Die evangelie moet gekontekstualiseer word

 

God does not ask if we are able, God asks if we are available – ‘n Algemene stelling waarvan die bron onseker is.

 

Die evangelie moet gekontekstualiseer word

Die evangelie is oneindig diep en ryk. Die mens is ook ingewikkeld en verskillend. Die evangelie het die vermoë om die hoop, vrese en ideale van elke kultuur en elke persoon te hanteer. Daar is dus die noodsaaklikheid om die evangelie te kontekstualiseer.

 

In 1 Korintiërs 1:22 – 25 verduidelik Paulus die probleem: Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin. Ons kry hierdie twee benaderings ook in Paulus se preke in Handelinge. Sommige van hierdie preke was vir Jode en ander vir heidene.

 

Lukas gee vir ons drie opsommings van Paulus se prediking.

  1. Handelinge 13: Paulus kommunikeer met Jode en nie-Jode wat Godvresend was.
  2. Handelinge 14: Paulus praat met onopgevoede heidene.
  3. Handelinge 17: Paulus praat met filosowe en opgevoede heidene.

 

Die gehoor se vermoë en oortuigings vorm die manier waarop Paulus die evangelie aanbied. Verskillende kultuurgehore reageer op verskillende benaderings – ons moet dieselfde boodskap vorm. Die evangelie is egter so ryk dat dit in ‘n vorm wat by elke situasie pas, gekommunikeer kan word. Dit is ‘n enkele maar nie ‘n eenvoudige boodskap nie.

 




Die Koninkryk en Jesus se koms

 

The entrance exam for Christianity is admitting you are a failure – J. R. Biggs

 

Die Koninkryk en Jesus se koms

Die tema van God se koninkryk wys dat ons ‘n behoefte het om van slawerny vrygestel te word. Wat ons aanbid, dien ons. Almal moet iets aanbid. Daarom is ons slawe van dit wat ons aanbid. Kyk ons na Israel se geskiedenis moet ons vir onsself afvra: “Hoe kan een koning sterk genoeg wees om ons van ons groot slawerny te verlos?” Markus 1:1 – 3 sê vir ons dat Jesus daardie koning is en dat Hy kom om die heerskappy van sy koninkryk oor te neem. Die krag van sy heerskappy is reeds teenwoordig onder Christene: die koninkryk van God is hier by julle (Lukas 17:20 – 21). Vir die dissipels is die koninkryk ‘n nuwe menslike orde: mag, geld, erkenning en sukses vir burgers van die koninkryk. Hierdie dinge word egter oorheers deur God se nuwe skepping – diens, vrygewigheid en nederigheid.

 

Jesus se koningskap is nie soos dié van aardse konings nie.. Ons gaan sy koninkryk deur swakheid en ‘n nuwe geboorte binne (Johannes 3). Uiteindelik kom die dag wanneer die stad van God neerdaal (Openbaring 22:3). Dan word alle dinge hernuwe (Openbaring 21:3 – 6). Dit is wanneer God terugkeer om te heers. Die vryheid en vreugde van God se koninkryk kom na die aarde.

 

Daar is verskillende maniere om die koninkryk te kommunikeer, maar daar is geen teenstrydigheid tussen hulle nie. Die Bybel se storielyn sê vir ons ten minste vier dinge.

  1. Wat God vir ons wil hê – die skepping.
  2. Wat met ons gebeur het; wat verkeerd geloop het met die wêreld – die sondeval.
  3. Wat God in Jesus Christus gedoen het om dinge weer reg te stel – verlossing.
  4. Hoe die geskiedenis sal eindig – herstel.

 

Hierdie storie kan, en word, op baie verskillende maniere vertel. Dit beteken nie dat die evangelie nie op ‘n eenvoudige wyse oorgedra kan word nie. Al hierdie verskillende maniere moet steeds beklemtoon dat die evangelie nuus is. Dit is ‘n aankondiging van wat God gedoen het en nog gaan doen.

 

 

 




Die Bybel gee nie een standaard raamwerk nie.

 

Jesus didn’t call the best leaders he could find. Jesus called the best followers he could find, and most often these were the least and the little – Leonard Sweet

 

Die Bybel gee nie een standaard raamwerk nie.

In Galasiërs 1:8 veroordeel Paulus almal wat ‘n ander evangelie verkondig as die evangelie wat hy verkondig. In 1 Korintiërs 15:11 wys hy daarop dat die evangelie wat hy verkondig dieselfde is as dié wat Petrus, Johannes en die ander verkondig. Dit beteken daar moes tog konsensus oor die inhoud van die evangelie gewees het. Tog beskrywe die skrywers van die Bybel die evangelie op betekenisvol verskillende maniere. As die sinoptici oor die evangelie skryf, gebruik hulle die konsep van “die Koninkryk.´ In Johannes se evangelie is hierdie konsep feitlik afwesig – hy gebruik eerder die konsep die ewige lewe.  Vergelyk ons die gedeeltes sien ons dat om God se koninkryk in te gaan en om die ewige lewe te ontvang feitlik dieselfde ding is.

 

Maar die ewige lewe en die koninkryk is nie sinonieme nie. Die sinoptici gebruik dikwels die koninkryk, want hulle oriëntasie is die toekoms. Die twee terme dra verskillende aspekte van God se verlossing oor. Dit lyk of Johannes die individu en die innerlike aspekte van in die koninkryk wees, beklemtoon. Hy wys daarop dat die koninkryk nie ‘n wêreldse, sosiopolitieke orde is nie (18:36). As die sinoptici van die koninkryk praat, is daar ‘n meer eksterne en korporatiewe klem. Hulle beskryf die sosiale en gedragsveranderinge wat die evangelie teweeg bring. Die koninkryk van God het ‘n korporatiewe vorm en dit het belangrike implikasies vir hoe ons leef. Johannes en die sinoptici beskryf aanvullende aspekte van die evangelie wat beide die individuele en korporatiewe dimensies van ons verlossing beklemtoon.

 

Kyk ons na Paulus kry ons weer ‘n ander beklemtoning. Hy fokus veral op die konsep van vryspraak. Daar is geen teenstrydighede tussen die verskillende skrywes nie. Die hart van die teologie van al die skrywers is verlossing deur plaasvervanging.

 

 

 

 

 

 




Wat/Wie sal dinge regstel in ons gebroke wêreld?

 

Are you too bad to receive grace? How could you be too bad to receive what is for the bad? – David Powlison

 

Wat/Wie sal dinge regstel in ons gebroke wêreld?

Christus. Christus stel dinge reg deur sy menswording. God het meer vir ons gedoen as om net inligting oor te dra. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Johannes 1:14). God het na die wêreld gekyk en sy verlorenheid gesien en Hy het die mense bejammer. Daaom skryf Hy Homself in die geskiedenis van die mens in – as die hoofkarakter. Die seun van God kom in die wêreld as ‘n mens – Jesus Christus.

 

Die tweede manier waarop Jesus dinge regstel is deur sy plaasvervanging. As gevolg van die mens se skuld en veroordeling kan God nie sommer ons sonde ignoreer nie. God kan nie vergewe sonder koste nie. Jesus Christus het ‘n volmaakte lewe geleef – die enigste mens wat dit ooit kon doen. Aan die einde van sy lewe verdien Hy seën en aanvaarding. Aan die einde van ons lewens  verdien ons verwerping en veroordeling, want almal van ons leef in sonde. Toe die tyd aanbreek, het Jesus in ons plek aan die kruis verwerping en veroordeling – wat ons verdien – ontvang. As ons in Hom glo kan ons die seën en aanvaarding wat Hy verdien, ontvang.

 

Die derde manier waarop Jesus dinge regstel is die uiteindelike herstel van alles wat met die wêreld verkeerd geloop het. Die eerste keer toe Jesus na die wêreld gekom het, het Hy in swakheid gekom en vir ons sondes gely. Die tweede keer wat Hy kom, sal Hy die wêreld oordeel. Hy maak ‘n finale einde aan lyding, boosheid, agteruitgang en dood. Sy finale doel is die hernuwing en herstel van ons siele en liggame.