Psalm 16 (1)

The gospel is only good news if it gets there in time – Carl F. H. Henry

 

Psalm 16 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema: Vertrou op die Here vir lewe

In Psalm 16 praat die digter oor sy vertroue in God. Daar word van twee kante af druk op hierdie vertroue geplaas:

  • Die druk van mense wat ander gode aanbid. Hierdie gode sou dan die sleutel tot die mens se welstand wees.
  • Die bedreiging van die dood.

 

16:1 – 2: ‘n Gebed om beskerming.

’n Miktaam. Van Dawid.

Beskerm my, o God, want by U skuil ek.

 2Ek het vir die Here gesê: “U is my Heer; buiten U is daar vir my niks goeds nie.”

 

Miktaam mag beteken dat die psalm, soos die Babiloniese psalms, in klei geskryf is.

Die digter vra vir God om hom in beskerming te neem. Beskerm my beteken dat die psalmis onseker is. Hy gee twee redes waarom hy net by God wil skuil:

  1. U is my Heer; en
  2. Buiten U is daar vir my niks goeds nie.

Die Here is die psalmis se God – my Heer. Die psalmis is totaal van hierdie God vir sy welstand afhanklik. Sonder hierdie Here is daar vir die psalmis niks goeds nie.

 

16:3 – 4: Verwerping van afgode.

3Wat die heiliges in die land betref, ja, die magtiges, by wie ek al my vreugde gevind het:

4Wie hulle na ander gode haas, vererger hulle smart. Ek sal nie hulle drankoffers van bloed uitgiet nie, en ek sal nie hulle name op my lippe neem nie.

Die heiliges in die land is diegene met wie die psalmis identifiseer. Die magtiges mag daarna verwys dat hierdie mense priesters is. Die psalmis pleit vir toewyding aan God in teenstelling met diegene wat ander gode aanbid. Om ander gode te aanbid vererger net hulle smart. Die digter wil met afgode niks te doen hê nie. Al lyk hulle vir baie mense aantreklik, maar vir hulle sal hy nie drankoffers van bloed uitgiet nie. Hy sal hulle ook nie erken nie: ek sal nie hulle name op my lippe neem nie.

 

16:5 – 6: Erkenning.

5Here, my erfdeel, my beker, U bepaal my lot.

6’Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.

Die psalmis is bewus daarvan dat hy ‘n toegewysde erfdeel of beker of gedeelte het. Hy weet ook dat die Here die persoon aan wie dit behoort, beskerm. Die psalm verwys nie spesifiek na wat hierdie erfdeel is nie. Die meetsnoere is die toue waarmee die toekenning van land uitgemeet is. Die psalmis het ‘n lieflike erfdeel gekry.

 




Ek is terneergedruk (5)

 

You don’t have to bring the fire, bring the thunder, bring the whatever. Just bring the gospel. It will do the thundering. —Jared Wilson

 

Ek is terneergedruk (5)

[Terneergedruk = ontmoedig; bedruk maak – HAT. Dit moet onderskei word van depressie wat ‘n mediese toestand is en dikwels behandeling nodig het.]

Terneergedruktheid is ‘n algemene toestand in ons samelewing – ook onder Christene. ‘n Baie goeie gevallestudie is die profeet Elia. Na die gebeure op Karmelberg word Elia baie terneergedruk/ mismoedig, maar God, in sy genade, hernuwe weer sy dienaar. Ons gaan veral na twee aspekte van die verhaal kyk:

  • Elia se geestelike terneergedruktheid; en
  • God se reaksie daarop.

Ek gaan onder andere van Tony Merida se Exalting Jesus in 1 & 2 Kings gebruik maak. Ons gaan veral na Hoofstuk 19 kyk.

 

Hoe hanteer God sy terneergedrukte dienaar? Met genade en geduldige deernis. Daar is veral drie maniere wat God gebruik: brood in die woestyn, ‘n stem in die berge en ‘n visie vir die toekoms. Daar is baie ooreenkomste met die storie van Moses. Dit beklemtoon God se trou, geduld en genade. Dit moet ons ook bemoedig.

 

  • Brood in die woestyn (19:5 – 8)

God se eerste reaksie was nie ‘n teregwysing nie, maar ”eet.” God het Elia reeds laat voed deur ‘n kraai, ‘n weduwee en nou ‘n engel. Elia raak onder ‘n besembos aan die slaap. ‘n Engel skud hom: Word wakker! Eet!. Elia kyk op en sien ‘n roosterkoek en ‘n kruik water. Elia eet en drink en gaan lê weer. ‘n Tweede keer skud die engel hom wakker. Weer eet Elia. Deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God. [Jesus het ook veertig dae en veertig nagte in die woestyn gebly – Matteus 4]

 

Hoe bemoedigend dat God nie Elia se gebed om dood te gaan, antwoord nie, maar eerder vir hom kos gee. Inplaas van die dood gee God hom brood. God sal hom later teregwys, maar eers kry ons teerheid en versorging.

 

Voel jy gedreineer en teneergedruk? Jesus sê: Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee … want Ek is sagmoedig en nederig van hart (Matteus 11:28 – 29). Wat ons nodig het is geestelike rus in Jesus Christus, die brood van die lewe. Daar kry ons vergifnis en vreugde, want ons weet: Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie (Romeine 8:1). Hy is voldoende as ons terneergedruk is.

 

Goeie kos en goeie slaap is wonderlike genesing vir geestelike terneergedruktheid. Slaap en kos is ook gawes van God. Ons het ‘n wonderlike God. Toe Elia weggehardloop het, maak Hy vir hom kos. Toe Petrus hom verloën het, maak hy vir hom kos (Johannes 21). Hy vernuwe hom fisies en geestelik.

 

Elia word hier deur die genade van God vernuwe. Elia is ‘n man soos ons. As ons terneergedruk is, het ons geselskap nodig. Dit kry ons in die geloofsgemeenskap. Miskien wil God hê dat ek ‘n eensame, terneergedrukte dienaar van Hom moet bedien. Neem vir hulle brood en spandeer tyd met hulle.

 

Volgende keer gaan ons na ‘n volgende manier kyk waarop God vir Elia gehelp het.

 




Ek is terneergedruk (4)

 

The most pressing question on the problem of faith is whether as man as a civilized being can believe in die divinity of the Son of God, Jesus Christ, for therein rests the whole of our faith (Fyodor Dostoevsky).

 

Ek is terneergedruk (4)

[Terneergedruk = ontmoedig; bedruk maak – HAT. Dit moet onderskei word van depressie wat ‘n mediese toestand is en dikwels behandeling nodig het.]

Terneergedruktheid is ‘n algemene toestand in ons samelewing – ook onder Christene. ‘n Baie goeie gevallestudie is die profeet Elia. Na die gebeure op Karmelberg word Elia baie terneergedruk/ mismoedig, maar God, in sy genade, hernuwe weer sy dienaar. Ons gaan veral na twee aspekte van die verhaal kyk:

  • Elia se geestelike depressie; en
  • God se reaksie daarop.

Ek gaan onder andere van Tony Merida se Exalting Jesus in 1 & 2 Kings gebruik maak. Ons gaan veral na Hoofstuk 19 kyk.

 

Ons kyk verder na die oorsake vir Elia se terneergedruktheid.

 

  • Elia glo halwe waarhede

Hierdie halwe waarhede lei tot gevooelens van selfgeregtigheid, selfbejammering en selfbelangrikheid. Elia sê: Want ek is niks beter as my voorvaders nie. Later sê hy: Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek, Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring. Deel van hierdie stelling was waar – die meerderheid mense het God verlaat. Die altare was egter herbou. Wat van die profete? Is dit nie die Baälprofete wat vernietig is by Karmel nie? Elia meng die waarheid en valshede. Hy sê dat hy ywerig vir die Here was. Waar, maar kyk nou na hom. Hy hardloop weg vir Isebel. Hy het geen rede om te spog nie. Die Here vra vir hom wat hy daar soek.

 

In plaas van berou en vir genade vra, vergelyk hy hom met ander. Dit is wat mense wat hulleself wil regverdig doen. Hulle vergelyk hulle met ander. Dink aan die Fariseër en die tollenaar. Glo jy jy is beter as ander mense? Glo jy jy is die enigste persoon met ywer? Oppas vir die sonde van selfregverdiging.

 

Let ook op dat Elia homself as belangrik beskou. Hy is al een wat oorgebly het wat God nog dien. Elia glo hy was die laaste gelowige. As hy die handdoek sou ingooi, gaan God verloor. Hy het sekere dinge vergeet soos God se belofte aan Dawid en die honderd profete wat Obadja versteek het. God sê later vir hom dat Hy in Israel nog 7000 laat oorbly het. Elia is besig om sy belangrikheid te oordryf. Natuurlik was hy belangrik, maar hy was net ‘n dienaar van Israel. Hierdie gevoel van selfbelangrikheid ontwikkel maklik in ons harte. Ek mag glo ek is die enigste een wat omgee vir gebed, geregtigheid, dissipelskap of evangelisasie. As dit is hoe ek voel, sal my trots op een of ander stadium in wanhoop verval.

 

Let ook op Elia se selfbejammering: Hulle soek my ook om my om die lewe te bring. Nie waar nie. Isebel wou sy lewe neem, maar nêrens lees ons dat die hele Israel sy lewe wou neem nie. Selfbejammering gebeur as jy die probleem oordryf. Terneergedrukte mense doen dit: hulle laat dinge altyd erger klink as wat dit in werklikheid is.

 

Om halwe waarhede te glo, is ‘n versoeking vir ons almal. Om ons geregtigheid, belang en probleme te oordryf voed ons – ons moet dit beveg. Hoe: deur die suiwer waarheid van die evangelie te vertrou.

Ons spandeer te veel tyd om na onsself te luister. Ons moet onthou ons verlede is uitgevee. Is jy gedreineer? Geïsoleerd? Teleurgesteld? Glo jy halwe waarhede wat lei tot gevoelens van selfgeregtigheid, selfbejammering en selfbelangrikheid? Wat ons nodig het is ‘n goeie dosis genade en waarheid wat ons in Jesus Christus kry.

 

Volgende keer gaan ons na God se reaksie op hierdie gebeure kyk.

 




Wat leer ons uit die Klaagpsalms?

 

You and your sins must separate, or you and your God cannot come together. —C.H. Spurgeon

 

Wat leer ons uit die Klaagpsalms?

Emosies is belangrik, maar ek moet versigtig wees dat emosies nie my lewe beheer nie. Emosies verbruik my energie, rig my besluite en steel my vreugde. Hulle oordryf dinge en maak dat ek dink dinge is erger as wat hulle werklik is. God se woord sê baie oor emosies. Die klaagpsalms is ‘n ryk hulpbron om van ons emosies te leer. Dit is die psalms waar die skrywer uitroep na God oor emosies soos vrees, hartseer, verwerping, ens. Hier kan ons leer hoe om ons emosies te hanteer.

 

  1. Ons is nie alleen in ons emosies nie

Die psalms weerspieël al die emosies wat ons ondervind in ‘n gevalle wêreld. Lees ons hulle besef ons dat ons nie alleen sulke gevoelens het nie. Die psalmis voel dieselfde pyn as ons. Ek is uitgeput van verdriet, ek huil die hele dag deur, ek deurweek my bed met trane (Psalm 6:6).

 

  1. God wil hê dat ons na Hom met ons emosies sal kom

Dit geld vir al ons emosies – ook daardie donker pynlike emosies. Die psalms was die Israeliete se liedereboek. Hulle sing tot God oor hulle vrese en wanhoop, hulle skaamte en hartseer. God is genadig. Ons hoef nie vooraf ons trane af te vee en voor te gee dat alles reg is nie. Ons kom na Hom net soos ons is en lê ons las voor Hom neer. U weet waarna ek smag, Here,  my gesmeek is vir U geen geheim nie (Psalm 38:10).

 

  1. 0ns emosies moet met die waarheid gekonfronteer word

In Psalm 42:12 konfronteer die psalmis homself: Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing. Hy is my helper en my God! Ons moet ons emosies na God se woord neem en dit wat ons voel met die waarheid vergelyk. Dan moet ons aan God en wat Hy in Jesus Christus gedoen het, dink.

 

  1. God is ons vertroosting, verlossing en vrede

Die psalms leer vir ons dat God ons enigste hoop is. Ons draai dikwels na ander verlossers of ons probeer self ‘n oplossing kry. Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het (Psalm 13:6).

 

  1. Vreugde kom in die môre

Feitlik al die klaagpsalms volg dieselfde patroon: van die negatiewe na die positiewe. Dit begin met die psalmis wat tot God roep en eindig met die psalmis wat in geloof, vertroue en aanbidding reageer.

 

Die reis na God met ons emosies is moeilik. Maar mettertyd kry ons weer hoop; vrede keer terug. Dit beteken nie noodwendig dat ons probleme verdwyn het nie, maar omdat ons weet dat Christus ons ware hoop is. ‘n Ewigheid by Hom wag vir ons.