‘n Kultuur van innovering in die gemeente

 

The best kinds of ministry are, more often than not, long term and low key. —Christopher Ash

 

‘n Kultuur van innovering in die gemeente

Kreatiwiteit is belangrik in bediening, want God is kreatief. Dit maak dus sin dat ons God met ons kreatiwiteit sal dien. Maar hoe ontwikkel jy ‘n kultuur van innovering in die gemeente?

 

  1. Jy het ‘n teologie van innovering nodig

Ons is soos ons Skepper as ons kreatief is. God het ons gemaak om kreatief te wees. Kinders is baie kreatief – hulle word so gebore. Maar met verloop van tyd verloor ons hierdie kreatiwiteit, want ons is bang. ‘n Teologie van innovering herinner ons altyd daaraan dat God wil hê dat ons innoverend moet wees.

 

  1. Jy het ‘n kreatiewe atmosfeer nodig

Daar is sekere omgewings waarbinne dit net onmoontlik is om kreatief te wees. ‘n Formele atmosfeer met ‘n raadskamer met ‘n groot tafel bevorder nie juis kreatiwiteit nie.

 

  1. Moenie te ernstig wees nie

Speel stimuleer kreatiwiteit. As jy mense kry om te lag, vloei die endorfiene. Kreatiwiteit is dikwels om twee teenoorgestelde idees bymekaar te sit – wat mense dink ‘n lawwigheid is. Dit laat mense lag. As mense eers lag, is kreatiwiteit nie ver agter nie. As hulle ernstig is, sal hulle nie sommer kreatief wees nie.

 

  1. Jy het die vryheid om te misluk nodig

Innovering beteken dat jy nie bang is om te misluk nie. Eksperimenteer. Probeer. Jy misluk as jy nie meer probeer nie. Innoverende gemeentes doen meestal meer dinge wat nie werk nie as die wat werk. As jy nie foute maak nie, probeer jy nie!

 

  1. Dink groot

Stel doelwitte wat so groot is dat jy sal misluk tensy God jou help.

 

  1. Doen iets wat die moeite werd is

As jy nie iets betekenisvol probeer bereik nie, gaan jy nie kreatief wees nie. Hoekom innoveer ons? Om anders te wees? Nee. Ons moet innoveer, want ons wil mense met die evangelie en met Jesus Christus bereik. Dit moet bepaal wat ons doen en hoe ons dit doen.

 

 




Psalm 21 (1)

 

The blindness of unbelievers in no way detracts from the clearness of the gospel, for the sun is no less respendent because the blind do not perceive it – Johannes Calvyn

 

Psalm 21 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema: Maak op God staat en nie op eie krag nie.

Hierdie is soos Psalm 20 ‘n koningspsalm. Hierdie twee psalms is soos twee kante van ‘n muntstuk. Beide hanteer die in mekaar gevlegdheid van die bestemming van die koning en sy onderdane.

Die een is ‘n gebed waarin die psalmis die Here vra om die koning te laat seëvier; die ander is ‘n danklied vir die oorwinning wat reeds behaal is.  Die danklied bestaan uit twee hoofdele:

  • God se mag verseker die koning van ‘n oorwinning.
  • God se mag bring vir die vyand ondergang.

Elkeen het ‘n lang hoofdeel en ‘n kort slot.

 

21: 1: Opskrif.

Vir die musiekleier. ’n Psalm. Van Dawid.

Die spreker in hierdie psalm is die gemeente of ‘n priester wat namens die gemeente praat.

 

2:2 – 8: Die seëninge van die koning.

Die priester verklaar die koning se redes vir danksegging. Implisiet geld dit ook vir sy mense.

 

2Here, die koning is bly oor u beskerming; hoe uitbundig juig hy oor u verlossing.

Hier word melding gemaak van die Here se krag, maar ook van sy verlossing. Krag is nie ‘n eienskap wat die Here net besit nie – dit sou tog nie ‘n rede wees om jou te verheug en te juig nie. Die Here gebruik egter sy krag as Hy optree.

 

Die danksegging kyk terug na die koning se gebed en die Here se antwoord. Hier kry ons stellings wat na die verlede verwys wat afgewissel word met stellings van ‘n voortgaande werklikheid en geloof.

 

3Wat sy hart begeer, het U vir hom gegee en wat sy lippe verlang het U nie geweier nie. Sela.

Wat sy hart begeer het God vir hom gegee. Hart en lippe vul mekaar aan.

 

4Ja, U tree hom tegemoet en seën hom met die goeie; U sit ‘n kroon van fyngoud op sy kop.

Hierdie laat ons dink aan Dawid wat na Hebron of Jerusalem terugkeer na een van sy oorwinnings. Die Here wag nie vir die koning om aan te kom nie, maar gaan hom tegemoet met seën en ‘n kroon van fyngoud. Die Here neem die inisiatief en wag nie vir iemand om aan te kom nie.

 

5Lewe het hy van U gevra en U het dit aan hom gegee, ‘n lang leeftyd, vir altyd en altyd.

6Hy geniet hoë aansien deur die verlossing wat U bring; luister en glansrykheid verleen U aan hom.

Vers 5 keer na die koning se gebed terug. Die versoek vir lewe is vermoedelik ‘n versoek vir veilige verlossing van sy vyande. Die Here se reaksie gaan verder as die versoek. Konings se lewens was maar dikwels baie kort. In konteks hier beteken dit lewe tot die volheid van jou tyd – jou lewe word nie in sy fleur kortgeknip nie. Luister en aansien verwys hier na eer.

 

7Ja, U oorlaai hom vir altyd met seëninge, U maak hom baie bly met u teenwoordigheid.

Die idee dat die Here die koning met oorvloedige seëninge oorlaai, is sodat hy die standaard word waarteen mense seëninge vir hulleself soek. Hy is bly as gevolg van die Here se teenwoordigheid, want seëninge kom as die Here gunstig na ‘n mens kyk.

 

8Omdat die koning vertrou op die Here, op die troue liefde van die Allerhoogste, sal hy nie wankel nie.

Omdat die koning op die Here vertrou, sal hy nie wankel nie. Wankel kan ook ‘n manier wees om na vertroue te verwys – die koning se vertroue sal nie wankel nie. Die koning kan op die Here vertrou, want sy troue liefde inspireer vertroue. Die Here is dus die voorwerp en die instaatsteller van vertroue.

 

Vers 8 word dikwels as die middelpunt van die psalm gesien wat die twee helftes aan mekaar verbind.

 

 




Gee my wysheid (11)

 

“I learned that courage was not the absence of fear, but the triumph over it.” – Nelson Mandela

 

Gee my wysheid (11)

Matthew Henry (1622 – 1714) het ‘n kommentaar oor die hele Bybel geskryf. Uit hierdie massiewe werk het ‘n boek (Grant Me Wisdom) verskyn wat Henry se werk maklik toeganklik vir die moderne leser maak. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie werk wy.

 

Die beloning van geloof

Met hierdie vooruitsig span ons ons kragte in en stry ons, want ons het ons hoop op die lewende God gevestig, wat die Verlosser is van alle mense, van almal wat glo (1 Timoteus 4:10)

Wat moedig ons aan om die pad van geregtigheid te loop? Is dit die moeite werd? Luister na wat Paulus hier sê: alles wat ons in diens van God doen, sal ryklik beloon word. Swaarkry en probleme moet in hierdie wêreld verwag word – dit geld ook vir gelowiges. Diegene wat werk en ly in diens van God, kan op die lewende God vertrou. Hy is immers die Verlosser van alle mense.

 

As Hy dan die Verlosser van alle mense is, kan ons aanvaar dat Hy diegene wat Hom soek en dien, sal beloon. Die verlossing wat Hy beoog, is voldoende om hulle vir al hulle diens en lyding te beloon.

 

Die lewe van ‘n Christen is ‘n lewe van werk en swaarkry. Al wat ons in hierdie lewe vir dit alles van ander kan verwag, is ondankbaarheid.

 

Ons weet egter dat ons hoop op die ewigheid saam met God gevestig is.

 

 




Waar kom ons krag vandaan?

 

To follow the teachings of our Lord Jesus Christ and to walk in his footsteps – Franciskus van Assisi se regula primitiva (primitiewe reël)

 

Waar kom ons krag vandaan?

Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop (Habakuk 3:19)

Waar kom ons krag vandaan? Van ons eie vasberadenheid of van elders? Vir Habakuk kom sy krag van God af. Die Here was sy bron van krag. Daarom kon Habakuk doen wat hy moes doen. Toe Paulus van die doring in sy vlees kla, antwoord die Here hom: My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is (2 Korintiërs 12:9).

 

Habakuk kon soos ‘n ribbok hardloop. Hierdie beeld sê vir ons dat Habakuk deur die lewe soos ‘n ribbok deur die velde kon hardloop. ‘n Ribbok wat deur die velde hardloop, doen dit oënskynlik moeiteloos. As jy deur die lewe met die krag van die Here gaan, is dinge makliker as wanneer jy dit alleen probeer doen.

 

Habakuk kon ook op hoë plekke veilig loop. Hierdie beeld sê vir ons dat Habakuk met die krag en leiding van God sy pad deur oënskynlik onoorkomelike struikelblokke vind. In plaas van die moeilike klim wat baie mense ondervind, kon Habakuk veilig loop. As ons deur die lewe met die krag en leiding van God gaan, is dit makliker om die struikelblokke van die lewe te hanteer as wanneer jy dit alleen probeer doen.

 

Sonder God kan die lewe baie moeilik wees. Voordat jy van aangesig tot aangesig kom met die velde en berge van die lewe, moet jy Habakuk se woorde te harte neem. Soek die krag en leiding van God en maak dinge makliker vir jouself.