Die heerskappy van sonde en die heerskappy van genade

 

The Christian story provides us with a set of lenses, not something for us to look at, but for us to look through –  Lesslie Newbigin

 

Die heerskappy van sonde en die heerskappy van genade

Sodat, soos die sonde deur die dood geheers het, so ook die genade sou heers deur geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus ons Here (Romeine 5:21).

Vroeër in die brief het Paulus reeds vir ons gesê dat die dood een van die gevolge van sonde is. Paulus praat nie hier van die blote teenwoordigheid van sonde nie, maar van die heerskappy van sonde. Dit is dus sonde wat sy mag en gesag uitoefen.

 

Paulus hou daarvan om die lyding en pyn wat ons ondervind met die heerlikheid wat vir ons wag as ons uit hierdie wêreld gaan, te vergelyk. Ons bestemming is nie om burgers van hierdie gebied van sonde en onder die mag van die dood te word nie. Die mag van hierdie vyand is gebreek en deur God se genade het Hy meer om aan ons te bied – vryspraak. Dit lei tot die ewige lewe deur ons Here Jesus Christus.

 

Ons kan hierdie leer van geregtigheid/vryspraak deur geloof alleen nie onderhandel nie. In hierdie leer word die heerlikheid en genade van God geopenbaar. Terwyl ons nog sondaars was het Jesus Christus die vloek van die dood op Hom geneem en die graf oorwin deur sy geregtigheid. Hierdie geregtigheid word nou aan ons toegereken as ons Hom vertrou.

 

 




Psalm 25 (3)

 

Psychoanalysis is confession without absolution – G.K.Chesterton

 

Psalm 25 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

25:12 – 14:

12As iemand die Here dien, leer Hy hom watter pad hy moet kies,

Hier lees ons weer van as iemand die Here dien. Ons ‘n beskrywing van waarheen hierdie dien van die Here lei: die Here leer hom watter pad hy moet kies. Ons kom tot die gevolgtrekking dat om die Here te dien die eerste beginsel van wysheid is. Mense moet hulle pad kies, maar die Here lei hulle om die regte pad te kies. Is my keuse versoenbaar met my toewyding aan die Here?

 

13sodat hy voorspoed sal geniet en sy nageslag die land sal bly bewoon.

Die keuse is die pad van die lewe of die pad van die dood. Kies ek die regte pad sal ek dit wat goed is geniet. Die voorspoed waarna die psalmis hier verwys, is om die land te behou. Geniet mag bloot tydelik wees, maar bewoon is meer permanent.

 

14Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend.

Hierdie stem ooreen met vers 12. Om die Here te dien, beteken dat sy raad met ons is. Menslik gesproke, sonder die Here se vertroue loop dinge skeef. Met raadgewers mag dinge beter verloop. Hoeveel te meer nie as die Here my raadgewer is nie. Wat is die resultaat van God se raad? Hy maak sy verbond aan hulle bekend. Die Here se raad en verbond is met diegene wat Hom dien en Hom erken.

 

25:15 – 19

15My oë bly altyd op die Here, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet bevry.

My oë bly altyd op die Here beteken om na die Here vir hulp en voorsiening te kyk. Ons sien die Here se kenmerkende wese – Hy bevry ons.

 

16Keer U na my en wees my genadig, want ek is eensaam en magteloos.

Hier is dit die Here se oë wat op die psalmis gerig is om te help en te voorsien. Die psalmis pleit dat die Here nie sal wegkyk en hom nie sien nie. Deur ons oë op die Here te rig, probeer ons sy oog vang. Die psalmis vra dit, nie omdat hy dit verdien nie, maar omdat die Here genadig is. Want gee vir ons die rede waarom die Here moet optree. Dit lyk asof die psalmis deur aanvallers omring is en die ander getroues ver weg is. Die psalmis is nie sterk nie, maar magteloos.

 

17Die benoudheid van my hart is oorweldigend; lei my uit my kwellinge.

Benoudheid is dikwels as gevolg van uitwendige probleme. Benoudheid van my hart verwys eerder na innerlike angs. Kwellinge en benoudheid hou verband met mekaar.

 

18Sien tog my ellende en my swaarkry raak en vergewe al my sonde.

Die psalmis vra die Here om na sy ellende en swaarkry te kyk. Dan verwys hy na sy behoefte aan vergifnis. Die implikasie is dat  swakheid, ellende en sonde almal deel van die mens se ondervindings is. Die psalmis vra dat God dit moet hanteer deur dit te dra. Hy moet ons aanvaar soos ons is.

 

19Kyk na my vyande, hoe baie hulle geword het en hoe fel hulle my haat.

Die Psalmis wil ook hê dat die Here na sy vyande moet kyk. Hulle is baie terwyl die psalmis eensaam is (vers 16). Hulle haat die psalmis.

 

25:20 – 22:

20Beskerm tog my lewe en red my; laat my nie in die skande kom nie, want ek skuil by U.

Hier gaan dit oor die werklikheid van beskerming. Ons sien dit in die pleidooi dat die Here moet beskerm en red. Die skuil by u is dieselfde as vertrou op die Here (vers 2 – 3).

 

21Mag onskuld en opregtheid my veilig hou, want ek wag op U

Onskuld en opregtheid  is natuurlik kenmerke van die Here. Hierdie verwys na die psalmis se onskuld en opregtheid alhoewel dit ook na die Here se integriteit mag verwys.

 

22O God, verlos Israel uit al sy benoudheid.

Reeds in vers 17 het ons van benoudheid gelees. Hier word God gevra om Israel te verlos.

 

 




Hoekom die wet?

 

God has linked together holiness and happiness; and what God has joined together we must not think to put asunder . —J.C. Ryle

 

Hoekom die wet?

En die wet het bygekom met die gevolg dat die oortreding vermeerder het (5:20). Die wet kom en openbaar ons hopelose situasie aan ons; die wet openbaar die werklikheid van sonde. Waar daar nie ‘n wet is nie, is daar nie sonde nie. Sonde is ‘n oortreding van die wet. God gee die wet sodat ons die omvang van ons sondes kan sien. Hoe meer wette daar is, hoe meer vasbeslote is ons om hierdie wette te verbreek – ons sien dit ook by ons kinders.

 

Paulus gaan hier verder: Maar toe die sonde toegeneem het, het die genade nog meer toegeneem. Hierdie is nie ‘n vergelyking nie, want die genade is oorvloediger as die sonde. Die skaal balanseer nie; die genade wat God gee, weeg baie swaarder as die mens se sondes. In ons lewens het ons ‘n oorvloed van genade veel groter as die dieptes van ons ongehoorsaamheid.

 




Die gemeente se gesondheid

 

If there were no God, there would be no atheists – G.K.Chesteron

 

Die gemeente se gesondheid

Te veel bediening word lukraak gedoen, maar bediening is te belangrik om dit so te doen. Ons moet dink waaroor die bedienings in ons gemeentes gaan. Hulle moet goeie rentmeesters wees van alles wat hulle ontvang het. Rick Warreen glo dat daar sewe belangrike vrae is wat gevra moet word as ons doeltreffende bedienings wil hê.

  1. Hoekom is jy hier?

Elke bediening moet ‘n duidelike idee hê van sy bestaansrede. Dit beteken hulle moet weet wat hulle moet doen en net so belangrik wat hulle nie moet doen nie. As iets nie inpas in die bestaansdoel van die bediening nie, word dit nie gedoen nie.

 

  1. Watter doel van die gemeente vervul jou bediening?

Elke bediening moet aan ten minste een van die doelwitte van die gemeente verbind wees. Hierdie doelwitte is gewoonlik aanbidding, evangelisasie, gemeenskap, dissipelskap en uitreik.

 

  1. Wie probeer jy bereik?

Is dit die gemeente of die gemeenskap of net die gelowiges of net volwasse gelowiges. Die gemeenskap se behoeftes verskil van dié van die gelowiges. As jy weet wie jy wil bereik, sal dit jou bediening beïnvloed.

 

  1. Waar dink jy roep God jou bediening om oor ses maande te wees?

Hier moet bedieningsleiers droom. As bedieningsleiers nie oor die toekoms kan droom nie, is hulle nie gereed om te lei nie.

 

  1. Hoe doen jou bediening wat hulle geroep is om te doen?

Vir die gemeente om gesond te wees, moet al sy sisteme werk. Leiers moet gereeld bid en dink oor hoe hulle hulle bediening kan verbeter.

 

  1. Met wie werk jy saam om dit te doen waarvoor God jou geroep het?

Bedieningsleiers moet gedurig soek na mense wat by hulle bediening gevoeg kan word. Jesus het gesê dat die oes groot is, maar die arbeiders is min. Bid vir meer arbeiders.

 

  1. Op watter manier dien jy mense?

Die bedienings moet die mense in die gemeenskap dien. Hanteer jy hulle fisiese, emosionele of geestelike behoeftes? Kan jy dalk waarde byvoeg by die diens wat die bediening lewer?

 

Bedienings is belangrik. Maak seker dat hulle optimaal funksioneer.