Die ouderdom van die aarde

Die ouderdom van die aarde – Coen Slabber

Anton vra:

Hoe oud is die aarde? Hoe waar is die “gap-teorie”? Is daar ‘n lang tydperk wat afgespeel het tussen Genesis 1:1 en Genesis 1:2?

Antwoord:

Geskryf deur Coen Slabber na ʼn onderhoud met Dr Louw Alberts

Hoe oud is die aarde?

Daar is mense wat glo dat die aarde tussen 6 000 en 10 000 jaar oud is. Hulle aanvaar die ses dae vermeld in Genesis 1 is ses gewone dae elk 24 uur lank. Daarna is die geslagsregisters in die Ou Testament gebruik om die datum van die skepping te bereken. Hulle glo dat Genesis 1 geskiedkundige inligting aan ons oordra. Maar daar was geen mens teenwoordig wat die gebeure kon neerskryf nie. God was die enigste getuie  wat teenwoordig was en Hy het dit in ‘n openbaring aan Adam of Moses of iemand anders bekend gemaak.

Wetenskaplikes het egter bevind dat daar bewyse is dat die aarde heelwat ouer is – tussen 4,5 en 4,6 biljoen jare oud. Omdat God Hom ook in die natuur openbaar, kan hierdie bevindings nie sommer geïgnoreer word nie. Hierdie siening van ‘n “ou aarde” berus veral op geologiese (insluitend fossiele) en radiometriese data (die gebruik van radio-isotope).

 

Hoe waar is die gapingsteorie?

Baie wetenskaplikes aanvaar die wetenskaplike bevindings sonder om die verband met die Genesis 1 verhaal te probeer verduidelik. Ander wil nie Genesis 1 sommer van die tafel af vee nie. Hulle gee die volgende verduidelikings om die twee sienings (ou en nuwe aarde) te probeer versoen:

(a)    Die dae was nie gewone dae soos ons dit ken nie – hulle was baie langer as 24 uur. Ons dae is slegs beelde van God se skeppingsdae.

(b)   Die raamwerk-interpretasie.  Hiervolgens is die gebruik van die sewe dae ‘n raamwerk om die voltooide skeppingswerk voor te stel. Die dae is dus simbolies. Voorstanders wys op die parallellisme tussen dag 1 tot 3 en dag 4 tot 6: Dag 1 praat van lig en dag vier van ligdraers; dag 2 praat van waters en die hemelkoepel en dag 5 van inwoners van die see en voëls wat vlieg in die hemelruim; dag 3 praat van land en dag ses van landbewoners.

(c)    Die gapingsteorie. Daar is wetenskaplikes wat beweer dat Genesis 1:1 – 2 verwys na ‘n tydperk voor die skeppingsdae. Hierdie lang tydperke waarvan die geoloë praat, kan in die periode tussen verse 1 en 2 ingepas word – dit wil sê voor die ses skeppingsdae. Die ses skeppingsdae  verwys dus nie na die oorspronklike skepping nie, maar na die herstel of herskepping van die aarde.

Hierdie is nie ‘n nuwe twispunt nie. Augustinus het reeds gesê dat dit baie moeilik vir die menslike verstand is om die doel van die skrywer met hierdie ses dae te verstaan. Hy wys daarop dat die eerste drie dae nie gewone dae was nie, want daar was geen son nie. Hy het geglo dat die skepping onmiddellik plaasgevind het, maar oor ses dae geopenbaar is, waarskynlik aan die skrywer van Genesis 1.

Vir my is die primêre boodskap van Genesis 1 dat daar net een Skeppergod is.

 

Outeur: Dr Coen Slabber

 




Die kuns van antieke brief

Die kuns van antieke brief – Kobus Kok

Vandag skryf ons sommer vinnig ʼn brief, sms of epos sonder om regtig te beplan. Ons lees dan ook die briewe van Paulus so asof dit vir Paulus en die mense van sy dag net so  vinnig was om gou ʼn brief te skryf en aan iemand anders te stuur. In die antieke Romeinse wêreld was briewe skryf ʼn langsame en dikwels duur proses.

Die antieke mense het amper op enige ding moontlik geskryf, van klei tablette (cuneiform) potskerwe (ostraca), diervelle, hout, ens. antieke_briefDie mees algemene materiaal wat gebruik was, was papirus wat welig in die delta van die Nylrivier gegroei het. ʼn Papirus bladsy in die antieke tyd was ongeveer so groot soos ons A4 bladsy vandag (9.5×11.5 duim) en kon ongeveer 200 woorde bevat. Die penne wat hulle gebruik het was skerpgemaakte veer- of riet-punte en die ink is gemaak van roet en boomgom. Indien die punt van die pen natgemaak is, dan sou die ink bietjie smelt en dan het hulle op die papirus geskryf. Mens kon ook nie sommer net jou foute uitvee nie,  en daarom het mense baie deeglik beplan wat hulle wou sê en dikwels van professionele skrywers gebruik gemaak, bekend as amanuensis. Indien mens dit weet, raak tekste soos  Galasiërs  6:11; 1 Korintiërs 16:21; Kolossense 4:18; 2 Tessalonisense 3:17 en Filemon 19 baie interessant. In eersgenoemde (Galasiërs 6:11) skryf Paulus teen die einde van die brief dat dit nou hy persoonlik is wat met die vreeslike groot letters skryf. Daarmee het hy net vir die ontvangers van die brief aangetoon dat dit regtig hy is wat die brief geskryf het.

In vergelyking met ander antieke briewe tot ons beskikking vind ons die volgende interessante gegewens as dit met Paulus se briewe vergelyk word: Die gemiddele lengte van persoonlike briewe van die antieke tyd is ongeveer 90 woorde. Die korste NT boeke wat ons vandag het (2 + 3 Johannes) bevat nie minder nie as 245 en 219 woorde. Teenoor die bekende Romeinse orator Cicero wie se briewe dikwels net 295 woord beslaan, skryf ons geleerde vriend Paulus gemiddeld 1300 woorde en ʼn brief soos Romeine beslaan nie minder nie as 7100 woorde. Teen die agtergrond van die gemiddelde tendens in die antieke tyd het die NT briewe dus grootskaalse produksies beteken – en dit in ʼn tyd toe die produksie van briewe ʼn duur en langsame proses behels het.

Die briewe in die Nuwe Testament kan soos volg ingedeel op gegroepeer word:

  • Die pastorale Briewe (1 Timoteus; 2 Timoteus; Titus) – hierdie drie briewe is geskryf aan medewerkers van Paulus wat pastorale leierskapposisies in die kerk beklee het.
  • Die gevangenisskap briewe (Efesiërs; Filippense; Kolossense; 2 Timoteus en Filemon) – is die vyf briewe wat wil voorkom of dit geskryf is deur Paulus vanuit die tronk(e).
  • Die algemene briewe (Jakobus; 1+2 Petrus; 1-3 Johannes; Judas) – hierdie briewe het dit almal in gemeen dat dit aan die kerk in die breë gerig is.

Die briewe in die NT moet verstaan word as geleentheidsgeskrifte aan gemeentes. Paulus het byvoorbeeld nooit in sy lewe self gedink dat sy briewe uiteindelik deel sou vorm van ʼn boek wat mense die Christene se Bybel sou noem nie. Paulus die apostel, kerkplanter en leier van gemeentes het gewoon op grond van bepaalde probleme en dies meer, briewe aan gemeentes geskryf omdat hy nie self persoonlik by hulle kon wees nie. Hierdie briewe was genoodsaak deur bepaalde situasies in die gemeentes en dus histories gerig aan bepaalde mense, in ʼn bepaalde tyd en op grond van ʼn bepaalde situasie. Dikwels verwag ons baie meer van die NT briewe van Paulus as wat dit ooit bedoel was om te wees.  Daarom is dit belangrik dat enige iemand wat ernstig is om meer van die Bybel te weet, ook ʼn studie doen rondom die moontlike historiese situasie waarin die briewe geskryf is. Daar is vandag baie boeke op die mark wat agtergrond studie vir mens verskaf. By die Universiteit skryf ons standaard Inleidings tot die Nuwe Testament voor vir studente. Deesdae is hierdie boeke selfs by toonaangewende Christen boekwinkels te koop. Hier onder is enkele bronne:

1.       Powell, Mark Allan 2009. Introducing the New Testament. Grand Rapids: Baker Academic

Du Toit, AB. Handleiding by die Nuwe Testament (band 1-6). Orion Uitgewers. 

 

Outeur: Dr Kobus Kok




Darwinisme en Sosiale Darwinisme

Darwinisme en Sosiale Darwinisme – Coen Slabber

[Hierdie is beslis nie ʼn poging om evolusie te verdedig nie. As wetenskaplike glo ek egter dat ons noukeurig in ons woordgebruik moet wees. Hierdie is ʼn poging om twee begrippe wat dikwels (verkeerdelik) bymekaar gegooi word, te onderskei. Hoekom juis nou? Richard Dawkins se nuwe boek The Greatest Show on Earth – The Evidence for Evolution het pas verskyn en is vinnig besig om op die topverkoperlyste te klim.]

In 1859 – 150 jaar gelede – publiseer Charles Darwin sy bekende boek The Origen of Species. In hierdie 150-jarige herdenking word daar baie oor evolusie geskryf. Die probleem is dat mense nie altyd seker is waaroor hulle skryf nie. Die vraag wat ek op die tafel sit, is: Is Darwinisme en sosiale Darwinisme dieselfde ding?

Darwinisme

Met sy boek het Darwin wetenskaplikes se verstaan van biologie radikaal verander. Wat hy gedoen het, is om ʼn voorstel te maak waarin hy ʼn meganisme beskryf vir die geleidelike verandering van spesies – natuurlike seleksie. Hierdie teorie van natuurlike seleksie staan as Darwinisme bekend. Deur hierdie teorie so sterk aan die naam van ʼn enkele wetenskaplike te koppel, mag mense laat glo dat ons  hier te doen het met ʼn kultus van ʼn enkele wetenskaplike wat slaafs deur ander nagevolg word. Dit is nie waar nie, want honderde wetenskaplikes het onafhanklik bydraes gemaak tot die moderne teorie van evolusie.

Toe Darwin die meganisme van natuurlike seleksie daargestel het, het hy nie die besonderhede van oorerwing verstaan nie. Gregor Mendel, ʼn priester, se eksperimente met ertjies was reeds aan die gang. Hy ontrafel die presiese manier waarop eienskappe oorgeërf word. Die sintese van hierdie twee teorieë – Mendel se genetika en Darwin se natuurlike seleksie – staan as Neo-Darwinisme bekend.

Darwinisme is ʼn wetenskaplike teorie wat geen melding van godsdiens maak nie. Dit mag egter onverenigbaar met sekere godsdienstige sienings wees. Darwinisme is onverenigbaar met enige godsdiens wat sê dat die wêreld 10 000 jaar oud is. Darwinisme mag godsdienstige implikasie hê alhoewel dit nie melding maak van geloof in God nie.

Voorstanders van Kreasionisme, Intelligente Ontwerp en die nuwe ateïste sê dat die aanvaarding van Darwinisme sinoniem met ateïsme is. Hulle glo dat Darwinisme onverenigbaar met enige godsdienstige wêreldsiening is.

Daar is egter baie wetenskaplikes wat glo dat Darwinisme ʼn korrekte wetenskap is – dit beskryf die metode wat God gekies het om die wêreld te skep. Volgens hulle is Darwinisme nie onverenigbaar met geloof in God nie.

Die einde van hierdie debat is lank nog nie in sig nie.

Sosiale Darwinisme

Hierdie is ʼn totaal ander konsep. Sosiale Darwinisme is die siening wat ontstaan as sekere evolusionêre konsepte op groepe in ʼn sosiale konteks toegepas word. Dit is die idee dat Darwin se teorie uitgebrei en op sosiale gebied toegepas kan word. In uiterste gevalle beteken dit diskriminasie teen mense wat nie in ʼn magsposisie is nie.

Een voorbeeld van sosiale Darwinisme is eugenetika (rasverbetering). Daar is ook beheerde voortplanting met die doel om die menseras te verander volgens een of ander visie. Die hele doel is om die menseras te verbeter. So word verpligte sterilisasie van mense wat as “onbevoeg” vir die samelewing beskou word, aanbeveel.

Regter Oliver Wendell Holmes, Jr, stel dit soos volg:

“It is better for all the world, if instead of waiting to execute degenerate offspring for crime, or to let them starve for their imbecility, society can prevent those who are manifestly unfit from continuing their kind.”

Die beredenering is: As mense deur natuurlike seleksie ontstaan het, is dit reg om teen mense wat “minder fiks” is, te diskrimineer.

Mense redeneer dat aanvaarding van Darwin se wetenskap ook aanvaarding van sosiale Darwinisme beteken. Hulle glo dan ook dat Darwin se idees  Adolf Hitler beïnvloed het. Daarmee ignoreer hulle dat die geskiedenis van die mens dikwels praat van uitwissing van rasse – reeds  lank voor Darwin.

Gevolgtrekking

Daar is ʼn duidelike verskil tussen Darwinisme en sosiale Darwinisme. Darwinisme is die wetenskaplike teorie van evolusie deur natuurlike seleksie wat later gekombineer is met Mendel se insette oor genetika. Wetenskaplikes wat evolusie ondersteun, sê dat evolusie die antwoord is op die vraag “Hoe”? God bly die antwoord op die vraag “Waarom”? Hulle glo dat God steeds die outeur van die proses is. Sosiale Darwinisme, daarenteen, is ʼn misleiding wat ontstaan het deur evolusionêre beginsels op die sosiale gebied toe te pas. Dit word deur geen Christen-wetenskaplike aanvaar nie.

 

Outeur: Dr coen Slabber




Die Bybel en die Wetenskap.

Die Bybel en die Wetenskap.

Ons lees so dikwels van die konflik tussen die Bybel en die wetenskap. Die probleem is dat hierdie konflik meestal beperk is tot mense wat op die pole van die debat staan – en baie lawaai maak. Richard Dawkins, ateïs en evolusionêre bioloog, sê dat as jy die wetenskap glo, jy ‘n ateïs moet wees:

Faith is the great cop-out, the great excuse to evade the need to think and evaluate evidence. Faith is belief in spite of, even perhaps because of, the lack of evidence.

Aan die ander kant is daar sekere godsdienstige fundamentaliste wat die wetenskap as gevaarlik en onbetroubaar beskryf. Hulle glo dat die letterlike interpretasie van die Skrif die enigste betroubare manier is om wetenskaplike waarhede vas te stel.

Kan die nougesette wetenskaplike in ‘n transendente (= wat die grense van die ervaring oorskry) God glo? Staan die wetenskap en die geloof teenoor mekaar of vul hulle mekaar aan? Moet ons tussen twee uiterstes kies – nie een juis baie verteerbaar nie? Daarom is daar by sommige die siening dat die wetenskap en die godsdiens twee verskillende leergesagte is wat nie oorvleuel nie – wat los staan van mekaar. Maar dit stel ons nie juis tevrede nie.

Die wetenskap en die godsdiens kan langs mekaar staan en mekaar verryk en verlig. Deur die natuurwetenskap kan ek die natuurlike wêreld beter verstaan, maar die wetenskap kan sekere vrae nie beantwoord nie: Hoekom bestaan die heelal? Wat is die sin van die mens se bestaan? Wat gebeur met my as ek doodgaan? Die wetenskap kan baie van die geheime van die natuurlike wêreld ontrafel, maar kan my nie help aangaande God nie.

Kom ons doen ‘n gevallestudie: Galileo. Hy was ‘n briljante wetenskaplike. Hy kom tot die gevolgtrekking dat die aarde om die son roteer. Dit bring hom onmiddellik in konflik met die Rooms-Katolieke Kerk. Hoekom? Omdat die kerk sekere teksverse letterlik geïnterpreteer het: U wat die aarde stewig gevestig het, sodat dit nooit sal wankel nie (Psalm 104:5); Die wêreld staan vas, dit wankel nie (Psalm 93:1); Die son kom op, die son gaan onder, en dan haas hy hom weer na waar hy opkom (Prediker 1:5). Daar is geglo dat enige stelsel waarvan die aarde nie die middelpunt is nie, die Christelike geloof sou ondermyn. Galileo sê self:

I do not feel obliged to believe that the same God who has endowed us with sense, reason, and intellect has intended us to forgo their use.

[In retrospek is die kerk se reaksie op Galileo se bevindings nie so eenvoudig nie.  Ander sake het ook ‘n rol gespeel – pouslike politiek,  magstryde in die kerk, persoonlikhede, ens.]

Francis Collins glo dat daar veral vier vrae is wat wetenskaplikes moeilik vind om te antwoord:

(1)  Verteenwoordig die idee van God nie net die universele verlange van die mens na iets buite homself om betekenis aan die lewe te gee nie? Maar hoekom sou daar so ‘n universele verlange bestaan as die nie vervul kan word nie? Creatures are not born with desires unless satisfaction for these desires exist (CS Lewis).

(2)  Wat van al die seerkry gedoen in die naam van godsdiens?  Wat van die kruistogte en inkwisisie?

(3)  Hoe kan ‘n liefdevolle, almagtige God soveel lyding toelaat?

(4)  Hoe kan ‘n rasionele mens glo aan wonderwerke? ‘n Wonderwerk is ‘n gebeurtenis wat nie deur die natuurwette verklaar kan word nie – van bonatuurlike oorsprong. As ek glo dat bonatuurlike gebeure onmoontlik is, dan glo ek nie in wonderwerke nie.

Daar moet ‘n kritiese dialoog tussen teoloë en wetenskaplikes plaasvind. Die feit dat die heelal begin het, dat die heelal ordelike reëls wat wetenskaplik uitgewerk kan word, nakom, maak nie van geloof in God ‘n uitgediende bygeloof nie. Wetenskap is nie die enigste manier waarop ons kan ken en weet nie – is nie ons enigste bron van kennis nie. Deur die Bybel en my geloof kan ek ook waarheid ontdek.

Daar is harmonie tussen die Bybel en die natuurwetenskappe moontlik. Luister na Einstein, waarskynlik een van die grootste natuurwetenskaplikes ooit:

Science without religion is lame, religion without science is blind.

 

Skrywer:  Dr Coen Slabber


Bibliografie:

Francis S Collins (2006): The Language of God, Free Press.

Alister E McGrath (2004): The Science of God, T&T Clark International

Alister E McGrath (2005): Dawkins’ God, Blackwell Publishing