Die mense van God in Jesaja

 

The cross is the quickest and best summary of what God says to unworthy people. Ed Welch

Die mense van God in Jesaja

Daar is veral vyf maniere waarop Jesaja na die mense van God kyk. Hierdie geld steeds vir ons vandag.

  1. Die mense van God is ‘n familie

Die Here is ‘n ouer wat Israel as sy kind grootgemaak het. Hy ondervind dan dat sy kinders teen Hom in opstand kom. Hulle weier dat hulle lewens deur hulle ouers se waardes gevorm word, Die Here kan hierdie kinders straf, maar Hy kan hulle nie weggooi nie – Hy bly toegewyd aan hulle. Die Here het ‘n morele verpligting teenoor hulle om te voorsien, te ondersteun en te beskerm. Al lyk dit asof hulle afstand van hulle familieverpligtings gedoen het, het die Here nie afstand van sy verpligting teenoor hulle gedoen nie.

  1. Die mense van God is ‘n gemeenskap

Die Here verwag dat hulle sekere standaarde in hulle lewens as gemeenskap moet implementeer.Dit moet ‘n gelyke en regverdige samelewing wees waarin die rykes nie hulle mag ten koste van die magteloses gebruik nie. Die Here belowe om sy volk te ondersteun in die internasionale wêreld, maar die samelewing verkies  om verantwoordelikheid vir sy eie bestemming te aanvaar eerder as om dit aan Hom oor te laat. Dit lei tot ‘n ramp.

  1. Die mense van God is ‘n kerk

Die mense is ‘n kerk wat aanbid. Die Here verwerp die volk se model waarvolgens hy aanbidding verstaan. Uiteindelik lei dit tot die vernietiging van die tempel. As die Here die volk herstel sal aanbidding weer die regte reaksie wees.

  1. Die mense is God se stad

Baie van die profesieë het op Sion betrekking. Die gemeenskap word as die stad gesien. As stad word dit deur vyande wat teen die Here is, bedreig. Hulle eindbestemming is egter verseker. Die vyande sal verslaan word. Die Here sal, indien nodig, die stad laat val en weer opbou. As hulle verlate en vergete voel, belowe die Here dat Hy hulle nooit sal vergeet nie. Die Here belowe om na die stad terug te keer.

  1. Die mense van God is ‘n magneet

Die visie in Hoofstuk 2:2 – 4 beskryf Sion as ‘n stad op ‘n hoë berg waarheen al die nasies sal stroom. Vanaf Sion kan die Here al die wêreld se probleme oplos en sy konflikte beëindig. Ander nasies soek hulp by Sion en bring daar geskenke vir die Here. Israel dien as model om vir die nasies te wys wat die beloftes van die Here alles behels. Die mense is dan ‘n getuienis van God se optrede. Sion se feeste en offers is nie vir Juda alleen nie, maar geld vir al die mense van die wêreld.

 

 




Psalm 22 (7)

 

Poverty is not made by God, it is created by you and I when we don’t share what we have. Moeder Teresa

 

Psalm 22 (7)

 

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese implikasies

Hierdie psalm is ‘n model vir die gebede van gewone Israeliete en Christene as hulle teenspoed ondervind. Dit is veral toepaslik vir mense wat die drie vorme van teenspoed waarvan die psalm praat ondervind.

  • Die gevoel dat hulle persoonlik oorweldig is – hulle voel hulle is besig om uitmekaar te val; hulle staar die dood in die gesig.
  • Hulle word deur ander mense vervolg. Hulle word verag en gespot deur mense wat sterk en vyandig is – soos wilde diere. Menslike geweld is die fundamentele probleem waarmee ons sukkel. Dit wys vir ons hoe ‘n groep van iemand ‘n sondebok kan maak om hulle geweld te regverdig.
  • Dit voel asof God hulle verlaat het – God tree nie in om hulle te help en te verlos nie. God antwoord nie hulle gebede nie. Die psalm sê dat mense moet erken dat dit hulle ondervinding is. God was nie teenwoordig by die psalmis nie en Hy verwag nie dat ons moet voorgee dat dit so is as dit nie so is nie.

 

In die konteks van daardie ondervinding vra die psalmis dat ons van ‘n tweede stel feite bekend moet wees.

  • Ons herinner God en onsself aan God se optrede in die verlede – veral sy verlossing van sy mense. Hier gaan dit veral oor sy skepping van die mens. Dit bemoedig ons en daag God uit.
  • Ons herinner God en onsself aan sy betrokkenheid in ons persoonlike lewens – reeds vanaf ons geboorte.
  • Ons vra God om naby te wees en op te tree. Hy moet verlos en nie mense aan vervolging oorlaat nie.
  • Ons glo ons eie argument. Ons glo dat God sal optree en ons begin reeds so praat.

 

Die direkte verwysing van die psalm is die lyding van die gelowiges. Jesus het na hierdie psalm verwys. In die evangelies kry ons heelwat verwysings na hierdie psalm:

  • Die soldate wat die sterwende Jesus se klere onder mekaar verdeel deur daaroor te loot (Markus 15:24; Psalm 22:19).
  •  Die verbygangers wat wat Jesus spot, hulle koppe skud en Hom selfs uitdaag (Markus 15:29 en Psalm 22:8 – 9)
  • Tydens sy kruisiging gebruik Jesus hierdie psalm se openingswoord (Markus 15:34). So identifiseer Hy Hom met iemand wat deur God verlaat is.

 

Ons moet na Jesus in sy geheel in die lig van hierdie psalm kyk:

  • Jesus se gebruik van die openingswoorde van die psalm verwys na die aaklige werklikheid van die kruis. Dit beteken Jesus is van die Vader afgesny. God se toorn is nie omdat Hy die sonde van die wêreld dra nie. God identifiseer steeds met Hom en met wat Hy doen. God verlos nie vir Jesus nie, want anders kan Jesus nie die menslike sonde dra nie.
  • As Jesus met verse 4 – 6 identifiseer, identifiseer Hy met Israel. Sy werk moet in die konteks van God se werk met Israel gesien word. Hy het gekom om Israel te hernuwe. Daarom kan God Hom nie vir altyd verlaat nie.
  • Verse 7 – 9 begin dit duidelik maak dat  Jesus se probleem die vyandigheid van die mense is. Dit wys dat God die mense toelaat om tot die einde te gaan in hulle opstand teen God. Dit wys ook dat Jesus bereid is om tot die einde te gaan in die beliggaming van God se liefde. In Jesus dra God die totaliteit van die mens se opstand.
  • Verse 10 – 11 dink Jesus terug aan sy ondervinding as kind van Maria. Toe God ‘n moeder vir Jesus gesoek het, kies Hy ‘n vrou wat gewillig was om 100% beskikbaar vir Hom te wees. God voorsien in sy behoeftes deur haar.
  • Die middelpunt van die psalm is die klaaglied in vers 12 – 19. Dit druk duidelik die verwerping deur mense uit soos duidelik blyk uit Jesus se lyding. Die magtige mense wat Jesus aangeval het, is godsdienstige en politieke leiers wie se posisie deur Jesus se onderrig bedreig is.
  • Vers 20 – 23 is die gebed wat Jesus gebid het en wat God nie beantwoord het nie.
  • Vers 24 – 32 is Jesus se uitnodiging om vir God te loof vir sy reaksie op ‘n swak persoon. Hierdie optrede van God is ‘n belofte vir ander swak mense wat Hom aanroep. Hy sal reageer op hulle behoeftes.

 

Psalm 22 sê: My nood raak ook die geloofsgemeenskap – dit word ook hulle nood. My verlossing word ook hulle verlossing; my lof word ook hulle lof.  So word ons stemme ‘n simfonie van lof tot eer van dié God wat hoor as sy kinders na Hom roep. Daarom moet my oë oop wees vir my medegelowiges se nood. Ek moet saam met hulle huil en saam met hulle juig. Ons behoort almal aan God se familie.

 

Toe Jesus aan die kruis die aanvangswoorde van hierdie psalm uitgespreek het, het Hy die hele psalm, in al sy rykdom, ‘n werklikheid gemaak. Die lyding, die Lyer, die verlossing, die Verlosser en die hele aarde vir altyd die koninkryk van God vol onderdane wat Hom dien. Jesus het nie net saam met die lydende mensheid van alle eeue gely nie – Hy het ook vir hulle gely en hulle so verlos. Jesus se uitroep aan die kruis was sodat ek nooit weer van God verlate hoef te voel nie.

 

 




Wat doen ‘n profeet?

 

If you judge people, you have no time to love them. Moeder Teresa

 

Wat doen ‘n profeet?

[Ek gaan Jesaja as model gebruik.]

Die openingsvers van Jesaja verklaar dat dit  ‘n openbaring is. ‘n Profeet is iemand wat iets gesien het en hy het dit gesien, want God het dit moontlik gemaak. Dit is asof God ‘n venster na die hemel oopgemaak het. In Hoofstuk 6 sê Jesaja hoe die Here hom na die mense toe gestuur het. Hy het die Here op ‘n hoë troon sien sit. Skielik besef hy dat hy die Koning, die Here die Almagtige gesien het. Hy was angsbevange. ‘n Profeet sien visioene/openbarings.

 

Maar Jesja bestaan uit ‘n versameling van woorde. Die boek verskuif baie vinnig van praat van ‘n openbaring na die Here het gesê (1:2), luister na die woord van die Here (1:10), dit is die Here wat dit gesê het (1:20), daarom sê die Here (1:24). Die Here kommunikeer sy boodskap in woorde. In Jesaja se visioen in Hoofstuk 6 hoor Jesaja die Here se stem. Die gevolg was dat hy aangebied het om die Here se boodskapper te wees. ‘n Boodskapper se taak is om vir sy heerser/koning te praat met sy heerser se gesag. So word die heerser se doel geïmplementeer. Deur te praat, tree die profeet op.

 

As ‘n profeet ‘n boodskap inlei met die Here het gesê is dit die woorde van die heerser/koning se verteenwoordiger. Die boodskapper het die heerser se woorde gehoor en dra dit oor Die heerser laat dit aan sy verteenwoordiger oor om die besondere woorde self te kies, maar hulle het steeds die heerser se gesag. Dieselfde geld vir die Here en die profeet. Die Here gee die kern van die boodskap en die profeet stel dit dan in sy eie woorde. Hierdie woorde het dan die gesag van die Here.

 

Jesaja gee vir ons ‘n openbaring en woorde van die Here. Dwarsdeur die boek kry ons dan die taal van sien en praat. Jesaja bestaan uit verhale van wat die profeet gedoen het en wat met hulle in hulle bediening gebeur het. Maar dit bevat ook verslae van wat God vir hulle aan hulle gegee het om te sê en hulle in staat gestel het om te sien Dit is die Here se openbaring en sy woord.

[Ek het onder andere gebruik gemaak van Isaiah van John Goldingay.]

 

 




Die voorbeeld van die vyeboom

 

We will never be so holy as to meet God’s standard and we are never too wicked as to be beyond his rescue. —Paul Tripp

 

Die voorbeeld van die vyeboom

As deel van Jesus se profetiese rede lees ons in Markus 16:28 – 31 van die voorbeeld van die vyeboom. Jesus maak Hom gereed om te sterf. Sy dissipels verstaan nog nie mooi wat Hy hulle aangaande die koninkryk van God geleer het nie. In die gedeelte net voor hierdie een het Jesus sy dissipels geleer oor sy wederkoms. Net na hierdie gedeelte van die vyeboom sê Hy: Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit (13:32).

 

Die profetiese rede van Jesus is in reaksie op ‘n vraag van die dissipels nadat Jesus gesê het dat die tempel afgebreek sal word (13:2). Jesus sit op die Olyfberg regoor die tempel. Van sy dissipels vra vir Hom: Sê vir ons, wanneer sal dit gebeur en wat sal die teken wees van wanneer dit alles voleindig gaan word? In die eerste deel van sy antwoord praat Jesus oor die vernietiging van die tempel wat primêr op die vernietiging van Jerusalem fokus (13:5 – 23). In die tweede deel van sy antwoord fokus Jesus op sy wederkoms en die kosmiese gebeure wat daarmee gepaard sal gaan (13:24 – 27). Jesus het hulle van rampe en vervolging en ‘n groot verdrukking wat oor Jerusalem sal kom, vertel. Na die verskriklike gebeure sal Hy weer kom en verbasende kosmiese tekens sal met sy wederkoms gepaard gaan. Dit is hierdie onderrig oor die toekoms wat ons by die verhaal van die vyeboom bring.

 

Leer die les van die vyeboom: Sodra sy takke begin sag word en blare uitstoot, weet julle dat die somer naby is (Direkte Vertaling). In die lente maak die sap die tak wat in die winter hard en droog was, sag. Dan begin dit die blare uitstoot. In die Palestina van destyds was dit algemene kennis – vyebome was baie algemeen. Hier het ons ‘n eenvoudige analogie uit die natuur wat Jesus gebruik om ‘n punt te maak. Soos jy weet die somer is naby as die vyeboom blare uitstoot, kan die gelowiges in Jerusalem weet dat die vernietiging van die stad naby is as hulle die tekens wat Jesus pas beskrywe het, sien. Jesus maak dit nog duideliker as Hy die toepassing van die les vir sy hoorders verduidelik.

 

So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat dit naby is, voor die deur. Hierdie verwys uit wat ons uit die voorafgaande kan aflei na die vernietiging van Jerusalem. Toe Jesus gesê het dat die tempel afgebreek gaan word, het sy dissipels gevra wanneer dit sal gebeur: Wanneer sal die tempel afgebreek word.

 

 Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot ‘n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Ons gaan weer terug na die dissipels se vraag oor die vernietiging van die tempel en daarmee gepaard die vernietiging van Jerusalem – hierdie dinge.  Jesus maak dit duidelik dat hierdie dinge nog in hulle leeftyd gaan plaasvind. Hierdie dinge kan dus nie na Jesus se wederkoms verwys nie. Ons weet Jerusalem is in die jaar 70 vernietig. Dit is nog binne die leeftyd van hierdie geslag. Dit mag wees dat die verdrukking wat met die vernietiging van Jerusalem gepaard gegaan het net ‘n voorafskadu was van die groot verdrukking voor Jesus se wederkoms. Jesus sê vir hulle dat dit wat eens baie belangrik in hulle lewens was onder die Ou Verbond – die tempel – binnekort sou verbygaan. Dié belangrikste sal egter nooit verbygaan nie.

 

Die hemel en die aarde sal tot ‘n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot ‘n einde kom nie (Direkte Vertaling). Hierdie sou ‘n verbasende stelling vir baie gewees het. Jesus sê dat sy woorde is soos die woorde van God. God se woorde staan vir altyd, want God staan vir altyd. Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig (Jesaja 40:8).

 

Wat is die primêre lesse wat Jesus wil hê ons uit hierdie gedeelte moet leer?

  1. Ons kan vertrou dat die toekoms vas in die hande van ons oppermagtige Here is. Niks sal Hom onverwags betrap nie. Die verdrukkings en hartseer van hierdie lewe dien sy groter doel. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hy liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28). Ons moenie bekommerd wes as dinge om ons oënskynlik inmekaar stort nie.
  2. Omdat die Here die toekoms ken, kan Hy ons waarsku van dinge wat gaan kom, sodat ons voorbereid is om dit te hanteer. Hy sal ons help om voorbereid te wees vir die dinge wat gaan kom.
  3. Ons kan op die woord van die Here vertrou as die vaste fondament vir ons lewe en hoop vir die toekoms.

 

Dit laat elkeen van ons met ‘n besluit om te neem. Sal ons op Jesus Christus en sy woord vertrou of gaan ons ons lewens op die sand van die wêreld en sy leuens bou?