‘n Tweede en Derde Hervorming

It is better to pray often with brevity than rarely but at length. —D.A. Carson

 

‘n Tweede en Derde Hervorming

Net meer as ‘n dekade gelede pleit Rick Warren vir ‘n Tweede Hervorming: ‘n hervorming van dade. Die eerste hervorming was oor doktrine. Ons nader die 500ste herdenking van die Hervorming. Daar is toenemend gesprekke oor hervormings wat nodig is. Warren se oproep is nie juis uitgevoer nie. Dit is ook ‘n vals antitese wat geskep is tussen doktrine en dade. Die regte doktrine reg verstaan lei tot die regte dade. Ons kan nie die een of die ander een kies nie.

 

Warren het geglo dat die grootste uitdaging waarvoor die kerk in 2005 te staan gekom het, was ‘n verlies aan geloofwaardigheid. Niks het eintlik sederdien verander nie. Die kerk praat van lewens wat verander word, maar die wêreld sien die kerk se agenda as dieselfde as die samelewing s’n. Al verskil in leefwyse is kerkbywoning. Vandag woon baie Christene nie eers meer die eredienste by nie.

Hoe sou so ‘n hervorming van dade lyk? Dit sou die Bybelse beginsel van teenwoordigheid – om daar te wees – ernstig opneem. Niks is belangriker om langs diegene wat hulp nodig het, te kom nie. In Jesus se tyd was dit maar ‘n moeilike besigheid – hoe is Hy nie gekritiseer omdat Hy langs tollenaars, sondaars en dronkaards geloop het nie. As ons dit probeer, gaan die kritici gou toetree.

 

Brian Harris glo dat die oproep vir die tweede hervorming geldig was, maar dat ons tans ‘n derde hervorming nodig het: ‘n hervorming van die regte gesindheid. Dit is moontlik om die regte ding uit pligsbesef te doen, maar dit met ‘n hart van klip. Die ouer broer in die gelykenis van die verlore seun is ‘n goeie voorbeeld. Hy bly by sy vader se huis en doen altyd wat hy gevra word om te doen. Sy hart was nie reg nie. Hy doen alles wat reg was, maar binne in hom was sy hart nie reg nie. Hy steek dit weg tot op die dag dat sy broer terugkeer en met ope arms deur hulle vader verwelkom word. Toe volg die uitbarsting en sy hart word blootgelê.

 

In ‘n tyd van media versadiging tree deernis-uitputting maklik in. Ons hoor die een aaklige storie na die ander. Mettertyd raak dit ons nie meer nie. Ons begin aanvaar dat die mense wat swaarkry dit oor hulleself gebring het. ‘n Hervorming van gesindheid vereis dat ons die behoefte aan deernis weer sal raaksien. Ons sal dit net kan doen as ons sien dat ons ontvangers van God se deernis is, want ons het dit nodig gehad. As God nie sy oorvloedige liefde onverdiend oor ons uitgestort het nie waar sou ons gewees het?

 

Maar bring dit ons nie na die eerste hervorming terug nie. As ons Luther korrek verstaan, het jy  ‘n hervorming van doktrine, dade en gesindheid almal ineengevleg.

 

 




Psalm 17 (1)

 

It is easier to save us from our sins than from our righteousness. —C.H. Spurgeon

 

Psalm 17 (1)

Tema: Die Here se oë, lippe, regterhand en gesig

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Ons kry hier drie pleidooie. Van elke pleidooi na die volgende is daar vooruitgang. Die eerste pleidooi vertel van die psalmis se eerlikheid. Die verklaring van trou ontwikkel daaruit.  Die tweede pleidooi verwys na die mense van wie die psalmis verlos moet word. Daaruit volg ‘n jammerklag. Die derde pleidooi verwys na trou. Die dele word bymekaar gehou deur verwysing na liggaamsdele: lippe, oë, hart en mond, lippe, voetstappe, oor, regterhand,  oog, hand, hart en mond,, knie, hand en buik.

 

Vir die Christen klink die temas vreemd. Ons is tog almal skuldig, nie onskuldig nie. Ons moet mos vir ons vyande bid, nie teen hulle wees nie. Ons moet tog werk vir die goddelose se redding, nie sy ondergang nie. Verstaan ons egter die agtergrond van die psalm word ons vrae opgelos. Destyds is daar geglo dat ‘n mens se voorspoed ’n teken is dat God sy optrede goedkeur. Die digter streef eerlik daarna om die wil van God te doen. Hy staan dus teenoor die goddelose wat openlik sy ondergang beplan. As God sy eie eer wil beskerm, moet Hy dus kant kies teen die goddelose en die digter beskerm. Deur hom van sy vyande te red, sal God ook duidelik toon dat Hy lewe en vir sy volgelinge omgee.

 

17:1: Opskif

 ’n Gebed. Van Dawid.

 

17:1 – 2:

Die psalm begin met ‘n pleidooi aan die Here om tog te hoor en te reageer. Hy doen dit op grond van wie die Here is en wie hy, die psalmis, is.

Luister tog na ‘n regverdige saak, Here, gee tog aandag aan my hulpgeroep,

 hoor my gebed wat kom oor lippe sonder bedrog.

Hier kry ons ‘n oproep aan die Here om aandag te gee. Die basis vir hierdie pleidooi is die Here se trou. Die psalmis glo wel dat hy, in teenstelling met ander mense, ‘n regverdige saak het. Soos Job glo hy dat hy onskuldig is. Hy maak nie aanspraak omdat hy verwaand is nie,  maar omdat hy besorg is dat die mense mag dink dat God onregverdig is.

 

2Laat aan my reg geskied; mag u oë regverdig onderskei.

Hier voer die psalmis sy pleidooi verder. Die Here moet ‘n besluit neem – sy oë sien immers die psalmis. Die Here moet nie net luister nie, maar ook kyk om te bevestig dat die pleidooi van ‘n regverdige mens kom. Daarom moet sy versoek toegestaan word.

 

17:3 – 5:

3U het my hart getoets, in die nag ondersoek ingestel,

U het my gelouter, maar U het niks gevind nie.

Ek het my voorgeneem: My mond sal nie oortree nie.

Die Here kan ter enige tyd in die mens kyk en sien wat daar aangaan. Die psalmis weet dit, maar hy vrees nie so ‘n ondersoek nie. Die Here moet nie net luister nie, maar ook kyk. Die taal van toets en ondersoek instel, verwys nie net na ‘n ondersoek nie maar ook na loutering – is dit werklik goud. Die nag is die tyd wat die Here mense se integriteit bepaal – wat hulle dink as hulle in die bed lê, weerspieël hulle gesindheid.

 

4Wat die optrede van mense betref: Volgens die woord van u lippe het ek die paaie van geweldenaars vermy.

5My treë het u paaie nougeset gevolg; my voetstappe het nie gewankel nie.

Die psalmis was baie versigtig vir die paaie van geweldenaars. Die geweld waaroor die psalmis bekommer is, is die geweld wat ander mense beroof – hulle land of hulle kos. Die psalmis loop in die voetspore van die Here. Daarom wankel hy nie; daarom kan hy die paaie van geweldenaars vermy.

 

Volgende keer gaan ons verder met Psalm 17.




Word deel van God se gemeenskap

 

The sun is no less bright because men do not perceive its light – Johannes Calvyn

 

Word deel van God se gemeenskap

Die woord koinonia word dikwels in die Nuwe Testament gebruik. Oorspronklik het dit na ‘n vergadering of ‘n vennootskap waaraan almal deelneem, verwys. Kom ons kyk van nader wat die geloofsgemeenskap van God beteken.

  1. Dit is ‘n roeping

Dit is ‘n gesamentlike roeping. Dit gaan oor meer as Christelike sosiale aksies. Jesus Christus het sy kerk gebou op die Groot Opdrag – die roeping vir sy dissipels. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het (Matteus 28:19 – 20). Die geloofsgemeenskap het ‘n gesamentlike roeping: maak dissipels. Begin lokaal en versprei dan al verder uit.

 

  1. Aanbid saam

Laat ons dan ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente as wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan (Hebreërs 10:24 – 25). Ons moet gereeld bymekaar kom en mekaar bemoedig en versterk Dit doen ons in die konteks van aanbidding.

 

  1. Lewe saam as Christene

Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie. Maar solank daar nog ‘n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie (Hebreërs 3:12 – 13). Hierdie is ‘n oproep van almal wat deel van die geloofsgemeenskap is om om te sien na diegene wat nie geestelik sterk is nie. Ons moet bewus wees van die ander lede van die gemeenskap; ons moet hulle bemoedig – veral in moeilike tye of as hulle ly of terneergedruk is.

 

My broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, weet dan dat hy wat ‘n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat ‘n menigte sondes vergewe word (Jakobus 5:19 – 20).

 

 

 

 

 




Gebed

 

Faith is given to those who have been elected and ordained to eternal life, but so that election precedes, and faith follows election as a sign of it. — Zwingli

 

Gebed

God wil graag ‘n verhouding met mense hê. In ‘n vorige blog het ons gesien dat Hy met ons praat deur sy woord. Maar God luister ook na ons. Hierdie is ‘n ongelooflike waarheid vir elke Christen. Daar is drie basiese vorms van gebed:

  1. Privaat

Na Jesus die brood vermeerder het, lees ons dat Hy verder die berg opgegaan het: Hy alleen (Johannes 6:15). Net voor Jesus vir sy dissipels die Ons Vader gebed gee, sê Hy: Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie (Matteus 6:6). Private gebed moet ‘n gereelde patroon in ons lewens wees. Kry ‘n spesifieke tyd wat jou pas. Ons voel dikwels dat ons nie genoeg bid nie. Wat God van ons verwag, is om te bid en dan op te staan en ons lewens te leef bemagtig deur die Heilige Gees en afhanklik van Hom.

 

  1. Deur die dag

Gebed gebeur ook gedurende die dag – in jou kantoor of waar jy ook al is. Nehemia staan voor die koning wat wil weet of hy hom iets wil vra. Dan lees ons: Ek het ‘n skietgebed opgestuur na die God van die hemel (2:4). Jy kan op enige plek bid. So kweek ons ‘n gesindheid van afhanklikheid aan.

 

  1. Korporatiewe gebed

Nou bid ons saam met ander gelowiges. Soms is dit moeilik om ‘n tyd te kry wat almal se besige skedules pas. Soms voel ons dat ons woorde tekortskiet. God hoor al ons gebede – Hy stel belang in ons harte en nie ons woorde nie. As ek op my eie bid, is God altyd gereed om te luister. As ek saam met ander bid, is dit ‘n wonderlike ervaring. Dan leer ons mense op ‘n verbasende manier ken … en jy leer meer en meer van Jesus Christus by ander mense.

 

Gebed het veelvuldige dimensies. Hulle is nie in kompetisie met mekaar nie, maar vul mekaar aan. Gebruik die volle spektrum wat tot jou beskikking is.