‘n Kwaai preek

 

Human jealousy is a vice, but to share divine jealousy is a virtue – Murray J. Harris

 

‘n Kwaai preek

Baie jare gelede het ‘n aantal regeringsamptenare in Den Haag Van Courtonne, die bekende prediker aan die koninklike hof in Parys, uitgenooi om in hulle kapel van die Staatskerk te kom preek. Van Courtonne was van Hollandse afkoms. Hierdie amptenare was nie juis godsdienstig nie. Van Courtonne weier hulle uitnodiging, want hy beskou hulle belangstelling meer sosiaal as geestelik, meer nuuskierigheid as ywer vir die waarheid.

 

Hulle nooi hom herhaaldelik uit en uiteindelik aanvaar hy hulle uitnodiging. Hy stel egter ‘n voorwaarde: al die staatsamptenare moet teenwoordig wees. Hulle aanvaar sy voorwaarde.

 

Die bekende Van Courtonne daag daar op en preek oor Filippus en die Etiopiër (Handelinge 8). Hierdie Etiopiër het ‘n hoë pos aan die hof van die koningin van Etiopië beklee – hy was ‘n staatsamptenaar. Sy preek het vier punte gehad:

  1. ’n Regeringsamptenaar was sy Bybel lees – iets seldsaam.
  2. ‘n Regeringsamptenaar wat sy onkunde erken – nog meer seldsaam.
  3. ‘n Regeringsamptenaar wat sy mindere vra om hom te onderrig – baie, baie seldsaam.
  4. ‘n Regeringsamptenaar wat bekeer word – die seldsaamste van alles.

 

Von Courtonne het nooit weer ‘n uitnodiging gekry nie. Harde woorde van ‘n sterk man. Daar was egter ‘n voorbeeld hiervan. Paulus was ‘n sterk man. Hy het nou sy perke met sy teenstanders in die gemeente in Korinte bereik. Daarom het hy harde woorde vir hulle in sy sogenaamde “tranebrief”.

 

Die woord wat ons vandag algemeen in ons gemeentes hoor, is verdraagsaamheid. Natuurlik moet ons baie dinge verdra, maar as mense die evangelie verdraai – die voorspoedsteologie is ‘n goeie voorbeeld – is harde woorde soms nodig. Is dit nie tyd dat die kerk sterk standpunt inneem teen sosiale euwels in ons samelewing nie?

 

 




Psalm 23

 

Indeed, the safest road to hell is the gradual one – the gentle slope, soft underfoot, without sudden turnings, without milestones, without signposts – Screwtape se raad aan Wormwood – C. S. Lewis

 

Psalm 23

‘n Groep mense eet gesellig saam. Hulle geniet die ete en mekaar se geselskap. Na die ete besluit hulle om elkeen iets voor te dra. Onder hulle was daar ‘n bekende akteur. Hy besluit om Psalm 23 voor te dra. As akteur weet hy natuurlik hoe om voor te dra. Toe hy klaar is en gaan sit was daar groot applous.

 

Toe is dit die beurt van ‘n man wat maar min gepraat het aan tafel. Hy dra ook Psalm 23 voor. Toe hy begin, giggel van die hoorders. Hulle vergelyk sy voordrag met dié van die akteur en kon nie anders as om te giggel nie. Maar mettertyd word dit stil – doodstil. Toe hy gaan sit was dit doodstil. Niemand sê ‘n woord nie. Toe leun die akteur oor na hom en sê: “Meneer, ek ken die psalm van die herder, maar jy ken die Herder van die psalm.”

 

 




Psalm 22 (5)

 

When your will is God’s will, you will have your will. —C.H. Spurgeon

 

Psalm 22 (5)

 

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

22:20 – 22a: ‘n Gebed om hulp

Hier het ons ‘n oorgang na iets meer positief. Eers is daar ‘n pleidooi gevolg deur ‘n belofte om God te loof as Hy op die pleidooi reageer. Die pleidooi word oorheers deur ‘n versoek vir verlossing op verskillende maniere uitgespreek.

 

20U, Here, moet tog nie ver van my bly nie; my bron van krag, kom my gou te hulp.

Hier word die Here vir die eerste keer direk aangespreek. Hier het ons ‘n negatiewe – moet tog nie ver van my bly nie – gevolg deur die positiewe – kom my gou te hulp. Die klem val hier op gou.

 

21Red tog my lewe van die swaard, my enigste lewe uit die mag van die honde.

Die swaard is die beeld van ‘n gewelddadige dood. Die mag van die honde verteenwoordig diegene wat hulle reeds verlustig in die psalmis se dood.

 

22Red my uit die bek van die leeu, en van die horings van buffels. U het my geantwoord.

Hier kry ons nog twee beelde van diere. Die wilde buffels is soos die leeu. Die bek van die leeu is soos die horings van die buffels. U het my geantwoord: die psalmis sal nie tevrede wees voordat die Here geantwoord het nie.

 

Na hierdie beskrywing van sy lyding volg nou weer ‘n gebed om hulp. Die Here moet tog nie so ver bly nie, want daar is maar net een Bron wat hulp kan bied. Wie anders kan ‘n mens red uit die kloue van die dood? Die dieremetafore dui op die magte wat vyandiggesind teenoor God en sy saak is. Al is daar nog net ‘n bietjie lewe oor in die psalmis, bly dit sy kosbaarste besitting: dit is al wat hy nog het.

 

Die psalmis se gebed was nie tevergeefs nie. Die Here het hom geantwoord. Hy is daar en Hy hoor. Hoe het hy dit geweet? Innerlike versekering? Die vyande wat padgegee het? Liggaamskrag wat toegeneem het? Hiskia se gebed vir sy lewe is verhoor – hy het die antwoord uit die mond van die profeet gehoor. Toe Hy uitkoms gegee het, het Israel geweet God het gehoor.

 




Mense is belangrik

 

How unspeakably wonderful to know that all our concerns are held in hands that bled for us. —John Newton

 Mense is belangrik

Wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon (Psalm 8:5 – 6).

Adolf Hitler se politieke filosofie was dat die samelewing se behoeftes voor dié van die individu geplaas moet word. Kommunisme beklemtoon die belang van die politieke party oor dié van die individu. Josef Stalin het kleiner boere gedwing om hulle plase en diere op te gee om deel van kollektiewe plase te word. Die gevolg was kongersnood en miljoene onskuldige mense wat sterf.

 

Die Bybelse wêreldsiening, daarenteen, sê dat mense vir God baie belangrik is. God sê: Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip (Genesis 1:26). Die mens het dus ‘n intrinsieke waarde meer as enige ander skepsel op aarde. Sy waarde is nie afhanklik van sy vermoëns, lewenskwaliteit of moontlike waarde vir die samelewing nie.

 

Jesus gee aan ons twee groot gebooie – liefde vir God en liefde vir die naaste (Matteus 22:36 – 40). Jesus daag ons selfs uit om verder te gaan: Julle het gehoor dat daar gesê is: ’Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel (Matteus 5:43 – 45).

 

Daar is sekere waardes wat vir ons belangrik is: alle mense is gelyk gemaak, dat aan hulle sekere onvervreembare regte deur die Skepper gegee is – regte soos lewe, vryheid en die najaag van geluk. Dit is mense wat aan die Bybelse wêreldsiening vashou wat daarna streef om die ongeborene te beskerm, wat veg vir die regte van die onderdruktes en werk om die armes te voed en hulle lewe te verbeter. Hierdie is praktiese toepassings van Jesus se onderrig.

Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen (Matteus 25:40).

 

Jy, soos elke ander persoon, is belangrik vir God. Mense is belangrik of jy nou met hulle saamstem of verskil. Alle mense – weduwees, haweloses, weeskinders, armes … –is belangrik. Dit is baie maklik om net diegene met wie ons saamstem, lief te hê – hulle wat niks van ons nodig het nie en wat ons nie skade kan aandoen nie