Jou lewe kan in een dag verander

 

God speaks in the silence of the heart. Listening is the beginning of prayer. – Moeder Teresa

 

Jou lewe kan in een dag verander

Moses het die kleinvee van sy skoonpa, Jetro … opgepas (Eksodus 3:1)

Hierdie begin as ‘n normale dag vir Moses. Die oggend, soos hy al baie jare lank gedoen het, trek Moses uit om die vee van sy skoonpa op te pas. Dit was ‘n ondankbare werk, maar dit was sy taak. So begin nog ‘n dag se werk vir Moses. Maar hierdie was nie ‘n normale dag nie – dit was ‘n dag wat Moses se lewe vir altyd sou verander.

 

Dit was die dag waarop Moses vir God in die brandende bos ontmoet. God werf hom vir sy koninkryk. Dit is die dag wat hy die hoofverteenwoordier vir God by die Israeliete word. Vanaf daardie dag lei hy die Israeliete uit Egipte na die beloofde land. Hy lei hulle deur die Rietsee, hy gee aan hulle God se tien gebooie … Moses se lewe was van hierdie dag af nooit weer dieselfde nie.

 

Hierdie verhaal van Moses herinner ons aan die krag wat in ‘n enkele dag opgesluit is. ‘n Lewe kan in een dag verander – ten goede of ten kwade. Een nuwe besluit of een persoonlike oortuiging kan jou hele lewe verander – positief of negatief. Dit bring ons by ‘n belangrike vraag: Hoe laat jy toe dat hierdie “een dag” jou lewe beïnvloed? Sal daardie dag in jou lewe jou lewe in die regte rigting laat gaan.

 

Lewensveranderende besluite begin gewoonlik op “een dag.” Is dit jou dag?

 

 




Hoe verstaan ek Bybelse geloof

 

Every time you smile at someone it is an action of love, a gift to that person, a beautiful thing. Moeder Teresa

 

Hoe verstaan ek Bybelse geloof

Baie mense sukkel om geloof te verstaan. As jy geloof wil verstaan moet jy in terme van verhoudings dink. As ons van Bybelse geloof praat, praat ons van vertroue – vertroue gebou op ‘n verhouding met God deur sy Seun, Jesus Christus.

Kom ons kyk na ‘n aantal oorwegings.

  1. Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie (Hebreërs 11:1 – 2)
  2. Geloof glo al maak dit geen sin om te glo nie. Jy glo, nie oor die bewyse voor jou nie, maar as gevolg van jou vertroue in die voorwerp van jou geloof.
  3. Geloof berus in die wil van die persoon in wie jy jou geloof plaas – nie my eie wil nie. Jy kan, as voorbeeld, glo dat die persoon vir wie jy lief is jou nooit sal seermaak nie, maar of hulle dit doen of nie, is hulle wil nie myne nie.
  4. Bybelse geloof is in ‘n persoon – die drie-enige God. Geloof is nie in myself en my vermoëns nie, maar in God en sy vermoëns.
  5. Toe Jesus die illustrasie van berge verskuif, gebruik het, gee Hy vir ons ‘n voorbeeld van God se mag en waarom ons al ons vertroue in Hom moet plaas. Hy praat nie van die krag van my vermoë om te glo nie, maar oor die krag van Hom in wie ons ons geloof geplaas het.
  6. As ons van geloof in God praat, praat ons van sy wil. Jesus leer ons om te bid: Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel (Matteus 6:10). Geloof berus op God se agenda. Ek kan nie berge verskuif nie – God kan. Ons kan geen eise aan God stel nie.
  7. Geloof berus op die beloftes en karakter van God – nie op ons hoop en begeertes nie. As ons sukkel met geloof betwyfel ons nie ons vermoëns nie, maar God s’n. Ons raak ontsteld omdat God nie gedoen het wat ons gedink het Hy behoort te doen nie. Jy kan God se karakter vertrou – sonder voorbehoud. Hy doen altyd wat die beste vir ons is. Ons verstaan nie altyd waarom God sekere dinge doen nie, maar ons kan seker wees dat Hy in liefde optree.
  8. Daar is sekere dinge wat ons kan aanvaar dat God dit sal doen, want Hy het belowe om dit te doen – Hy sal ons altyd liefhê; Hy sal alles ten goede laat meewerk vir diegene wat Hom liefhet (Romeine 8:28); jy hoef jou nie te bekommer nie (Matteus 6:25); en vele meer. Ons kan egter nie aanvaar dat God elke siekte sal genees nie, want Hy het dit nooit belowe nie.
  9. God is betroubaar. Hy wat jou roep, is getrou (1 Tessalonisense 5:24). Hy sal doen wat Hy belowe het om te doen.
  10. As my geloof in lyn is met God se wil, kan jy aanvaar dat sy wil gedoen sal word. Dit is belangrik om God persoonlik te ken sodat ons sy wil kan ken en weet hoe om volgens sy wil te bid.

 

Jy kan vir God enigiets vra en jy moet. Bid voortdurend; vertrou dat God sy beloftes sal nakom. Die wete dat Hy dit sal doen, bemoedig ons. Om Bybelse geloof te verstaan, is krities vir geloofsgroei. Lees net weer die hoofstuk oor geloof – Hebreërs 11.

 




Psalm 22 (3)

 

A Christian should resemble a fruit tree with real fruit, not a Christmas tree with decorations tied on –John RW Stott

 

Psalm 22 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

22:7 – 9: ‘n Beskrywing van sy lyding – ek is ‘n wurm

Maar ek – ons keer nou terug na die atmosfeer van verse 2 – 3.

 

7Maar ek is ’n wurm en nie ‘n mens nie, bespot deur die mense, verag deur die volk.

Hier beskryf die psalmis homself. Die wurm is die simbool van onbeduidenheid. Ons lees nie hoekom die psalmis die voorwerp van spot geword het nie. Wat dit ook al begin het, word nou vereger deur die gesindheid van die mense.

 

8Almal wat my sien, dryf met my die spot; hulle tuit die lippe, hulle skud die kop:

Hulle tuit die lippe dui op ‘n neerhalende gebaar. Die eerste gedeelte van die vers maak ‘n algemene stelling; die tweede gedeelte maak dit konkreet. Hulle staar oop mond en skud die kop in minagting.

 

9“Wend jou tot die Here!” en “Laat Hy hom bevry, laat Hy hom red as Hy hom goedgesind is!”

Bevry is wat die Here vir die voorvaders gedoen het. Dit is wat die psalmis nou nodig het. Maar wat daarvan as Hy hom goedgesind is! Ander psalms praat met oortuiging van die Here se goedgesindheid – sy verlossing is die bewys hiervan. As die Here die psalmis goedgesind is, sal  bevryding volg. Die psalmis is nie meer seker hiervan nie, want God het hom verlaat. Die spotters impliseer dat die Here hom nie goedgesind is nie. Dit stem ooreen met die psalmis se vrees.

 

22:10 – 11: Die psalmis se besondere verhouding met die Here.

Die psalmis dink weer aan wat die Here in die verlede gedoen het. Dit gaan egter nie nou oor die totstandkoming van Israel nie, maar oor die geboorte van die psalmis.

 

10U is immers die Een wat my uit die baarmoeder gehaal het, my aan die borste van my ma toevertrou het.

Die psalmis weet dat geboorte ‘n natuurlike proses is, maar hy weet ook dat op ‘n ander vlak  die Here dit laat gebeur. Die Here is by elke individuele geboorte betrokke. Die psalmis het nie net die baarmoeder verlaat nie – hy is daar uitgehaal. Die Here tree hier as vroedvrou op – Hy haal die baba uit die baarmoeder en plaas dit onmiddellik aan sy moeder se borste. Hy vertrou dat hy daar melk sal kry.

 

11In u hande is ek gegee vandat ek gebore is; van die moederskoot af is U my God.

In die verlede het die psalmis ervaar dat God daar is. Teenoor die vyandskap van die teenstanders, staan sy besondere verhouding met God. God het hom die lewe geskenk en sy lewe is veilig in die hand van God. Dit is immers die betekenis van sy belydenis: U is my God. Juis dit maak die nood nog meer konkreet: die God wat van die begin van my lewe af my God was, het my verlaat. As ek roep is dit stil; as ek my nood uitskreeu, is daar geen antwoord nie. Wat maak ek nou?

 

 




My roeping

 

If you really want to do something, you’ll find a way. If you don’t, you’ll find an excuse.” –Jim Rohn

 

My roeping

In die Skrif is die woord roeping gevul met betekenis. God roep ons na Hom – uit die duisternis en die dood na die lewe en liefde van Christus. Roeping beteken nie “werk” nie. Dit is ‘n oproep om ander mense te dien. Luther en die ander hervormers het onder andere die leer van die Skrif alleen herstel. Hulle het ook die priesterskap van alle gelowiges en die die leer van roeping herstel.

 

Gene Veith (God at Work: Your Vocation in all of Life) begin hierdie onderwerp met die volgende sin: “When God blesses us, He almost always does it through other people.”  Hierdie is die vrug van die gawe van roeping. In sy boek bespreek hy ‘n paar aspekte van roeping.

 

  1. Hoekom ‘n roeping?

In die Middeleeue was roeping feitlik uitsluitlik beperk tot voltydse werk in die kerk. Met die Hervorming verander dit. Hulle leer dat lidmate ook ‘n roeping het. Nie alle gelowiges is leraars nie, maar alle gelowiges is priesters – die priesterskap van alle gelowiges. Luther sê dat roeping ‘n masker vir God is – God versteek Hom in die werkplek, die familie en die samelewing. Om te besef dat die alledaagse aktiwiteite wat meeste van ons lewens vul wegkruipplekke vir God is, is op sigself ‘n openbaring. Meeste mense soek God in mistiese ondervindings en in buitengewone dinge wat hulle moet doen. Maar Hy is in die alledaagse teenwoordig.

 

  1. Die goeie werke van roeping

Die leer van roeping neem ons vertikale verlange en druk dit in horisontale verhoudings uit. “God does not need our good works, but our neighbor does.”  Ware goeie werke moet iemand help. In ons roeping doen ons nie goeie werke vir God nie – ons doen dit vir ons naaste. Goeie werk word in die alledaagse lewe gedoen. Dit gaan nie oor innerlike gesindhede en abstrakte idees nie, maar oor konkrete interaksie met ander mense.

 

  1. Kies ‘n roeping

Die leer van roeping bevestig die soewereiniteit van God en sy roeping. Ons kies nie self ons roeping nie – ons word geroep. Ons kultuur is baie erg oor keuses. Mense verheerlik wilskrag tot so ‘n mate dat hulle glo dat hulle hulle eie waardes kies. Alle optredes is moreel reg solank as wat daar ‘n keuse is. Mense kies wat hulle wil glo en wat hulle kies, is reg vir daardie persoon. Ons roeping is as ‘t ware in die hande van ander mense.

 

Om my roeping te vind asof dit iets onbekend is. is misleidend. Ons kies nie ons roeping nie; dit is reeds daar – daar waar ons werk en woon en wat ons nou doen. Om my roeping te vind, beteken om uit te vind waar God is – die God wat Hom in ons naaste, in onsself en in sy wêreld versteek.

 

  1. Die werk van geloof

Geloof werk. As dit nie werk nie, is dit volgens Jakobus dooie geloof. Die leer van roeping verduidelik hoe en waar geloof werk. Werk gedoen in geloof se betekenis verskil van werk wat nie in geloof gedoen word nie. Die leer van roeping laat die Christen sien hoe die gewone aktiwiteite van die lewe vol betekenis kan wees.  “Human work is an imitation of God’s work, a participation in God’s creation and His creativity. Ruling, subduing, multiplying, causing plants to grow, making things—these are what God does, and yet God gives them as tasks to human beings.”

 

Nie elke beroep of werk is ‘n roeping nie. ‘n Dwelmhandelaar is nie deur God geroep nie – dit gaan nie met liefde vir die naaste gepaard nie – dit doen hulle skade aan. Christene is in die wêreld betrokke deur hulle roeping uit te leef. So kan hulle ‘n positiewe invloed op die kultuur uitoefen. Gewone mense wat hulle liefde en diens vir hulle naaste in hulle werk uitdrukking gee, vervul hulle roeping.

 

  1. Enkele beginsels

Die leer van roeping is ‘n lewenslange leerkurwe. Hier is ‘n paar beginsels vir ons lewe.

  • Elke roeping het sy eie unieke versoekings en vermoë om te sondig.
  • Om buite ons roeping op te tree, lei tot ondoeltreffendheid, frustrasie en gemorste tyd.
  • Mense wat werk, weet dat mense se pad soms geblokkeer is – dit is die tyd vir gebed.
  • ‘God gives daily bread indeed without prayer, also to all the wicked; but we pray in this petition that He would lead us to know it, and to receive our daily bread with thanksgiving.’” (Martin Luther)
  • Christene moet hulle roeping sien as as ‘n manier om God te verheerlik en hulle naaste lief te hê. Ons verheerlik God deur ons naaste lief te hê.
  • Ons vertoon God se liefde en waarheid as ons bid, beplan en werk om goeie dinge vir mense met name en behoeftes te doen.

 

God het aan ons monde gegee om te bid en sy woord te verkondig, maar ook hande en voete om mee te werk. Mag die God wat ons na Hom toe roep aan ons die passie gee om die roeping wat Hy aan ons gegee het, te vervul.