof kom nie), maar oorgaan om “slaaf of vry, man of vrou”, by te voeg. Duidelik word die uiterste konsekwensie getrek: nêrens onder Christene hoort daar diskriminasie nie. Opvallend is dat daar letterlik staan, “man en vrou” en nie man of vrou nie. Dit is dus ‘n teruggrype na die uitdrukking in Genesis 1:27 wat vir ons wil sê dat dit geen “skeppingsordening” is dat man en vrou in Christus verskillend is nie.
Daar moet ook gewaak word teen die verkeerde verstaan van die goedheid van die mens met sy keerkant van die totale verdorwenheid. In die Reformatoriese denke word die totale verdorwenheid deurgaans in terme van die verlossing van die mens hanteer en nooit absoluut nie. Ons goeie werke kan ons nie red nie. Alleen Christus kan ons red. Maar nou moet ons nie die gedagte van die “oneindige kwalitatiewe verskil tussen God en mens” so ver voer dat die mens as ‘n soort uitvaagsel voor God beskou word nie! Daarvoor is onder andere Psalm 8 se boodskap darem te duidelik. “U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon”. Maar die grootste waarde heg God natuurlik aan die mens wanneer God aan mense gelyk word. God word juis méns!
Wanneer die kollektiewe verstaan van die mens weer geaksentueer word, word gewoonlik op die woord, ha adam (die mens) gewys, as geen aanduiding van ‘n bepaalde geslag of bepaalde stam nie, maar as ‘n soortnaam. Dit gaan in Genesis 1 en 2 dan om die skepping van die mensheid. Daar is ook ‘n verskeidenheid van groepe waarin mense hulle versamel: volk, ras, ideologie, geloof of kombinasies hiervan. (Die enigste prinsipiële onderskeiding wat die Bybel wel ken, is natuurlik die universele geslagonderskeiding van Genesis 1:27, alhoewel dit deur enkeles ontken word).
Die bekende voorbeeld van kollektiewe vergrype van die mens in die Bybel is die verhaal van die toring van Babel (Genesis 11). Hierdie verhaal is die mensdom se gebalde vuis na die lewende God, ‘n teken van menslike selfverheerliking, ‘n simbool van kollektiewe selfvergoddeliking as poging om die wêreld sonder God te organiseer en “naam te maak”. Daarom is dit so jammer dat daar voorbeelde is waar hierdie verhaal as teologiese bewysplaas aangebied word vir die sanksionering van die volkereverskeidenheid (deur o.a. Totius). Dit is ‘n stuk ongehoorsaamheid van die mensdom teenoor God. Vergelyk maar die verband tussen Genesis 1:28 met 11:4.
Hierdie verabsolutering van die kollektiewe het meermale in die geskiedenis neerslag gevind. In ons eeu is daar al byvoorbeeld verklaar dat die enkeling alleen sin het in soverre hy of sy in die volk opgaan. Ander gee weer aan die kollektiewe ‘n ideologiese grondslag wanneer dit verklaar dat alles wesenlik materie is en die mens se sin lê dan in die arbeidsame omgang daarmee.
Dit is die oortuiging dat die versoening in Jesus Christus die herstel van die gemeenskap tussen mense van alle groepe beteken. Dit is die Heilige Gees, die Gees van die Vader, wat die mensheid skep in sy talle variasies en dit is die Heilige Gees, die Gees van Christus, wat die nasies met mekaar en met God versoen. Hierdie versoening kom as gawe sowel as opgawe. Die mees bekende uitsprake hiervoor word gevind in Kolossense 3:10, Galasiërs 3:22 en Efesiërs 2:14,22. Hier sien mens die beeld van Christus. Dit alles voor God en in die natuur.
Alhoewel daar sekerlik nog randstene, of selfs net meer eksplisiet, aan die orde kon kom, word volstaan met die van gees en materie en die implikasie daarvan. Reeds is verwys na die platoniese dualisme van ‘n meerderwaardige gees teenoor ‘n minderwaardige vlees. René Descartes (1596-1650) het die bonatuurlikheid hiervan weggevat en ‘n mensbeskouing daargestel waar die menslike gees die een en die al geword het. Alle bestaan word dan teruggevoer tot wat die denke helder en duidelik kan “vat”. Benewens oneindige voordele, was die nadele van hierdie werklikheidsverstaan erger. Enersyds het dit groot effek op die natuur: want as minderwaardige voorwerp het dit die gees die reg gegee om “dit te onderwerp en daaroor te heers”, met onomkeerbare ekologiese gevolge. Die natuur was vir ons bloot net ‘n verbruikersartikel. Andersyds het dit natuurlik ook groot nadeel vir die mens ingehou. Alhoewel dit die tafel gedek het vir die ontwikkeling van die tegniek en wetenskap, het dit ook sy tol geëis. Nie net is die natuur verby alle limiete geëksploiteer nie, maar ook moes die mens ‘n dure prys betaal. Die mens het agtergekom dat in plaas van in beheer te wees, word hy of sy beheer en is hy of sy gereduseer tot ‘n klein ratjie in ‘n groot masjien. Ja, die mens het nie net die omgewing verloor nie, maar ook hom- of haarself, en uiteindelik sin.
Skrywer: Prof Johan Buitendag