Die Koninkryk van God

 

Before the truth can set you free you need to recognize which lie is holding you hostage – Ravi Zacharias

 

Die Koninkryk van God

Die koninkryk van God word so dikwels gebruik dat dit tot ‘n groot mate sy betekenis verloor het. Daarom is dit goed dat ons weer gaan kyk wat Jesus Christus en die evangelies sê wat dit is. In Jesus se “intreepreek” sê Hy: Die tyd het aangebreek en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie (Markus 1:15).

 

Hierdie uitspraak moes beslis sy tydgenote uit hulle slaap wakker geskud het. Dit was in daardie tyd beslis ‘n revolusionêre uitspraak. Vir Jesus Christus was God se koninkryk God se droom vir die wêreld wat bewaarheid word. Dit was nie net Jesus se droom nie, maar die droom van alle Israeliete – lees maar net die Ou Testament.

 

Maar wat het Jesus bedoel toe Hy van God se koninkryk gepraat het? Jesus sê dat die tyd vir die koninkryk aangebreek het en dat dit naby gekom het. Maar wat het Jesus se tydgenote gedink waarvan praat Hy? Hulle sou onmiddellik aan drie dinge gedink het: koning, land en burgers. Onthou Israel was onder die Romeine. Wat Jesus sê beteken vir hulle dat die Romeine omver gewerp sal word.

 

Maar Jesus bedoel iets anders. Hy bedoel dat God se gemeenskap van Israel verder oor die hele wêreld versprei. Jesus verwys ook na die kerk as die gedeeltelike en onvolmaakte manifestasie van die koninkryk van God. Vir Hom beteken die koninkryk die hele wêreld wat God se droom beliggaam. Hy dink aan my en jou wat saam in ‘n gemeenskap lewe soos ons as gelowiges behoort te doen.

 

In die Ons Vader gebed bid Jesus: Laat u koninkryk kom. Onmiddellik daarna bid Hy: Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel (Matteus 6:10). Dit is duidelik: God se koninkryk kom as sy wil op aarde gedoen word.

 




Psalm 23 (2)

 

Beginning well is a momentary thing: finishing well is a lifelong thing – Ravi Zacharias

 

Psalm 23 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.]

Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

23:1 – 4: Die Herder sorg vir sy skape.

’n Psalm. Van Dawid.

Die Here is my herder; ek ly nie gebrek nie.

 2In groen weivelde laat Hy my rus;

Na water waar daar rusplek is, lei Hy my.

3Hy gee my nuwe lewenskrag;

Hy lei my op die regte paaie ter wille van sy Naam.

4Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan, is ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my.

Dit is u staf en u stok wat my gerusstel.

 

Van Dawid. Dawid was natuurlik self ‘n herder. Dit is dus moontlik dat hy self hierdie psalm geskryf het.

 

Die Here is my herder. Die psalmis begin met ‘n persoonlike belydenis. Dit beteken die Here is sy Koning en hy is die Here se onderdaan. Daarom is hy seker dat hy niks sal kortkom nie. Die herder sorg immers vir kos, water en die veiligheid van sy skape. Hy voorsien op ‘n besondere manier: 2In groen weivelde laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is, lei Hy my. Ander mense identifiseer ander gode of vertrou op hulle eie hulpbronne. Vir Israel vervul die Here daardie rol.

 

Herders is ‘n beroep waarop dikwels neergekyk is. Dawid sê vir Saul dat herders soms leeus en bere moet doodslaan. Hulle moet braaf wees en daarom is hy as herder geskik om Goliat aan te vat (1 Samuel 17:32 – 34). Soms verwys herder na ‘n koning of ‘n godheid. Dan is dit ‘n beeld van gesag en mag. Die herder is oppermagtig en die skape is sy onderdane. Die beeld verwys ook na die herder se vermoë om sy kudde teen aanvallers te beskerm. Skape sonder ‘n herder verkeer in gevaar.

 

Daar is herders wat hulle kudde verwaarloos. Die Here is nie so ‘n herder nie. In die Israeliete se tog deur die woestyn het die Here verseker dat hulle niks kortkom nie. Die beeld van die herder pas dus beter by ‘n gemeenskap as ‘n individu. Die beeld van die Here as herder word duidelik uit Israel se geskiedenis en sy aanbidding.

 

Skape het normaalweg in daardie deel van die land waar daar nie genoeg reënval was vir oeste (graan, druiwe en olywe) nie,  gewei. Daar was genoeg gras vir kuddes wat aan die beweeg gebly het. Daarom is dit die herder se taak om genoeg gras vir sy kudde te kry. Die feit dat hulle rus beteken dat hulle genoeg geëet het. Rus dui ook op sekuriteit.

 

Na water waar daar rusplek is, lei Hy my. Die skape het genoeg weiding en water. Lei is die optrede van ‘n sterker party teenoor ‘n swakker en behoeftige party – soos die Here Israel deur die woestyn na die beloofde land gelei het.

 

3Hy gee my nuwe lewenskrag. Dit dui op nuwe krag wat ‘n persoon of dier kry nadat hy geëet en gedrink het. Dit vat eintlik vers 2 saam.

 

Hy lei my op die regte paaie ter wille van sy Naam. Lei word veral gebruik as Israel onder druk van hulle vyande was en die Here ingegryp het. Die regte paaie dui op die herder se trou as Hy ons lei. Die Here is ‘n God gekenmerk deur trou.

 

4Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan, is ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my.

Dit is u staf en u stok wat my gerusstel. Klowe is dikwels die plek waar die herder gras en water sal kry, maar dit is ook gevaarlike plekke. Wilde diere skuil dikwels hier. Maar die skape is nie bang nie al is die kloof donker. Hoekom nie? Die skape weet dat hulle herder hulle teen enige aanvaller sal beskerm. Om die Here by ons te hê, is nie net ‘n gevoel nie; dit is nie net ‘n teken van sy teenwoordigheid nie, maar ook van sy optrede. Die herder laat sy teenwoordigheid deur sy staf en stok voel. Die stok is deur die herder gebruik om wilde diere wat die skape aanval te verwilder. Die staf gebruik die herder om sy skape te beheer en om olyfbome te slaan sodat die olywe afval vir die skape om te eet.

 

 




Droom jy?

 

To have insight into God’s plan for the world — that is faith. — Emil Brunner

 

Droom jy?

Mense wat drome het, kan vlieg. As jy ophou droom, begin jy doodgaan. As jy jou drome najaag, begin jy jou drome leef. As jy jou droom van alle drome ontdek, ontwikkel jy vinnig. Maar: jy het net een lewe om jou droom te ontdek en te volg.

 

Waar kry ons ons drome? Dink jy ooit daaraan dat God vir jou drome gee? Mense wat groot dinge in die lewe bereik het, is deur hulle drome gedryf. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is Martin Luther King – I have a Dream.

 

Wat is jou droom? As jy jou droom ontdek het, wy jy jou lewe daaraan toe? Dan val al die ander dinge in plek. Jou beste drome neem ten volle besit van jou – dit los jou nie. Jy droom groot drome, want dit is hoe God met jou praat – Hy sê vir jou wat Hy wil hê jy in jou lewe moet bereik.

 

Godsdiens is nie genoeg nie. Om lidmaat van die kerk te wees, is nie genoeg nie. Al wat voldoende is, is Jesus Christus. Maar ek kan net by Hom kom, as ek Hom volg. Daarom moet ons ons lewens vir Hom gee en ons drome word ‘n werklikheid.

 

Wat beteken dit om Hom te volg?

  • Om Jesus Christus te aanvaar is nie voldoende nie – dit is net die begin. Hy verwag meer van ons: ons moet ons hele lewe aan Hom oorgee.
  • Geestelike dissiplines (Bybellees, bid, nadenke, ens) het ‘n plek in ons lewens. Maar ons moet altyd onthou dat dit slegs ‘n manier is om ‘n hoër doel te bereik. Self is hulle nie die doel nie. Dit is nie voldoende nie. Wat nodig is, is dat ons ons volkome aan God oorgee.

 

Laat God se droom vir jou en jou lewe oorneem. Volg Hom.

 




Wat is ‘n Christen?

 

We search for God in order to find him with greater joy

And we find him in order to keep on searching with greater love

Augustinus

 

Wat is ‘n Christen?

Dit is die vraag wat Scot McKnight in sy boek One.Life vra. Dit is ‘n belangrike vraag wat elkeen van ons vir onsself moet vra. Die antwoord is nie so maklik nie. Die algemene antwoord is gewoonlik:

  • ‘n Christen lees elke dag sy Bybel.
  • ‘n Christen bid gereeld – hoe meer en langer jy bid, hoe meer toegewyd is jy.
  • ‘n Christen getuig – hy vertel vir ander dat hulle van hulle sonde verlos moet word. Hoe meer mense jy kan “red” hoe nader leef jy aan God.
  • ‘n Christen gaan gereeld kerk toe.

 

Aan die ander kant is daar sekere dinge wat ‘n Christen nie moet doen nie – dwelms gebruik, te veel alkohol gebruik, seks buite die huwelik beoefen, ens. Dan moet ons ook nie vriendskappe aanknoop met mense wat God nie ken nie – wat verlore is nie. Ons moet ons van hulle afsonder so asof hulle ‘n aansteeklike siekte het.

Jesus het nooit gesê dat mense die Bybel moet lees nie. Die meerderheid mense destyds kon in ieder geval nie lees nie en Bybels was nie algemeen beskikbaar nie. Jesus het gereeld gebid en evangelisasie was sy sterkpunt. Hy het Hom beslis nie afgesonder nie. Hy het baie kritiek gekry omdat Hy met sondaars en tollenaars omgegaan het – selfs by hulle gaan eet het.

 

Hoe antwoord Jesus die vraag: Wat is ‘n Christen? Baie eenvoudig: ‘n Christen is iemand wat My volg? Jesus wil hê dat ons in Hom moet glo, Hom ontvang en Hom ons persoonlike Verlosser moet maak. Natuurlik wil Hy hê dat ons die Bybel moet lees en bid en kerk toe gaan en evangeliseer. Hoekom? Sodat ons Hom beter kan volg en ken en meer volledig vir Hom kan leef.

 

Ons skryf lang opstelle oor wat ‘n Christen is; ons raak in argumente betrokke oor wat ‘n Christen is. Jesus kom en gee vir ons ‘n eenvoudige antwoord: ‘n Christen is iemand wat My volg.