Ek is gespanne

 

Many blessings I have sent your way: Have you availed yourself of them? – Rabbi’s in antieke tye het geglo dat dit die eerste vraag sal wees wat God sal vra by die oordeelsdag.

 

Ek is gespanne

Jy voel gespanne. Jy is beslis nie alleen nie. Belangrik is nie om dit te laat smeul nie, maar om dit te hanteer. Baie gemeentes groei nie, want daar is konflik; spanne groei nie, want daar is te veel spanning.

 

Wat moet jy doen? Besef dat jy nie alleen is nie. In die VSA sal 70% van mense wat vandag werk toe gaan vir jou vertel dat hulle nie van hulle werk hou nie. Hulle word gefrustreer by die werk. Een van die grootste frustrasies in die werkplek is …  die mense saam met wie jy werk. Konflik gebeur waar mense bymekaar kom – families, die werk, die gemeeskap en die gemeente. Christene sukkel met hierdie konflik. Hoekom?

  • In die naam van genade offer ons dikwels die waarheid op.
  • As ons die waarheid praat weet ons nie hoe om dit met genade te doen nie.
  • Ons is bang ons maak ander mense se gevoelens seer. Eerlike terugvoer is uiters belangrik.
  • Ons weet nie hoe om iemand met wie ons werklik verskil, te ondersteun nie.

 

Wat kan ons doen om die konflik op te los?

  1. Erken jou aandeel in die probleem

Konflik is baie selde die fout van een persoon. Om te dink jy het geen aandeel in die probleem nie, is dikwels die probleem. ‘n Goeie vraag om te vra, is: Hoe voel dit om aan die ander kant van my te wees? Vra hierdie vraag ook aan ander mense.

 

  1. Gaan direk

Ons praat dikwels oor iemand in plaas daarvan dat ons met hoim praat. As jou medewerker nie die probleem is nie, waarom praat jy met hom daaroor? Praat direk met die persoon met wie jy ‘n probleem het.

 

  1. Glo die beste van ander

Gee aan mense die voordeel van die twyfel; moenie altyd slegte motiewe aan hulle toeskryf nie. Julle besef dalk nie hoe hulle oorkom nie. Glo die beste van ander. Dan kan jy die saak direk hanteer sonder om die verhouding te verbreek. Glo jy die beste van ander, kry jy die beste uit ander.

 

  1. Verduidelik – moenie beskuldig nie

Hoe praat jy met iemand met wie jy probleme het. Vir baie mense is dit ‘n groot probleem. Sodra jy begin beskuldig gaan die gesprek nie vorentoe nie. As jy ander beskuldig is die enigste persoon wat nie gaan groei nie … jyself.

 

  1. Wees spesifiek

Oppas vir algemene beskuldigings. Gee spesifieke voorbeelde. Hoe meer spesifiek jy is, hoe meer ontlont jy die konflik.

 

  1. Vertel vir hulle dat jy dinge wil verbeter

Hulle voel verneder of selfs skaam. Vertel vir hulle watter gawes hulle bring en die goed wat hulle doen. Sê vir hulle dat jy na die toekoms, wanneer alles weer reg sal wees, uitsien.

 

  1. Bid vir hulle

Moenie oor hulle bid nie – bid vir hulle. Dit is feitlik onmoontlik om kwaad te bly as iemand vir jou bid. Dit gee jou ook deernis vir hulle. Dit plaas julle beide aan die voet van die kruis met ‘n behoefte aan vergifnis. Dit neem enige gevoel van meerderwaardigheid weg wat help om probleme op te los.

 

Lei hierdie sewe stappe altyd na ‘n positiewe uitkoms? Nee, maar in die meerderheid van gevalle is dit ‘n gesonde manier om probleme op te los.

 




Psalm 19 (1)

 

God is the silence of the universe and man is the cry that gives meaning to that silence – Jose Saramago wat die posisie van die ateïs beskryf.

 

Psalm 19 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema: Die vurige heelal en die wet wat bemoedig

In hierdie psalm kry ons ‘n tema waarmee die psalmboek begin (gee aandag an die onderrig van die Here – Psalm 1) en amper eindig (die heelal se erkenning van die Here – Psalm 149). Ons kry hierdie twee temas selde saam in dieselfde psalm. Psalm 19 stel hulle teenoor mekaar, maar sê nie wat die verband tussen die twee temas is nie.

 

Verse 2 – 7 en 8 – 15 vorm die twee dele van die psalm. Vers 2 – 7 vestig die aandag op lof aan God en gee die redes daarvoor. Verse 8 – 13 bevat lof vir God se onderrig en ‘n pleidooi. In verse 2 – 7 praat die heelal; in verse 8 – 12 praat die Here; in verse 13 – 15 praat die psalmis.

 

19:1: Opskrif

Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid

 

19:2 – 7: Die natuur openbaar die majesteit van God

Die psalm begin met die manier waarop die heelal God se heerlikheid verkondig.

 

2Die hemelruim verkondig die eer van God en die hemelkoepel maak die werk van sy hande bekend.

Die hemelruim en hemelkoepel verwys na die fisiese hemel en nie na die plek waar God woon nie. Hulle maak die werk van sy hande bekend – hulle eer God, want hulle is sy handewerk. Die heerlikheid van die son, maan, sterre en planete impliseer die heerlikhied van Hom wat hulle gemaak het. Lof aan God is nie net die werk van die mens nie, maar van die hele skepping.

 

3Dag na dag bring dit ‘n boodskap voort en nag na nag deel dit kennis mee.

Die dit in hierdie vers verwys na die hemel. Die verkondiging van God se eer en die bekendmaking van die werk van sy hande gaan dag en nag voort. Die son in al sy heerlikheid praat van sy Skepper en dié se heerlikheid.

 

4Alhoewel daar geen spraak en geen woorde is nie en hulle stem nie hoorbaar is nie,

Hierdie vers beklemtoon die welsprekenheid van die getuienis van die  hemel. Die getuienis word nie altyd gehoor nie. Die hemel is egter altyd oop om gehoor te word.

 

5 Gaan hulle boodskap uit oor die hele aarde en hulle woorde tot aan die einde van die wêreld, tot waar Hy vir die son ‘n tent opgeslaan het.

Hoe ver gaan hierdie verkondiging van die heerlikheid van die Here? Die hele aarde – tot aan die einde van die wêreld. Die son verwys nie na die songod nie. Die son is bloot ‘n entiteit waarvoor God akkommodasie oornag verskaf.

 

 6Die son is soos ‘n bruidegom wat by sy slaapkamer uitgaan, vol vreugde soos ‘n held wat op die pad hardloop.

Elke môre kom die son uit sy tent – soos ‘n bruidegom wat uit sy slaapkamer met ‘n glimlag kom.

 

7Aan die een kant van die hemel gaan hy op en aan die ander kant gaan hy onder, en niks kan aan sy hitte ontkom nie.

Die son is soos ‘n krygsman – entoesiasties hardloop hy op die pad voor hom. Niemand kan die felheid van hierdie krygsman ontsnap nie.

 




Gee my wysheid (5)

 

Have faith and the way will open – ou Kwaker gesegde

 

Gee my wysheid (5)

Matthew Henry (1622 – 1714) het ‘n kommentaar oor die hele Bybel geskryf. Uit hierdie massiewe werk het ‘n boek (Grant Me Wisdom) verskyn wat Henry se werk maklik toeganklik vir die moderne leser maak. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie werk wy.

 

Die outeur van ons geloof

 Terwyl ons dan nou so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins (Hebreërs 12:1 – 2).

Christene het ‘n wedloop om te hardloop. Hierdie wedloop lê voor hulle. Dit is uitgemerk deur die woord van God en deur die voorbeeld van ‘n skare geloofsgetuies. Hierdie wedloop moet met geduld en volharding gehardloop word. Geloof en genade is die gawes wat oorwin. Daarom moet hulle altyd vertroetel word.

 

Christene het ‘n groter voorbeeld om hulle te bemoedig as enigiets wat vantevore genoem is. Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof, is die groot leier en voorbeeld vir ons geloof. Hy is die Voleinder van genade en die werk van geloof in die siele van sy mense. Hy is die Beoordeelaar en Beloner van hulle geloof.

 

Ons moet na Jesus kyk; ons moet Hom voortdurend voor ons as ons voorbeeld hou. Ons moet oor Hom nadink Ons sal gou agterkom dat sy lyding ons lyding verreweg oortref, maar ook dat sy geduld ons geduld verreweg oortref.

 

Daar is ‘n neiging in die beste van ons om moeg te word as gevolg van ons beproewings. Ons kan dit verhoed deur na Jesus te kyk. Geloof en nadenke bring vir ons ‘n vars voorraad van krag en moed.

 

 




Gee my wysheid (4)

 

At the foot of the cross, where grace and suffering meet you have shown me your love through the judgment you received – David Gate

 

Gee my wysheid (4)

Matthew Henry (1622 – 1714) het ‘n kommentaar oor die hele Bybel geskryf. Uit hierdie massiewe werk het ‘n boek (Grant Me Wisdom) verskyn wat Henry se werk maklik toeganklik vir die moderne leser maak. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie werk wy.

 

Leef in die geloof

En nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê (Galasiërs 2:20)

Paulus besef dat vryspraak nie deur die doen van goeie werke – werke van die wet – verwag kan word nie. Hy besef daar was geen verdere nodigheid vir offers in die tempel nie, want  Christus het gekom en sy lewe vir sondaars geoffer. Hy het Homself as offer gegee. Paulus was dood vir die wet. Beteken dit nou dat hy sonder die wet is? Hy was dood vir die wet sodat hy vir God kan leef.

 

Die evangelie maak nie die band van plig swakker nie – dit versterk en bevestig dit. Alhoewel Paulus vir die wet dood was, was dit net om ‘n nuwe en beter lewe met God te leef. Soos hy dood vir die wet was, was hy lewend deur Jesus Christus. Hy is gekruisig, maar tog leef hy; die ou mens is gekruisig, maar die nuwe mens lewe; die sonde is dood en genade lewe. Paulus ondervind die wonder van genade, maar hierdie genade kom nie van homself af nie. Hy is met Jesus Christus gekruisig en tog leef Jesus Christus in hom.

 

Hy stel belang in die dood van Christus sodat hy vir die sonde kan sterf. Hy stel belang in die lewe van Christus sodat hy vir Hom kan lewe. Hy leef in die liggaam en tog leef hy in geloof. Van buite gesien leef hy soos ander mense. Tog het hy ‘n edel beginsel waarvoor hy leef: geloof in Jesus Christus. Mense met ware geloof in Christus leef deur daardie geloof.