“As I walked out the door towards my freedom, I knew that if I did not leave all the anger, hatred and bitterness behind, that I would still be in prison.” – Nelson Mandela
Psalm 27 (3)
[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.
Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.
6:7 – 12:
Hier kry ons ‘n totale ommekeer – van ‘n uitdrukking van vertroue na dringende gebed.
7Luister tog, Here na my stem wanneer ek roep,
Wees my genadig en antwoord my.
Hierdie drie pleidooie is natuurlik in gebede – veral aan die begin van ‘n gebed. Die logika is eers luister (dit kom eerste, maar is nie genoeg nie). Daarna volg roep en antwoord. Die pslamis soek ook ‘n demonstrasie van die Here se genade. Dit kom in die antwoord.
8My hart eggo u woorde: “Julle moet my teenwoordigheid opsoek!
U teenwoordigheid, Here, soek ek op.
Die psalmis hoor ‘n innerlike stem wat vir hom sê dat hy die Here se teenwoordigheid (letterlik = gesig) moet opsoek. Dit geld vir al die mense. Hy verklaar dan: Ek het dit gedoen en doen dit steeds.
9Moet u gesig tog nie vir my verberg nie, moet u dienskneg nie in woede wegwys nie.
U was my Helper, moet my nie verstoot of verlaat nie, God wat my red.
Die eerste beeld herinner aan ‘n koning wat sy onderdaan se pleidooi verwerp. Net so stuur die Here die persoon wat bid weg. In woede beklemtoon dat die Here se gesig verborge is. Die tweede beeld is waar die psalmis stilstaan en die Here hom verlaat – soos ‘n vriend wat wegloop as jy sy ondersteuning dringend nodig het.
10Selfs al verlaat my pa en my ma my, die Here sal my aanneem.
Ons verwag dat ons familie, veral ons ouers, aan ons toegewy sal wees as ons aangeval word of as ons aangekla word dat ons iets verkeerd gedoen het. Verlating deur my ouers is ‘n beeld van total verlating.
11 Here, leer my u pad, lei my op ‘n gelyk pad, omdat ek vyande het.
Om my die pad te leer, mag beteken dat die Here ver is, maar om my op die gelyk pad te lei, beteken dat Hy langs my staan. Let op dat hierdie pad die Here se pad is en dat dit gelyk is.
12Moet my nie aan my teenstanders uitlewer nie, want vals getuies het teen my opgestaan, en hulle blaas geweld aan.
Die psalmis het vyande. Hy vra vir optrede. Hulle kyk met slegte bedoelings na hom. Hy stel dit duidelik wat die Here moet doen: Hy moet hom nie aan sy teenstanders uitlewer nie. Hier sien ons ook wat die psalmis se probleem is. Hulle lewer vals getuienis en blaas geweld aan.
27:13 – 14:
Soos in vers 1 – 6 kry ons hier weer ‘n stelling van vertroue.
13As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal beleef in die land van die lewendes nie
As gebruik die psalmis om die werklikheid van vertroue te impliseer. Hy glo in die goedheid van die Here. Dit beteken hy glo in die Here as die een wat aan hom ‘n lang lewe in plaas van ‘n vroeë dood en vryheid van vyande in plaas van onderdrukking sal gee.
14Wag op die Here! Wees sterk en hou moed, ja, wag op die Here
Die psalm eindig met drie opdragte. Wag op die Here beteken dat die psalmis na die Here kyk om op te tree. Daarom kan hy sterk wees en moed hou. Hy is nie bang nie. Hierdie opdragte kry ons ook aan Josua en sy mense toe hulle Kanaän ingetrek het. Wat duidelik is, is dat hierdie nie ‘n opdrag aan die psalmis is waarin hy alleen staan nie. Die Here se beloftes is aan die opdrag gekoppel – die beloftes wat ons vroeg in die psalm gekry het.
In die volgende blog gaan ons na die teologiese implikasie van hierdie psalm kyk.