Prayer is the language of the soul in conversation with God. It is the most intimate gesture of the religious life and the most transformative – Sir Jonathan Sacks.
Psalm 20 (1)
[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.
Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.
Tema: ‘n Seën vir die koning
Dit is gou duidelik dat vers 2 – 6 bymekaar hoort, maar by vers 7 gebeur daar iets nuuts. Verse 2 – 6 is die woorde van ‘n groep mense aan ‘n individu in een of ander krisis. In vers 10 sal ons sien dat dit die koning is. In vers 7 praat ‘n individu. Dit is ‘n reaksie op vers 2 – 6. Vers 2 – 6 is ‘n verklaring van vertroue in wat die Here sal doen of ‘n proklamasie van sy seën. In verse 8 – 10 neem die oorspronklike sprekers die koning se verklaring van trou aan die Here en sluit die psalm af met ‘n gebed en ‘n finale woord waarin vertroue uitgespreek word. Die psalm is ‘n gesprek tussen die mense en die koning.
Hierdie psalm is waarskynlik gebruik as ‘n geveg verwag word. Dit mag ook tydens ‘n gereelde liturgiese gebeurtenis gebruik word. Die versekering dat die koning sal oorwin as daar oorlog kom, moet immers gereeld bevestig word. Ons weet nie wanneer hierdie psalm geskryf is nie.
Psalm 20 is ‘n gebed om hulp in tyd van (militêre) bedreiging. Die volk vra dat die Here aan die koning oorwinning sal gee. Die koning staan blykbaar aan die vooraand van ‘n groot militêre veldtog of veldslag. Die offer wat so ‘n gebeurtenis voorafgaan, is gebring. Nou word daar voorbidding gedoen vir die koning met die oog op wat voorlê.
20:1: Opskrif
Vir die musiekleier. ‘n Psalm. Van Dawid.
Hierdie psalm is ‘n dialoog tussen mense en die koning.
20:2 – 6: Die Here hoor op die dag van nood.
In die Ou Testament is seën die taak van leiers soos Moses, Dawid en ander konings en van priesters. Gewone mense het die vermoë om mekaar te seën en ook om die koning te seën. Die openingsverse mag dui op die seën van ‘n priester,
2Mag die Here u antwoord op die dag van benoudheid; mag die Naam van die God van Jakob u beskerm.
3Mag Hy vir u hulp stuur uit die heiligdom, en vanaf Sion u ondersteun.
Die eerste deel van beide verse praat van konkrete optrede: antwoord … hulp stuur. Hierdie is twee aspekte wat mense sou gebruik in ‘n gebed in tye van nood. Eerstens is daar ‘n verklaring dat die Here gehoor het en gaan optree. Dan is daar ‘n optrede wat hierdie verklaring ‘n werklikheid maak. Die heiligdom is Sion, alhoewel ons later sal sien dat die Here ook uit sy heilige hemel antwoord. Sion is die plek waar die Here besluit het om te woon. Sion is waar die mense en die koning bymekaar is.
4Mag Hy al u offergawes in gedagte hou, u brandoffers aanvaarbaar vind. Sela.
Sion is die plek waar offers gebring word en waar seën verkondig word. Dit ook waar die Here op die koning se offers en gebede reageer. Seën word hier in dade omgesit. Dit gebeur omdat die Here die koning se offergawes in gedagte hou. Die offergawes sê vir ons die koning is ernstig as hy die Here in ‘n noodsituasie nader.
5Mag Hy aan u gee wat u hart verlang, en elkeen van u planne laat slaag.
Hier kyk ons steeds na die Here wat die koning se gebed beantwoord en reageer op sy offergawes. Die koning se denke het planne geformuleeer. Hy doen dit egter nie onafhanklik van die Here nie.
6Ons wil juig oor u verlossing, in die Naam van ons God die vaandel hoog hou. Mag die Here aan al u versoeke voldoen.
Hier word dit duidelik wie hier praat: of die mense of iemand wat namens hulle praat. Dit ook duidelik dat die krisis waarvan hier gepraat word nie net die koning raak nie, maar ook die mense. Die koning het verlossing nodig en as hy dit kry sal die mense daaroor juig. Die mense sal ook hulle vaandels waai – in God se Naam. Om vaandels te waai of hoog te hou, verwys gewoonlik na ‘n militêre konteks. Die mense mag lede wees van ‘n leër wat die koning lei.
In hierdie psalm word twee keer na die Naam van die Here verwys: dit moet die koning beskerm (vs 2) en die verbondsvolk vertrou op die Naam van die Here en nie op strydwaens en …op perde nie (vs 8). Die Naam is hier aanduidend van die Persoon – God self. Dit is nie maar net sommer ‘n magiese towerwoord wat uitgespreek kan word en wat dan sal help nie. Dit is God self wat help.