Wat is ‘n Christen?

 

We search for God in order to find him with greater joy

And we find him in order to keep on searching with greater love

Augustinus

 

Wat is ‘n Christen?

Dit is die vraag wat Scot McKnight in sy boek One.Life vra. Dit is ‘n belangrike vraag wat elkeen van ons vir onsself moet vra. Die antwoord is nie so maklik nie. Die algemene antwoord is gewoonlik:

  • ‘n Christen lees elke dag sy Bybel.
  • ‘n Christen bid gereeld – hoe meer en langer jy bid, hoe meer toegewyd is jy.
  • ‘n Christen getuig – hy vertel vir ander dat hulle van hulle sonde verlos moet word. Hoe meer mense jy kan “red” hoe nader leef jy aan God.
  • ‘n Christen gaan gereeld kerk toe.

 

Aan die ander kant is daar sekere dinge wat ‘n Christen nie moet doen nie – dwelms gebruik, te veel alkohol gebruik, seks buite die huwelik beoefen, ens. Dan moet ons ook nie vriendskappe aanknoop met mense wat God nie ken nie – wat verlore is nie. Ons moet ons van hulle afsonder so asof hulle ‘n aansteeklike siekte het.

 

Jesus het nooit gesê dat mense die Bybel moet lees nie. Die meerderheid mense destyds kon in ieder geval nie lees en Bybels was nie algemeen beskikbaar nie. Jesus het gereeld gebid en evangelisasie was sy sterkpunt. Hy het Hom beslis nie afgesonder nie. Hy het baie kritiek gekry omdat Hy met sondaars en tollenaars omgegaan het – selfs by hulle gaan eet het.

 

Hoe antwoord Jesus die vraag: Wat is ‘n Christen? Baie eenvoudig: ‘n Christen is iemand wat My volg? Jesus wil hê dat ons in Hom moet glo, Hom ontvang en Hom ons persoonlike Verlosser moet maak. Natuurlik wil Hy hê dat ons die Bybel moet lees en bid en kerk toe gaan en evangeliseer. Hoekom? Sodat ons Hom beter kan volg en ken en meer volledig vir Hom kan leef.

 

Ons skryf lang opstelle oor wat ‘n Christen is; ons raak in argumente betrokke oor wat ‘n Christen is. Jesus kom en gee vir ons ‘n eenvoudige antwoord: ‘n Christen is iemand wat My volg.

 

 




Psalm 23 (3)

 

You’ll never get to a person’s soul until you understand their hurts – Ravi Zacharias

 

Psalm 23 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.]

Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

23:5 – 6: God sorg ook vir mense – die beeld van die Gasheer.

5U dek vir my ‘n tafel voor die oë van my teenstanders.

U verfris my kop met olyfolie; my beker loop oor.

6Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe,

 En ek sal bly terugkeer na die huis van die Here, tot in lengte van dae.

 

Om ‘n tafel vir iemand te dek, beteken jy is ‘n welwillende gasheer. Dit is wat ‘n koning vir sy uitgebreide huishouding doen. Vers 5a kan dus suggereer dat die psalmis deel van God se huishouding is. Sy teenstanders kyk met frustrasie en afguns na hom. Vers 5b neem die beeld verder: by die banket salf die gasheer olyfolie oor die gas se kop en hy gee aan hom ‘n groot beker wyn.

 

Wat beteken die beelde van die herder en die gasheer teologies? 6Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe. Dit is in God se huis dat die psalmis God se goedheid en troue liefde ondervind.

 

Net soos die herder vir sy skape sorg, voorsien God ook in die gelowige se lewe. Hy voorsien in oorvloed, want Hy laat my by ‘n feesmaal aansit en my beker word tot oorlopens toe vol geskink. Boonop geniet ek God se hartlikheid in die veiligheid van sy teenwoordigheid (goedheid en liefde) wat ook al met my gebeur. God se sorg is nie van verbygaande aard nie, maar is ‘n lewenslange werklikheid.

 

 




Martin Luther

 

A Christian is a walking sermon. We preach far more than a minister does, for we preach all week long. —J.C. Ryle

Martin Luther

‘n Jong monnik werk doelgerig aan sy doktorale studies. Hy bestudeer die werke van Augustinus. Hy was alreeds aangewys as ‘n professor van Bybelstudie. Hy het reeds sy eerste lesings oor die boek Psalms gelewer. Nou was sy taak om sy studente deur die Brief aan die Romeine te begelei. In sy voorbereiding bestudeer hy die eerste hoofstuk. In ‘n ou manuskrip van Augustinus kry hy ‘n nota waarin Augustinus die vryspraak van God bespreek. Dit is die vryspraak wat God in sy genade aan mense gee wat hulle vertroue in Jesus Christus plaas.

Dit is die eerste keer in sy lewe dat Martin Luther die evangelie van Christus verstaan. Tot dusver was sy gewete gewond deur die las van die wet van God. Daagliks ondervind hy skuldgevoelens. Die deure van die paradys het vir hom oopgeswaai. Dit was Paulus se onderrig oor die leer van die vryspraak deur geloof alleen wat Luther in staat gestel het om teen die wêreld te staan in die Hervorming.

 




Romeine 13

 

We will as he guides our heart, we endeavor as he rouses us, we succeed in our endeavor as he gives strength, so that we are animate and living tools, while he is the leader and finisher of the work. — Johannes Calvyn

 

Romeine 13

Dit is die jaar 386 nC. ‘n Jongman, wie se vader ‘n heiden en moeder ‘n toegewyde Christen was, leef in Milaan. Hyself het hom aan onsedelikheid oorgegee. Hy het alreeds een buite-egtelike seun gehad. Sy moeder bid voortdurend vir sy siel. Sy het ook die raad van haar pastor, Ambrosius van Milaan, gevra.

 

Hierdie jongman loop op en af in die tuin. Langsaan speel kinders in die gras. Hulle sing die refrein van een van hulle kinderspeletjies: Tolle lege, tolle lege. Dit beteken neem en lees. Die jongman neem ‘n Bybel en laat dit oop val waar dit wou. Dit val oop by Romeine 13 en wel by  verse 11 – 13.

Boonop ken julle die bestemde tyd – dat die uur reeds daar is om uit die slaap wakker te word – ja ons verlossing is nou nader as toe ons tot geloof gekom het. Die nag het reeds ver gevorder; dit is amper dag. Kom ons doen dan afstand van die praktyke van die duisternis en neem die wapens van die lig op. Kom ons leef betaamlik, soos in die dag – nie met geffuif en dronkenskap nie, nie met ontug en losbandigheid nie, nie met rusie en afguns nie. Beklee julle egter met die Here Jesus Christus en maak nie voorsiening vir julle sondige natuur om sy drange te bevredig nie [Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte vertaling. Bybelgenootskap van Suid-Afrika.]

 

Die jongman was Aurelius Augustinus. Die Gees van God het hierdie woorde geneem tot in sy siel. Deur die krag van die woord van God en die Heilige Gees bekeer Augustinus hom. Hierdie man sou later ‘n geweldige invloed op die denke van die kerk uitoefen.