Psalm 24 (1)

 

Christian leaders must practice what they preach if they are to see what they preach practiced. —Douglas Milne

 

Psalm 24 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema: Jahwe se eienaarskap van die wêreld; voorwaardes om Hom te nader; laat Hom toe in die stad.

Hierdie psalm bestaan uit drie kort afdelings wat min verband met mekaar het. Dit mag selfs wees dat die drie afdelings se oorsprong onafhanklik was. Vers 1 – 2 verklaar dat Jahwe die aarde gevestig het. Daarom behoort dit aan Hom. Vers 3 – 6 bestaan uit ‘n vraag oor die kwalifikasies wat vereis word om in Jahwe se teenwoordigheid te kom, ‘n antwoord en ‘n verklaring dat die sprekers voldoen aan die kwalifikasies. Vers 7 – 10 bestaan uit ‘n opdrag dat die poorte vir die roemryke Koning oopgemaak moet word. Dit word gevolg deur ‘n vraag oor die Koning se identiteit en die antwoord.

 

24:1 – 2: Wie is die God wat die mens in sy heiligdom ontmoet?

Van Dawid. ‘n Psalm.

Hierdie psalm mag verband hou met Dawid se bring van die verbondsark na Jerusalem of met die koning se gereelde viering van die Here se posisie by die verbondsark as Koning.

 

Aan die Here behoort die aarde en alles daarop, die wêreld en dié wat daar woon.

2want Hy het dit op oseane gegrond en op strome gevestig.

Die Here het die aarde vas gevestig en daarom behoort dit aan Hom. Uit hierdie stelling kan ons ‘n paar afleidings maak:

  • Dat die Here gesag oor die hele wêreld het; en
  • Dat die Here deur die hele wêreld erken moet word.

Vers 2 gee dan vir ons die basis vir hierdie stelling. Die Here is die eienaar van die wêreld, want Hy het dit gevestig – Hy het die fondamente van die wêreld gelê. Hy het die wêreld op vaste fondamente gelê. Onder die wêreld is groot reservoirs water. Ons sien dit in die riviere en fonteine wat te voorskyn kom. Tog is die wêreld vas – die Here het dit so gemaak.

 




Bekering: Wat is dit en wanneer is dit?

 

Having the answers is not essential to living. What is essential is the sense of God’s presence during dark seasons of questioning – Ravi Zacharias

 

Bekering: Wat is dit en wanneer is dit?

Word mense in ‘n enkele oomblik bekeer of gebeur dit met verloop van tyd? Of verskil dit van mens tot mens? Hierdie is die vrae wat Scot McKnight antwoord in sy blog. Navorsing sê dat mense tot die Christelike geloof op een van drie maniere bekeer word:

  • Deur ‘n proses in die kerk waar hulle in die geloof opgelei word.
  • Deur voortdurende blootstelling aan die sakramente.
  • Deur ‘n persoonlike besluit.

 

McKnight sê dat by almal se bekering, maak die saak op watter manier nie, ses dimensies betrokke is. Bekeerlinge kom uit

  1. ‘n Konteks as gevolg van
  2. Een of ander krisis. Die krisis gee aanleiding tot
  3. ‘n Soeke na ‘n oplossing. Hierdie soeke lei na
  4. ‘n Ontmoeting of interaksie met iemand of iets wat bekering voorstel. Hierdie ontmoeting lei tot
  5. ‘n Toewyding en

As ons verskillende ondervindings ondersoek, sien ons sekere patrone wat ontwikkel. Jode wat hulle tot die Christelike geloof bekeer, volg ‘n sekere patroon. Dieselfde geld vir Protestante wat Rooms Katolieke word en Katolieke  wat Protestante word. Verbasend is dat diegene wat die Christelike geloof verlaat ook ‘n herkenbare patroon volg.

 

Wat duidelik is uit al hierdie navorsing is dat bekering ‘n proses is. Gemeentes moet sensitief wees vir die verskillende kontekste van mense sodat elke persoon die geleentheid het om die genade van God op verskillende maniere te ondervind.

 




Psalm 24 (3)

 

 “It is as great and difficult a spiritual calling to run the factories and the mines, the banks and the department stores, the schools and government agencies for the kingdom of God as it is to pastor a church or serve as evangelist. The division of vocations into sacred and secular does incalculable damage to our individual lives and to the cause of Christ.” – Dallas Willard

 

Psalm 24 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

24:7 – 10: Wie is die God wat die mens in sy heiligdom ontmoet?

Weer verander alles. Dialoog en die vraag en antwoord formaat word voortgesit. Maar die aard van die dialoog en die deelnemers verskil. So ook die verwysingsraamwerk. Die Here staan nou buite Sion en mense vra dat Hy sal ingaan.

 

7Lig op julle koppe, poorte, ja, lig julleself op, ewige ingange, sodat die roemryke Koning kan ingaan.

Die Here staan buite Sion. Dit veronderstel ‘n dinamiese verstaan van die Here se teenwoordigheid. Hy is nie oral op dieselfde tyd nie. Miskien is die Here se woonplek nog nie Sion nie, want Dawid het nog nie vir Jerusaalem ingeneem nie. Net hier is die Here die roemryke Koning.

 

8Wie is hierdie roemryke Koning? Die Here, die magtige held, die Here, heldhaftig in die die stryd.

Hier word na die identiteit van die koning gevra. Die Here kom as  militêre oorwinnaar – as iemand wat pas ‘n oorwinning behaal het.

 

9Lig op julle koppe, poorte, ja, lig julleself op, ewige ingange, sodat die roemryke Koning kan inkom.

Hierdie is ‘n herhaling van vers 7.

 

10Wie is Hy, hierdie roemryke Koning?

Die Here, Heerser oor alle magte, Hy is die roemryke Koning. Sela.

Vers 10 herhaal vers8 met enkele byvoegings. Die alle magte is die groot hemelse leër wat die Here gevorm het en wat Hom dien.

 

 




Tradisie: Goed of sleg

 

We must learn to find the back door to people’s hearts because the front door is heavily guarded – Ravi Zacharias

 

Tradisie: Goed of sleg

So ontneem julle die woord van God sy gesag ter wille van julle oorgelewerde gebruike (Matteus 15:6); Julle laat die gebod van God los en hou aan die oorgelewerde gebruik van mense vas (Markus 7:8). Ons gevolgtrekking uit hierdie twee verse is dat tradisie sleg is.

Ek vind dit prysenswaardig dat julle in alles aan my bly dink en vashou aan die oorgelewerde leer soos dit aan julle oorgedra is (1 Korintiërs 11:2); Onttrek julle aan elke broer wat leeglê en hom nie hou aan die opdragte wat julle van ons ontvang het nie (2 Tessalonisense 3:6). Ons gevolgtrekking uit hierdie twee verse is dat tradisie nie noodwendig sleg is nie. In 2 Tessalonisense 2:15 sê Paulus: Wees dan standvastig, broers, en hou vas aan die leer wat ons aan julle oorgedra het, of dit deur ons prediking of deur ‘n brief was.

 

Hoe kry ons nou al hierdie dinge bymekaar? Sekere tradisies is goed en ander is sleg of neutraal. Tradisie is die dinge wat aan ons oorgedra word. Die bron kan die apostels self wees. Tradisie is nie geïnspireer nie en ook nie foutloos nie. Tog kan tradisie ons as Christene help om beter oor God se woord en ons lewens te dink. Tradisie is die geskiedenis van die kerk se interpretasie en toepassing van die Skrif. Dit kan ons help om die waarhede van die Skrif beter te verstaan en uit te leef.

 

Hoe kan ons tradisie op ‘n verantwoordelike manier hanteer?

  • Ons moet erken dat tradisie ‘n noodsaaklike deel van ons teologiese interpretasie is. Ons moet dit nie sommer ligtelik verwerp nie.
  • Tradisie kan beslis gekritiseer word in ons pogings om die Skrif toe te pas vir die lewe van vandag.
  • Alle neutrale tradisies moet gereeld hersien word. Dit mag op ‘n stadium bruikbaar gewees het, maar mag nou irrelevant wees.
  • Sekere tradisies sal niks of min verander; ander tradisies sal mettertyd opnuut geformuleer moet word; ander sal gereeld verander word; ander sal verwerp word.

 

Is tradisie goed of sleg? Dit hang van die tradisie af.