Die vyf solas van die Hervorming.

 

We do not love to learn that we can do nothing without Christ. —J.C. Ryle

 

Die vyf solas van die Hervorming.

Zondervan het pas The 5 solas Series bekend gestel. Ek gaan ‘n paar blogs wy aan Faith Alone: The Doctrine of Justification van Thomas Schreiner.

 

Wat beteken dit om ‘n Protestant te wees? Die basis is sekerlik die vyf solas van die Hervorming:

  • Sola Scriptura – die Skrif alleen.
  • Sola gratia – genade alleen.
  • Sola fide – geloof alleen.
  • Sola Christus – Christus alleen.
  • Soli Deo gloria – aan God alleen die heerlikheid.

 

Die probleem is dat baie gelowiges nog nooit van hulle gehoor het nie. Dit mag wees dat hulle nog nie die name gehoor het nie, maar die leerstellings sal herken as hulle hoor wat elke sola beteken. Vir baie gelowiges is hulle egter vreemd – selfs kwetsend. Ons leef in ‘n tyd waar die gesag van die Skrif en die eksklusiwiteit van Christus as Middelaar bevraagteken word. Die versoeking is om aan hierdie vyf solas as museumstukke te dink – iets uit ‘n tydperk lank gelede met geen toepassing vir vandag se kerk nie. Nie waar nie. Ons het hierdie solas nog net so nodig soos die Hervormers hulle 500 jaar gelede gehad het.

 

In 2017 vier ons die 500ste herdenking van die Hervorming. Daarom is dit belangrik om na die verlede, maar ook die huidige te kyk.

 

 




Sekere tipes kerke gaan sterf

 

There is the great lesson of ‘Beauty and the Beast’, that a thing must be loved before it is lovable – G.K.Chesterton

 

Sekere tipes kerke gaan sterf

Die dood is nie ‘n onderwerp waarvan ons hou nie. Die dood van kerke nog minder. Ons het die gemeente, ten spyte van sy tekortkominge en valshede, lief. Maar baie kerke is besig om dood te gaan. Uit ‘n Bybelse perspektief weet ons dat die bruid van Christus, die kerk, sal oorwin. Ons weet ook  dat die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (Matteus 16:18). Dit beteken nie dat individuele gemeentes nie sal doodgaan nie. Hulle sal doodgaan tensy God ingryp.

 

Thom Rainer identifiseer vier tipes kerke wat sal doodgaan.

  1. Die Eks-Bybel kerk

Daar is kerke wat die waarhede van die Skrif verlaat het. Baie kerke ontken dit, maar in werklikheid gee hulle net lippediens aan die Bybel. Die gemeente bestudeer nie die Skrif nie; die leraar hanteer nie die Bybelse teks nie. Die Bybel is net nog ‘n boek wat selde gelees, bestudeer of verkondig word. Die woord van God het geen krag in hierdie kerke nie.

 

  1. Die Buiteklub Kerk

Lidmate van hierdie kerke sien hulle lidmaatskap as ‘n byvoordeel. Hulle wil hulle musiekstyl hê; hulle wil die eredienste op die tye wat hulle pas hê; hulle wil die tipe argitektuur bepaal; hulle wil bepaal hoe lank die eredienste moet duur. Hulle gee hulle bydraes en is geregtig op die voordele. Moenie vir hulle vra om te evangeliseer, of om ander eerste te plaas of om opofferings te maak nie. Dit is tog hulle kerk!

 

  1. Die kerk van slegte woorde

As jy ‘n “goeie” geveg wil sien, moet jy na hierdie kerke toe gaan. Die vergaderings van die kerkraad is twissiek. Die leraar en kerkraad kry gereeld e-posse – en die woorde van hierdie kommunikasie is nie aangenaam nie. Skinder en rugstekery is algemeen. Hulle spandeer meeste van hulle energie aan slegte woorde. Hulle het nie die tyd en energie om die goeie nuus te versprei nie.

 

  1. Die Eks-gemeenskapskerk

Gaan na die gemeente en kyk na die lidmate. Gaan na die gemeenskap en kyk na die inwoners. Hulle lyk nie dieselfde nie. Hulle gaan nie na dieselfde plekke toe nie. Die gemeenskap het verander, maar die kerk het nie verander nie. Die mense buite die kerk is “daardie mense.” “Óns soort van mense” sit binne in die kerk. Die idee van brûe na die gemeenskap  bou, word teengestaan.

 

Hoeveel gemeentes in Suid-Afrika val in een van hierdie kategorië? Te veel gemeentes is besig om dood te gaan.

 

 




Psalm 25 (1)

 

Let your religion be less of a theory and more of a love affair – G.K.Chesterton

 

Psalm 25 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema: As ons die Here daarom vra, maak Hy sy weë aan ons bekend.

Hierdie psalm is ‘n gebed. Dit dek die basisse van gebed. Die klem op paaie/weë dui moontlik daarop dat hierdie psalm as ‘n model gebed gedien het – ontwerp om mense te leer om te bid.

 

Hierdie is ‘n alfabetpsalm – in die Hebreeuse teks begin elke reël met die daaropvolgende letter van die alfabet. Net vs 18 en 22 is hierop ‘n uitsondering. Hierdie maak dit uiteraard makliker om die psalm te onthou. Om die psalm in afdelings te verdeel, is arbitrêr.

 

Ons weet nie wanneer hierdie psalm geskryf is nie. Dit is moontlik tydens die Tweede Tempel tydperk gebruik. Individue en gemeenskappe was onder druk van ander omliggende gemeenskappe. Wat ons hier kry, is pleidooie vir verlossing ingeweef met pleidooie vir vergifnis. In die psalm kry ons ‘n sterk bewustheid van sonde, daar is baie verklarings van vertroue en ‘n sterk begeerte vir rigtinggewing.

 

In feitlik die helfte van die psalms (72) word daar van vyande gepraat. Vyande is nie net mense wat teen my gekant is nie, maar ook dié wat gekant is teen ‘n lewe volgens God se wil en standaarde. Die digter vra dat God sal keer dat sy vyande hom nie oorweldig nie. Hulle was gekant teen alles waarvoor hy staan. Hy was bang dat die mense sou dink dat dit nie help om vir God te lewe as sy vyande suksesvol is nie. Hy het geweet dat die Here altyd seëvier, maar hy wou nie hê dat sy vyande se sukses ander se geloof nadelig moes beïnvloed nie.

 

25:1 – 3:

In hierdie drie verse kry ons die psalm se aanvanklike kyk na die Here en ‘n stelling van vertroue.

Van Dawid.

Na U, Here, hunker ek.

Hunker na is ‘n teken dat die psalmis sy afhanklikheid erken. Hy lig sy hande en oë op in gebed tot die Here.

 

2my God, op U vertrou ek; laat my tog nie in die skande kom nie; laat my vyande hulle nie oor my verheug nie.

Op U vertrou ek beklemtoon die punt van vers 1. Die rede hoekom die psalmis op God vertrou is dat hy nie in die skande sal kom nie. Hy is bang die gemeenskap sal sy eer aantas; sy vyande sal hulle oor hom verheug.

 

3Ja niemand wat op U wag, sal in die skande kom nie; maar hulle wat sonder rede ontrou is, sal in die skande kom.

In die skande kom, is ‘n voortdurende moontlikheid vir die individu en Israel as geheel. Verse 15 – 21 sal dit duidelik maak dat die psalmis onder persoonlike druk verkeer. Om op die Here te wag, is ‘n belangrike tema in hierdie psalm. Dit is net ‘n ander manier om te sê dat jy op die Here vertrou. Om sonder rede onttrou te wees, is iets wat ons by Job se vriende gekry het. Job het na die Here opgekyk, maar sy vriende verraai hulle verhouding met die Here – sonder rede.

 

 




Geestelike volwassenheid: Geen kortpaaie nie

 

Don’t let success go to your head. Don’t let failure go to your heart. —Tim Keller

 

Geestelike volwassenheid: Geen kortpaaie nie

Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom (Filippense 1:6)

Rick Warren sê dat om geestelik volwasse te word ‘n proses is. Vir ‘n gelowige om sy hele lewe aan God oor te gee, vereis tyd. Ons kan dit, net soos fisiese volwassenheid, nie aanjaag nie. Sommige gelowiges, as hulle Christus in hulle lewens innooi, gee aan Hom ‘n vastrapplek in hulle lewens, maar hulle weerstaan Christus se pogings om volledig van hulle lewe besit te neem. Daar is dele van ons lewens wat ons weghou van Hom. Jesus wil saam met ons werk om daardie gebiede wat ons nog nie aan Hom oorgegee het nie, te ontdek.

 

Veranderings, veral geestelike veranderings, gebeur geleidelik en nie sommer onmiddellik nie. As God jou help om geestelik te groei, klap Hy nie net sy vingers en alles is afgehandel nie. Hy doen dit inkrementeel. As God ‘n paddastoel wil maak, neem dit ses uur; as God ‘n akkerboom wil maak, neem dit 60 jaar.

 

DIE Heilige Gees gaan veranderinge in jou lewe maak – baie meer as wat jy gedink het moontlik is. Maar dit gaan nie oornag gebeur nie. Ons moet doelgerig wees. Paulus sê dat ons nuwe skepsels met ‘n nuwe natuur sal word. Ons moet die ou dinge, die ou paaie wat ons verhoed om Christus te leer ken, afgooi. Met die hulp van die Heilige Gees moet ons nuwe klere aantrek. Ons moet toelaat dat God dit vir ons doen – maak nie saak hoe lank dit neem nie.