God is redelik

There is always something to do. There are hungry people to feed, naked people to clothe, sick people to comfort and make well. And while I don’t expect you to save the world, I do think it’s not asking too much for you to love those with whom you sleep, share the happiness of those whom you call friend, engage those among you who are visionary, and remove from your life those who offer you depression, despair, and disrespect. -Nikki Giovanni, digter (b. 7 Jun 1943)

 

God is redelik

Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here. Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrrooi, julle sal wit word soos wol (Jesaja 1:18).

Hierdie was Matthew Henry se gunsteling vers in die Ou Testament. Dit is veral die eerste deel van die vers wat gedurig in sy publikasies na vore kom. Daarmee beklemtoon hy die redelikheid van God en die Christendom. In sy kommentaar op hierdie vers wys Henry vir ons God se redelikheid teenoor Israel. Dit is iets wat ons steeds moet bemoedig.

 

  1. God het hulle nie eenvoudig verwerp as gevolg van hulle sondige rekord nie, Hy verwerp wel hulle dade as onvoldoende om versoening vir hulle sondes te doen, maar Hy verwerp nie vir hulle nie.
  2. God daal tot op hulle vlak om met hulle te redeneer. Die God van die hemel daal af om die saak met diegene wat Hom verwerp, te beredeneer.
  3. God eis bewyse van opregte bekering en verandering voor hy sake verder met hulle bespreek. Terwyl hulle hande nog vol bloed was, wou God niks met hulle te doen gehad het nie – al bring hulle al die voorgeskrewe offers. As hulle hulleself was en reinig, kan hulle Hom nader en die saak verder bespreek.
  4. God het hulle nie net gekritiseer nie, maar ook ‘n pad van herstel uitgestippel.
  5. God sê dat geen hoeveelheid diens aan Hom kan vergoed vir onregverdige optrede teenoor mense nie. Gebede en offers sal nooit vergoed vir bedrog en onderdrukking nie Geregtigheid teenoor mense is net so ‘n teken van ware godsdiens as liefde vir God.
  6. Ten spyte van hulle vorige opstand kan hulle in God se guns herstel word.
  7. God verwag min van hulle – hulle gewilligheid en begeerte om te gehoorsaam.
  8. Hy belowe soveel – die vergewing van hulle sondes en blydskap.
  9. As hulle die aanbod weier en gaan voort met hulle ongehoorsaamheid sal hulle regverdig geoordeel word.

 

Dit is nie net God wat redelik is en die saak met ons wil uitmaak nie, maar Hy verwag dieselfde van ons.

Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God (1 Petrus 3:15 – 16).

 

 




Psalm 20 (1)

 

In the end dear friend, it is always between us and God, not between us and them. Moeder Teresa

 

Psalm 20 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema:  ‘n Seën vir die koning

Dit is gou duidelik dat vers 2 – 6 bymekaar hoort, maar by vers 7 gebeur daar iets nuuts. Verse 2 – 6 is die woorde van ‘n groep mense aan ‘n individu in een of ander krisis. In vers 10 sal ons sien dat dit die koning is. In vers 7 praat ‘n individu. Dit is ‘n reaksie op vers 2 – 6. Vers 2 – 7 is ‘n verklaring van vertroue in wat die Here sal doen of ‘n proklamasie van sy seën. In verse 8 – 10 neem die oorspronklike sprekers die  koning se verklaring van trou aan die Here en sluit die psalm af met ‘n gebed en ‘n finale woord waarin vertroue uitgespreek word. Die psalm is ‘n gesprek tussen die mense en die koning.

 

Hierdie psalm is waarskynlik gebruik as ‘n geveg verwag word. Dit mag ook tydens ‘n gereelde liturgiese gebeurtenis gebruik word. Die versekering dat die koning sal oorwin as daar oorlog kom, moet immers gereeld bevestig word. Ons weet nie wanneer hierdie psalm geskryf is nie.

 

Psalm 20 is ‘n gebed om hulp in tyd van (militêre) bedreiging. Die volk vra dat die Here aan die koning oorwinning sal gee. Die koning staan blykbaar aan die vooraand van ‘n groot militêre veldtog of veldslag. Die offer wat so ‘n gebeurtenis voorafgaan, is gebring. Nou word daar voorbidding gedoen vir die koning met die oog op wat voorlê.

 

20:1: Opskrif

Vir die musiekleier. ‘n Psalm. Van Dawid.

Hierdie psalm is ‘n dialoog tussen mense en die koning.

 

20:2 – 6: Die Here hoor op die dag van nood. 

In die Ou Testament is seën die taak van leiers soos Moses, Dawid en ander konings en van priesters. Gewone mense het die vermoë om mekaar te seën en ook om die koning te seën. Die openingsverse mag dui op die seën van ‘n priester.

 

2Mag die Here u antwoord op die dag van benoudheid; mag die Naam van die God van Jakob u beskerm.

3Mag Hy vir u hulp stuur uit die heiligdom, en vanaf Sion u ondersteun.

Die eerste deel van beide verse praat van konkrete optrede: antwoord … hulp stuur. Hierdie is twee aspekte wat mense sou gebruik in ‘n gebed in tye van nood. Eerstens is daar ‘n verklaring dat die Here gehoor en gaan optree. Dan is daar ‘n optrede wat hierdie verklaring ‘n werklikheid maak. Die heiligdom is Sion, alhoewel ons later sal sien dat die Here ook uit sy heilige hemel antwoord. Sion is die plek waar die Here besluit het om te woon. Sion is waar die mense en die koning bymekaar is.

 

 4Mag Hy al u offergawes in gedagte hou, u brandoffers aanvaarbaar vind. Sela.

Sion is die plek waar offers gebring word en waar seën verkondig word. Dit ook waar die Here op die koning se offers en gebede reageer. Seën word hier in dade omgesit. Dit gebeur omdat die Here die koning se offergawes in gedagte hou. Die offergawes sê vir ons die koning is ernstig as hy die Here in ‘n noodsituasie nader.

 

5Mag Hy aan u gee wat u hart verlang, en elkeen van u planne laat slaag.

Hier kyk ons steeds na die Here wat die koning se gebed beantwoord en reageer op sy offergawes. Die koning se denke het planne geformuleeer. Hy doen dit egter nie onafhanklik van die Here nie.

 

6Ons wil juig oor u verlossing, in die Naam van ons God die vaandel hoog hou. Mag die Here aan al u versoeke voldoen.

Hier word dit duidelik wie hier praat: of die mense of iemand wat namens hulle praat. Dit ook duidelik dat die krisis waarvan hier gepraat word nie net die koning raak nie, maar ook die mense. Die koning het verlossing nodig en as hy dit kry sal die mense daaroor juig. Die mense sal ook hulle vaandels waai – in God se Naam. Om vaandels te waai of hoog te hou, verwys gewoonlik na ‘n militêre konteks. Die mense mag lede wees van ‘n leër wat die koning lei.

 

In hierdie psalm word twee keer na die Naam van die Here verwys: dit moet die koning beskerm (vs 2) en die verbondsvolk vertrou op die Naam van die Here en nie op strydwaens en …op perde nie (vs 8). Die Naam is hier aanduidend van die Persoon – God self. Dit is nie maar net sommer ‘n magiese towerwoord wat uitgespreek kan word en wat dan sal help nie. Dit is God self wat help.

 

 




Die kerk vandag

 

Sometimes the most godly thing a mouth may do is keep silent. —D.A. Carson

 

Die kerk vandag

Toe ons kinders was het almal “kerk toe gegaan” – dit was van ons verwag. Vandag beskou baie mense die kerk as nie belangrik nie – verby sy vervaldatum. Natuurlik word niemand verlos deur die eredienste by te woon nie, maar tog het die kerk ‘n baie belangrike rol om te speel. Almal wat aanvaar dat Jesus Christus die Seun van die lewende God is, is deel van die universele kerk.

 

As ons van kerk praat, bedoel ons gewoonlik ‘n plaaslike groep gelowiges wat bymekaar kom. Jesus het die kerk gevestig om sy doel op aarde te bereik. Jesus Christus is die hoof van die kerk en ons is sy liggaam. Hoe weet ons ‘n kerk vervul sy roeping as huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God (1 Timoteus 3:15)?

 

  1. Die leerstellige toets

Glo die gemeente dat die Bybel die onfeilbare woord van God is? As dit nie die fondament is nie, is dit nie ‘n ware kerk nie. Wat belangrik is, is wat die gemeente aangaande Jesus Christus leer. Niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus (1 Korintiërs 3:11).

 

  1. Die opbouingstoets

Christus gee apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars aan die gemeeente om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus … Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus (Efesiërs 4:11 – 13). Die gemeente is die plek waar die fondament die Bybelse waarhede is en waar ons in ons geloof opgebou word – toegrus om die Here te dien. Die gemeente moet op die woord van God fokus – nie net op sosiale hervorming nie.

 

  1. Die roepingstoets

In elke gemeente moet daar ‘n balans tussen Bybelonderrig, aanbidding en die bediening aan die wêreld wees. Christus het vir sy dissipels aangesê om in die wêreld uit te gaan en dissipels te maak. Die goeie gemeente moedig sy lidmate aan om hulle geloof met ander te deel.

 

Hier is drie eenvoudige toetse om vas te stel of ‘n gemeente waarlik gemeente van Jesus Christus is.




Psalm 17 (3)

 

The Body of Christ can only be a visible Body, or else it  is not a Body at all – Dietrich Bonhoeffer

 

Psalm 17 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

 

Teologiese implikasies

In die psalm kry ons verskeie verwysings na liggaamsdele. Dit onderstreep die konkrete,  persoonlike  werklikheid van die psalmis, die vyande en die Here. Dit wys ook dat die Here werklik by die mensdom betrokke is. Menslike lewens is fisiese lewens en nie net geestelike lewens nie. Die probleme wat die mens ondervind, is nie net geestelik nie, maar ook fisies. Die Here is bekommerd, nie net oor geestelike sake nie, maar ook oor die fisiese. Die Here het oë wat die mense kan sien; lippe wat met hulle kan praat; ore wat hulle kan hoor; ‘n regterhand wat hulle kan beskerm. Die Here is ‘n ware Persoon.

 

God se kinders geniet nie altyd voorspoed nie. Soms kry hulle swaar – hulle word selfs doodgemaak deur boosdoeners wat God nie ken nie. Dit beteken geensins dat God dood of onregverdig is nie. Dit beteken ook nie dat Hy nie vir ons omgee nie. Ons kan daarvan seker wees dat Hy ons nog beter wil beskerm as ‘n hen haar kuikens. Maar ons leef in ‘n gebroke wêreld. Die gevolge van die sonde raak ons almal. Dit het God ook geraak – sy eie Seun, die enigste volkome onskuldige mens, het dieselfde pad van lyding as ons geloop. Maar juis op diè manier het Hy ons kom verlos van die Bose. So het Hy die Satan oorwin en ons onder sy vleuels geneem om ons vir ewig soos die appel van sy oog te beskerm. In tye van lyding kan daar geen groter troos wees as juis dìt nie.