Hoe kom jy in die koninkryk van God?

 

We will never be so holy as to meet God’s standard and we are never too wicked as to be beyond his rescue. —Paul Tripp

 

Hoe kom jy in die koninkryk van God?

Die Skrif sê dat ons binne of buite die koninkryk van God kan wees. Die koninkryk van God is die heerskappy van Jesus Christus. Die antwoord op ons vraag is dus eenvoudig: Insluiting in die koninkryk word uitsluitlik bepaal deur ons reaksie op die Koning. Dit gaan nie oor ‘n goeie lewe nie, maar net oor ons reaksie op die Koning van die koninkryk.

 

In Markus 10 lees ons van die ryk jongman. Hy vra vir Jesus ‘n vraag: Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry? In vers 24 stel Jesus hierdie vraag anders deurdat Hy dit met in die koninkryk van God te kom, gelykstel. Jesus se antwoord is kort en saaklik: Volg My. Ja, Jesus sê vir hom dat hy alles moet verkoop en die geld vir die armes moet gee, maar die kern is hierdie jongman se afgodery. Jesus sê dat Hy van sy afgod – sy besittings – ontslae moet raak.

 

Dieselfde is waar in die storie van die skape en bokke in Matteus 25. Die skeidslyn tussen diegene wat in die koninkryk verwelkom word en diegene wat aangesê word om te vertrek, is hoe hulle op Jesus en sy boodskap reageer. Paulus sê presies dieselfde: As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word (Romeine 10:9).

 

Jesus en die apostels maak dit herhaaldelik baie duidelik dat vergifnis van sonde, verlossing en insluiting in God se koninkryk afhanklik is van ‘n persoon wat in berou, belydenis en geloof na Jesus Christus toe kom. Hy is die enigste Een wat die reg en gesag het om my as deel van God se koninkryk te laat kwalifiseer.

 

 




Die Missie van die Kerk (5)

 

To bless God for mercies is the way to increase them; to bless Him for miseries is the way to remove them. —William Dyer

 

Die Missie van die Kerk (5)

Missie = belangrike opdrag; totaal van die doelstellings, oogmerke van ‘n instelling. Latyn: mittere = stuur – HAT).

Kevin Deyoung en Greg Gilbert het ‘n interessante boek (The Mission of the Church geskryf). Ek gaan ‘n paar blogs hieraan bestee.

 

Die missie: Wat dit beteken en hoekom dit saakmaak.

Die hulpbronne is beperk. Die kerk kan nie alles doen nie. Ons kan nie doeltreffend is ons missie wees as alles ons missie is nie. Ons kan ook nie ons missie uitvoer as ons nie seker is wat dit is nie. Die missie is belangrik, want fokus is belangrik.

 

Die Groot opdrag moet die gemeente se missie wees. Hoekom?

  • Daar is iets erger as die dood. Dieparadoks wat ons moet verstaan, is dat die dood die laaste vyand, maar nie die ergste is nie. Die dood is die tragiese gevolg van sonde. Ons moet dit haat en verag. Maar die dood moenie gevrees word nie. Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U. In God, wie se woord ek prys, in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie. Wat kan ‘n blote mens aan my doen? (Psalm 56:4 – 5). Paulus sê: Want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins (Filippense 1:21). Dood is nie die ergste ramp wat ons kan tref nie. Van die woorde wat Jesus dikwels vir sy dissipels gesê het, was: Moenie bang wees nie. Maar Hy sê: Vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan (Matteus 10:28).

 

Jesus het dikwels sy volgelinge  gemotiveer om sy boodskap te glo deur hulle van die oordeel wat sal kom, te vertel. Almal wat die Nuwe Testament met ‘n oop gemoed lees, moet tot die gevolgtrekking kom dat die ewige lewe na die dood die groot beloning is. Maar, ewige vernietiging is die aaklige oordeel waarvoor ons moet vrees en ten alle koste moet probeer vermy. Openbaring 20:11 – 15 praat Johannes van die tweede dood: as daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi. Evangelisasie en dissipelskap is nie goeie opsies nie – dit is letterlik ‘n saak van lewe en dood.

 

Daar is iets erger as die dood. Net die evangelie van Jesus Christus verkondig deur Christene en bewaar deur die kerk kan ons vrymaak van dit wat ons moet vrees.

 

  • Daar is iets beter as mense wat floreer. Ons vergeet dikwels die einde van die storie. Daar sal ‘n nuwe skepping wees; die hemel sal afdaal na die aarde; daar sal vrede en voorspoed wees. Dit is alles deel van die koninkryk van God wat reeds in ons wêreld ingebreek het. Die goeie lewe mag goed wees, maar dit is nie die Christelike missie nie. Aanbidding is die taak van diegene wat in die hemel hoort. Lees net Openbaring 4 en 5. Die volke is voor die troon vergader (Openbaring 7). Hulle het wit klere aangehad; in hulle hande was palmtakke en hulle roep hard uit: Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam! (7:10). Die einde is ‘n totale fokus op aanbidding en die heerlikheid van God in ons Here Jesus Christus. Die nuwe wêreld is niks sonder die vreugde in God nie. Die Christelike missie moet altyd wees om aanbidders te maak en te onderhou. As dit ons doel, passie en vreugde is, moet dissipelskap ons taak wees.

 

Ons word geroep, nie om ‘n stukkende planeer te herstel tot sy aanvanklike heerlikheid nie. Ons word geroep om stukkende mense terug na hulle Skepper te bring. Dit is nie die kerk se taak om alles wat verkeerd is te herstel of om in elke behoefte te voorsien nie. Natuurlik moet ons daarvan doen. Die kerk se unieke missie en prioriteit is dat ons die ongewilde en onpraktiese boodskap (in die oë van baie van vandag se mense) van die evangelie moet verkondig. Mense en volke moet weet dat Jesus Christus die Seun van God is en dat in sy Naam hulle die lewe kan hê.

 

 

 




Psalm 26 (3)

 

Doctrines are maps and models, not mathematical formulas – Anthony Lane

 

Psalm 26 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

26:6 – 8

Ons skuif nou van morele na Godsdienstige toewyding. Die psalmis verwerp die verkeerde waarvan ons in vers 3 – 5 gelees het, maar bring dit nou in die konteks van aanbidding. Dit is duidelik dat ons van die alledaagse wêreld met sy morele uitdagings na die godsdienstige wêreld met sy altaar, verkondiging en die Here se teenwoordigheid beweeg het. Die alledaagse wêreld word negatief gesien en die godsdienstige wêreld positief.

 

6Ek was my hande om my onskuld te toon, sodat ek rondom u altaar kan loop, Here

Om jou hande te was, is ‘n teken van onskuld. Vir priesters is die was van hande en voete ‘n reinigingsritueel ter voorbereiding van hulle rol in aanbidding. Gewone mense het hulle hande gewas ter voorbereiding om die heiligdom te nader. Om jou onskuld te behou, is jy in die posisie om saam met die gemeente na die altaar van die Here te gaan. Daar kan jy die offer bring en daarmee saam lof, gebed en danksegging.

 

7om ‘n loflied te laat opklink en te vertel van al u wonderdade.

Een van die geleenthede om offers te bring en te aanbid, is wanneer die psalmis getuig van wat die Here in antwoord op sy gebede gedoen het. Jy kan nie hieroor stilbly nie. Wanneer die Here optree, moet die begunstigde God verheerlik deur die storie voor die mense te vertel. Dit gaan dan ook met ‘n dankoffer gepaard. Die Here se wonderdade sluit die skepping van die heelal en die verlossing van Israel uit Egipte in.

 

8Here, ek het die huis waar U woon, lief, die woonplek van u glorieryke teenwoordigheid.

Woonplek verwys na die tabernakel, maar ook na die tempel. Dit is die plek waar die Here se eer/heerlikheid woon.

 

In die volgende blog sal ons sien dat die psalmis weer na ‘n pleidooi terugkeer

 




Die Skepping en Sondeval

 

“It’s not that I’m so smart, it’s just that I stay with problems longer.” – Einstein

 

Die Skepping en Sondeval

Genesis i – 3 bevat die eerste twee tonele van die storie van die Bybel – die skepping en sondeval. Die tafel is nou gedek vir die res van die storie. Hierdie eerste twee tonele is aan ons goed bekend, maar ons moet seker maak dat ons sekere belangrike dinge raaksien.

  1. Die belangrikste probleem in hierdie eerste drie hoofstukke is die vervreemding van die mens van God. Daar is geweldige gevolge hiervan: die mens se verhouding met God, sy medemens en die natuur is verbreek. Al hierdie tragedies – die vervreemding van die mens van sy medemens en die wêreld – is simptome van ‘n onderliggende probleem: die vervreemding van die mens van God. Dit was Adam se besluit om teen God in opstand te kom wat die res veroorsaak het. Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom … is die aarde deur jou toedoen vervloek (Genesis 3:17)
  2. Die hoop op verlossing is nie vir Adam om te werk om die wêreld tot sy goeie toestand te laat terugkeer nie. Die antwoord is dat God deur ‘n Middelaar verlossing sal bring. Die eerste goeie nuus kry ons reeds in Genesis 3:15. Daar belowe God vir Satan dat die vrou se nageslag sy kop sal vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt. Hierdie is ‘n beskrywing van Jesus Christus se oorwinning oor die Satan. Aan die kruis vermorsel Christus Satan se kop. Adam se eerste opdrag was om die tuin te bewaar en te bewerk, maar daarin misluk hy. Die taak om die wêreld te herstel en die ramp op te los, is dié van die vrou se nageslag – Jesus Christus.
  3. Die temas van vervreemding van God en verlossing deur ‘n Middelaar staan sentraal in die storielyn van die Bybel. Die hele Bybel is die storie van hoe ‘n genadige God, wat ook regverdig is, optree om sondige mense in sy teenwoordigheid en guns terug te bring.