Gee my wysheid (8)

 

You block your dream when you allow your fear to grow bigger than your faith – Mary Manin Morrissey

 

Gee my wysheid (8)

Matthew Henry (1622 – 1714) het ‘n kommentaar oor die hele Bybel geskryf. Uit hierdie massiewe werk het ‘n boek (Grant Me Wisdom) verskyn wat Henry se werk maklik toeganklik vir die moderne leser maak. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie werk wy.

 

Die krag van geloof

Hy het vir hulle geantwoord: “Vanweë julle kleingeloof. Amen. Ek sê vir julle: As julle geloof het soos ‘n mosterdsaadjie sal julle vir hierdie berg sê, ‘Verplaas jou hiervandaan daarheen,’ en hy sal soontoe verskuif. Ja, niks sal vir julle onmoontlik wees nie (Matteus 27:20) [Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling.]

Jesus gebruik hierdie geleentheid om vir ons die krag van geloof te wys. Hier word na die kwantiteit van die saad verwys – as jy maar net ‘n greintjie ware geloof het, al is dit so klein soos die kleinste saadjie, sal jy wonders kan doen.

 

Die geloof waarvan hier gepraat word, het as voorwerp daardie besondere openbaring waardeur Jesus vir sy dissipels die krag gegee het om wonders in sy Naam te doen. Dit was ‘n geloof waarin hulle in hierdie besondere geval tekortgeskiet het. Moontlik het Jesus se afwesigheid twyfel in hulle gedagtes laat ontstaan of hulle in staat sal wees om dit te doen. Ons moenie in onsself en op ons eie krag vertrou nie. Jesus Christus is ongelukkig as ons nie vertroue in krag wat hy gee, het nie.

 

As jy net ‘n klein bietjie geloof het, sal niks vir jou onmoontlik wees nie. Die dissipels het nie die krag wat hulle ontvang het, vertrou nie. Daarom het hulle misluk. ‘n Opregte geloof kan berge verskuif – nie deur ons nie, maar deur Goddelike krag en ‘n Goddelike belofte.

 

 

 

 




Psalm 19(3)

 

All journeys have secret destinations of which a traveller is unaware – Martin Buber

 

Psalm 19(3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

 

19:13 – 15: Hierdie kennis wil die gelowige se verhouding met God versterk.

Nou volg daar ‘n aantal pleidooie. In 19:8 – 12 kon ons die indruk gekry het dat dinge goed is, maar dinge is meer ingewikkeld as wat ons tot dusver besef het

 

13Wie het insig in sy onbewuste dwalings? Spreek my vry van verborge sondes!.

14Weerhou ook u dienskneg van vermetelheid;

As God se verwagtings so goed vir ons is, hoekom neem ons so min kennis daarvan? Die geheim van sonde is dat ons almal afdwaal al sien ons dat God se verwagtings sinvol is. – soos ons in verse 8 – 12 gelees het. Verborge sondes kan of die beplanning wat sonde vooraf gaan, wees of dit kan wees dat hulp by ander gode gesoek word.

 

Laat dit nie oor my heers nie. Dan sal ek onskuldig wees en vry van ernstige oortredinge.

Laat hulle my nie dwing om hulle pad te loop nie. Ernstige oortredings is die raadpleging van ander gode.

 

15Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart vir U aanvaarbaar wees, Here, my Rots en my Verlosser.

Die psalm aanvaar dat daar ‘n verband tussen die aanvaarbaarheid van ‘n persoon se offers en die aanvaarbaarheid van sy woorde en gebede is. Ons het beide nodig: offers as ook woorde en gebede.

 

Volgende keer gaan ons na die teologiese implikasies van hierdie psalm kyk.

 




Ek gaan jou laat boet

 

An eye for an eye makes the world blind – Mahatma Gandhi

 

Ek gaan jou laat boet

Ek gaan binnekort die  koningshuis van Jehu laat boet (Hosea 1:4). Die New King James Version vertaal dit so: I will avenge. Hierdie Ek gaan of Ek sal, is baie algemeen in hierdie boek. Soms word dit negatief gestel: “Ek sal nie …” Meestal word dit egter positief gestel en vertel vir ons wat God aan en vir sy mense gaan doen.

 

In Hosea is daar twee hoofkategorieë van hierdie “Ek gaan …” stellings:

  • Veroordelend: God se vasberadenheid om sy mense wat ongehoorsaam is, te straf.
  • Verlossend: God se vasberadenheid om sy mense te herstel sodat hulle sy liefde ten volle kan ondervind.

God se mense het beide in hulle lewens nodig. Beide se wortels lê in God se liefde; beide openbaar God se liefde. Sonder die Ek gaan … laat boet, sal mense selftevrede en koud wees. Sonder die verlossende Ek gaan, sal mense tou opgooi. Soms is dit nodig dat ons die veroordelende Ek gaan, moet hoor; soms is dit nodig dat ek die verlossende Ek gaan, moet hoor. Die Christen se lewe beweeg tussen hierdie twee pole. Ons kan amper sê dat ons altyd of die een of die ander een ondervind.

 

In Hosea 1:4 belowe Hosea vir Israel dat God binnekort die koningshuis van Jehu gaan laar boet. Dit is as gevolg van Jehu se rol in Agab se aaklikge dood by Jisreël. Alhoewel hy God se opdrag om dood te maak uitgevoer het, doen hy dit op ‘n vals manier – dit was ‘n slagting. Hosea herinner Israel dat hierdie gebeurtenis meer as ‘n honderd jaar vantevore gebeur het, maar Israel het hulle nog nie bekeer nie – die gesindhede van destyds is steeds teenwoordig in die land. Hiervoor gaan God hulle straf.

 

Glo jy dat God vir jou kwaad is? Is jy onseker waarom dit so is? Is daar ‘n spesifieke sonde wat jy nog nie bely het nie? Of is die sondige gesindheid agter die sonde steeds in jou lewe? Wees dankbaar vir ‘n God wat nie net veroordeel nie, maar ook verlos.

 




Gee my wysheid (7)

 

An eye for an eye makes the world blind – Mahatma Gandhi

 

Gee my wysheid (7)

Matthew Henry (1622 – 1714) het ‘n kommentaar oor die hele Bybel geskryf. Uit hierdie massiewe werk het ‘n boek (Grant Me Wisdom) verskyn wat Henry se werk maklik toeganklik vir die moderne leser maak. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie werk wy.

 

Glo in ‘n Naam

Dit het ek aan julle geskryf sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Naam van die Seun van God glo (1 Johannes 5:13) [Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling.]

Gesonde Christengelowiges word beskerm teen sonde wat tot die dood toe lei. Hulle nuwe natuur en die inwoing van die Heilige Gees verhoed die toegang van sulke onverskoonbare sondes. Christene is versterk teen die aanvalle van die Satan. Hulle is aan God se kant in opposisie teen die wêreld.

 

Die mensdom is in twee groot partye verdeel:

  • ‘n Party wat aan God behoort – dit is diegene wat in Jesus Christus glo.
  • ‘n Party wat aan Satan behoort. Hulle is meer in getalle en is goddeloos.

Mag die God van die Christelike wêreld voortdurend die duiwel se heerskappy afbreek en mense in die koninkryk van sy Seun inbring.

 

Die Seun van God het na ons wêreld gekom. Die mense het Hom gesien en ken Hom. Hy het Homself as die ware God geopenbaar. Hy het ons denke oopgemaak sodat ons daardie waarheid kan verstaan – dat Hy die ware God is en dat Jesus Christus Hom aan ons geopenbaar het. Die Seun lei ons na die Vader en ons is in die Vader en Seun verenig.

 

Johannes waarsku ons: omdat ons die ware God ken en omdat ons in Hom is, moet ons toelaat dat sy liefde ons beskerm. Ons moet wegvlug van vals gode. God het ons deur sy Seun verlos; Hy het ons sondes vergewe; Hy gee aan ons die ewige lewe. Ons moet aan Hom in geloof, liefde en gehoorsaamheid vasklou.