Ons wêreld ‘n beter plek

 

Good works are the appropriate response to the work of salvation, not the foundation of justification – Klemens I

 

Ons wêreld ‘n beter plek

James Davison Hunter (To Change the World) het gesê dat om die wêreld ‘n beter plek te maak, moet ons:

  1. Die elite mense bymekaarmaak;
  2. Hulle wat naby die mag is bymekaar maak;
  3. Hulle wat deel van groter netwerke is, bymekaarmaak;
  4. Hulle wat baie hulpbronne het, bymekaarmaak; en
  5. ‘n Saak om na te streef kry.

 

John Nugent (Endangered Gospel) sê dat die pad van Jesus presies die teenoorgestelde is. Ons moet die onwaarskynlikes wat nie deel van die magsisteme is en wat in klein netwerke is en wat nie baie hulpbronne het nie, bymekaarmaak. Een voorvereiste: hulle moet die evangelie beliggaam. Hy is ten gunste van positiewe morele veranderinge in ons samelewing. Hy glo egter dat om te probeer om die wêreld deur bestaande magstrukture te verander nie sal werk nie. In die proses verloor die kerk en Christene verloor die geleentheid om die wêreld te vorm.

 

Nugent skep ‘n paar ‘visions of a better place.”

 

  1. Die hemel-gesentreerde siening

Vir amper 2000 jaar het Christene gehoop om die pyn van ons liggaamlike bestaan in ‘n gevalle wêreld te verlaat en hemel toe te gaan na hulle dood. God het Jesus gestuur om hierdie uitkoms te bewerkstellig. Volgens hierdie siening is God se koninkryk in die toekoms in die hemel. Hierdie siening is vinnig besig om veld te verloor.

 

  1. Die mens-gesentreerde siening

Hiervolgens het Jesus, toe Hy die koninkryk van God verkondig het, ‘n “grondwet” gevestig van hoe God se wil op aarde soos in die hemel gedoen moet word. Hy gee aan ons ‘n visie van sosiale en ekonomiese geregtigheid wat die wêreld sou verander. As mense hierdie visie aanvaar en in werking stel, bevorder hulle die koninkryk en maak die wêreld ‘n beter plek. Die sentrale idee is dat die geskiedenis in stadia vorder na die koninkryk deur die pogings van mense. Natuurlik is dit ‘n baie optimistiese siening van wat mense kan en sal bereik in hierdie wêreld. Dit word al hoe moeiliker om te glo dat die wêreld ‘n beter plek sal word sonder enige dramatiese goddelike ingryping.

 

  1. Die wêreld-gesentreerde siening

Hierdie mense is omgewingsensitief. God het die wêreld gemaak; Hy gee om vir die wêreld; Hy sal die wêreld verlos. Hierdie siening fokus op die wêreld en ontken dat die mens die koninkryk sal bring. Dit erken die koninkryk het met Jesus begin en dat Jesus sal terugkeer en sy koninkryk sal finaliseer. Dit is nie die Bybelse siening nie. Dit erken die uniekheid van die mense wat God afgesonder het, maar dit onderskei nie tussen die spesifieke roeping van God se mense en die generiese roeping van alle mense nie. Dit aanvaar dat omdat God uiteindelik alle dinge gaan herstel, dit die kerk se werk is om intussen te begin met hierdie herstelwerk.

 

Dit is interessant dat Jesus, Paulus, Jakobus en Johannes min aandag daaraan gegee het om die wêreld ‘n beter plek te maak. Baie mense vandag stel dit wat God vir sy mense – Israel en die kerk – gesê het gelyk met hulle eie nasie. Die Bybel word dus ‘n nasionalistiese dokument Ons praat nie meer van Christus en verlossing nie, maar vervang dit met sekulêre gedragsbeginsels.

 

In ‘n volgende blog gaan ons verder kyk.

 

 

 

 




Psalm 22 (1)

 

 “The faith which has not a sanctifying influence on the character is no better than the faith of devils. It is a dead faith.” ~ J.C. Ryle

 

Psalm 22 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

n Gebed wat twee stelle feite eer

Psalm 22 is ‘n individu se hulpgeroep wat afsluit met ‘n merkwaardige en uitgebreide lofprysing. Vers 1 – 22 dui daarop dat die psalmis ontsteld is; vers 23 – 32 impliseer dat hy van die Here se verlossing getuig. Dwarsdeur wissel  vrae, besware en klagtes aan die een kant en erkenning van die Here, gebede aan die Here en stellings van geloof in die Here aan die ander kant, mekaar af. Die noodsaaklikheid om God te loof, kry ons deur die hele psalm. Vers 23 – 32 sê nie dat die psalmis reeds die Here se verlossing ondervind het nie, maar hy weet dat die Here sal verlos.

 

Die psalmis bid hierdie gebed in die teenwoordigheid van ander. Dit is moeilik om een stel konkrete omstandighede waarop hierdie psalm sinspeel te bepaal. Daarom is die psalm vir baie mense wat druk ondervind, bruikbaar. Dit is die uitdrukking van ‘n diep persoonlike gevoel.

 

Hierdie psalm is ‘n klaaglied wat die motief van gebed om hulp in ‘n konkrete noodsituasie sterk beklemtoon.

 

22:1: Die opskrif

22 Vir die musiekleier. Op Ajelet hasjagar. Van Dawid.

Ajelet hasjagar kan met “die rooitakbok van die dagbreek” vertaal word. Dit dui waarskynlik op die melodie waarop die lied gesing is. Ons sal sien hoe Jesus en die skrywers van die Nuwe Testament hierdie Psalm op Hom toegepas het. Dagbreek is die oomblik wanneer hulp aankom of wanneer ‘n persoon bid en loof.  Ou Arabiese gedigte beskryf hierdie wildsbok ‘n eensame bok – een wat van die res van die trop afgesny is. Met dagbreek tuur hy in die verte met die hoop om sy vriende te sien.

 

22:2 – 3: Die klag: ‘n hulpgeroep

2My God, my God, waarom het U my verlaat. Waarom is U ver daarvan om my te verlos, ver van die woorde wat ek uitskreeu.

Die psalmis gaan direk na die skerpste punt. As die psalmis hier praat van God wat hom verlaat het, klink dit soos die klagte van ‘n wanhopige man. Tog noem hy God twee maal my God. Dit beklemtoon die persoonlike verhouding tussen psalmis en God. My God en verlaat pas nie mooi in dieselfde sin nie. As God met ons is, los dit tog ons probleme op. Wat die psalmis soek, is optrede en nie verduidelikings nie. Die psalmis praat hier van ‘n werklike en nie ‘n oënskynlike verlaat nie. Om God te soek, beteken dat ons Hom soek om op te tree. Soek en vind is nie net geestelike optredes nie.

 

Die herhaling: My God, my God beklemtoon:

  1. Die persoonlike lyding – intense pyn,
  2. Die dringendheid van die hulpgeroep, en
  3. Die vashou aan God se verbondsbelofte.

Die pslamis bieg: Ek is alleen en deur God verlaat. Met my God weet hy God is daar om hom te help; met verlaat voel hy God is ver van hom af weg. Geloofskennis hou hom vas tydens geloofsonsekerheid. Binne die verbond kan hy nog altyd roep – al is God ver. Dit is sy geloofstoets in sy lyding: God is naby en God is ver. [Ek is nie ‘n God wat net naby is nie … Ek is ‘n God wat ook ver weg is – Jer 23:23.] God is stil. So is dit in die verlede ook ondervind, maar die antwoord het nie uitgebly nie. Maar nou antwoord die Here nie – ‘n aanduiding dat die psalmis se lyding lank geduur het. Tog, soos Job, hou hy vas aan die Here.

 

 

3My God, ek roep bedags, maar U antwoord nie, ook snags, maar daar is geen rus vir my nie.

Omdat God nie antwoord nie, is daar geen rus vir die psalmis nie. My God beklemtoon weer die verhouding tussen die psalmis en God. Sy dag en nag roep na God stem ooreen met God se dag en nag beskerming van hom. Hier is geen rede vir die psalmis om sy uitskreeu (vers 2) te staak nie. Hier sit ons met die geheim van die “dowe God.”

 

Verlaat God ons werklik? Die digter ondervind Godverlatenheid – soos almal van ons ook soms ondervind. Die dwaas dink daar is geen God nie (Ps 14:1). Hierdie ervaring dat dit voel asof God ver weg is, ondervind elke gelowige per geleentheid. In sy wysheid en deernis mag God my gebed antwoord op ‘n wyse wat ek nie verwag nie. Daarom het Psalm 22 ‘n wonderlike boodskap vir my, vandag, in my nood.

 




Ons begeertes

 

Do not give fair names to foul sins. Call them what you will, they will smell no sweeter. —C.H.Spurgeon

 

Ons begeertes

As daar iets is wat elke gebied van ons lewens beïnvloed, is dit ons begeertes. Wat sou gebeur as jy geen begeertes gehad het nie? Wat sou jy berreik het? Hoe sou jy jou tyd deurgebring het? Ons begeertes lei ons om besluite te neem wat ons sal lei na dit wat ons verlang. Die probleem is dat wat ons wil hê nie altyd goed is nie. God se begeertes is altyd reg en goed. Ons perspektief is maar beperk. Soms is ons begeertes sonde, selfsugtig en dwaas. God se begeertes word deur liefde gemotiveer. Hy soek altyd wat die beste vir ons is.

 

As daar een vers in die Bybel is wat dikwels verkeerd gebruik word, is dit Psalm 37:4: Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Lees ons hierdie vers in sy konteks sien ons daar in voorwaardes aan verbonde. As ons wil hê dat God aan ons moet gee wat ons hart begeer, moet ons aan die voorwaardes voldoen.

 

  1. Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.

Om jou vreugde in iemand te vind, beteken dat jy graag tyd saam met hom wil deurbring – julle wil praat en na mekaar luister. Daardie verhouding is vir ons ‘n prioriteit; ons probeer hom/haar tevrede stel met ons woorde en dade. Dink nou aan jou verhouding met God.

  • Hou jy daarvan om met die Vader in gebed te praat en om na Hom te luister as jy sy woord bestudeer?
  • Verlang jy om Hom beter te leer ken?
  • Dink jy dikwels deur die dag aan Hom?
  • Verskaf dit jou vreugde om Hom te gehoorsaam?

Dit is wat dit beteken om jou vreugde in God te vind. Hierdie is dus ‘n oproep om ons begeertes in lyn met dié van God te bring. Dan sal Hy ons gee wat ons hart begeer, want wat ons begeer pas in by sy wil.

 

  1. Laat jou lewe aan die Here oor (37:5)

Elke begeerte moet deur God se woord en sy wil vir ons lewens gesif word. As ons ons lewe aan die Here oorlaat erken ons sy gesag om te besluit of ons begeertes by sy plan vir ons lewens inpas. Soms is ons huiwerig om alles aan die Here oor te laat – dalk gebeur dinge nie soos ons dit wil hê nie. Dan manipuleer ons die omstandighede om ons wil te kry. Hoekom sukkel ons om ons lewens aan Hom oor te gee? Ons vertrou Hom nie.

 

  1. Vertrou op Hom; Hy sal sorg (37:5)

Wie is meer betroubaar as juis ons Here? Hy het ons van sonde verlos deur sy Seun te stuur om die prys te betaal wat ons veronderstel was om te doen. Hy het sy Gees aan ons gegee as teken van ons ewige sekerheid. Moet nooit daaraan twyfel dat Hy die beste plan vir ons lewe het nie. Vertrou op Hom om die beste besluite te neem.

 

  1. Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou (37:7)

Drie maal sê die psalmis in hierdie psalm dat ons ons nie moet ontstel nie. As ons ontsteld is, verskil ons in werklikheid met God, want Hy werk nie saam met ons planne nie. Die oplossing? Lê al jou begeertes en verwagtings in sy liefdevolle hande en erken dat Hy altyd reg is. Dan sal jy geduldig wag en op sy liefde vertrou. As dit nie sy wil is nie, sal om by Hom te pleit nie veroorsaak dat Hy na ons wil sal buig nie.

 

Om God se begeertes as jou eie aan te neem, moet ons weet wat Hy wil hê. Dit kry ons as ons getrou sy woord bestudeer. Moenie sommer ‘n vers uit sy konteks trek en sê dit staan so in die woord nie. As ons ‘n hegte fondament wil hê, moet ons op sy hele woord staan.

 




Waar kom vrae en antwoorde vandaan? (2)

 

There is no plateau in the Christian life. We are either growing closer to Christ’s likeness or we are falling away. —Aimee Byrd

 

Waar kom vrae en antwoorde vandaan? (2)

Vrae, vrae, vrae – oral net vrae. Dit is niks nuut nie. Die Preiker sê vir ons dat daar niks nuuts onder die son is nie – 3000 jaar later en dit is steeds waar. Anselmus van Kantelberg (1033 – 1109) het gesê dat geloof eerste kom, maar dit beteken nie die einde van vrae nie. Om ‘n Christen te word, is ‘n geloofsdaad. Onthou altyd dat die teenoorgestelde van geloof … sekerheid is. As daar sekerheid is, is geloof oorbodig. Anselmus het gesê dat geloof verstaan en soek. Hoe kan ons mense help om te verstaan?

  1. Erken dat daar verskillende maniere is om te weet

The heart has its reasons that the head knows not (Pascal)

Baie mense verwerp dit onmiddellik as ‘n geldige manier om te weet. In werklikheid is dit ‘n algemene vorm van weet in van ons belangrikste besluite. Hoe weet ek dat ek het iemand liefhet?

 

  1. Soms is dit ‘n persoonlike openbaring

Jy is absoluut seker dat die werklikheid van God daaragter sit. Ander mag dit nie glo nie, maar jy weet dit – diep binne in jou. Richard Dawkings, bekende ateïs, sou onmiddellik snork en sê dat toevallighede gebeur. Dit gebeur met almal – nie net met Christene nie. Dit is net Christene wat God se Naam daaraan wil koppel. Ek mag dalk nie ander daarvan kan oortuig nie, maar ek weet God het dit geopenbaar. Dit is persoonlike kennis. Die Bybel verwag dat ons sulke stories sal hê.

 

Moet nooit die kategorie van persoonlike kennis verwerp nie. As mense gevra word oor hoekom hulle in God glo, kom hulle dikwels met ‘n storie na vore. As God bestaan, is dit presies die manier hoe ons sou verwag dat dit moet wees. Kom ondervind en sien self dat die Here goed is (Psalm 34:9). In ons harte weet ons dat ondervindings belangrik is. Ons weet dat God geken kan word – en daar is miljoene mense wat dit bevestig.

 

  1. Is dit nie ‘n lui manier om intellektuele vrae te vermy nie?

Filosowe soos Alvin Platinga en Nicholas Wolterstorrf praat van idees en oortuigings wat werklik basies is – so basies dat hulle geen bevestiging nodig het nie. So ‘n oortuiging is basies as ek in die lig daarvan lewe. Die feit dat dit werk, is selfbevestigend. As ek in God glo en die lewe werk vir my en die oortuiging help my om sin van die lewe te maak, is die oortuiging basies.

 

  1. Soms werk ‘n oortuiging wat ons as basies beskou het nie meer nie – ons word gedwing om dit te bevraagteken

Mense het soms ‘n geloofskrisis. Hulle was oortuig van iets en dan gebeur daar iets wat hulle dwing om weer te dink. Dit is wanneer Psalm 1 nie meer waar klink nie. Anselmus se antwoord sou wees: Geloof moet soek om verstaan te word. Moenie jou geloof los nie, maar hou aan soek.

 

Waar kom jou vrae vandaan – daardie vrae wat jou waarlik bekommer. Is dit as Psalm 1 nie werk nie; as dit lyk asof die wêreld onregverdig is? Sulke vrae se oorsaak is ons ondervindings. Soms het jou vrae ‘n ander oorsprong? Weerspreek die wetenskap die Bybel? Is wonderwerke moontlik? Is die opstanding moontlik? Hierdie vrae is nie nuut nie. Christene vra hulle al eeue lank. Maar hulle mag steeds jou vrae wees.

 

Miskien kom die vrae uit die geskiedenis. Was die kerk ‘n bron van goed of sleg in die wêreld? Daar was duidelik betekenisvolle foute. Mense vra: As daar weklik ‘n God is, sou ons geloof in God tog  positief wees. Baie mense noem dit die rede waarom hulle nie glo nie. As ons die geskiedenis noukeurig evalueer sien ons dat die impak van geloof in God, ten spyte van die foute, oorweldigend positief was en is. ‘n Belangriker vraag is: “Sal die keerk voortgaan om ‘n bron van die goeie in die wêreld te wees?”

 

Dit bring ons weer by die gebied van etiek. Het die kerk die etiese integriteit om waarlik leiding te gee in moreel deurmekaar tye? Kan die kerk leiding gee oor globale armoede, geslagsake, globale migrasie, vrae oor homoseksualiteit, vrae oor die einde van lewe, vrae oor genetiese manipulering, ens. Ons moet steeds soek om te verstaan, maar kom ons soek in geloof. Ons sal genoeg langs die pad kry om ons reguit op koers te hou. Miskien sal ons soos Asaf wees wat ten spytre van al sy vrae kon bevestig: Wat ons gehoor het en wat ons weet, wat ons voorvaders ons vertel het, sal ons nie vir ons kinders verswyg nie. Ons sal aan die volgende geslag vertel van die roemryke dade van die Here en van sy mag, van die wonderdade wat Hy gedoen het (Psalm 78:3 – 4).