Geneeskunde in die Bybel (5)

Geneeskunde in die Bybel (5) – Coen Slabber

 

Geneeshere

In die Bybel word dit baie duidelik gemaak dat God die groot Geneser is. Ons lees van dokters in die Ou Testament. Die eerste verwysing na dokters is Josef wat die Egiptiese dokters inroep om Jakob se lyk te balsem (Genesis 50:2).  Of hierdie werklik dokters was en of hulle net balsemkundiges was, is onseker.  Koning Asa het dokters se hulp gesoek vir sy voete (2 Kronieke 16:12).  Job beskryf sy vriende as kwaksalwers (13:3).  Jeremia vra: Is daar nie ʼn dokter nie? (8:22).  Jeremia sê sarkasties vir die Egiptenare: Jou baie medisynes help nie, jy word nie gesond nie (46:11).

Geneeshere as agente van God

In Die Wysheid van Ben Sirag lees ons: Vir dokters moet jy respek hê, want hulle het hulle talent by die Here gekry (38:1).  Ons kan dit amper as ʼn “modernisering” van die gewone Joodse siening van destyds beskou.  Hy sê ook: Dit is die Here wat medisyne uit die aarde gee; mense met insig sal nie op sulke medisyne neersien nie (vers 4).  Die gewone raad – bid en offers – bly egter steeds vir Ben Sirag belangrik (vers 9 – 11).  Aan die einde van hierdie gedeelte sê hy: Soms is ʼn mens se herstel in die hande van die dokters.  Hulle sal ook tot die Here bid en vra dat Hy hulle help om hulle pasiënte se pyn te verlig en hulle gesond te maak sodat hulle kan lewe. (vers 13 – 14). Mense wat sonde doen en nie gehoorsaam is aan die Een wat hulle gemaak het nie, behoort siek te word! (vers 15)  Hierdie boek is in die vroeë tweede eeu vC geskryf.  Hierdie gedeelte is waarskynlik aanduidend van die invloed wat die Griekse geneeskunde gehad het. (Die bekende Griekse geneesheer Hippocrates het in die vyfde eeu vC geleef.)  Beide Ben Sirag en later Josefus het geglo dat natuurlike substanse belangrik is vir die genesing van siekes.

Was Lukas ʼn geneesheer? Waarskynlik. Hy gebruik mediese terme wat Hippocrates en ander gebruik het, wat nie elders in die Bybel voorkom nie.  Hy gee ook aandag aan mediese besonderhede: die koors was hewig (4:38), die regterhand was gebreklik (6:6) en die sieke was reeds van geboorte af verlam (Handelinge 3:2).

 

Die NT houding teenoor geneeshere

In die tydperk van die NT het die Grieke reeds mediese skole in baie dele van die Grieks-Romeinse wêreld gevestig.  Die bekendstes was dié by Pergamos en Aleksandrië.  Hierdie mediese skole was meestal gekoppel aan heidense tempels. Uit opgrawings is ons bewus van verskeie chirurgiese instrumente wat destyds gebruik is.  Die woord geneesheer/dokter kom op verskeie plekke in die NT voor.  Lukas word spesifiek vermeld.  Paulus beskryf hom as: die dokter wat ek baie lief het (Kolossense 4:14).  Jesus sê: Dié wat gesond is, het nie ʼn dokter nodig nie, maar dié wat siek is (Matteus 9:12). Lukas haal nog ʼn spreekwoord wat Jesus gebruik het, aan: Geneesheer, genees jouself (Lukas 4:23).  Dokters kon nie alle siektes genees nie.  Vir die vrou met bloedvloeiing kon hulle maar min doen (Markus 5:26).  Jesus die Groot Geneesheer kon natuurlik genees waar dokters dit nie kon regkry nie.  Geneeshere was van hulp, maar die Bybel beklemtoon die belang van die geloofsgemeenskap en die ouderlinge in siekebediening.  Die ouderlinge moes vir die sieke bid en hom met olie salf.

 

Opsomming

In die Bybel kry ons hoofsaaklik ʼn negatiewe houding teenoor geneeshere en die geneeskunde.  Dit staan in teenstelling met die oortuiging dat dit God se bedoeling is dat mense gesond moet wees.  God genees of direk of deur gebruik te maak van agente – profete, Jesus, apostels en in enkele gevalle deur geneeshere.

Outeur: Dr Coen Slabber

 




Geneeskunde in die Bybel (4)

Geneeskunde in die Bybel (4) – Coen Slabber

Jesus Christus en siekte

Dwarsdeur die evangelies lees ons van Jesus se genesende optredes.  Twee aspekte word beklemtoon:

1.            Die klem op sy rol as geneser; en

2.            Die belangstelling wat sy optrede van omstanders gekry het.

Kom ons kyk na ʼn paar aspekte van Jesus se rol as Geneser:

(a)    In hierdie genesingsverhale speel geloof ʼn belangrike rol – dit kan geloof van die sieke self wees of geloof van sy familie of vriende (die verlamde wat deur die dak neergelaat word).  Dit is Jaïrus se geloof in Jesus se vermoë om sy dogtertjie te genees wat deurslaggewend is (Markus 5:23); dit is die vrou met bloedvloeiing se geloof wat lei tot haar genesing (Markus 5:27 – 34).  In Gennesaret vra die mense of die siekes maar net aan die soom van sy klere kan raak (Markus 6:53 – 56).  Die vader van die seun wat epilepsie het, nader Jesus en spreek sy geloof uit: Ek glo … Help my tog in my ongeloof (Markus 9:14 – 27).  Jesus dryf die bose gees uit die seun. Die dissipels kon dit nie regkry nie, want hulle geloof was te min.  Ook Bartimeus se blindheid word genees omdat hy geglo het – hy het nie ophou skreeu na Jesus nie (Markus 10:52).  Dit is die Romeinse offisier se geloof wat daartoe lei dat sy slaaf gesond word (Lukas 7:9).

(b)   Twee interessante aspekte van Jesus se genesings is:

1.             In enkele gevalle stuur Jesus die geneesde om die voorgeskrewe reinigingsproses te ondergaan – die genesing van die melaatse (Lukas 5:12 – 16).

2.             Sy genesingswerk word gesien as ʼn oortreding van die sabbatswette se verbod op werk.  Jesus gee voorkeur aan die herstel van gesondheid selfs bo so ʼn sentrale wet van Israel.

(c)  Die Bron van Jesus se genesingskrag is God: En die Here het vir Jesus die krag gegee om mense gesond te maak (Lukas 5:17). Jesus dryf ook die bose geeste deur die Gees van God uit (Matteus 12:28).  Ons lees dat toe Jesus baie mense gesond gemaak het die mense die God van Israel geprys het (Matteus 15:31).  Met Eneas se genesing sê Petrus: Jesus Christus maak jou gesond (Handelinge 9:34).

(d)  Jesus se benadering tot siekte verskil van dié van die Ou Testament.  Hy het nie geoordeel nie; Hy het hulle menswaardig behandel; Hy was vol deernis vir hulle; Hy het hulle aangeraak, vertroos en genees; Hy het normaal met hulle gesels.  Jesus het blykbaar geglo dat siekte ʼn belemmering was wat mense verhoed het om die mense te wees waarvoor hulle geskep is.  Nadat Jesus ʼn vrou wat al 18 jaar gebreklik was, genees het, sê Hy dat sy deur die Satan gebind is (Lukas 13:16).  Sy genesing van ongeneeslike siektes was een van die bewyse dat Hy die Messias was.  Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed (Johannes 10:10).  Hy het nie siekte as straf vir sonde volledig onderskryf nie (Johannes 9:3).

(e)  Jesus was altyd bekommerd oor die hele mens en nie net die simptome van siekte nie.  Hy het dikwels eers die geestelike aspekte hanteer.  Sy gesprek met die Samaritaanse vrou by die put het gefokus op die basiese konflikte in haar persoonlikheid.  Vir Jesus is gesondheid meer as net die afwesigheid van fisiese en geestelike siektes – dit gaan oor die hele mens.

 

Genesing en wonderwerke

Daar word ʼn hele aantal wondergenesings in die Bybel beskryf.  God gebruik natuurlike siekteprosesse, maar die bonatuurlike is betrokke by wanneer hulle gebeur en by die genesing.  In die Ou Testament is die wonderwerke veral gegroepeer rondom die uittog en dan weer tydens die bediening van Elia en Elisa.  Die meeste van hierdie wonderwerke is natuurwonderwerke – minder as twaalf het met genesings te doen.

In die Nuwe Testament is ʼn groter gedeelte van die wonders genesings.  Van die 35 wondertekens wat Jesus gedoen het, was 26 genesings.  In ses gevalle is bose geeste uitgedryf.  Van die mense word duidelik per naam geïdentifiseer. Veral Lukas gee besonderhede.

Sommige het probeer om hierdie wonders op ʼn sielkundige basis te verduidelik – die mense se siektes was psigosomaties.  Dit kan glad nie verklaar hoe Jesus organiese siektes soos blindheid, bloedvloeiing, melaatsheid en selfs die dood genees het nie.

Opvallend is dat Jesus se genesings volledig en onmiddellik was.  Die enigste uitsondering is die man wie se sig in twee stadia teruggekeer het (Markus 8:22 – 25).  Ook belangrik is dat Jesus ʼn verskeidenheid siektes genees het en selfs siektes wat vandag moeilik of glad nie behandelbaar is nie.  Baie min van hierdie siekes sou spontaan gesond geword het.  Daar is geen bewyse van enige terugvalle nadat Jesus hulle genees het nie.

 

Geneeshere en aptekers en towery

Sommige mense, veral in sekere sektes en ekstremistiese charismatiese groepe, het verwysings na towenaars gelykgestel aan die moderne dokters en aptekers.

1.            In Handelinge 13:6 en 8 kry ons ʼn verwysing na die towenaar Barjesus (Grieks = Elimas). Hier word die Griekse woord magos, wat towenaar beteken, gebruik.  Dit het geen verband met geneeskunde nie.

2.            In Handelinge 8:11 lees ons van Simon wat die mense met sy toorkunste verstom het.  Hier word die Griekse woord mageia gebruik wat ook geen verband met geneeskunde het nie.

3.            in Openbaring 9:21 lees ons van towery. Hier word die Griekse woord pharmakeia gebruik.  Daar is ʼn verbintenis met van die woorde wat ons vandag steeds gebruik soos farmasie (= kennis van geneesmiddels en hulle bereiding – ʼn apteker) en farmakologie (= leer van die geneesmiddels).

4.            In Openbaring 21:8 en 22:15 lees ons van bedrieërs. In die King James Vertaling word die Griekse woord pharmakeus egter met sorcerers vertaal.  Hier is natuurlik weer ʼn verband met farmasie en farmakologie.

Beteken dit nou aptekers en dokters is towenaars?  Die Griekse stamwoord beteken inderdaad “iemand wat middels uitgee” of “vergiftiger” of “iemand wat dosisse uitgee”. Hierdie spesifieke towenaars was mense wat in staat was om “dosisse” voor te berei en uit te gee.  Die vraag is egter hoekom hulle dit uitgegee het. Dit was om visioene en hallusinasies te stimuleer en nie om genesing of verligting te bring nie.  Dit was reeds lank ʼn deel van heidense godsdienste om drankies uit te gee wat hallusinasies stimuleer.  Die idee was dat dit jou in aanraking sou bring met die geesteswêreld.  Om dus farmasie en farmakologie as iets soortgelyk te beskou net omdat daar ʼn ooreenkoms in die name is, is onsinnig.  Jy gaan tog nie na die geneesheer om jou in aanraking met die geesteswêreld te bring nie.

 

Bose geeste

Van die 26 mense wat deur Jesus genees is, was ses met bose geeste besete.  Min indien enige verwysing word in die Ou Testament gemaak na bose geeste.  In hierdie gevalle was daar dikwels ook fisiese simptome teenwoordig – blindheid, doofheid en stomheid, epilepsie.

Wat onderskei dit nou van gewone siektes?  Een van die onderskeidende tekens is dat die duiwel dikwels sulke persone as sy mondstuk gebruik.

Outeur: Dr Coen Slabber




Geneeskunde in die Bybel (3)

Geneeskunde in die Bybel (3) – Coen Slabber

Nuwe Testamentiese tyd

In die tyd van die NT was die Griekse geneeskunde die dominante invloed in die gebied om die Middellandse See.  Geneeskunde was nog in sy primitiewe stadium, maar Hippocrates en ander Griekse geneeshere het die fondament vir die moderne geneeskunde gelê.

Hulle het deur noukeurige observasie probeer om ʼn rasionele basis vir die behandeling van siektes neer te lê.  Uit Markus 5:26 weet ons daar was dokters – die vrou met bloedvloeiing het onder hulle gely!  Die rabbi’s het bepaal dat daar ten miste een dokter in elke dorp moet wees.  Sommige rabbi’s het self geneeskunde beoefen. Jakobus sê dat as iemand siek is, moet daar vir hom gebid word.  Hy moet ook met olie gesalf word (Jakobus 5:14).  Implisiet in hierdie stelling is dat siekte die gevolg van sonde is en dat genesing aan vergifnis gekoppel word.

 

Die gawe van genesing

Paulus sê dat gesondmaking een van die genadegawes van die Gees van God is (1 Korintiërs 12:9).  Die implikasie is dat sekere gelowiges die spesiale vermoë ontvang het om mense op ʼn gereelde basis te genees.  Anders as die spreek in tale en profesie is gesondmaking vir Paulus ʼn feit van die Christelike leefwyse en word nêrens bespreek as ʼn pastorale bekommernis nie.

 

Die bron van siekte in die Bybel

Siekte is maar deel van ʼn breër konsep – die lyding van die mens.  Volgens die Bybel het siekte vyf bronne:

1.            God.  Alle mense van destyds het bonatuurlike gebeure aan verskillende gode en bose geeste toegeskryf.  Die Jode, omdat hulle monoteïsties was, het alles aan God toegeskryf.  God was verantwoordelik vir alles.  Hierdie selfde God was ook die bron van voorspoed en seëninge – soos gesondheid.  God kon dus siekte of gesondheid gee, maar met beide het Hy ʼn doel gehad.

Een doel van siekte was straf vir sonde.  Na Dawid se ongeoorloofde volkstelling gee God hom drie keuses.  Een daarvan was drie dae lank pes in jou land (2 Samuel 24:13). Daarom is dit nie verbasend dat toe God giftige slange stuur as straf vir hulle ongehoorsaamheid, hulle nie die slange doodmaak nie, maar teenoor God bely dat hulle ongehoorsaam aan Hom was (Num 21:4 – 9).  Melaatsheid was ʼn vernietigende siekte wat deur God gestuur is om mense wat sonde doen, te straf.  Hier dink ons aan Mirjam (Numeri 12) en Naäman (2 Konings 5:27).

God het ook siekte gestuur as bewys van sy mag of om mense te beskerm.  Die tien plae in Egipte is bewys van God se mag. Om Israel te beskerm het God 185 000 man van Sanherib se leër een aand in hulle kamp laat sterf (2 Konings 19:34 – 36).

2.            Satan.  Satan se vermoë om mense siek te maak, val binne die toelatende wil van God.  Hierdie beperkte vermoë van Satan blyk duidelik uit Job se geskiedenis (1:11).  Hierdie boodskap is ook duidelik in die Nuwe Testament.  Jesus sê dat die gebreklike vrou al agtien jaar lank deur die Satan gebind is (Lukas 13:16).  Satan se tyd was beperk – sy volkome vernietiging was verseker.  Min of meer 200 vC is die boek Tobit geskryf. Hy het blind geword toe die warm mis van mossies in sy oë geval het.  Geneeshere kon hom nie help nie (2:10).  Wat uiteindelik sy sig herstel het, was toe hy gal aan sy oë gesmeer het (11:8).  Net ʼn entjie vroeër word verduidelik hoe dit werk: Die hart en lewer (van ʼn vis) kan ʼn mens gebruik as ʼn duiwel of ʼn slegte gees iemand probleme gee (6:8).  Ons lees dat toe die duiwel die reuk van die vis se hart en lewer wat op die wierookkole gesit is, kry toe vlug hy tot in die boonste dele van Egipte.

3.            Sonde. Lyding is een van die gevolge van sonde.  Ons lees dat as jy nie luister na God en sy gebooie nie, sal Hy jou straf met onder andere tering, inflammasie en koorssiekte (Deuteronomium 28:22).  Nadat Jesus die man by die bad van Betesda genees het, sê Hy vir hom: Moet nou nie meer sonde doen nie (Johannes 5:14).

4.            Sondes van die voorouers.  Die bekendste voorbeeld is die dood van Dawid se seun as gevolg van sy sonde met Batseba. (2 Samuel 12:15).  Jesus se dissipels was bekend met hierdie konsep.  Daarom vra hulle vir Jesus of die man blind was as gevolg van sy eie of sy ouers se sonde (Johannes 9:2).  In die tien gebooie reken God die sondes van die vaders aan die kinders toe.

5.            Oortreding van die natuurwette.  Hierdie is ʼn belangrike beginsel, want dit beteken dat ʼn persoon verantwoordelik vir sy eie en sy gemeenskap se gesondheid is.  Hy is nie net ʼn passiewe slagoffer van bonatuurlike magte nie.  Daarom stel Moses ʼn uitgebreide gedragskode op wat dinge soos dieet, sabbatsonderhouding, higiëne in die kamp en geslagsverhoudings hanteer.  As hulle doen wat God hulle beveel het, dan sal hulle nie die siektes waarmee God vir Egipte getref het opdoen nie (Eksodus 15:26).  Hulle sou ook lank lewe (Spreuke 3:1 – 2).

 

Dit is onmoontlik om vas te stel of ʼn siekte die gevolg van natuurlike oorsake, God se optrede of Satan se planne was.  Miskien is almal in sekere gevalle teenwoordig. Waarvan ons wel seker kan wees, is dat God elke traan sal afdroog en dat daar geen pyn meer sal wees nie (Openbaring 21:4).

 

Profete as agente vir genesing

Elia het die weduwee van Sarfat se seuntjie uit die dood opgewek (1 Konings 17:8 – 23).  Net so genees Elisa vir Naäman van sy melaatsheid toe hy hom beveel om in die Jordaan te bad (2 Konings 5:1 – 14).  Beide die weduwee en Naäman bely dat daar net een God is – Jahweh.

Outeur: Dr Coen Slabber

 




Geneeskunde in die Bybel (2)

Geneeskunde in die Bybel (2) – Coen Slabber

 

Die wette van Moses

Hierdie wette se doel was primêre reinheidswette – wat moet ek doen om seremonieel rein te wees – maar daar is van dié wette wat duidelik van openbare gesondheidsbelang is.

Van die primêre probleme van die openbare gesondheidsbeampte vandag is kontaminasie van water en kos, vullisverwydering, aansteeklike siektes en gesondheids-opvoeding.  Die wette van Moses bevat reëls vir besnydenis, vleis, kraam, velsiektes, kontaminasie deur afskeidings, die hantering van lyke, persoonlike higiëne en geslagsverhoudings.

ʼn Goeie voorbeeld van ʼn wet wat besliste gesondheidsvoordele inhou, is: As jy jou buite wil gaan ontlas, moet jy ʼn gat grawe met die stok en as jy klaar is, moet jy alles toekrap (Deuteronomium 23:13).  Hierdie maatreëls is natuurlik belangrik vir die voorkoming van siektes soos cholera en maagkoors.  Varkvleis wat nie reg gekook word nie, kan aanleiding tot triginose gee.  Hierdie siekte word veroorsaak deur haarwurmpies. Die larwes van hierdie wurms versprei deur die bloedstroom en vorm siste in veral die spiere.

Kosjer beteken “die regte kos, rein”. Dit beteken dus kos volgens die voorskrifte wat God self gegee het.  Hierdie voorskrifte kry ons in Levitikus 11. Daar was sekerlik gesondheidsvoordele in die koswette van destyds, maar die ware voordeel was dat die mens aan God gehoorsaam was as hy hierdie wette nakom.  God sou diegene seën. Hierdie is dus nie primêr gesondheidswette nie. Julle moet julle nie besoedel met een van die diere dat julle onrein word nie. Ek is die Here julle God. Wy julle aan my diens en wees heilig, want Ek is heilig (Levitikus 11:43 – 44).

Genesing en siekte as tekens van God se guns en straf

Dit is duidelik: God gee of herstel gesondheid vir dié wat gehoorsaam is, maar straf die ongehoorsames met siekte.  So sien ons dat die Here die farao en sy huis met swaar plae tref oor Sarai (Genesis 12:17).  Dit is duidelik dat God mense met siekte straf as hulle nie sy gebooie onderhou nie – al is dit nie doelbewus nie.

Daar was vir die Israeliete ʼn direkte verband tussen siekte en rituele onreinheid.  Ons sien dit veral duidelik as dit by melaatsheid kom (Levitikus 13 – 14). [In die Nuwe Afrikaanse Vertaling word melaatsheid in hierdie hoofstukke vervang met velsiektes.]  Die priester moes bevestig dat die persoon genees is.  Daarna moes ʼn versoenoffer gebring word.  Mirjam word melaats omdat sy haar op gelyke voet met Moses wou stel. Moses bid vir haar genesing wat dan ook binne sewe dae gebeur (Numeri 12).  Toe die Filistyne die ark buitgemaak het, het God hulle met pesswere getref (2 Samuel 5).  Jerobeam bied weerstand teen ʼn onbekende man van God uit Juda en toe hy sy hand uitsteek om die mense te beveel om die man te gryp, het sy hand styf geword – en hy kon dit nie weer terugtrek nie (1 Konings 13:3 – 5).  Hiskia het oënskynlik ʼn dodelike siekte. Hy bid tot die Here en word gesond (2 Konings 20:1 – 11).

 

Outeur: Dr Coen Slabber