Maak plek in jou dagboek

 

Of all nature’s gifts to the human race, what is sweeter to a man than his children? -Marcus Tullius Cicero

 

Maak plek in jou dagboek

Volgens Clair Diaz-Ortiz kan jy minder werk as jy beter werk. Jy kan net so produktief wees deur minder te werk. Hoe kry sy dit reg? Sy het ‘n proses wat ses stappe behels, ontwikkel.

  1. Besluit

Ons sal nie kom waar ons wil wees tensy ons weet waar ons wil wees nie. Daarom moet ons besluit wat werklik belangrik in ons lewens is. Dan sal jy meer produktief wees en jou lewe sal meer vervuld wees. As jy dit weet, kan jy jou doelwitte vir die jaar opstel. Doelwitte moet altyd aan Peter Drucker se SMART raamwerk voldoen.

 

  1. Organiseer

Dit beteken jy moet die strategieë om jou doelwitte te bereik, implementeer. Daar is vier kritiese idees van groot belang as jy dit doen.

 

  1. Beperk

Fokus op die dinge wat jy goed kan doen. Onthou die Pareto-beginsel: 20% van jou pogings is verantwoordelik vir 80% van jou resultate. (Die teenoorgestelde is ook waar.) As jy meer produktief wil wees, moet jy baie doelgerig wees as jy ja sê – en ook nee.

 

  1. Redigeer

Produktiwiteit neem af as jy te veel ure werk volgens navorsing. Dit beteken ons moet ons beste werk lewer deur minder te doen, maar meer te fokus. Sonder afleidings kan jy baie in ‘n kort tydjie gedoen kry.

 

  1. Vereenvoudig

Hierdie is ‘n aantal strategieë om die werk wat jy moet doen so doeltreffend as moontlik te doen. Een so ‘n strategie is byvoorbeeld om soortgelyke take in dieselfde tydsgleuf te groepeer. Baie belangrik is om alle vergaderings tot een of twee dae per week te beperk. Hou dae oop waar jy skeppend kan werk.

 

  1. Stop

As jy fisies fiks wil word moet jy oefening en herstelperiodes balanseer. Ons moet dieselfde by die werk doen. As jy wil fokus en goeie werk doen, moet jy soms afskakel. Rus gereeld tydens die dag; hou streng by jou werksure; neem gereeld vakansies. Dan sal jou produktiwiteit vermeerder.

 

Almal van ons wil ‘n lewe vol van die dinge waarvan ons hou – werk, familie, geloof en ontspanning – hê, Dit kan ons net doen as ons keer dat “besigwees” nie ons lewens oorneem nie.

 




Geluk teenoor vreugde

 

Nobody can hurt me without my permission. – Mahatma Gandhi

 

Geluk teenoor vreugde

Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees (Romeine 15:13)

Ten midde van al die swaarkry vergeet Paulus van al die negatiewe dinge en praat van vreugde en hoop. In ons huidige samelewing praat ons eerder van gelukkig wees. Maar vreugde en geluk is nie dieselfde ding nie.

 

As ek goed voel, is ek gelukkig. Om goed te voel, hou verband met goeie dinge in die lewe – inkomste, huis, motorkar, mooi vrou, slim kinders, ens. Tog is daar iets wat pla: die Weste groei ekonomies; mense se inkomste neem toe. Tog wys navorsing dat mense nie gelukkiger is as in die verlede nie. Hoekom nie? Geluk berus op ‘n vergelyking met ander mense. Solank as wat ek meer as my buurman het, is ek gelukkig. As ek van armoede na ‘n gemaklike lewe skuif, is ek gelukkig, maar my geluk vermeerder nie as ek eers die basiese besittings het nie. Hoekom nie? Hoe meer ek het, hoe meer wil ek hê; hoe meer ek wil hê, hoe minder kan ek kry; hoe minder ek kan kry, hoe minder gelukkig is ek.

 

Wat sou die kundiges vandag van Paulus se gelukkigheid sê? Heel onder. Maar dit is nie belangrik nie, want Paulus fokus op vreugde en nie geluk nie – en die verskil is dramaties.  Daar is ‘n paar belangrike punte oor vreugde in Paulus se lewe:

  • Vreugde kan net deur die gelowige wat deel van die geloofsgemeenskap is, ondervind.
  • Vreugde is nie afhanklik van omstandighede nie.

Die betekenis van vreugde, volgens Paulus, vloei direk voort uit die evangelie – die storie van Jesus wat aan die kruis gesterf het, begrawe is en uit die dood opgestaan het. Vreugde en lyding is dus nie onverenigbaar nie. Studies oor geluk beklemtoon dat jy van swaarkry ontslae moet raak. Maar vir die Christen is dit nie so nie. Diegene wat ly, is diegene wat die betekenis van vreugde ken. Paulus het vreugde geken, al sou hy nie aan die wêreld se definisie van gelukkig voldoen het nie.

 

In Filippi word Paulus en Silas voor die owerhede gebring. Hulle word gevonnis, hulle klere word afgeskeur en hulle word geslaan. Toe word hulle in die tronk gegooi met hulle voete in die houtblok vasgeklem. En nou die deel oor vreugde: Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister (Handelinge 16:25). Paulus en Silas doen dit nie as ‘n vorm van protes nie. Nee, hulle is gevul met vreugde, want hulle weet hulle lyding was deelname aan die evangelie.

 

Paulus se teorie oor vreugde is  om die gawe wat God aan jou gegee het, te beoefen – al beteken dit swaarkry, want jy weet dat God steeds aan die werk is. Jy moet hierdie vreugde deel met ander lede van die geloofsgemeenskap.

 

Wat is vreugde? Die innerlike bevrediging wat die gevolg is van ons verstaan van ons plek in die lewe in die lig van wie God is en waarheen God met ons op pad is – sy koninkryk. Vreugde  se oorsprong is mense, nie dinge nie; vreugde se oorsprong is verhoudings, nie omstandighede nie. Net gelowiges kan ondervind wat Paulus ondervind het.

 




Psalm 18 (4)

 

The apostle does not say that Christ was sent to help us obtain righteousness, but to be our righteousness – Johannes Calvyn

 

Psalm 18 (4)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer, want dit is een van die langste psalms in die Bybel.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Ons gaan nou sien hoe die Here verlos het (18:17 – 30)

 

Die psalmis beweeg nou na ‘n ander beeld. Die Here tree steeds van bo af op. Die Here se verlossing sowel as die aanbidder se trou, word beklemtoon.

 

17Uit die hoogte het Hy sy hand uitgesteek, my vasgegryp, my uit die watermassa opgetrek.

Die psalmis gaan voort met die Here se verlossingsoptrede. Die Here is nog in die hemel, maar Hy luister en tree op. Vandaar steek die Here sy hand uit en gryp en trek die psalmis uit die watermassa. In die Bybel is die watermassa ‘n bedreiging. Vir Israel se vyande beteken dit die dood – dink aan die Egiptenare by die Rietsee.

 

18Hy het my weggeruk van my kragtige vyand, weg van my haters, want hulle was sterker as ek.

19Op die dag van my teenspoed het hulle my ingewag, maar die Here was vir my ‘n streunpilaar.

Haters versterk die idee van vyande. Die Here is ‘n steunpilaar – soos ‘n staf waarop jy kan leun en wat jou nie in die steek sal laat nie.

 

20Hy het my uitgelei na ‘n oopte, Hy het my bevry omdat Hy my goedgesind was.

Hier begin die psalmis die rede vir die Here se bevrydingsoptrede verduidelik. ‘n Negatiewe gebeurtenis  word dikwels as een van beperking gesien – ‘n tronk. Nou ondervind die psalmis ‘n oopte – vryheid, spasie. Hoekom doen die Here dit? Omdat Hy my goedgesind was. Hoekom was Hy goedgesind teenoor die psalmis?

 

 21Die Here het aan my goed gedoen omdat ek doen wat reg is; Hy het my vergoed omdat my hande skoon is.

Die Here was goedgesind teenoor die psalmis, want hy het gedoen wat reg is. Hy maak dit nog duideliker: omdat my hande skoon is. Dit impliseer morele reinheid – hy het nie bloed op sy hande nie.

 

22Want ek het  op die Here se paaie gebly en my nie skuldig gemaak voor my God nie.

Hier word weer na die psalmis se gehoorsaamheid verwys. Dit was sy bydrae om verlossing moontlik te maak. Die eerste deel verwys na konkrete gehoorsaamheid; die tweede deel  verwys na die beginsel van trou.

 

23Ja, ek hou al sy wette voor oë en sy vaste voorskrifte wys ek nie af nie.

Ek het op die Here se paaie gebly, word nou verder verduidelik. Sy wette en voorskrifte verwys na sy paaie – dit is paaie wat die Here goedkeur. Om hulle te onderhou, moet ons hulle gedurig voor ons oë hou.

 

24Ek was onberispelik voor Hom, want ek het my weerhou van sonde.

Hoe was hy getrou aan God? Hy was onberispelik voor God en hy het hom van sonde weerhou. Hy was ‘n persoon van integriteit – ten volle toegewyd. Om dit te kan sê, moet hy hom van sonde weerhou.

 

25Die Here het my vergoed omdat ek doen wat reg is, omdat my hande skoon is in sy oë.

Hierdie herhaal vers 21 feitlik woordeliks.

 

26Teenoor getroue volgelinge tree U getrou op; teenoor iemand wat onberispelik is, tree U onberispelik op!

27Teenoor dié wat hulle rein hou, bewys U Uself rein; maar teenoor dié wat vals is, tree u berekenend op!

Hierdie verse maak dieselfde punt, maar op ‘n nuwe manier. Die aanbidder sê dat hy ‘n getroue volgeling is. Hy maak dit nou duidelik. Hy word deur toeyding, integriteit en reinheid gekenmerk. Die psalmis se teenstanders, daarenteen, is vals. Hulle loop nie op God se paaie nie.

 

28Ja,dit is U wat ‘n magtelose volk verlos en trotse oë verneder;

Hier kry ons ‘n verwysing na ‘n volk. Die res van die psalm verwys na ‘n persoon, waarskynlik die koning. Die koning veg vir sy mense en daarom was sy verlossing hulle s’n. Sy magteloosheid was ook hulle magteloosheid. Hulle verlossing  en magteloosheid staan teenoor die vernedering van trotse oë – arrogansie.

 

29dit is U wat my lig laat skyn, Here. My God verlig my donkerte.

Die Here bring lig waar daar duisternis was.  Die uitwissing van ‘n persoon se lig is ‘n beeld van die dood. God hou hulle dus aan die lewe; Hy bring hulle terug van doodsgevaar.

 

30Met U hardloop ek oor ‘n verdedigingswal, met my God spring ek oor ‘n stadsmuur.

Hoe het die Here die koning se lewe gered? Deur die leier se positiewe en aggeressiewe optrede  teenoor sy vyande.

 

In die volgende blog gaan ons kyk na die omgekeerde situasie.

 

 




Sela. Wat beteken dit?

 

Do what the Lord bids you, where he bids you, as he bids you, as long as he bids you, and do it at once. —C.H. Spurgeon

 

Sela. Wat beteken dit?

Die Hebreeuse woord vir sela kom 71 keer in die psalms voor. Dit word ook drie maal in die psalm van Habakkuk gebruik. Dit herinner ons daaraan dat die psalms poësie is dikwels begelei deur musiekinstrumente.

 

Die psalms is kosbaar vir gelowiges. Dit leer ons hoe om te bid, hoe om ons emosies te hanteer, hoe om onsself teenoor God uit te druk. Maar wat beteken die woordjie sela?

  • ‘n Pouse of musikale tussenspel of selfs harder.
  • Dit beteken vir altyd … Die implikasie is dat die koor op hierdie stadium in die psalm gesing moet word.
  • Punte waar die gemeente neergebuk of neergekniel het of selfs uitgestrek op die grond gelê het.

 

Ons is nie heeltemal seker oor wat die korrekte antwoord is nie, maar die algemene mening is dat dit na ‘n musikale pouse verwys. Dit herinner ons daaraan dat baie psalms oorspronklik gesing is – met musikale begeleiding.