Psalm 24 (4)

 

God may not do what we ask, but we must never think it’s because He is not able to do it.—D.A. Carson

 

Psalm 24 (4)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese Implikasies.

Hierdie psalm bestaan uit drie afdelings en ons moet oor hulle teologiese stellings nadink.

  1. Die wêreld behoort aan die Here en Hy maak dit veilig.
  2. Mense kan die Here se seëninge in die tempel soek as daar integriteit in hulle lewens en hulle verhouding met God en ander mense is.
  3. Sulke mense kan hulle stad aanspoor om die roemryke Koning in hulle midde toe te laat.

Wat interessant is, is dat die Here beide binne die gemeenskap kan wees en aan die deur kan klop. As iemand ‘n menslike wese is, maak God aanspraak op hom/haar. Omdat die wêreld aan die Here behoort, is ons slegs huurders en ons moet ons dienooreenkomstig gedra.

 

Hierdie 3 000 jaar oue psalm het mense deur die eeue geleer dat die hoogste prioriteit in hulle lewe aanbidding van God is. Dit is uit blydskap geskryf, moontlik toe die verbondsark uit Obed-Edom se huis uitgehaal en na Jerusalem geneem is (2 Sam 6:10 – 12). Die Jode het dit heel eerste op die eerste dag van die week in die tempel gesing. Christene gebruik dit dikwels tydens Hemelvaartdag. Vs 7 – 10 word dikwels in gereformeerde kerke tydens Nagmaal gesing.

 

Hierdie psalm is al dikwels getoonset. Dit is tydens gesamentlike aanbidding gebruik. Dit is ook herhaaldelik (? jaarliks) by die tempel opgevoer. Die oorsprong was waarskynlik ‘n lied wat gebruik is as die prosessie van priesters die verbondsark in die heiligdom ingedra het – ‘n jaarlikse fees. Die gebruik is reeds deur Dawid begin – nog voor daar ‘n tempel was (2 Sam 6:12 – 15). Die ark, gebou vir Moses in die woestyn, is teken van God se teenwoordigheid tussen sy volk. Die Filistyne het die ark weggevoer. Dit het gelyk asof God nie meer met sy volk was nie (1 Sam 4:11). Dit was ook die verbondsark – die simbool van God se spesiale verhouding met Israel en later met Dawid en sy afstammelinge wat op die troon gesit het. In diepe dankbaarheid aan God is hierdie seremonie jaarliks herhaal op so ‘n wyse dat almal daaraan kon deelneem – van koning tot eenvoudige burger. So is hulle lojaliteit aan God jaarliks hernu.

 

Sou dit nie goed wees as ons God se genade beter wil verstaan om hierdie woorde buite die toe deur van ons kerk te laat herleef nie. Dan moet ons ook onthou dat hierdie psalm vooruit kyk na die tyd wanneer die poorte van die hemelse Jerusalem vir ewig oopgegooi sal word en almal genooi sal word om in te kom. Dit sal my ook daaraan herinner dat die magtige Koning nie uit die lug gekom het nie, maar daar tussen die mense wat die ark gedra het.

 

In die Ou Testamentiese bedeling het gelowiges na Jerusalem toe gekom om God daar in die tempel te aanbid. Omdat God heilig is, moes die mens wat kom om voor Hom te verskyn, eers aan sekere vereistes voldoen. Ek aanbid steeds dieselfde Skepper-, Reddergod, maar daar is ‘n paar verskille:

  1. Ek kan Hom enige plek aanbid omdat ek deur Jesus Christus toegang tot God het.
  2. Omdat Hy my juis van sonde verlos, is my skuld nie langer ‘n muur tussen my en God nie – Hy het my hande rein en my hart suiwer

 

Wat eers die voorwaardes was om Hom te mag ontmoet, word nou die kenmerke van ‘n Christen se dankbaarheidslewe. Daarom mag ek voor Hom verskyn. Trouens, Hy kom na my toe en ek het die reg om Hom te nader – ja, ek, net soos ek is.

 

 




Word narsisme ‘n deug?

 

In the long run, we shall do more by sometimes doing less. —C.H. Spurgeon

 

Word narsisme ‘n deug?

[Narsisme = Sieklike liiefde vir die self. Narcissus was ‘n buitengewoon aantreklike jong man wat op sy eie beeld verlief geraak het – HAT]

In ons moderne samelewing word die individu hoog aangeslaan – die tyd waarin almal voel dat hulle hulle elke beweging aan almal moet publiseer. Ons publiseer elke beweging op Facebook en meet dan ons waarde volgens die aantal “likes” wat ons kry. Die subteks: “Dit is my lewe en almal moet daarvan weet en daarvan hou!” Die vraag is: Het die pendulum te ver geswaai? Is ons selfbehep – het ons ‘n obsessie met onsself?

 

Jean Twenge en Keith Campbell (The Narcissim Epidemic: Living in the Age of Entitlement) se navorsing toon duidelik dat ons obsessie met onsself besig is om toe te neem. Natuurlik is ‘n realistiese siening van jouself belangrik, maar dit is maklik om oor die lyn te trap. Wat is verkeerd met narsisme? Hier is ‘n paar dinge:

  • ‘n Opgeblaasde siening van jouself laat ons nietighede opblaas. Alles van my moet net te wonderlik wees. Maar as alles so wonderlik is, hoe differensieer ons tussen dinge? Hoe hanteer ons teleurstelling? Hoe kan ons die gewone dinge vier?
  • Nasisme maak ons blind vir die sonde. Dit verhoed dat ons ons behoefte aan vergifnis en verlossing raak sien.
  • ‘n Wêreld oor myself en ek word baie gou te klein.
  • Jesus het geleer dat as ons ons lewe verloor, vind ons dit. Dit klink paradoksaal, maar dit is waar. As alles net oor my gaan, gaan iets binne in my dood.
  • Ek word ‘n verbruiker van dienste waartoe ek voel ek geregtig is. Ek word gefikseer op my regte en vergeet van my verantwoordelikhede.
  • As ek my net met my en my dinge besig hou, vergeet ek van die behoeftes van ander.
  • Ek luister nie na die stories van ander nie. Al waarin ek belangstel is my eie storie.
  • Ek plaas my vertroue in myself. Om Jesus te aanbid en Hom in die middel van my lewe te plaas, verdwyn vinnig.

 

Dit help nie ons praat net oor ‘n probleem nie … ons moet iets daaraan doen. Daar is eenvoudige  hulpmiddels wat ons kan help. Dink ‘n bietjie na oor hoe die hawelose persoon wat buite slaap sy tyd tydens die dag spandeer. Hierdie oefening wat ‘n bewustheid van ander vereis, kan help. Deur hierdie vraag na te vors, word ek aan ‘n nuwe wêreld blootgestel.

 

Is die toename in narsisme nie dalk ‘n teken van ‘n wêreld wat te klein geword het nie? Is dit nie ‘n teken van ‘n wêreld wat nie meer ‘n storie het om my te inspireer nie? Is dit nie ‘n teken dat my lewe buite my eie beperkte parameters moet skuif nie? Miskien moet ons weer daaraan herinner word dat God my liefhet en dat sy liefde die hele wêreld insluit.

 

Daar is baie stories wat vertel kan word. My plek is nie om die hoofrol in elkeen te speel nie. Deur op die kantlyn te staan en ‘n storie wat niks met my te doen het, te vier, is ‘n goeie begin.

 




‘n Betekenisvolle gebedslewe

 

Courage is almost a contradiction. It means a strong desire to live taking the form of a readiness to die – G.K.Chesterton

 

‘n Betekenisvolle gebedslewe

Sukkel jy om gebed in jou alledaagse lewe in te pas? Die eerste stap om jou gebedslewe te verbeter, is eenvoudig deur dit te doen. Om ‘n goeie gewoonte te ontwikkel is moeilik, maar as dit eers gevestig is skiet dit wortel en begin groei. Daar is veral vier struikelblokke wat ‘n betekenisvolle gebedslewe bemoeilik. Kom ons kyk na hulle.

 

  1. Tyd

“Ék het nie die tyd nie.” Hoe dikwels hoor ons nie die verskoning nie. Hoeveel ure spandeer ons elke dag op ons selfoon en die Internet … en ons het nie tyd om te bid nie. Die beste manier om tyd te kry, is deur ‘n gereelde tyd vas te stel – miskien soggens vroeg of net voor jy gaan slap.

 

  1. Antwoord

Soms soek ons ‘n spesifieke antwoord vir ‘n spesifieke probleem as ons bid. Natuurlik kan God voorsien en genees. Dikwels sien ons nie God se plan vir ons lewens nie, want ons fokus op die antwoord wat ons wil hê – nie die antwoord wat Hy vir ons gee nie. As jy dus bid, moet jy nie vir ‘n spesifieke antwoord vra nie, maar vra dat God se wil gedoen sal word. Bid vir wysheid dat jy sy wil sal verstaan. Dan sal jy geredelik antwoorde vir jou probleme kry.

 

  1. Skuldgevoelens

Ons voel skuldig om God met al ons behoeftes te nader – dit voel asof ons selfsugtig is. Maar wat sê Hebreërs 4:16: Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

God wil hê dat ons Hom met vrymoedigheid moet nader. God wil ons help, maar dan moet ons gewillig wees om volle beheer van ons lewens te gee. Ons moet Hom volledig vertrou. Eers dan sal Hy in ons lewens kan werk.

 

  1. Krediet

Dit is soms vir ons moeilik om krediet te gee waar dit nodig is. Ons bedank vriende of familie of ons sê dit was geluk. Dikwels eien ons die krediet vir onsself toe. As God jou gebede antwoord, ruim tyd in om Hom die krediet te gee.

 

Daar is geen wonderformule om betekenisvol te bid nie. God is duidelik oor hoe ons moet bid en oor die resultate wat ons kan verwag. Ontwikkel jou daaglikse gebedslewe en sien wat God vir jou kan doen.

 




Want as ek swak is, is ek sterk

 

Art is born when the temporary touches the eternal – G.K.Chesterton

 

Want as ek swak is, is ek sterk

Wat Paulus hier in 2 Korintiërs 12:10 sê, klink duidelik vir ons verkeerd. Hierdie vers sê nie dat swak beter is nie, maar dat swak sterker is. Hoe is dit moontlik? Dit gaan hier oor geestelik gesond/sterk. ‘n Belangrike aspek van geestelike gesondheid is om by ‘n punt te kom waar ons nie meer verder kan nie … en dan op God te vertrou. Ons beskou dinge wat ons tot stilstand ruk gewoonlik as ‘n vloek. Ons is emosioneel en geestelik gesond as ons God in die vloei van ons lewens kan raaksien – ook in daardie moeilike dae.

 

Die breë konteks van 2 Korintiërs 12:1 – 10 is dat ‘n groep vals apostels probeer om Paulus se posisie te ondermyn. In reaksie praat Paulus reguit oor homself, sy toewyding aan God se werk en ook oor sy kwesbaarheid. Op hierdie stadium was Paulus se gesondheid nie goed nie – hy verwys na ‘n doring in sy vlees. Paulus sien dit as ‘n aanslag van Satan. Herhaalde gebede bring geen verligting nie. Hy is egter bereid om God se antwoord te aanvaar: My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.

 

Kom ons kyk hoe maak Paulus vrede met sy swakheid.

 

Stadium 1: Vlug (verse 7 – 8)

Paulus se reaksie op sy swaarkry is natuurlik: vlug. Hy wil daarvan ontslae raak. Hy was immers ‘n doeltreffende apostel en om sy taak uit te voer, het hy goeie gesondheid nodig. Hy sou entoesiasties gebid het, want hy het al baie wonderwerke gesien. Genesing was seker. Hy besef gou dat hy volgehoue gebed nodig het. ‘n Tweede en derde gebedsessie volg – sonder sukses. God antwoord, maar die antwoord was nie juis welkom nie: My genade is vir jou genoeg.

 

God antwoord duidelik, maar Paulus hou nie juis van die antwoord nie. Ons hoor gewoonlik God se stem baie vinnig as hy vir ons vertel wat ons graag wil hoor. Dit is iets heeltemal anders as die antwoord moeilik is. Ons hoor dikwels net wat ons wil hoor. As God moeilike antwoorde gee, is ons reaksie gewoonlik of vlug of ontkenning.

 

Die beginsel is eenvoudig: Ons moet bereid wees om oor enigiets te bid, maar ons moet ook bereid wees om die antwoorde te aanvaar. Baie van die sogenaamde “ontbeantwoorde” gebede is gebede wat geantwoord is, maar ons hou nie van die antwoord nie.

 

Stadium 2: Aanvaarding (vers 9)

Ontkenning kan nie vir altyd duur nie. Paulus se doring in die vlees gaan nie weg nie. Paulus verander nou sy strategie van vlug en ontkenning na emosioneel gesonde geestelikhied. Nou kan ons ons kwesbaarheid as ‘n vriend sien. Dit is makliker gesê as gedoen. Ons kan net God se doel verstaan as ons sekere dinge duidelik verstaan:

  • God is liefde. Al is die reis moeilik sal ons uiteindelik besef dat die reis deur liefde gemotiveer is. Selfs as jy voel day jy nie verder kan nie, het God jou steeds lief.
  • God is almagtig. As ons sukkel is dit nie omdat God nie kan help nie. Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie (Jesaja 59:1).
  • God is alwetend. Niks verbaas Hom nie, want Hy besit al die feite.
  • God is alomteenwoordig. Al voel dit vir ons asof Hy ver is, is Hy steeds by ons.

Ons weet hierdie feite is waar, maar ons harte is soms onseker. Ons moet ons gereeld aan die trou van God in ons lewens herinner.

 

Ons geloofsreis is ‘n reis waartydens ons ontdek dat God vir ons is. Die probleem is dat vrees veroorsaak dat ons dit vergeet. ‘n Skielike krisis en ons vergeet al die jare wat God getrou was. As dit gebeur, moet ons terug dink aan wat God alles in die verlede vir ons gedoen het.

 

Dit is die strategie wat Paulus hier volg. In vers 1 – 7 praat hy van wegruk tot in die derde hemel. In antieke tye was dit die plek waar God gewoon het. Paulus sê dat hy in die teenwoordigheid van God was. Paulus noem dit voor hy van sy huidige probleme praat, want in die lig van alles wat hy gesien het, hoekom sou hy hom oor tydelike probleme ontstel? Onthou dit waarvan Paulus hier praat het veertien jaar vantevore gebeur. Hier kry Paulus sy sterkte by ‘n gebeurtenis wat 14 jaar gelede plaasgevind het.

 

Hoe aanvaar ons God se doel? Deur in die karakter en liefde van God te vertrou. Ons onthou dit as ons onthou van alles wat God vir ons gedoen het.

 

Stadium 3: Kry nuwe hulpbronne van krag (vers 1 – 7)

Die gedeelte eindig op ‘n optimistiese noot: As ek swak is, is ek sterk, Hoekom? Sy swakheid maak hom van God afhanklik. In plaas van vra hoekom as jy swaarkry, vra eerder: “Here, hoe kan my huidige swakheid verander word in krag ter verheerliking van U?” Jy sal verbaas wees oor hoeveel bronne van krag en seën na vore kom.

 

Paulus het nog 12 jaar na hierdie episode geleef – 12 vrugbare jare. Miskien moet ons 2 Korintiërs 12:7 – 10 weer stadig lees. Wat beteken dit om stadig te lees? Dit is ‘n ou geestelike tradisie. ‘n Kort Skrifgedeelte word gelees en herlees. Soms word net ‘n paar woorde gelees; soms gaan ons terug en herhaal hulle. Ons praat so baie van die Skrif, maar ons laat nie toe dat die Skrif met ons praat nie. As ons luister na die Gees wat deur hierdie verse praat, mag ons krag kry in ons beproewing. Dan kan ons ons beproewing hanteer deur ‘n krag wat van buite ons kom.