Ek is terneergedruk (1)

Never presume God will grant you apart from prayer what he has ordained to grant you only by means of prayer. —Sam Storms

 

Ek is terneergedruk (1)

[Terneergedruk = ontmoedig; bedruk maak – HAT. Dit moet onderskei word van depressie wat ‘n mediese toestand is en dikwels behandeling nodig het.]

Terneergedruktheid is ‘n algemene toestand in ons samelewing – ook onder Christene. ‘n Baie goeie gevallestudie is die profeet Elia. Na die gebeure op Karmelberg word Elia baie terneergedruk/ mismoedig, maar God, in sy genade, hernuwe weer sy dienaar. Ons gaan veral na twee aspekte van die verhaal kyk:

  • Elia se geestelike terneergedruktheid; en
  • God se reaksie daarop.

Ek gaan onder andere van Tony Merida se Exalting Jesus in 1 & 2 Kings gebruik maak. Ons gaan veral na Hoofstuk kyk.

 

Kampioene vier gewoonlik hulle oorwinnings – sjampanje word oor die koppe uitgegooi. Elia het pas ‘n groot oorwinning oor die Baälprofete op Karmelberg behaal. Hoofstuk 19 begin glad nie soos ons verwag nie. Ons verwag dat Israel weer na God sou terugkeer. Na God die vuur uit die hemel gestuur het, val hulle op hulle knieë en roep uit: Die Here is God! Die Here is God!  Ons verwag dat die bose Agab na sy paleis sou terugkeer en vir Isebel wegjaag en so van haar bose invloed ontslae raak. Nee. Sy berou en belydenis was vals. Hy hardloop terug en skinder van Elia by Isebel. Sal sy haar vals teologie afsweer en bely? Nee, sy probeer Elia doodmaak.

 

Ons sou verwag dat Elia sou vas staan. Die mag van die Here het immers van hom besit geneem. Nee, dit gebeur nie. Elia bejammer homself en hardloop weg van Isebel. Elia gaan van die bergtop na die vallei waar hy onder ‘n besembos slaap. Hy het vroeër ander bedien, maar nou fokus hy op homself. Hy het met moed die vals profete gekonfronteer; nou hardloop hy weg. Ons het gesien dat hy vir vuur en reën bid, maar nou bid hy dat God sy lewe moet neem.

 

Elia se geloof en gebedslewe het ons uitgedaag. Nou dien sy geestelike ineenstorting as waarskuwing. Dit gee ook vir ons wyse raad. Elia was ‘n mens soos ons (Jakobus 5:17). Dit beteken dat hy dieselfde versoekings en uitdagings as ons ondervind het – insluitend geestelike ontmoediging en wanhoop. Geestelike termeergedruktheid is ‘n goeie beskrywing van sy toestand. Ons moenie verbaas wees oor geestelike terneergedruktheid nie, maar ons moenie daar bly nie. Ons moet leer uit Elia se stryd. Ons glo tog dat die vrug van die Gees vreugde insluit.

 

Dit beteken geensins dat jy die hele tyd met ‘n glimlag moet rondloop nie. Daar is baie klaagpsalms. Nie alle gebrokenheid is negatief nie: soms is dit toepaslik. Ons moet hartseer wees oor ons verlore naastes, ongeregtigheid, armoede en ander gevolge van ‘n gebroke wêreld. Soms in terneergedruktheid ‘n normale fisiese ervaring. Jy kan nie aanmekaar die elastiese band rek sonder dat dit op ‘n stadium sal breek nie.

 

Soms is ons vir geen goeie rede geestelik terneergedruk. Soms is die beste ding om met ons gevoelens te doen, is om hulle uit te daag. Waarom is ek so in vertwyfling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing. Hy is my Helper en my God (Psalm 42:12).

In hierdie hoofstuk lees ons van sommige van die oorsake van Elia se geestelike terneergedruktheid en hoe God met teerheid reageer.

 

Volgende keer kyk ons na die verloop van Elia se geestelike terneergedruktheid.

 

 




Die Christen en die wêreld

 

Repentance is not merely the start of the Christian life. It is the Christian life – Johannes Calvyn

 

Die Christen en die wêreld

Om argumente te wen, is nie dieselfde as om siele te wen nie. Baie min mense het ‘n argument verloor en is as gevolg daarvan bekeer. Maar Christene is maar te geneig om wanneer hulle met ongeloof te doen het, aan te val in ‘n poging om te wys dat hiulle reg is.

 

Hoe wil die Bybel hê dat ons met ons gemeenskap betrokke moet wees? Paulus sê: ‘n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra. Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys (2 Timoteus 2:24 – 25). Petrus sê: Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in hulle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God (1 Petrus 3:15 – 16).

 

Dit is duidelik dat ons dit wat ons sê of dink of waarheen ons op pad is in die Skrif moet kry. Ongelukkig laat ons dikwels toe dat die omliggende kultuur ons aannames en betrokkenheid definieer. As iemand ons op die wang slaan, slaan ons terug. Ons moet

leer om met liefde op vyandskap te reageer. Hulle moet inskiklik wees en altyd bedagsaam teenoor almal (Titus 3:2).

 

In die huidige bestel is Titus 3:1 – 3 een van die gedeeltes wat ons kan help. Paulus skryf hier vir sy leerling: Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is. Onthou Titus werk in Kreta wat baie vyandig teen die Christelike godsdiens was.

 

Wat julle sê moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord (Kolossense 4:6). Altyd vriendelik in gesprekke – ook ons aanmerkings op Facebook. Uiteindelik mag dit die deur vir iemand oopmaak.

 

 




Psalm 15 (2)

“When we have learned to rejoice in God, we will be free to praise him with a willing spirit, a loosened tongue and an untrammeled mind. If we would be consecrated to God as priests whose sacrifice brings glory to his name, we must rejoice in him.” – Johannes Calvyn

 

Psalm 15 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

15:2 – 5:  Verrassende antwoorde.

Die beskrywing van die persoon wat God verwelkom dek vier gebiede:

  • Die algemene integriteit van die persoon in verhouding tot die ander mense in die gemeenskap.
  • Geen verkeerde optrede teenoor ander nie.
  • Die reaksie ten opsigte van mense se siening van God.
  • Die regte gesindheid teenoor geld.

Vers 2 is dus die algemene terwyl vers 3 – 5 die besonderhede uitspel. Die laaste deel van vers 5 is weer algemeen.

 

15:2: 2Hy wat onberispelik leef en regverdig optree, en wat van harte die waarheid praat.

In vers 2 sien ons innerlike gesindheid en uiterlike doen – beide is belangrik. Dit is moontlik dat daar ‘n verskil kan wees tussen wat mense sê en doen. Hulle mag misleiding beplan, maar tree oënskynlik eerbaar op. Hiervan hou God net mooi niks nie.

 

Die antwoord van die digter is verbasend. In die lig van die Ou Testamentiese kultiese godsdiens sou ‘n mens hier allerlei kultiese voorskrifte verwag. Maar hier gaan die antwoord om die basiese boustene van hulle geloof – die alledaagse optrede teenoor die medemens. ‘n Mens wat naby God mag kom, is iemand wat:

  • Onberispelik leef – ‘n lewe in ooreenstemming met die wil van God. [Vergelyk Psalm 1] Onberispelik beteken volledig of heel. Dit beskryf dus ‘n mens van integriteit. Jesus sou dit later as suiwer van hart beskryf (Matteus 5:8). Ons kry dieselfde woord ook in die beskrywing van Noag (Genesis 6:9).
  • Regverdig optree – die persoon wie se doen en late in ooreenstemming met die wil van God is – hy staan in die regte verhouding met God. Sy hart is op God en nie op homself gerig nie. Hy lewe as verbondsmens en sy optrede getuig altyd daarvan dat hy opgeneem is in die gemeenskap van hulle wat aan God behoort.
  • Van harte die waarheid praat – die verbondsmens word gelei deur die waarheid. Dit is die teenoorgestelde van leuens, vleitaal, bedrog en grootpratery – die gedrag van die goddelose.

Ons verhouding met ons medemens kan nie geskei word van ons verhouding met God nie. As ons nie teenoor ons medemens doen wat reg is nie, kan ons ook nie in God se teenwoordigheid verskyn nie.

 

Met hierdie as algemene agtergrond gaan ons in die volgende blog na spesifieke praktiese voorbeelde kyk.

 




Die Heilige Gees (1)

There is not one blade of grass, there is no colour in the world that is not intended to make us rejoice – Johannes Calvyn

 

Die Heilige Gees (1)

David Schrock het ‘n interessante artikel oor die Heilige Gees geskryf. Ek gaan twee blogs daaraan bestee.

 

In 1 Korintiërs 2 kry ons sewe waarhede aangaande die Gees.

  1. Die Gees ken vir God

Die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimeniise van God (2:10). Dit gaan nie hier oor ‘n oppervlakkige ondersoek nie. Die Gees ondersoek alle dinge. Dit beteken Hy weet alles – selfs die diepste geheimenisse van God. Die Gees se kennis is volmaak, absoluut. Die Gees leer nie deur kursusse by te woon of boeke te lees soos ons doen nie. Sy kennis is ewig en onveranderlik. Paulus wil nie vir ons die metode verduiudelik waardeur die Gees alles weet nie. Hy maak ‘n eenvoudige stelling: Die Gees weet alles.

 

  1. Die Gees is God

Die Gees wat God ken, is God. Hy is nie ‘n mag of krag nie – Hy is God. Luister na Paulus se argument: Watter mense ken die verborge dinge van ‘n mens behalwe die gees (kleinletter) van die mens wat in hom is? So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God (2:11). Paulus sê nie dat die Gees deel van God is nie. Die Gees van God weet alles, want Hy is God.

 

  1. Vir die mens om God te ken, moet die Gees dit bekend maak

So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God (2:11). Wat beteken dit? As ons enige geestelike kennis van God het, is dit omdat die Gees dit bekend gemaak het. Ons kan baie dinge van God weet, maar ons kan nie God ken nie. Slegs deur die Gees kan jy God waarlik ken. Ons ken God deur sy selfopenbaring en deur die werk van die Gees. Om God te ken, moet die Gees ons oë oopmaak.

 

  1. Deur die Gees verstaan ons genade

So weet ons wat God ons uit genade geskenk het (2:12). Paulus het kategories die mens se vermoë om God se gedagtes te verstaan, ontken. Sonder die Heilige Gees kan die mens nie geestelike werklikhede raaksien nie. Sonder die Heilige Gees het die mens geen verdediging teen die gees van die wêreld nie. Paulus sê ons het die Gees ontvang sodat ons kan verstaan. Wat kan ons verstaan? Dit wat God ons uit genade geskenk het. In ons wêreld wat so vinnig beweeg, vergeet ons die evangelie van genade. Ware lewe kom deur aan God se genade vas te klou. Dit is die Gees wat vir ons hierdie verstaan van God se genade gee.

 

  1. Die Gees rus boodskappers van die evangelie toe en stuur hulle

Dit verkondig ons ook, nie met geleerde woorde wat die menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer (2:13). Ons praat van die evangelie van genade, nie uit wysheid as gevolg van die rede van die mens nie, maar deur die wysheid wat die Gees gee. In elke gehoor is daar twee soorte mense: diegene sonder die Gees wat nie die dinge aangaande God kan aanvaar nie en diegene wat deur die Gees in die waarheid loop.

 

  1. Die Gees verberg Hom vir die trots van die mens

Die persoon sonder die Gees aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word (2:14). Sonder die Gees verwerp die mens die boodskap van genade. Net die Gees kan blinde oë oopmaak.

 

  1. Die Gees openbaar God se genade aan diegene wat Hy gekies het

Die mens sonder die Gees verstaan nie; die mens wat die Gees van God het, kan die waarde van alle dinge beoordeel (2:15). Paulus haal Jesaja 40:13 aan: Wie ken die gedagtes van die Here? Wie sal Hom raad gee?

 

Die beteken nie dat ons nou alles weet wat God weet nie of dat Christene altyd reg is nie. Christene het wel die geestelike persepsie om die God van die evangelie te verstaan en lief te hê. Dit kom deur die Heilige Gees. Ons het die waarheid dringend nodig. Mag God aan ons die Gees gee in ons plaaslike gemeentes.