Psalm 28 (3)

 

“Poverty is not an accident. Like slavery and apartheid it is man-made and can be removed by the actions of human beings.” – Nelson Mandela

 

Psalm 28 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

28:6 – 8:

Hier kry ons ‘n skielike oorgang in die psalm.

6Die Here moet geprys word, want Hy het na my smeekgebed geluister.

Die Here moet aanbid en geprys word, want Hy het konkrete dinge in hulle lewens gedoen. Hoekom moet hy geprys word? Hy het hulle smeekgebede geantwoord; Hy het na hulle pleidooie geluister.

 

 7Die Here is my krag en my skild; op Hom vertrou my hart.

Ja, ek het hulp ontvang en my hart jubel, met my lied wil ek hom prys.

Hoekom aanbid en prys die psalmis die Here? Want Hy is die psalmis se krag en skild. Daarom vertrou hy die Here. Die Here sal optree en help. Daarom kan jy Hom vertrou en prys.

 

8Die Here is vir sy volk ‘n krag en ‘n toevlug;

Hy is die verlossende krag van sy gesalfde

Die Here is sterk en hy beskerm die gesalfde koning. Die individu se sekerheid het sy oorsprong daarin dat hy deel van die gemeenskap is wat deur die koning gelei word.

Dit is duidelik dat ‘n mens nie alleen in die wêreld is nie. Hy is lid van ‘n groep, ‘n gemeenskap, ‘n gelowige volk. Die bidder is verbind aan die volk van God en daarom kan hy sy vertroue uitspreek dat die Here vir hulle sorg wat in die leiding van die volk die verantwoordelikheid moet dra: die gesalfde. Hy bid ook nie net vir homself nie, maar ook vir sy medegelowiges wat saam met Hom aan God behoort. Die Here sorg vir sy volk: Hy is vir hulle ‘n herder. By God, en in die midde van die gemeente van die Here, is die gelowiges veilig en versorg.

 

28:9:

9”Verlos tog u volk en seën u erfdeel; wees vir hulle ‘n herder en dra hulle vir altyd!”

Hier kry ons ‘n terugkeer na ‘n pleidooi. Hier pleit hy vir seën en verlossing.

Hier blyk dit dat hierdie eintlik ‘n dankpsalm is. God het gehoor en nou loof die bidder die Here en vertel hy aan ander van die mag van die Here.

 

Volgende keer kyk ons na die teologiese implikasies van die psalm

 




Ons gemeente fokus na binne

 

We have a right to believe whatever we want, but not everything we believe is right –Ravi Zacharias

 

Ons gemeente fokus na binne

Baie gemeentes groei nie en wonder waarom. In meeste gevalle sal ons vind dat hulle hulle hart vir buitestanders verloor het. Hoe weet ons as ‘n gemeente net op sy eie lidmate fokus? Hier is vyf tekens.

  1. Besluitneming word deur persoonlike voorkeure gedryf

Die standaard is eenvoudig: Hou die lidmate daarvan? Die voorkeure van lidmate bepaal alles – van die musiek tot die programmering. Die hele doel is om mense tevrede te stel. As ‘n lidmaat ontevrede is, sal die leierskap alles in hulle vermoë doen om te verseker dat hy nie die gemeente verlaat nie. Die probleem is dat verskillende mense van verskillende dinge hou en jy kan nie altyd almal tevrede stel nie. As jy probeer om almal tevrede te stel, stel jy op die einde niemand tevrede nie.

 

  1. Emosie is belangriker as die roeping

Gemeentes wat na binne fokus het ‘n roeping. Die probleem is dat niemand hulle daaraan steur nie. Hoe gebeur dit? Lidmate is so ingestel om hulleself tevrede te stel dat enige bespreking oor die toekoms gaan oor hoe mense voel – is hulle gelukkig of nie, wil hulle bly of ry, wat moet gebeur vir hulle om te bly. Daarom neem leiers emosionele besluite in ‘n poging om almal tevrede te stel. Verlore is dit is die roeping van die gemeente om mense buite die gemeente te bereik.

 

  1. Daar is geen opoffering nie

In hierdie gemeentes is niemand bereid om iets vir iemand anders op te offer nie – ander moet opoffer om hulle tevrede te hou. In ‘n gemeente wat na buite fokus, offer lidmate vir buitestanders op. Maar dan moet hulle besef dat die gemeente nie net oor hulle gaan nie. Hulle besef dat opoffering vir ander is ‘n pad na vreugde.

 

  1. Groei wat wel plaasvind, is as gevolg van oorplasings

Gemeentes wat na binne fokus kan groei, maar dan is dit nie werklik groei nie. Feitlik al die groei is van lidmate van ander gemeentes. Ongelukkig is hierdie dikwels mense wat van die een gemeente na die ander spring. Dit is mense wat ‘n gemeente soek wat hulle gelukkig sal maak.

 

  1. Innovering is dood of op lewensondersteuning

Gemeentes wat na binne fokus, is selde opgewonde oor die toekoms. Hulle klou aan die huidige of die verlede vas. Hulle verkies dinge soos hulle is – of was. Hulle hou nie van nuwe dinge nie. Daarom is innovering dood; nuwe idees word afgeskiet. Lidmate hou van die gemeente net soos hy is. Dit beteken gewoonlik elke jaar ‘n bietjie kleiner.

 

Wat is die teenmiddel vir gemeentes wat na binne fokus? Die roeping. Fokus op jou roeping; fokus op wat jy wil bereik – nie op wat jy wil behou nie; fokus op wie jy wil bereik – nie op wie jy wil behou nie. Sal jy sekere lidmate ontstel? Sekerlik. Hulle het ander gemeentes om na te gaan.

 

 

 




Psalm 25(2)

 

When men stop believing in God, they don’t believe in nothing; they believe in anything – G.K.Chesterton

 

Psalm 25(2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

25:4 – 7:

Hierdie gedeelte sluit twee pleidooie in: een vir onderrig/leiding en een vir vergifnis.

4Here maak u paaie aan my bekend; leer my u weë.

5Lei my deur u waarheid

Maak aan my bekend, leer my … lei my. Hierdie drie werkwoorde dui op meer as onderrig sodat iemand iets kan verstaan. Dit gaan hier oor onderrig wat die lewe beïnvloed. Hierdie is ‘n versoek aan die Here om leiding te gee. In die proses verwys die psalmis na die Here se trou en standvastigheid.

 

En leer my. Want U is die God wat my red; op U wag ek die hele dag.

Omdat U die God is wat my voortdurend red, wag ek die hele dag op U. God is die God wat red. Ek kan wag, want ek weet dat die Here sal verlos.

 

6Dink aan u barmhartigheid en troue liefde, Here, want dit is van altyd af daar.

7Aan die sondes van my jeug en my oortredinge moet U nie dink nie; dink aan my in u troue liefde, omdat U goed is, Here.

Hier is twee pleidooie om te dink en een om nie te dink nie. Twee maal pleit die psalmis dat die Here  in u troue liefde aan die psalmis sal dink. Een maal word ook na die Here se barmhartigheid en die ander keer na sy goedheid verwys. Hierdie verwys na die Here se inherente instink om in barmhartigheid en trou op te tree. Die psalmis verwys in teenstelling met die Here se eienskappe na sy eie sondes en oortredinge. Die psalmis verwys na die sondes van sy jeug toe hy nie van beter geweet het nie. Vir sy oortredings as volwassene het hy geen verskoning nie. Ons het hier ‘n pleidooi dat die Here nie die psalmis se sondes en oortredinge moet gebruik as rede om sy deernis en goedheid aan die psalmis te staak nie.

 

25:8 – 11:

Die psalmis gaan verder met dieselfde twee temas, maar tot die laaste reël is dit veralgemenings.

8Die Here is goed en reg, daarom wys Hy sondaars die pad.

9Mag Hy verdruktes lei in wat reg is; mag Hy hulle sy pad leer.

Weereens verwys die psalmis na God se goedheid – goedheid is ‘n inherente deel van God. Dieselfde geld vir reg. Die Here wat goed is, is ‘n uitdrukking van sy geregtigheid. Mense se reg kan hulle onverdraagsaam teenoor mislukking maak. Maar in die Here  vermeerder dit sy toewyding aan mense wat van die pad afgedwaal het. Diegene wat verdruk en swak is, moet met gesag gelei word.

 

10Al die paaie van die Here is paaie van troue liefde en waarheid vir hulle wat by sy verbond en sy bepalings bly.

Hier word die temas van vers 4 – 9 verder gevoer. Hierdie gedeelte herinner aan Eksodus 34:6 – 10. Ons het reeds in vers 4 van die Here se paaie gelees. Ook van die Here se troue liefde en waarheid het ons vantevore in die psalm gelees. Hierdie verwysing na al die paaie van die Here is ‘n kragtige opsomming. Maar dit laat nie die psalmis sonder verantwoordelikheid nie – hy moet by die Here se verbond en bepalings bly.

 

11Ter wille van u Naam, Here, vergewe my skuld, want dit is groot.

Weer keer die psalmis terug na sy bewustheid van skuld. Hy weet dat hy hom aan die Here se  barmhartigheid moet oorgee. Vergewe is die kansellasie van die belang van verkeerde optrede – iets wat net die Here kan doen.

 

In krisistye besef ek werklik wie die Here is. Ek word so bewus van sy grootheid dat ek my ellendige situasie vir ‘n oomblik vergeet. Ek sien dit by die digter. Met lofwoorde beskryf hy die goedheid en regverdigheid van die Here. God roep selfs sondaars tot bekering. God gaan as ‘t ware saam met die mens wat aan die verbondsbepalings gehoorsaam is, op die lewenspad. Hy laat daardie mens liefde en trou ondervind. God is liefde en Hy gee liefde; God is getrou, Hy handel trou met die mens volgens sy woord.

 




Geregverdig deur geloof

 

Fallacies do not cease to be fallacies because they become fashions – G.K. Chesterton

 

Geregverdig deur geloof

Zondervan het pas The 5 Solas Series bekend gestel. Ek gaan ‘n paar blogs wy aan Faith Alone: The Doctrine of Justification van Thomas Schreiner.

Een van die slagspreuke van die Hervorming was sola fide – deur geloof alleen.  Hierdie woorde verklaar dat verlossing nie die gevolg van ons eie goeie werke is nie, maar om buite onsself na Iemand anders te kyk – die persoon en werk van Jesus Christus. Dit is nou eeue later en ons moet vra of hierdie stelling nie net die oorblyfsel van ‘n tyd wat lankal verby is, is nie.

 

Nee, want dit is wat die Bybel ons leer en God se woord verloor nooit sy transformerende krag nie. Dit gaan dus nie oor tradisie nie, maar oor die Woord van God. Dit hanteer een van die fundamentele vrae van die mens: Hoe kan ‘n persoon in die regte verhouding met God wees? Hoekom is hierdie Bybelse waarheid steeds belangrik vir ons vandag? Ons praat hier van voor God staan op die laaste dag – die oordeelsdag. Hoe sal ons voor die heilige God staan?

 

Sola fide is ‘n noodsaaklike teologiese waarheid. Christene word maklik daarvan beskuldig dat hulle leerstellings en tradisies beskerm. Natuurlik is dit soms waar. Maar om ons geloof te bewaar, is belangrik: Maar nou voel ek my verplig om hulle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het (Judas 3).

 

Sola fide is belangrik, want dit herinner ons aan die genade van die evangelie. Dit getuig dat ons verlossing net van die Here kom. Sola fide gee al die eer aan God, sodat geen mens kan spog nie. Sola fide herinner ons dat alles wat ons geniet van God af kom. Geloof kyk na ander vir verlossing. Daarom is verlossing deur genade alleen en in Christus alleen. Christus is ons enigste hoop en ons moet Hom daagliks bedank vir die genade wat ons enigste bron van krag is.