Hoekom is evangelisasie so moeilik?

 

The main problem our heart has is not so much desires for bad things, but our over-desires for good things – Timothy Keller

 

Hoekom is evangelisasie so moeilik?

Die evangelie versprei van persoon tot persoon, van familie tot familie, van gemeenskap na gemeenskap. Luister na hierdie verse uit Handelinge:

  • Maar die woord van God het verder versprei en veld gewen (12:24).
  • Die woord van die Hete het dwarsdeur die hele streek versprei (13:49).
  • So het die woord van die Here sy krag getoon en al hoe verder versprei (19:20).

As die woord van God die krag het om te versprei deur die werk van die Heilige Gees, hoekom is evangelisasie dan so moeilik? Daar is ‘n paar hindernisse waarna ons moet kyk.

 

  1. Gebrek aan kennis van die evangelie

Hoe dikwels het jy nie as Christen al die evangelie gehoor nie – preke, boeke, ens? Dikwels. Tog sukkel baie van ons om die waarhede van die evangelie te artikuleer op ‘n eenvoudige, samehangende en verstaabare manier.

 

  1. Apatie

Baie van ons gee net nie om dat mense verlore gaan nie – ons lewe en prioriteite maak dit duidelik. Daar is geen tyd in ons besige skedules  om betrokke te raak by mense wat Christus nog nie ken nie. Ons bid nie meer vir sulke mense in ons gemeenskap nie. Ons het nie meer vriende wat nie Christene is nie. Wanneer laas het jy iemand wat Christus nie ken nie vir ete genooi?

 

  1. Vrees

Wat sal ander van my dink? Sommige mense word verlam deur  die blote gedagte dat ander vir hulle sal lag of vir hulle sal spot. Dalk oordeel hulle my soos hulle sommige fanatieke gelowiges oordeel.

 

  1. ‘n Gebrek aan deernis

Ons het nie deernis vir die ongelowiges nie. Ons het al vergeet wat dit beteken om sonder hoop en los van Christus te lewe. Luister na Paulus: Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kan wees (Romeine 9:3).

 

Ons kan hierdie hindernisse nie alleen oorwin nie, maar saam as geloofsgemeenskap kan ons dit doen. Hoe kan ons dit doen?

  • Bid saam vir die ongelowiges.
  • Dink saam na oor die evangelie.
  • Pas saam die evangelie toe.
  • Bewys saam die krag van die evangelie.

 

 




Jeremia en lyding

 

The right manner of growth is to grow less in one’s own eyes. —Thomas Watson

 

Jeremia en lyding

As ons die storie van Jeremia lees, sien ons dat hy huil met diegene wat huil, dat hy die rol van sonde in lyding besef en dat hy op God se absolute soewereiniteit vertrou – hy weet wie die ware vyand is. Daar is nog ‘n belangrike les om te leer: Jeremia treur nie soos een wat geen hoop het nie. Sy hoop is volledig in God se karakter.

 

In Klaagliedere lees ons baie van lyding. Daar was wydverspreide vernietiging en Jeremia ly saam met sy mense. Maar dit is nie onbeheerste hartseer en wanhoop nie. Jeremia het nie beheer verloor nie – hy treur nie soos iemand wat geen hoop het nie. Wat is die basis van sy hoop?

Om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe. Daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mense wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here … Die Here verstoot ‘n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor die mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot: dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring  (3:21 – 33)

Die Here se verbondsmense het swaar gely, maar die Here sal Israel nie vernietig nie. Jeremia se hoop lê in die deernis, liefde en verbond van die Here.

 

Wat dien as anker van Jeremia se hoop is God se karakter – sy ontferming en dat ellende en beproewing teen sy sin is. Hierdie is nie ‘n blinde en vae vertroue in God se karakter nie, want hy klou vas aan God se beloftes. Die volk se ontrou sal nooit God se trou uitwis nie. God sal nooit sy verbond verbreek nie. Hy is steeds getrou aan sy beloftes.

En omdat God aan die erfgename van die belofte bo alle twyfel wou verseker dat sy besluit onveranderlik is, het Hy dit met ‘n eed gewaarborg. Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, ‘n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is. Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is (Hebreërs 6:17 – 19).

 

Ons hoop, veral in lyding, is ook die Here se genade en eindelose liefde.

 




Psalm 18 (2)

The church must share in the secular problems of ordinary human life, not dominating but helping and serving – Dietrich Bonhoeffer

 

Psalm 18 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer, want dit is een van die langste psalms in die Bybel.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

In die vorige blog het ons na die inleiding en opskrif van die psalm gekyk. Ons gaan nou kyk na die doodsgevaar wat die psalmis bedreig.

 

18:2 – 3:

2Hy het gesê: Ek het U innig lief, Here, my sterkte.

3Die Here is my rotsvesting, my bergskuiling, my bevryder. My God is my rots by wie ek skuil, my skild en die krag van my redding, my toevlugsoord.

Die psalm begin met toewyding wat oorgaan in nege beskrywings van die Here. Net iemand wat in ‘n persoonlike verhouding met God staan, kan so iets sê. Vir die heidene was dit verrassend dat iemand sy God kan liefhê. Maar Dawid het God lief omdat God hom eerste liefgehad het. So ‘n mens het ondervinding van God se troue sorg en ken die Here as sy bron van sekuriteit. Elke beskrywing het dieselfde implikasie. Almal behalwe die eerste een is konkreet. My sterkte impliseer gewoonlik die vermoë om te verdedig, te red of te verslaan. Die konkrete beelde – rotsvesting, bergskuiling, rots, skild, toevlugsoord – is kenmerkend van die psalms. Hulle is afgeleë plekke en moeilik bereikbaar. Hulle is plekke van redding wat die psalmis in staat stel om te ontsnap. Aan die een kant was daar natuurlike skuilings wat Dawid in staat gestel het om te ontsnap; aan die ander kant kan net die Here dit doen. Die krygsman weet ook hoe belangrik ‘n skild is as hy wil oorleef.

 

18:4 – 7:

In hierdie gedeelte lees ons van die lewensbedreigende omstandighede wat die psalmis bedreig het, sy pleidooi en die manier waarop die Here gereageer het.

 

Die een wat geloof moet word – roep ek uit – is die Here. En van my vyande word ek verlos.

Hierdie is ‘n algemene stelling – waarskynlik die begin van die psalmis se getuienis oor die verlede.

 

5Bande van die dood het my omspan, strome van vernietiging het my verstrik,

6Bande van die doderyk het my omstrengel, vangstrikke van die dood het my ingewag.

 Die doderyk is voorgestel as ‘n plek onder die aarde waarheen mense wat sterf, afdwaal – niemand kom weer daar uit nie. Dit word soms die put of die onderwêreld genoem. Hier word die probleme van die psalmis waaruit hy gered is, genoem – diep probleme. Hy was vier maal verlore. Hy was in lewensgevaar en dit lyk asof daar geen moontlikheid van ontsnapping is nie. Strome van vernietiging wys vir ons dat die dood nie net ‘n toekomstige bedreiging is nie – die strome oorweldig reeds; die slagoffer is besig om te verdrink; hy kry nie meer asem nie.

 

7In my benoudheid het ek na die Here bly roep; na my God het ek om hulp geskree. In sy paleis het Hy my stem gehoor; my hulpgeroep voor Hom het sy ore bereik.

Benoudheid is dit beslis. Die psalmis bly roep. Hy herinner  die mense dat dit my God is. Hoe reageer die Here? Hy hoor die psalmis se stem – sy hulpgeroep.

 

In die volgende blog gaan ons kyk hoe die Here reageer op die doodsgevaar wat die psalmis bedreig.

 

 




Hoe Christene praat

 

The best way of manifesting our affection to our friends is by praying and giving thanks for them. —Matthew Henry

 

Hoe Christene praat

Michael Kruger het ‘n artikel geskryf oor die taal wat Christene gebruik. Een voorbeeld is: Die Christen se lewe is om  deursigtig en kwesbaar te wees. Egtheid is nou die nommer een deug van Christene. (Vroeër was dit waarskynlik gehoorsaamheid.) Ons moet hierdie frase ontleed deur drie vrae te vra:

  • Hoekom gebruik mense hierdie frase?
  • Wat is reg en behulpsaal in hierdie frase?
  • Wat is problematies met hierdie frase?

Hierdie frase word dikwels misverstaan en kan dus misbruik word.

 

Hoekom gebruik mense hierdie frase: Die Christen se lewe is om  deursigtig en kwesbaar te wees?

Mense gebruik hierdie frase waarskynlik weens die gebrek  aan deursigtigheid in vroeër geslagte. Christene is moeg van Sondae kerk toe gaan, sit ‘n vroom gesig op en gee voor dat alles reg is. Intussen is hulle lewe besig om ineen te stort. Die klem op egtheid is ‘n reaksie op Christelike valsheid. In hierdie opsig is dit ‘n goeie ding.

 

Die klem op egtheid het ook ‘n teologiese rasionaal. As mense nou werklik sondaars deur en deur is waarom voorgee dat dit nie waar is nie? Hoekom nie net jou sonde erken nie? As Jesus die oplossing vir ons sondes is, beklemtoon ons nie sy genade en vergifnis as ons eerlik oor ons sonde is nie? Vir hierdie mense beteken om kwesbaar te wees God se genade – ons vertrou op Hom en nie op onsself nie.

 

Wat is reg en behulpsaam in hierdie frase?

Daar is baie in hierdie frase om aan te beveel. Christus haat valsheid. Om voor te gee dat Christene uiterlik reg is, maar innerlik verberg ons ons sonde, is wat die Fariseërs gedoen het. Jesus het gesê dat hulle witgeverfde grafte wat van buite mooi lyk maar  daarbinne vol doodsbeendere en allerhande onsuiwerheid is (Matteus 23:27 – 28). Die Bybel sê dat ons ons sondes eerlik moet bely. As ons ons sonde bely moet ons na Jesus Christus kyk vir genade en vergifnis. So verstaan, is deursigtigheid en kwesbaarheid positief.

 

Wat is problematies met hierdie frase?

Ongelukkig word hierdie frase soms verkeerd gebruik. Om kwesbaar te wees, kan as plaasvervanger vir belydenis en bekering gebruik word. As eerlikheid en oopheid die einddoel word, kan mense die indruk kry dat om hulle sonde met ander te deel al is wat nodig is. Daar is geen kultuur van berou nie. Dit mag lei tot ‘n meer intieme verhouding met medegelowiges, maar nie noodwendig met God nie. Ons prioritiseer die horisontale oor die vertikale.

 

Die strewe na kwesbaarheid kan kommunikeer dat daar geen werklike krag in die Christen se lewe is om sonde te beveg nie. Ons minimaliseer hiermee  die kagtige werking van die Heilige Gees in elke gelowige. Die doel is nie hernude gehoorsaamheid nie, maar eerder ‘n erkenning van mislukking. Die ware Christene is nou daardie persone wat massiewe mislukkings erken. Diegene wat vorder op die weg van heiligmaking word nou met suspisie bejeën – hulle is wettisiste.

 

Die frase – die Christelike lewe gaan oor deursigtigheid en kwesbaarheid –kan beide positief en negatief wees. As dit reg verstaan word, is dit wonderlik – dit verafsku valsheid en moedig eerlikheid oor ons sonde aan. Gebruik ons dit verkeerd, is daar die gevaar dat ons ‘n Christelike kultuur skep wat meer oor egtheid as oor berou en belydenis gaan. Dit gaan meer oor om dinge te erken as om dinge te verander. As dit verkeerd gebruik word, gaan die frase meer oor onsself as oor Christus.