Is dit altyd verkeerd om te oordeel?

 

I used to believe that prayer changes things, but now I know that prayer changes us, and we change things. Moeder Teresa

 

Is dit altyd verkeerd om te oordeel?

Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie (Matteus 7:1).

Vandag is dit polities onaanvaarbaar om te sê dat iemand verkeerd is in sy goedsdienstige oortuigings. Dit moet ten alle koste vermy word. “Oordeel jy nie ander mense as jy sê dat hulle verkeerd is nie? Is dit nie teen wat Matteus 7:1 sê nie?”

 

Vir baie mense vandag is hierdie, en nie meer Johannes 3:16 nie, hulle gunstreling vers in die Bybel. Baie mense interpreteer wat Jesus hier gesê het verkeerd. Jesus sê nie hier dat ons nooit mag oordeel nie. Is dit so? Nee. In Johannes 7:24 sê Jesus: Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig. Soms is dit ‘n goeie ding om mense regverdig te oordeel. Wat Jesus veroordeel het, was ‘n kritiese en veroordelende gesindhied – ‘n gevoel van geestelike meerderwaardigheid.

 

Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp.  En pas op: jy kan self ook in versoeking kom (Galasiërs 6:1). God wil hê dat ons eers onsself moet ondersoek vir die probleme wat ons so maklik in ander raaksien. Eers daarna kan ons probeer om die splinter uit ‘n ander se oog te verwyder.

As dit kom by die oordeel van ander is die sleutelelement jou gesinheid. Ons kan aan ons beginsels vashou en ander steeds met waardigheid en respek hanteer – al verskil hulle van ons. Ons kan in ‘n gees van nederigheid verduidelik waarom ons dink dat iets verkeerd is. Ons moet in liefde by die waarheid bly (Efesiërs 4:15). Dit moet ons doel wees.

Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken (Matteus 7:15 – 16). Jesus sê hier vir ons dat ons profete volgens die vrugte wat hulle dra, moet oordeel.

 

As Christene moet ons met die wysheid en onderskeidingsvermoë wat God aan ons gee, oordeel. Wees baie versigtig vir ‘n kritiese, veroordelende gees.

 




Psalm 21 (3)

 

Wherefore it ought to be the first concern of every Christian to lay aside all confidence in works and grow in the knowledge, not of works, but of Christ Jesus, who suffered and rose for Him – Martin Luther

 

Psalm 21 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese implikasies

Psalm 21 wys vir ons hoe betekenisvol die verlossing van individuele lede van die gemeenskap, veral die leiers, vir God se mense as ‘n geheel is. Kom ons kyk na die logika van hierdie psalm:

  • Die koning ervaar die Here se verlossing van sy vyande (vers 3 – 6).
  • Dit inspireer sy lof en voortgaande vertroue (vers 7 – 8).
  • Dit is ook die basis vir die oortuiging dat die Here almal wat sy goddelike doel dwarsboom, sal oorwin (vers 9 – 13).
  • Die gee aanleiding tot die lof van die mense (vers 14).

 

Om in ‘n leiersposisie te staan, stel ‘n persoon onvermydelik aan gevaar bloot. Terselfdertyd dryf dit die leier na gebed en is dit ‘n geleentheid om God se goedheid te bewys. As die mense van hierdie proses bewus is, gee dit aan hulle die geleentheid om by die leier in sy lofprysing aan te sluit en om uit die leier se ondervining te baat.

 

Onlangse inligting het ons gehelp om die lewe, godsdiens en praktyke van Israel en sy bure beter te verstaan. Dit is duidelik dat sekere psalms bedoel is om by kroningsplegtighede gesing te word. Sommige selfs vir die herkroning van konings op die herdenking van hulle kroning. Ons moet op ‘n paar aspekte let:

  1. Anders as in Egipte word die koning self nie in hierdie psalm aanbid nie.
  2. Die koning verheug hom in die krag van die Here – nie in sy eie krag nie.
  3. God het genade aan die koning in die afgelope jaar bewys en sy gebede beantwoord.
  4. God het op sy diepste behoeftes gereageer; sy innerlike verlange vervul; goed uit sy sondige verlede voortgebring.
  5. God het hom voorafgegaan met goddelike seëninge. Die koning, as mens, reis langs die lewenspad in een rigting – van geboorte tot by sy dood. Dit is die pad van alle mense. Maar nou het God uit die hemel afgebuk en hom ontmoet.
  6. Die koning kroon nie homself nie. Die Here is Koning. Die koning is wel heer oor Israel; hy verteenwoordig die volk. Die Here is ook die Koning van Israel.
  7. Die koning het vir ‘n lang lewe gevra – en boonop liefde ook gekry; hy vra vir lewe en kry die ewige lewe.
  8. God het hom nou bestraal met van sy eie heerlikheid – soos God met Moses gedoen het.
  9. Sy groot beloning was God se nabyheid (vs 7). Al wat die koning moes doen, was om hierdie oorvloedige blydskap te aanvaar, want die koning vertrou op die Here.
  10. Nou word die hele Israel daaraan herinner dat hy ook uitverkies is en dat God hulle seën, want hulle vertrou op die Here. Die Here beskerm die koning en vir Israel – deur die trou van die Allerhoogste.

 

Die psalmis praat direk met die Here. Die psalmis sê dat hy alles wat hy het van God ontvang het. Die koning het vir ‘n oorwinning oor sy vyand gevra – wat U hom gegee het. Deur die oorwinning oor die vyand het die Here sy mag aan die mense geopenbaar. Na ‘n oorwinning het die koning dikwels die kroon van die verslane vyand vir hom gevat en dit op sy kop gesit. Naas die oorwinning en die gepaardgaande roem en eer, het die koning ook nog, soos hy gevra het, ‘n lang lewe gekry. Dit beteken ‘n lewe waarin hy ryklik met aardse besittings geseën is, uit die kloue van die dood gebly het en in gehoorsaamheid aan God se geopenbaarde wil gelewe het – in geloofsvertroue op die Here. Lewensvreugde is net te vinde in die teenwoordigheid van die Here. Blydskap is ‘n teken van bevryding. In vs 8 word gepraat van die koning se reaksie op die Here se seën: hy vertrou op die Here en deur die Here se trou struikel hy nie meer nie.

Hoe raak dit my? As ek my direk met die koning vergelyk, kom ek nêrens nie. In plaas van ‘n oorwinning, het ek dalk onlangs ‘n nederlaag gely. In plaas van vreugde en roem is daar in my lewe dalk net miskenning en pyn. As ek egter raaksien dat dit in hierdie psalm om ‘n driehoeksverhouding gaan, sal ek die rolspelers sien soos hulle waarlik is:

  1. Die Here – dit is niemand minder as die almagtige God nie. Hy hou die lotgevalle van sowel gelowiges as goddeloses in sy hande.
  2. Die koning – is soos enige ander gelowige sondaar wat van God genade ontvang het en deur Hom uit die bose verlos is.
  3. Die vyande – werktuie van die bose wat probeer om God se eiendom aan te val. God verslaan hulle vernietigend.

 

As ek dit raaksien, doen die psalm twee dinge aan my:

  • Dit troos my wanneer ek as gelowige soms moet ly. Dit herinner my dat ek ‘n koningskind is wat in Christus se opstanding reeds deel gekry het aan die grootste oorwinning van alle tye.
  • Dit waarsku my as ek sou waag om God se wil te dwarsboom of my medemens te benadeel. Die Here laat nie met Hom speel nie; Hy duld geen onreg teen dié wat aan Hom behoort nie.

 

 

 

 




Waar kom vrae en antwoorde vandaan? (1)

 

When I have nothing more to say I stop talking. — Martin Luther

 

Waar kom vrae en antwoorde vandaan? (1)

As Psalm 1 nie werk nie, wat doen jy dan? Psalm 1 beloof ‘n ordelike lewe wat sin maak. Doen die regte ding, dink na oor die Skrif, hou die regte geselskap, jy moet God liefhê, en in die regte seisoen dra alles vrugte. Logies. Werk meeste van die tyd. Maar wat van daardie gebiede waar niks sin maak nie. Dan identifiseer ons eerder met Asaf: Waarom, o God, hou U aan om ons te verstoot? Waarom is U kwaad vir die kudde wat aan U behoort? (Psalm 74:1). By Asaf is daar geen tekort aan vrae nie.

 

Kom ons kyk na Handelinge 12. Petrus word wonderbaarlik uit die tronk bevry op die vooraand van sy teregstelling. Maar Herodes laat vir Jakobus met die swaard doodmaak. Petrus word verlos; Jakobus word tereggestel. Hoekom die een en nie die ander nie? Vrae … as jy ‘n Christen is sal jy baie vrae hê.

 

Hoekom antwoord God party vrae met ‘n ja en ander met ‘n nee? Ons kan die vraag uitbrei om ook pyn en lyding in te sluit. As God dan liefdevol, almagtig en alwetend is, hoekom kry ons dan so swaar. Beteken dit nie dat een van die drie – liefde, mag en kennis – nie volmaak is nie?

 

Soms het vrae ‘n ander oorsprong – soos ‘n wetenskaplike feit. Dit kom as ons die Bybel en ‘n wetenskaplike teks langs mekaar lees. Die wêreld is in ses dae gemaak. Dit is nie wat die wetenskaplike wêreld sê nie. Jona wat deur ‘n groot vis ingesluk word en drie binne in die vis leef.

 

Soms het vrae ‘n oorsprong in die sosiale wetenskappe. Die morele siening van die Christelike geloof word bevraagteken. Kyk maar na die tradisionele Christelike onderrig oor seksuele verhoudings. Tog woon meeste paartjies reeds voor die huwelik saam. Wat van dieselfde geslag verhoudings? Is  die antwoord om selibaat te bly korrek? Maar dit gaan nie net oor seks nie. Is die aansprake van Christene op die absolute waarheid nie problematies nie? Lei dit nie tot onverdraagsaamheid nie? Is dit nie die onderliggende oorsaak van baie konflik in die wêreld nie?

 

Soms gaan die vrae oor etiek. Mense spreek toenemend hulle misnoë oor die Christelike geloof uit op morele gronde. In die verlede is Christene daarvan beskuldig dat hulle intellektueel leeg is – nou word hulle daarvan beskuldig dat hulle moreel verdag is.

 

Volgende keer gaan ons verder en bespreek hoe ons mense kan help om beter te verstaan.

 




Gebede wat beantwoord word

 

Toe John Wesley vir Generaal Oglehorpe te na gekom het, sê die generaal: “I never forgive.” Hierop antwoord Wesley: “Then, Sir, I hope you never sin.”

Gebede wat beantwoord word

Rick Warren het ‘n blog oor gebede wat beantwoord word, geskryf. Hy gebruik die voorbeeld van Nehemia. Hy noem vier “geheime vir gebede wat beantwoord word:

  1. Baseer jou versoek op God se karakter
  2. Bely die sondes waarvan jy bewus is
  3. Maak aanspraak op God se beloftes
  4. Wees spesifiek in wat jy vir God vra. As jy spesifieke antwoorde op jou gebede verwag moet jy spesifieke versoeke rig. As jou gebede uit algemene versoeke bestaan, hoe gaan jy weet of God hulle geantwoord het.

 

In Nehemia 1 is die basis van Nehemia se gebed wie God is. Hy bely sy sondes. Dit was nie sy fout dat Israel in ballingskap weggevoer is nie – hy was nie eers toe gebore nie. Hy is waarskynlik in ballingskap gebore. Tog sluit hy homself by die sondes van die nasie in.

 

Volgens Nehemia 1 het hy spesifiek vir sukses gebid. Hy huiwer nie om dit te doen nie. Hy is baie braaf in sy gebed. Het jy al ooit gebid: “Here maak my suksesvol?” Hoekom nie? Wat is die alternnatief? Mislukking. Kan jy bid dat die Here vir jou sukses sal gee? Dit hang af van jou definisie van sukses. ‘n Goeie definisie volgens Warren is: sukses is as ek God se doel vir my lewe in geloof, liefde en die krag van die Heilige Gees vervul en op God vir die resultate vertrou. As dit jou definisie van sukses is, kan jy met vrymoedigheid vir sukses bid.