Maak jy die boodskap dood?

 

If you read history you will find that the Christians who did most for the present world are those who thought most of the next – C. S. Lewis

 

Maak jy die boodskap dood?

Kem Meyer (Less Chaos. Less Noise) is ‘n konsultant wat kerke beter leer kommunikeer. Haar boek is ‘n belangrike hulpbron vir kommunikasie in gemeentes. Kommunikeerders in die kerk kan moordenaars wees – hulle boodskap is die slagoffer. Elke kommunikeerder moet vir homself drie vrae vra sodat hy nie in sy ywer om vinnig en doeltreffend te kommunikeer die evangelieboodskap vermoor nie.

 

  1. Kom ek in my ywer te sterk oor?

In ons gretigheid om mense so ver te kry dat hulle stappe na Jesus toe neem, vergeet ons van Hom. Ons probeer mense so gou as moontlik by die bestemming wat ons vir hulle voorgeskryf het, kry. Ons maak die inhoud van ons boodskap leeg as ons mense wys na die programme en gebeure in die gemeente. Ons kommunikasie is uit voeling uit as ons nie mense met die hoër ideale en geestelike dissiplines verbind nie. Lewensverandering is nie van die gemeente se kalender afhanklik nie.

 

  1. Het ek ‘n gebrek aan bewustheid?

Het ons ‘n veilige omgewing waarbinne mense vrae kan vra en hulle geloof kan slyp, geskep? Of vertel ons net vir mense wat hulle moet dink en glo – ons wil die probleem vir hulle oplos? Stadig; vertrou God om sy deel van die proses te doen. Spandeer meer tyd daaraan om mense te verwys na plekke waar hulle self die antwoorde kan kry. Studente van die kultuur het beter verhoudings met alle mense. Gebruik inhoud, artikels en hulpbronne uit ‘n verskeidenheid van bronne. As ons mense vertrou en benagtig met ‘n verskeidenheid hulpbronne, sal hulle stappe na dieper vlakke van toewyding neem, want hulle is eienaars van die reis.

 

  1. Is my oordrag steriel?

In ons poging na professionalisme en uitmuntenheid het ons dinge oorbeplan – dit is net te afgewerk en gesensor. Hoe kan ons die foute van die mensdom beter aanvaar? Deur ons kwesbaarheid en egtheid as medereisigers te wys. Dit beteken ons moet meer spasie skep vir persoonlike gesprekke. Dan sal mense minder skepties wees en begin reageer, want daar ontstaan ‘n verhouding. Die gemeente se webblad kan gesentraliseerd en gestandardiseerd wees,  maar ons moet beheer oor ander sosiale media verslap. Die strewe is die bou van die geloofsgemeenskap en nie dat alles volmaak moet wees nie. Verbinding is belangriker as inhoud; bevorder “connection over correction.”

 

Bepaal waar die landmyne in jou kommunikasie is, want hulle kan jou boodskap doodmaak. Kyk net na waar jy die mense uitput en net geraas maak en bring lewe terug in jou boodskap.

 




Psalm 25(4)

 

The worst moment for an atheist is when he feels a profound sense of gratitude and has no one to thank – G.K.Chesterton

 

Psalm 25(4)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese Implikasies

Hierdie psalm het geen struktuur behalwe sy alfabetiese vorm nie. Watter struktuur van denke vloei uit hierdie psalm?

  1. Gebed beteken dat ek voortdurend na die Here in vertroue kyk. Ons wag in afwagting vir die Here om op te tree; ons aanbid die Here; ons soek skuiling by die Here.
  2. Gebed aanvaar die konteks van swakheid, eensaamheid, beproewing, lyding en gevaar. Druk en beproewing kan die laaste woord in gebed wees.
  3. Gebed vra dat die Here van ons bewus moet wees. Hy moet na ons kyk, sodat Hy sal optree. Hy is genadig; Hy verlos; Hy beskerm; Hy gee die goeie dinge aan ons; Hy stel mense wat ontrou is bloot.
  4. Gebed berus op die Here se natuur – sy trou, sy deernis, sy optrede om te verlos, sy goedheid, sy oordeel en sy integriteit om oor ons te waak.
  5. Gebed vereis dat ons die Here sal erken en so sy lyding sal ervaar oor die pad wat ons moet kies.
  6. Gebed erken dat ons moreel misluk het, maar ons weet dat die Here omgee vir mense wat misluk. Ons vra dat die Here ons mislukkings sal verskoon.
  7. Gebed vind plaas in die konteks van ons wat ‘n deel van die geloofsgemeenskap is – vir wie ons ook bid.

 

Miskien voel ek soms vasgevang in my omstandighede. Siekte, my sonde of iemand wat vyandig teenoor my optree, kan die lewe soos ‘n vangnet om my laat span. Ek voel ellendig en magteloos, want die nood druk my in ‘n donker hoek vas. Die lewenspad vorentoe lyk donker en onseker. Nood en ellende oorweldig my hele lewe. Hierdie psalm wil my help om uit hierdie vangnet te kom.

 

 

Die psalmis vra leiding. Hoe lei die Here my?

  1. Ek moet ‘n behoefte aan leiding hê – ek moet daarom vra.
  2. Ek moet besef dat God se leiding hoofsaaklik in die Bybel gevind word. Daarom moet ek die Bybel gereeld lees en daaruit leer. Dan sal ek die insig hê om sy leiding in my lewe te onderskei.

 

 




Die funksie van die wet

 

Not all “God-sized” visions are from God. Many are from a god-sized ego, and have no claims on God’s provision. —J.R. Vassar 

 

Die funksie van die wet

Martin Luther het gesê dat die basiese funksie van die wet is om ons na Christus te lei. Calvyn sê dat die wet basies drie funksies het,

  • Die wet openbaar die karakter van God. Ons moet eerstens verstaan wie se wet dit is. Die wet is nie ‘n lys van abstrakte pligte nie. Die wet openbaar die wetgewer. Die wet vloei voort uit God se wese. As Skepper het Hy die volste reg om sekere verpligtings op ons te plaas. Die wet openbaar God se heiligheid. Terselfdertyd openbaar dit ons eie onheiligheid. Die wet is ‘n spieël. Ons foute word deur hierdie spieël blootgelê. Die wet van God is ‘n spieël wat nooit jok nie. Dit dryf my na my knieë.
  • Die wet dien as beperking van ons sonde. Ons leef in ‘n wettelose samelewing. Ons oortree die spoedbeperkings op ons paaie as voorbeeld. Dink net wat sou gebeur het as daar nie wette was nie. Die wet, al haat ons dit, plaas ‘n beperking op ons. Sou hierdie beperkings verwyder word, sal ons nog meer sondig.
  • Al is ons vry van die las van die wet, openbaar dit steeds aan ons wat God tevrede stel. Die wet dien as gids vir ons.

 

Ons staan nie meer onder die vloek van die wet nie, maar die skoonheid van die wet is steeds vir ons beskikbaar.

 




Heiligmaking

 

A life of humility is not an option for a believer to choose or reject. It is a command of God. —Jerry Bridges 

 

Heiligmaking

Wat sal ons dan sê? (Romeine 6:1). Paulus het pas al die voordele wat voortspruit uit ons vryspraak deur geloof beskryf – die vrugte as gevolg van die evangelie. En dan: Wat nou? Hoe moet ons hierop reageer? Wat kan ons sê van die triomf van genade oor die sonde en die dood? Kan ek maar voortgaan en aanhou sondig? Beslis nie! Ons moet nie eers daaraan dink nie.. God het nooit bedoel dat vryspraak deur geloof ‘n lisensie is om te sondig nie.

Natuurlik kan geen goeie werke my vryspraak verkry nie, maar ek word vrygespreek om goeie werke te doen. Die vrugte van ware geloof en vryspraak is dat ons meer na die beeld van Christus verander word. As ons ware geloof het, is goeie werke op een of ander stadium onvermydelik. ‘n Persoon wat vrygespreek is, is ‘n veranderde persoon. Ons kan nie geloof hê as die Heilige Gees ons nie verander het nie. Ons kan nie die Heilige Gees hê wat die gesindheid van ons harte verander, sonder dat ons lewens verander nie. Ons kan nie vir Christus as ons Verlosser ontvang sonder om op ons knieë voor Hom te staan en te erken dat Hy Here is nie. Dit beteken nie ons is volmaak nie, maar ons is anders.

Met ons vryspraak verander ons lewens en begin die proses van heiligmaking. As ons ons geloof bely het en ons lewens verander nie, moet ons vra of daardie belydenis opreg was. Natuurlik gaan die stryd teen die sonde in ons hele lewe aan. Vryspraak is onmiddellik; heiligmaking is ‘n proses wat met ons vryspraak begin. Hierdie proses word voltooi met ons verheerliking in die hemel. Dit is die Heilige Gees wat hierdie proses van heiligmaking bemagtig.