Hiskia se gebed

 

The more empty I am, the more room is there for my Master. The more I lack, the more He will give me. —C.H. Spurgeon

 

Hiskia se gebed

In 2 Konings 19:14 – 19 lees ons Hiskia se gebed. Jerusalem word deur koning Sanherig van Assirië bedreig. Sy afgevaardigdes vertel vir Juda dat die gode van ander lande wat hulle verower het hulle nie kon beskerm nie. Hoe sal die Here hulle nou kon beskerm?

 

Hiskia se eerste reaksie was om vir Jesaja te vra om vir die volk te bid. Nou bid hy self. Hier sien ons iemand wat ten spyte van twyfel en vrees op die Here vertrou. Kom ons kyk na Hiskia se optrede:

  • Neem dit na die Here. Hiskia neem Sanherib se dreigbrief en sprei dit voor die Here uit in die tempel. Hy lê fisies sy las voor die Here. In die Bybel lees ons herhaaldelik dat ons ons las voor God moet lê en dat ons ons versoeke aan God bekend moet maak. Kom na God: hulpeloos en met ‘n behoefte aan genade. Ons doen dit nie, want ons glo ons sal alles self kan oplos – ons is selfgenoegsaam. As ons dink dat ons dinge op ons eie kan doen, is dit tog nie nodig om te bid nie! Ons moet besef dat ons niks sonder Jesus Christus kan doen nie.
  • Erken die grootheid van God. Hiskia sien die teenwoordigheid van God: U wat oor die gerubs troon.Hy erken God se eksklusiewe aard: U alleen is God. Hy erken God se oppermag: U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde. Hy erken God se oneindige mag: U het die hemel en die aarde gemaak. Het ons so ‘n visie van God as ons bid? Het ons ophou bid omdat ons siening van God te laag is?
  • Gee die probleem aan God. Hiskia vra dat die Here moet luister en oplet. Hy vra dat die Here die spot van Sanherib moet hoor – hy  beledig vir God. Hy sluit ‘n klaaglied in. Hy vertel vir God van hulle ernstige toestand. Hy sê dat Assirië ander nasies en hulle gode oorwin het, maar dit was nie gode nie. Hiskia kla nie – hy neem sy probleem na God toe. Hy is hartseer oor die situasie en stort sy hart uit. Praat jou probleme uit in God se teenwoordigheid. In ons krisisse kla ons teenoor ander mense voor ons ons harte voor God uitstort. Laai jou laste af op die Een wat dit kan dra.
  • Soek God se hulp. God, red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Geen groot indrukwekkende woorde nie; kort en eenvoudig. Stel jou versoek aan God. Vertel vir die Vader wat jy as sy kind nodig het. God het die gebed van die tollenaar verhoor (Lukas 18:13).
  • Waardeer die heerlikheid van God. Die doel van die gebed is eenvoudig, maar belangrik: Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat U, Here, alleen God is. Hiskia bid nie net vir homself  of vir die volk nie, maar ook vir God se heerlikheid. Ons kry dit ook in die Ons Vader gebed. Is dit ook ons bede dat die heerlikheid van God oral bekend sal word?

 

Hiskia word deur die Assiriërs bedreig In plaas van beplan, hulp van elders soek, kyk hy na God. Gebed skakel nie die behoefte aan menslike oplossings uit nie, maar uiteindelik moet ons God vertrou. Natuurlik moet ons raad by ander gelowiges kry, maar niks moet ons afhanklikheid van God vervang nie.

 




Psalm 19(2)

 

Put first things first and we get second things thrown in; Put second things first and we lose both first and second things – C. S. Lewis

 

Psalm 19(2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

 

19:8 – 13: Die wet openbaar die wil van God.

Hier kry ons ‘n skielike oorgang van die natuur na die wet.

 

8Die wet van die Here is volmaak, dit gee nuwe lewenskrag; die bepalings van die Here is betroubaar, dit gee wysheid aan die eenvoudige.

9Die opdragte van die Here is reg, dit maak die hart bly; die gebod van die Here is suiwer, dit verhelder die oë.

10Ontsag vir die Here is reinigend, dit hou vir altyd stand; die beslissings van die Here is waar, heeltemal regverdig.

Die wet van die Here mag na die profete sowel as na die tora verwys. Dit mag ook na die optrede van die Here in Israel verwys. Die onderrig wys vir ons hoe ontsag vir die Here lyk. Ons kry hier ses beskrywings van die onderrig van die Here: volmaak … betroubaar …reg … suiwer … reinigend … waar. Dit is die gevolge van God se onderrig.

 

Maar die psalmis gaan verder.

  • Die Here se opdragte gee nuwe lewenskrag – soos kos vir die honger persoon. Hoe gebeur dit? Dit moedig ‘n lewe van gehoorsaamheid aan. Gehoorsaamheid herstel die lewe en die gevolg is ‘n persoon van integriteit. Dit gee ook wysheid aan die  eenvoudige.
  • Dit maak die hart van die Here bly. Daar is blydskap as ons weet wat God se wil is, want dan kan ons dit doen en God se seën verwag. Dit verhelder die oë. Dit is ‘n teken van bemoediging.
  • Ontsag vir die Here is reinigend en hou vir altyd stand – soos die beloftes van die Here.
  • Die beslissings van die Here is waar, heeltemal regverdig. Die Here maak ferm en definitiewe besluite oor hoe die mens se optrede moet wees en wat die gevolge  sal wees as daarvan afgewyk word.

 

In die Ou Testament is daar nie ‘n woord vir godsdiens nie. Die psalmis se definisie van ware godsdiens is: om voor God te lewe in gehoorsaamheid en met eerbied en nederigheid.

 

11Dit is begeerliker as goud, begeerliker as ‘n oormaat fyngoud; dit is soeter as ‘n heuningkoek wat oorloop.

Nie net goud nie, maar fyngoud; nie net ‘n heuningkoek nie, maar  een wat oorloop. Die Here se opdragte en besluite is so begeerlik soos fyngoud en ‘n heuningkoek wat oorloop. Adam en Eva het gereageer op wat hulle oë as begeerlik gesien het en hulle oë gaan op ‘n slegte manier oop.

 

12Ook die een wat U dien, neem dit ter harte; wanneer ‘n mens daarby hou, is die beloning groot.

Hier lees ons van die psalmis se toewyding in reaksie op God se wet. Deur die waarskuwings ter harte te neem, word mense beskerm teen die donkerte van Goddelike teregwysing in gevalle van sonde.

 

 




Perfeksionisme kan jou bediening skade aandoen

 

There is a power in the direct glance of a sincere and loving human soul, which will do more to dissipate prejudice and kindle charity than the most elaborate arguments – George Elliot

 

Perfeksionisme kan jou bediening skade aandoen

Hoe is dit moontlik? Hier is ‘n paar redes waarom die strewe na volmaaktheid jou bediening skade kan aandoen.

  • Jy sal nooit self volmaak wees nie. Ons weet dit, maar leef asof dit nie die waarheid is nie.
  • Die mense in jou span sal nooit volmaak wees nie. Jesus se dissipels was nie volmaak nie. Hulle het gestry; hulle het misluk. As jy ‘n perfeksionis is, sal lidmate jou altyd teleurstel.
  • Jy spandeer baie tyd om ander se werk reg te maak. Al vra jy ander om te help, stap die perfeksionis agter hulle aan om seker te maak hulle doen dinge soos hy dit wil hê.
  • Jy gebruik nie jou gawes ten volle nie. Dit is moeilik om jou gawes ten volle te gebruik as jy gedurig agter ander aanloop en doen wat ander veronderstel is om te doen nie.
  • Jy lei nie ‘n 1 Korintiërs 12 gemeente nie. Daar lees ons dat die gemeente bestaan uit gelowiges met verskillende gawes – almal met ‘n plek in die gemeente. As almal soos jy moet wees en aan jou standaarde moet voldoen, sal jy nie hierdie wonderlike diversiteit kry nie.
  • Jy laat nie ander toe om in die geloof te groei nie. Perfeksioniste het nie baie geduld met mense wat tyd vereis om te leer hoe om God te volg, hoe om Hom te dien nie.
  • Jy het ‘n neiging om jou fokus op genade te verloor. Genade veronderstel mislukking. Daarvan hou perfeksioniste niks nie.
  • Jy slaap sleg. Mense wat nie na volmaaktheid streef nie verhoed dat perfeksioniste hulle doelwitte bereik – dit frustreer hulle.
  • Perfeksionisme is afgodery. Ek verwag van myself om alles volmaak reg te doen. Daarmee plaas ek my in God se posisie. Dit is sonde

 

Perfection is spelt P-A-R-A-L-Y-S-I-S (Winston Churchill)




Gee my wysheid (6)

 

When ministers become social workers, preachers become motivational speakers, and evangelism becomes marketing, the result is a gimcrack gospel that is tawdy, tacky and cheap – Leonard Sweet

 

Gee my wysheid (6)

Matthew Henry (1622 – 1714) het ‘n kommentaar oor die hele Bybel geskryf. Uit hierdie massiewe werk het ‘n boek (Grant Me Wisdom) verskyn wat Henry se werk maklik toeganklik vir die moderne leser maak. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie werk wy.

 

As jy kan glo

“ As U iets kan doen”, sê jy,” antwoord Jesus. “Vir die een wat glo, kan alles.” (Markus 9:23)

in die vorige vers vertel die vader vir Jesus van sy seun wat stom was. Daar was ‘n bose gees in die seun wat hom in die vuur en in water gegooi het. Hy smeek by Jesus: As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons. Jesus se antwoord op hierdie versoek, verwys na die  swakheid van die vader se geloof. Jesus laat die man sy eie geloof bevraagteken. Enige teleurstelling moet aan die vader se gebrek aan geloof toegeskryf word. Maar Jesus moedig hom aan: Vir die een wat glo, is alles moontlik.

 

In ons verhouding met Christus word baie klem op ons geloof geplaas. Daar is ook talryke beloftes vir diegene wat wat glo. Kan jy glo? Kan jy dit waag om te glo? As jy kan glo, is dit moontlik dat jou harde hart versag word en jou geestelike siekte genees word. Swak soos jy is, kan jy dan tot die einde volhard.

 

Die vader roep uit: Ek glo … Help my in my ongeloof. My seun se genesing sal nie die gevolg van my ongeloof wees nie. Hy voeg ‘n gebed vir genade by wat hom in staat sal stel om meer op Christus te vertrou om te verlos. Diegene wat kla van ongeloof moet opkyk na Jesus Christus vir genade om hulle te help om te glo. Sy genade sal voldoende vir hulle wees.

 

Vra Jesus Christus om jou met jou gebrek aan geloof te help, want sy krag word in ons swakheid volmaak.