Gee my wysheid (10)

 

You cannot be a perfect mom, but you can be a prayerful mom. —Melissa Kruger

 

Gee my wysheid (10)

Matthew Henry (1622 – 1714) het ‘n kommentaar oor die hele Bybel geskryf. Uit hierdie massiewe werk het ‘n boek (Grant Me Wisdom) verskyn wat Henry se werk maklik toeganklik vir die moderne leser maak. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie werk wy.

 

Geestelike wapenrusting

Maar ons wat van die dag is, moet nugter wees; ons moet geloof en liefde as borsharnas dra en die hoop op verlossing as helm (1 Tessalonisense 5:8)

Ons geestelike vyande is baie en sterk en kwaadwillig. Ons moet onsself bewapen teen hulle aanvalle. Hierdie geestelike wapenrusting bestaan uit drie groot gawes: geloof, liefde en hoop.

 

Ons moet lewe deur geloof – dit sal ons nugter en waaksaam hou. Geloof is ons beste verdediging teen die aanvalle van ons vyande. Ons moet ‘n hart brandend van liefde hê. Ware en vurige liefde vir God sal ons ook waaksaam en nugter hou. Verlossing moet ons hoop wees. Hierdie hoop vir ‘n ewige lewe dien as helm om ons koppe te verdedig en te verhinder dat ons dronk word van die plesier van die sonde.

 

Paulus sê niks van hoe ons hierdie verlossing kan verdien nie, want die leer van verdienste is teen die Skrif. Ons hoop berus op God se genade. Dit is op sy genade waarop ons ons onwrikbare geloof bou. Hoe kan ons dit doen? Deur Jesus Christus se verdienste en genade. Hy het vir ons aan die kruis gesterf. Vir ons verlossing is ons alles aan Jesus Christus verskuldig; ons hoop is in sy versoening gevestig.

 

 

 




Het ons belydenisskrifte nodig?

 

A person who is a good and true Christian should realize that truth belongs to his Lord, wherever it is found – Augustinus.

 

Het ons belydenisskrifte nodig?

As ons die Bybel het, waarom het ons nog belydenisskrifte nodig? Hierdie is ‘n vraag wat algemeen gevra word. Michael Bird (What Christians Ought to Believe) sê dat die belydenisskrifte nie alleen Bybels is nie, maar krities belangrik is om te weet  wat die Skrif oor God, Jesus, verlossing en die lewe wat kom, sê.

 

Dit is verstaanbaar dat moderne Christene huiwerig is om die belydenisskrifte te aanvaar. Meeste se enigste ondervinding van hierdie belydenisskrifte is ‘n eindelose herhaling. Hoekom is mense agterdogtig oor die belydenisskrifte? Hier is ‘n paar redes vir agterdog.

  • As ons aan esoteriese debatte oor tegniese teologiese jargon wat nie relevant is nie, blootgestel word.
  • As jy verward is oor die verband tussen die belydenisskrifte en wat die Bybel sê.
  • As jy glo dat belydenisskrifte net kerke verdeel

 

Dit is nie reg om te sê: “Ons glo net die Bybel” nie. Dit klink edel, maar daar is verskeie probleme. Kyk na al die verskillende kerke en dit is gou duidelik dat hulle nie saamstem oor wat die Bybel sê nie. Meestal is die verskille klein, maar soms is dit betekenisvol. As jy die Bybel glo, moet jy op een of ander stadium sê wat jy dink die Bybel sê. Wat sê die Bybel oor God, Jesus, verlossing en die eindtye? Belydenisskrifte sê wat jy dink die Bybel sê oor hierdie onderwerpe en dit is die goed wat werklik saakmaak. Hiermee stel jy die grense van jou geloof vas.

 

Ons kry belydeniosskrifte in die Bybel. In Deuteronomium 6:4 – 5 kry ons die sjema, Israel se beknopte belydenis van geloof in een God. Dit is hierdie geloof in een God wat hulle van die heidense gelowe onderskei het. Jesus en Paulus het beide hierdie belydenis bevestig (Markus 12:29; 1 Korintiërs 8:6).’

 

Gegewe hierdie konteks is dit verstaanbaar dat die vroeë kerk sy eie belydenisskrifte geformuleer het. Hierdie belydenisskrifte het gesê wat hulle glo die God van Israel reeds in Jesus Christus gedoen het en wat Hy nog in Hom gaan doen. Ons het dus reeds van kort na Jesus se opstanding mense wat ‘n kort opsomming van dit wat ons basies glo, opgestel het. Dit geld dan vir alle Christene oor die destydse Grieks-Romeinse wêreld.

 

Die algemene belydenisskrifte wat ons vandag gebruik, is Bybels en help ons om die Bybel beter te verstaan. Hulle vervang nie die Bybel nie, maar help ons om die Bybel beter te verstaan.

 




Kenmerke van gemeentes wat jongmense bereik

 

God is truth itself, the sovereign and first truth – Tomas van Acquino

 

Kenmerke van gemeentes wat jongmense bereik

Almal praat daarvan dat ons die volgende geslag moet bereik. Wat maak ‘n gemeente doeltreffend om hierdie geslag te bereik? Volgens Carey Nieuwhof verskil hierdie gemeentes van mekaar, maar hulle het tog vyf kenmerke in gemeen. Dit is nie die model nie – suksesvolle gemeentes het verskillende modelle. Dit was nie die denominasie nie – party was konserwatief (tradisioneel) en ander meer kontemporêr. Dit was nie die fasiliteit nie – party het nie eers ‘n permanente tuiste gehad nie.

 

Kom ons kyk na hierdie vyf kenmerke

  1. Passie eerder as sofistikasie

As jy genoeg konferensies bywoon, glo jy jy het nog R500000 nodig vir ligte en ‘n nuwe klankstelsel. Maar hierdie gemeentes het nie noodwendig die beste ligte, verhoog of opvoerings gehad nie. Wat hulle wel almal in gemeen het, is passie. Vir die nuwe geslag is passie dié belangrikste. Leiers wat egtheid uitstraal en wat enigiets sal doen om mense met die evangelie te bereik, trek jongmense.

 

  1. Jesus oor God

Die gemeentes gevul met jongmense praat eerder oor Jesus as oor God. Natuurlik is God Jesus en Jesus is God. God kan ongelukkig baie verskillende dinge in ons post-Christendom kultuur beteken. Jesus is meer spesifiek. Gemeentes wat oor Jesus en die Heilige Gees praat het ‘n groter impak op jongmense as gemeentes wat oor God praat.

 

  1. Vooruitgang eerder as fasiliteite

Jy het nie ‘n fasiliteit wat miljoene kos en sitplek vir duisende het, nodig nie. Baie van hierdie gemeentes wat jongmense bereik het klein permanente fasiliteite. Hulle gesindheid is een van geen verskonings nie. Voor hulle groot fasiliteite oprig, plant hulle eerder ‘n ander gemeente.

 

  1. Risiko oor sekerheid

Alle gemeentes wat jongmense bereik, waag. Hulle bots dikwels met hulle denominasies. Hulle plant kerke op plekke waar niemand anders sou waag om dit te doen nie. Al wat hulle wil sien, is dat die koninkryk vooruitgaan. Die jongmense het geen probleem met hierdie onsekerheid nie. As jy vir sekerheid wag, wag jy te lank.

 

  1. Roeping oor geld

Volg roeping geld of volg geld jou roeping? Die gemeentes wat jongmense suksesvol bereik, glo dat as jy die roeping goed doen, die geld sal volg. As jy met die roeping lei, val al die ander dinge in plek: geld, mense en die hulpbronne wat jy nodig het. Baie gemeentes wag totdat hulle die geld het voordat hulle hulle roeping najaag. Jaag jou roeping na en die geld kom.

 

 




Drie waarhede wat Christene moet onthou

 

The great heroes of faith listed in Hebrews 11 had their weak points … Yet God worked his purpose specifically through them, to make it all the more clear that it is His work and not ours – Johannes Devries

 

Drie waarhede wat Christene moet onthou

Dwarsdeur die Skrif lees ons dat God se mense moet onthou. In Deuteronomium sê God die volk moet onthou wat pas gebeur het. Vir 400 jaar lank was hulle slawe en nou val manna uit die hemel om hulle te voed. Hulle sou dit tog nie vergeet nie. Tog vergeet hulle dit. Istrael se geskiedenis word deur geestelike geheueverlies gekenmerk. Dieselfde gebeur met ons.

 

  1. D. Greear sê daar is veral drie waarhede wat Christene geneig is om te vergeet.

 

  1. Onthou die slawerny van sonde

Maar sorg dat jy nie dan die Here vergeet wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny bevry het nie (Deuteronomium 6:12)

Baie van ons vergeet van ons sonde voor ons tot bekering gekom het. Onthou jy hoe was die lewe sonder God? Dit was slawebande, spanning en leegheid. Daar was geen genesing daar nie. Wil jy regtig daarheen teruggaan. Onthou: die huis van sonde is altyd ‘n huis van slawerny. Moenie daarheen teruggaan nie.

 

  1. Onthou dat jy verlos is

Maar sorg dat jy nie dan die Here vergeet wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny bevry het nie (Deuteronomium 6:12)

Jy moet ook onthou dat God jou bevry het. Vir baie van ons is dit moeilik om te aanvaar dat die wolk van veroordeling weg is. Ons vind dit moeilik om te glo dat God ons liefhet. Ons verwag voortdurend die oordeel oor ons vorige sondes. Maar God het hulle vergeet – die oue is verby en die nuwe het gekom. As ons in Christus is, is ons ‘n nuwe mens; ons is aangeneem in ‘n nuwe familie; ons het ‘n nuwe Vader. Ons is nou sy kinders. Leef soos sy kinders.

 

  1. Onthou die genade van die God wat jou verlos het

In Deuteronomium 6:20 – 24 antisipeer Moses ‘n gesprek tussen ‘n vader en seun. Die seun wil weet of hulle dit alles moet gehoorsaam. Luister na Moses se antwoord: Wanneer jou seun jou in die toekoms vra: Wat beteken die verordeninge en voorskrifte en bepalings wat die Here ons God vir ons gegee het? Dan die antwoord: Ons was in Egipte die farao se slawe, en die Here het ons daar deur sy magtige dade bevry. Hoekom gehoorsaam ons God se opdragte. Omdat God wat hierdie opdragte aan ons gegee het ons so lief gehad het dat Hy sy eie Seun vir ons aan die kruis laat sterf het.

 

Hoe kan ek God vertrou as ek nie verstaan wat Hy doen nie? Deur weer aan Jesus se offer aan die kruis te dink. Hy het vir ons gesterf toe ons nog sondaars was. Hy sal ons beslis nie verlaat noudat ons sy kinders is nie.