Dit is nie regverdig nie

 

The Jesus admired by liberals and skeptics would never have been convicted of blasphemy and crucified. —Michael Horton

 

Dit is nie regverdig nie

Hoe dikwels hoor ons nie dit nie. Bill Tenny-Brittian sê dat dit nie woorde is wat ons van volwasse Christene verwag nie, maar tog gebeur dit. Ons het nie vir mnr X op die kerkraad aangestel nie – maar dit is nie regverdig nie. So kan ons voortgaan.

 

Vir meeste mense word dit baie vroeg in hulle lewe duidelik dat die lewe nie regverdig is nie. Dat die lewe regverdig is, is ‘n seepbel wat sal bars.

  • God het Israel as sy volk gekies. Dit beteken die ander nasies was nie gekies nie.
  • Jesus het nie almal elke keer genees nie. Sommige is gelaat in hulle wanhoop.
  • Jesus het nie armoede uitgeroei nie. Hy sê inderwaarheid vir sy dissipels dat die armes altyd met hulle sal wees.
  • Jesus en die vroeë kerk het eksklusiewe aansprake oor geloof, verlossing en selfs lidmaatskap van sy familie gemaak.

 

Kyk na die gelykenis van die goue muntstukke (Lukas 19). Daar lees ons: Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.  En daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek hulle koning moet wees nie, bring hulle en maak hulle hier voor my dood. (Lukas 19:26 – 27).

Vers 26 was waarskynlik ‘n bekende gesegde.  Ons lees selfs dat dit reg is om van hulle wat niks het nie, weg te neem. Ons hoor stemme wat uitroep dat die sisteem nie regverdig is nie en dat die gevolge van swak keuses versag moet word.. Maar dit is nie wat ons hier lees nie. Vers 26 is moeilik om te aanvaar as dit gaan oor regverdigheid. Vers 27 is nog erger.

 

Gesien in sy konteks praat hierdie gelykenis en sy toepassing oor verwagtings en aanspreeklikheid. Ons kan nog ‘n woord byvoeg: persoonlike. Die kerk het groot probleme met hierdie siening, maar dit is wat die Bybel sê:

Hoë verwagtings

Betekenisvolle aanspreeklikheid.

Persoonlike verantwoordelikheid.

 

Om kerkleiers en lidmate aanspreeklik vir hulle woorde en dade te hou is krities in ons huidige kiultuur wat die kerk as ‘n swak instelling sien – vol binnegevegte en valsheid. Totdat die roeping van die kerk belangriker word as lidmate se begeertes en voorkeure, sal die kerk sukkel onder die waan dat die lewe en die koninkryk van God “regverdig” is.

 

 

 




Die invloed van die Fariseërs in die kerk

 

No matter when or where preached, the Word of God is infinitely more powerful than the preacher – Albert Mohler

 

Die invloed van die Fariseërs in die kerk

Die Fariseërs het dit goed bedoel, maar met elke tree het hulle teen Jesus gestry. Daar was Fariseërs, soos Nikodemus, wat Jesus regtig probeer verstaan het, maar Jesus het hulle steeds in die openbaar oor hulle praktyke en blinde kolle beskuldig. Hy waarsku ons teen die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs, want:

  • Hulle gedrag is ‘n beroepsrisiko vir elke Christen.
  • Soos suurdeeg word net ‘n klein hoeveelheid benodig om ‘n hele klomp deeg te deursuur.

 

Daar is ‘n paar gebiede waar ons baie versigtig moet wees vir die invloed van die Fariseërs:

 

  1. Die Fariseërs het hulle afgeskei van onfatsoenlike mense; Jesus het hierdie mense opgesoek

Vir die Fariseërs was reinheid dit wat hulle van alle onrein dinge – kos en mense – afgeskei het. As die vrou in Lukas 7 Jesus se voete salf, sê Simon dat Hy nie ‘n profeet is nie. As hy ‘n profeet was, sou Hy nie toegelaat het dat so ‘n vrou aan Hom raak nie. Jesus is anders. Hy het nie gekom vir die regverdiges nie, maar vir die sondaars.

 

  1. Die Fariseërs oordeel mense volgens hulle geselskap; Jesus oordeel mense volgens die individue wat hulle ignoreer

Kyk net na die reputasie wat Jesus gekry het omdat Hy ‘n vriend van sondaars en tollenaars was – ‘n dronkaard. Sondaars was nie gereken nie. Daarom het Jesus sy reputasie skade aangedoen deur vriende met hulle te wees. Jesus oordeel mense op grond van wie hulle ignoreer – die armes, die weduwees, die wese, die man wat langs die pad lê en bloei … Dit is die mense wat jou nie vir jou liefde kan terugbetaal nie. In Christus se ekonomie is om spaarsamig lief te hê gevaarliker as om oorvloedig lief te hê. Kyk ons nie ook met afkeur na mense om ons nie? Dit is nie wat Jesus van ons verwag nie.

 

  1. Die Fariseërs stel die wet bo mense; Jesus som die wet op deur liefde

Kyk net hoe ontsteld word die Fariseërs toe Jesus iemand op die sabbatdag genees het. Vir hulle is reëls belangriker as mense. Hoe som Jesus die wet op? Liefde. Liefde vir God en liefde vir jou naaste. Wie is my naaste? Die persoon wat God oor my pad stuur.

 

  1. As die Fariseërs ‘n sondaar sien, sien hulle ‘n maatskaplike saak; as Jesus ‘n sondaar sien, sien Hy ‘n waardevolle mens

Godsdienstige mense sien baie gou die probleme raak, maar vergeet van die mens agter die sonde. Die Fariseërs sien prostitute – nie vrouens nie. Hulle sien ‘n sosiale siekte wat Jerusalem vernietig. Jesus het nooit die prostituut  probleem opgelos nie, want Hy was te besig om die lewens van hierdie vrouens aan te raak. Dit is hoe jy die probleem oplos.

 

  1. Die Fariseërs soek lewe in die Skrif; Jesus verwag dat die Skrif ons na Hom toe sal lei.

Jesus het die Fariseërs daarvan beskuldig dat hulle die Skrif ondersoek omdat hulle glo dat hulle die ewige lewe in die Skrif sal kry. Maar die Skrif getuig juis van Jesus en as hulle na Hom toe kom, sal hulle die ewige lewe hê.

 

  1. Die Fariseërs doen weldade en bid in die openbaar om die aandag op hulle te vestig; Jesus bid op afgesonderde plekke en vra die ontvangers van sy wonderwerke om niemand daarvan te vertel nie.

Vir die Fariseërs was hulle godsdienstige praktyk ‘n vertoning. Jesus genees mense en sê vir hulle om niemand daarvan te vertel nie. Jesus weier om Homself deur wonderwerke te bevorder. Dit is duidelik daar is krag in stil, private aanbidding en diens.

 

  1. Die Fariseërs verwag uniformiteit; Jesus was inklusief

Die Fariseërs het verwag dat almal op dieselfde manier sou optree – glo dieselfde; het dieselfde oortuigings. Dit maak dit maklik om te besluit wie in en wie uit is. Jesus het tollenaars en selote in sy groep ingesluit. Hy verwag dus nie uniformiteit van sy mense nie. Sy volgelinge sluit mense van alle agtergronde in.

 

  1. Die Fariseërs etiketteer mense volgens hulle gedrag; Jesus doen dit op grond van hulle potensiaal.

Jesus het nooit etikette om mense gehang nie. Hy verander Sefas in Petrus, nie as gevolg van Petrus se soliede gedrag nie, maar omdat Hy in hom standvastige potensiaal raaksien. Meeste mense weet wat hulle swakpunte is. Wat hulle nodig het, is mense wat hulle potensiaal kan raaksien.

 

  1. Fariseërs het gedrag wat hulle nie kon verstaan aan Satan toegeskryf; Jesus sê dat wysheid deur optrede bewys word

Die Fariseërs kon nie verstaan waarom Johannes die Doper so afgesonder geleef het nie. Hulle kon nie verstaan hoe Jesus mense genees het nie. Daarom besluit hulle die oorsaak moet Satan wees. As jy voel jy moet onmiddellik oordeel, gaan jy foute maak. Jesus sê dat die resultate die wysheid openbaar. Soms moet ons wag voor ons oordeel – dinge is nie altyd soos ons dink hulle is nie.

 

  1. Die Fariseërs is bereid om dood te maak om hulle kultuur te beskerm; Jesus was bereid om te sterf om sy kultuur te vestig

Die Christelike geloof gaan nie oor wat jy bereid is om te doen om die status quo te handhaaf nie, maar wat jy bereid is om op te offer om God se koninkryk ‘n werklikheid te maak. Jesus se boodskap was dat ons moet bid vir ons vyande en hulle liefhê.

 

Dit is Christus se voorbeeld wat help om  God se plan om die hele wêreld met Homself te versoen, gaan verwesenlik.

 




Psalm 18 (1)

Saul was going to Damascus to take Christ’s people prisoner; he ended up entering Damascus as a prisoner of Christ – Tim Keller

Psalm 18 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer, want dit is een van die langste psalms in die Bybel.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

God tree op en Dawid tree op

Hierdie lang getuienis van hoe  God die psalmis van ‘n aanval verlos en gevaar in oorwinning verander het, is die langste van al die dankseggingspsalms. [Net Psalms 78 en 119 is langer as hierdie psalm.] Verse 1 – 2 en 49 – 50 vorm die raamwerk vir die psalm. Breedweg vertel die psalm ons van hoe doodsgevaar die psalmis bedreig het (18:3 – 6); hoe die Here gereageer het (18:7 – 15); hoe die Here verlos het (18:16 – 29); hoe die situasie omgekeer is (18:30 – 48). Dwarsdeur die psalm kry ons die teenstelling tussen hoogtes en dieptes. Nege maal praat die psalm van teenstanders en aanvallers; elf maal praat die psalm van die Here se verlossing of redding. Die een party gaan van hoogtes na dieptes en die ander van dieptes na hoogtes. Die sleutel tot hierdie bewegings is die Here. Die punt wat die psalm maak, is dat die spreker se God (Jahwe, my God) die magtige en enigste ware God is.

 

Die spreker is uit nood, veroorsaak deur mense, verlos. Hierdie is moontlik ‘n psalm wat die koning moet bid na ‘n oorwinning. Die spesifieke verwysing na Dawid in verse 49 – 50 mag daarop dui dat hierdie psalm verwys na Dawid. Afgesien van enkele kleiner verskille kom hierdie dankpsalm van Dawid net so in 2 Samuel 22 voor. Dit is ‘n danklied na verlossing met ‘n troosvolle boodskap: Die Here help in nood.

 

18:1: Opskrif.

Vir die musiekleier. Van die dienskneg van die Here. Van Dawid. Hy het die woorde van hierdie lied vir die Here voorgedra in die tyd toe die Here hom gered het uit die hand van sy vyande en uit die hand van Saul.

Vir die musiekleier mag waarskynlik daarop dui dat die psalm ‘n rol in die tempeldiens gespeel het. Die dienskneg van die Here verwys waarskynlik na die koning. Hierdie psalm verwys nie na ‘n enkele insident nie, maar na vyande en na Saul. Ons moet versigtig wees om dit aan ‘n enkele insident in Dawid se lewe te koppel.

 

Daar is ‘n aantal sienings oor die oorsprong van hierdie psalm.

  1. Dit is Dawid se persoonlike getuienis. Daar is niks wat daarop dui dat Dawid persoonlik die psalm geskryf het nie.
  2. Dit is vir Dawid tydens sy leeftyd geskryf – moontlik in samehang met die berig oor Dawid se bewind in 2 Samuel.
  3. Dit mag vir die Dawidiese koning in die tyd voor die ballingskap geskryf gewees het – moontlik deur die musiekleier.
  4. Dit mag ter ere van Dawid geskryf wees. Die gemeenskap na die ballingskap het groot waarde aan Dawid geheg – sy militêre oorwinnings en sy persoon. Hierdie is die waarskynlikste opsie.

Die psalm gaan oor Dawid – daarmee stem almal saam. Dit is ‘n getuienis wat die Here eer. Dit getuig van die Here se betrokkenheid in die lewe van Dawid. Die psalmis in daarvan bewus dat die Here in buitengewone omstandighede beslissend opgetree het.

 

Volgende keer gaan ons kyk na die doodsgevaar wat die psalmis bedreig.

 

 




Geloof, vergeet en vrugbaarheid

 

Fearing no insult, asking for no crown, receive with indifference both flattery and slander, and do not argue with a fool. -Aleksandr Pushkin, digter en skrywer (6 Jun 1799-1837)

 

Geloof, vergeet en vrugbaarheid

Brian Harris het ‘n interessante blog oor Genesis 41 geskryf. Genesis 37 vertel vir ons van Josef se drome. Hy word deur sy broers as slaaf verkoop. In Egipte aangekom, koop Potifar hom en Josef word as hoof nan Potifar se huishouding aangestel. Daar voel Potifar se vrou dat sy beledig is toe Josef nie in haar toenaderings belangstel nie. Sy kla hom van poging tot verkragting aan en Josef beland in die tronk.

 

As ons by Genesis 41 kom is Josef 30 jaar oud en reeds 13 jaar ‘n slaaf. Nou lees ons dat Farao ‘n droom gehad het (41:1). In minder as 24 uur verander Josef se status van gevangene na tweede in bevel in Egipte. Ons sien duidelik God se hand in die agtergrond. Al die raadgewers en waarsêers in Egipte kon nie die farao se droom verklaar nie. Om drome te interpertreer was normale praktyk vir waarsêers in antieke tye. God maak ‘n pad vir Josef oop.

 

Daar is ook ander gebeure wat wys dat God aktief in die agtergrond besig is. Die hoof van die skinkers was saam met Josef in die tronk en hy onthou dat Josef daar ‘n droom vir hulle uitgelê het. Toevallig? Nee. God se  werk. Josef verskyn voor die koning en lê die farao se droom uit. Dit is duidelik dat iemand in bevel moet wees van die program om ‘n ramp te verhoed.  Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipte. As God intree, gebeur dinge vinnig.

 

Een van die lesse van Genesis 41 is dat God altyd aan die werk is. Soms in die agtergrond (Josef ontmoet die skinker in die tronk); soms subtiel (die waarsêers kan nie die koning se droom uitlê nie); soms duielik (Josef lê die farao se droom uit). Josef word die belangrikste man naas die farao in die land. Onthou: Egipte was destyds die supermoondheid.

 

In 41:51 – 52 lees ons van Josef se twee seuns. Name is belangrik. Die een noem hy Manasse – Want God het my alles laat vergeet. Josef kyk na die toekoms en nie na die verlede nie. Al die eer kom God toe. Want dit is God wat hom die verlede laat vergeet het. In almal van ons se lewens is daar seerkry, probleme, mislukking en stukkende drome. Ons kan baie maklik bitter word. God kan ons help om die verlede te vergeet. Glo dit en doen dit.

 

Die tweede seun noem hy Efraim – want God het my vrugbaar gemaak in die land waar ek verneder is. Weer sê Josef dat God agter die skerms gewerk het. Egipte was sy land van swaarkry en ballingskap. Juis hier maak God hom vrugbaar. Josef kon maklik sy rug op Egipte gedraai het, maar God laat nie toe dat ons kleinlike, oppervlakkige mensies word nie. Daarom kon Josef uuitjubel dat God hom juis in Egipte vrugbaar gemaak het.

 

Baie van ons is op plekke wat ons nie gekies het nie, maar God roep ons steeds om vrugbaar te wees. Een van die spesiale dinge as ons deel van God se familie is, is dat ons diegene met wie ons in aanraking kom, moet seën. Ons is die sout vir die aarde. Christene is mense wat ‘n verskil maak daar waar hulle ook al is. Hoekom? Want ons vertrou dat God altyd in beheer is. Soms help Hy ons om te vergeet; soms help Hy ons om opbouend en vrugbaar te wees.