Die Missie van die Kerk (4)

 

Peace in the gospel is not just a ceasefire, but the ability to look at people who were formerly foes and call them family. John Onwuchekwa

 

Die Missie van die Kerk (4)

Missie = belangrike opdrag; totaal van die doelstellings, oogmerke van ‘n instelling. Latyn: mittere = stuur – HAT).

Kevin Deyoung en Greg Gilbert het ‘n interessante boek (The Mission of the Church geskryf). Ek gaan ‘n paar blogs hieraan bestee.

 

Die eerste dissipels en die Groot Opdrag

As ons kyk na al die verskillende variasies van die Groot Opdrag is dit opmerklik dat daar baie ooreenkomste is. Saam skilder hulle ‘n aanvullende en omvattende prentjie van die missie van die eerste dissipels. Ons kan dit saamvat deur sewe vrae te antwoord.

  1. Wie? Jesus gee sy opdrag mondeling aan die eerste dissipels. Maar dit mag nie met hulle dood eindig nie. As Heer van die kerk verwag Hy dat sy volgelinge hierdie missie tot aan die einde van die tyd sal uitvoer. Hulle missie is ons missie.
  2. Hoekom? Die gesag van ons missie kom van Jesus Christus. Dit is ingewortel in die woord van God. Die basis is die Vader wat sy Seun gestuur het. Ons is gestuur, want Christus is gestuur. Ons gaan onder sy Naam met sy gesag.
  3. Wat? Die missie bestaan uit prediking en onderrig. Aankondiging en getuig, dissipels maak. Die missie fokus op die evangelie – die aankondiging van Christus se dood en opstanding en die lewe wat ons in Hom kry as ons ons bekeer en glo.
  4. Waar? In die wêreld. Ons strategie is nie “kom en sien” nie, maar “gaan en vertel.” Die boodskap is vir alle mense.
  5. Hoe? Ons gaan uit in die krag van die Heilige Gees en ons onderwerp ons aan Jesus Christus net soos Hy aan sy Vader gehoorsaam was – en van Hom afhanklik was.
  6. Wanneer? Die missie begin by pinksterdag toe die dissipels met die Heilige Gees geklee word. Die boodskap duur so lank as wat die belofte van Christus se teenwoordigheid voortduur – tot die einde van die tyd.
  7. Aan wie? Die kerk moet dissipels van die nasies maak Die kerk moet die goeie nuus tot aan die eindes van die wêreld verkondig.

 

Die missie van die kerk is ‘n spesifieke stel dinge waarvoor Jesus die kerk in die wêreld uitgestuur het om te doen. Dit beteken nie dat ander opdragte wat Jesus gegee het nie belangrik is nie. Maar. Om dissipels te maak, is ons primêre taak.

 

In die volgende blog gaan ons kyk na waarom die missie belangrik is.

 

 




Die Missie van die Kerk (3)

 

If there is no God, all things are permissible (Fyodor Dostoyevsky).

 

Die Missie van die Kerk (3)

Missie = belangrike opdrag; totaal van die doelstellings, oogmerke van ‘n instelling. Latyn: mittere = stuur – HAT).

Kevin Deyoung en Greg Gilbert het ‘n interessante boek (The Mission of the Church geskryf). Ek gaan ‘n paar blogs hieraan bestee.

 

Wat is die Groot Opdrag

Matteus 28:16 – 20 is die bekendste van almal:

Die elf dissipels het na Galilea gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan.  Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het. Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

 

Ons sien dat Jesus sy dissipels beveel het om na die berg te gaan. Berge is plekke waar belangrike onderrig en openbarings gegee is: die bergrede, die Berg van verheerliking, Sinai. Jesus bring sy dissipels vir oulaas bymekaar vir iets betekenisvol.

 

Eers verseker Hy hulle van die goeie nuus: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Die missie wat Hy aan hulle gaan gee, berus uitsluitlik op sy gesag. God stuur nie sy kerk uit om te oorwin nie; Hy stuur ons uit in die Naam van Hom wat reeds oorwin het. Ons gaan, want Hy heers.

 

Dit word gevolg deur een opdrag met drie ondersteunende opdragte. Die groot opdrag is: Maak die mense my dissipels. Waar? Wie? Die nasies. Jesus sien aanbidders en volgelinge onder elke kultuur en taal. Die ander drie opdragte werk uit wat hierdie proses van dissipels maak behels. Ons gaan; ons doop; ons leer. Gaan beteken dat ons gestuur is. Doop beteken bekering en vergifnis en insluiting as deel van God se familie. Leer wys dat Jesus meer as net die aanvanklike evangelisasie verwag. Hy wil gehoorsame, volwasse dissipels hê – nie net besluite nie.

 

Hierdie taak word moontlik gemaak deur Jesus se versekering aan sy dissipels: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” So ‘n waarborg sou nodig gewees het vir die dissipels om hierdie opdrag uit te voer. Maar hierdie belofte strek tot aan die voleinding van die wêreld.

 

Ons kry die opdrag ook in Markus 13:10 en 14:9 sowel as in Lukas 24:44 – 49. In Handelinge 1:8 lees ons: Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot die uithoeke van die wêreld. Hierdie is die opdrag oor wat om te doen totdat Jesus weer kom. Dit is wat in Handelinge beskryf word – gelowiges wat dwarsdeur die wêreld getuig.

 

In die volgende blog gaan ons na die eerste dissipels en die Groot Opdrag kyk.

 




Psalm 26 (2)

 

The Christian ideal has not been tried and found wanting; it has been found difficult and left untried – G.K.Chesterton

 

Psalm 26 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

26:3 – 5:

Hierdie verse beskryf nou die psalmis se aanspraak op morele integriteit.

3Want ek hou u troue liefde voor oë en ek leef volgens u waarheid.

Om iets voor jou oë te hou, beteken dat ek daaraan aandag gee en dit goedkeur. Die Here se troue liefde is dus ‘n aanmoediging of ‘n reaksie – ek gaan dieselfde probeer doen. Met God se troue liefde in gedagte kan die psalmis nie anders as om volgens sy waarheid te leef nie. Hier verbind die psalmis troue liefde en u waarheid. Hierdie twee vorm ‘n paar.

 

4Ek sit nie met bedrieërs nie, en by die slinkse mense kom ek nie.

Sit en planne maak, word deur optrede gevolg – ons implementeer die planne. Ons moet vermy om saam met bedriërs en slinkse mense te sit. Hierdie aandrang om nie met hierdie soort mense te sit nie, staan teenoor om in God se waarheid te leef.

 

 5Ek het ’n weersin in die byeenkoms van kwaaddoeners, en by goddelose mense sit ek nie.

Hierdie vers maak dieselfde punt, maar sterker: Ek het ‘n weersin. Hy sit nie by kwaaddoeners en goddelose mense waar hulle besig is om hulle planne te maak nie. Hy hardloop eerder in die teenoorgestelde rigting.

 

Die psalmis vermy mense wat verkeerd lewe – bedrieërs … slinkse mense … kwaaddoeners … goddelose mense. Godsdiens bestaan nie slegs uit die vermyding van die kwaad nie, maar ook in doen van die goeie. Die goeie sluit in deelname aan die formele godsdiens in die huis van die Here. Daarna gaan ons in die volgende blog kyk.

 




Vrede vir julle

 

When we speak about freedom we generally make the mistake of asking what we are free from rather than what we are free for. — Emil Brunner

 

Vrede vir julle

In Johannes 20:21 lees ons: “Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Hier is drie baie belangrike punte:

  1. Vrede wat alle verstand te bowe gaan

Jesus begin deur aan sy dissipels sy vrede te gee. Dit is die basis vir hulle bediening en vorm die inhoud van hulle boodskap. Wat is hierdie vrede? Hierdie Bybelse sjalom is baie dieper as harmonie in die samelewing. Ware vrede kom ook net vir diegene wat verenig is met Hom wat vrede gee. Hierdie vrede word net in Hom gekry.

 

  1. Die belangrikste sending

Jesus is gestuur voordat Hy stuur.  Op ‘n sekere manier is die Seun besig om sy aardse bediening in ons voort te sit. Sy sending is die fundamentele, noodsaaklike sending. Hierdie sending word nou deur sy volgelinge voortgesit.

 

  1. Jesus se sending as ‘n model

Jesus se sending is ‘n model vir ons eie sending. Daar is natuurlik ook verskille. Hoe sit Jesus se sending in ons voort? Deur ons te bemagrig om te doen wat Hy gedoen het. Dit doen ons onder andere deur te getuig van wat Hy gedoen en geleer het. Ons word in die wêreld uitgestuur om te dien.