Die Heilige Gees (1)

 

The battle for the Christian life starts with the battle for the Christian mind. —Steven Lawson

 

Die Heilige Gees (1)

David Schrock het ‘n interessante artikel oor die Heilige Gees geskryf. Ek gaan twee blogs daaraan bestee.

In Openbaring praat Johannes van  die sewe Geeste voor sy (God se) troon (1:4, 3:1, 4:5). Hierdie is ‘n verwysing na die Heilige Gees. Die gebruik van die getal sewe wys dat dit die volmaakte en volkome Gees van God is. Dit verwys nie na sewe geeste wat God verteenwoordig nie. Die getal sewe verwys, soos elders in Openbaring, na die volheid van die Gees in God se troonkamer en wat in die gemeentes woon. Ongelooflik: dieselfde Gees wat  in God se troonkamer is, is ook na die plaaslike gemeentes gestuur.

 

Hierdie sewevoudige Gees mag ook na Jesaja 11 verwys: ‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal op hom rus: Die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here. Die takkie sal vreugde vind in die diens van die Here. Hy sal nie regspreek volgens uiterlike skyn nie en nie oordeel volgens hoorsê nie. Hy sal die armes billik verhoor en die ootmoediges in die land regverdig oordeel. Hy sal die goddeloses in die land hard oordeel, met sy uitsprake sal hy hulle om die lewe bring. Hy sal regverdig en betroubaar regeer (11:1 – 5)

 

In vers 2 kry ons die sewe beskrywings van die Gees. Die Gees is:

  • Van die Here;
  • Die Gees gee wysheid;
  • Die Gees gee insig;
  • Die Gees gee raad;
  • Die Gees gee sterkte;
  • Die Gees verleen kennis; en
  • Die Gees gee eerbied vir die Here.

Hierdie sewevoudige beskrywing lokaliseer die werk van die Gees in die ruimte van wysheid en kennis. Die Here en sterkte word genoem, maar die primêre klem val op die kognitiewe. Ons sien die werk van die Gees nie primêr in sigbare optredes van bonatuurlike krag nie, maar die Gees gee vir ons ‘n geestelike lewe en maak ons denke ontvanklik vir God se verlossingswerk. Die Gees werk primêr deur vir ons geestelike insig te gee.

 

In die volgende blog gaan ons na sewe waarhede aangaande die Heilige Gees in 1 Korintiërs 2 kyk.

 

 




Die fundamentele verskil tussen modern en postmodern

 

The tongue exists to reveal our hearts – Johannes Calvyn

 

Die fundamentele verskil tussen modern en postmodern

Modernisme sluit ‘n soeke na die absolute, ontwyfelbare en rasionele sekerheid in. Hierdie sekereheid berus net op logika en bewyse. Baie voorstanders van modernisme erken dat dit dalk onmoontlik mag wees, maar dit bly steeds vir hulle ‘n ideaal om na te streef. Hierdie sekerheid gaan oor meer as net definisies. Baie moderniste het geglo dat hierdie sekerheid moontlik was – dit hang net van die wetenskap af. In die harde wetenskappe, veral fisiese wetenskappe soos wiskunde, lê ons sekerheid.

 

Die postmodernisme verwerp sekerheid. Postmoderne denke word gedefinieer deur die geloof (nie sekerheid nie) dat alle aansprake op waarheid deur dit wat ons glo, geïnfekteer is. Daar is nie so iets soos “’n siening van nêrens” nie. Selfs bewyse en logika is afhanklik van waardes – dit vloei voort uit ‘n sekere perspektief. Die onderskeidende kenmerk van postmoderne denke is dat alle absolute aansprake op die waarheid met suspisie bejeën moet word. Aansprake op sekerheid moet onderdruk word. Wat beteken dit? Mense kan nie veroordeel word om anders te glo as die heersende paradigma nie.

 

Modernisme het die sogenaamde “harde” wetenskappe verhef tot ‘n spesiale status – hulle besit die kennis. Daarom moet alles op die wetenskap berus.

Die postmodernisme bevraagteken alle aansprake op sekerheid – aansprake wat ander negatief mag beïnvloed. Die postmodernisme glo dat alle “kennis” slegs “geregverdigde geloof” is. Dit wat ek glo is belangrik. [Geloof hier word nie in die teologiese sin gebruik nie.] Daar is geen absolute waarheid nie, maar waarheid is slegs my perspektief op ‘n saak.

 




Psalm 15 (1)

 

It is better, with closed eyes, to follow God as our guide, than, by relying on our own prudence, to wander. – Johannes Calvyn

 

Psalm 15 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik van ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema: Kwalifikasies om naby aan God te bly

As ons graag naby aan God wil lewe, moet ons kyk na wat Psalm 15 oor hierdie voorreg sê. Aanvanklik word die psalm aan die Here in ‘n vorm van ‘n retoriese vraag gerig. Die psalmis weet wat die antwoord is. Hy antwoord dit vir die mense wat graag in God se tent op sy heilige berg wil bly. Dit gebruik die vraag-en-antwoord metode – ‘n vraag in vers 1 met ‘n antwoord in verse 2 – 5.

 

15:1a: Opskrif

’n Psalm. Van Dawid.

As ons hierdie psalm in verband met Dawid self lees, en gegewe die krisis van integriteit, trou en die waarheid waartoe hy in die middel van sy lewe kom, is dit ‘n psalm vol ironie. Is dit die standaard waarmee hy op hierdie punt geoordeel word of is dit die uitdaging wat hy nou in die gesig staar?

 

15:1: Ondersoekende vrae.

Here, wie mag ‘n gas wees in u tent? Wie mag tuisgaan op u heilige berg?

Die heilige berg is die heuwel waarop die tempel staan. Tent verwys gewoonlik na die draagbare heiligdom van die Israeliete in die woestyn. Tent verwys ook dikwels na God se aardse woning – ook die tempel. Dit mag hier ook verwys na bly in God se teenwoordigheid in die figuurlike sin.

 

Hoekom sal iemand daar wil wees of tuisgaan? Tydens feestye het besoekers letterlik naby die tempel gebly. Tent mag moontlik na sekuriteit en voorsiening verwys. Die Ou Testament praat dikwels van God se woonplek as hulle na die tent van ontmoeting of die tempel verwys. Die basiese vraag is: Wie kan in God se teenwoordigheid bly?

 

Vir die mense van die Ou Testament was God op ‘n besondere manier in die tempel teenwoordig. Hierdie psalm begin met die vraag: Wie mag ‘n gas wees in u tent? Ons kan die vraag ook anders stel: Watter mense kan die voorreg geniet om in God se teenwoordigheid te verskyn?

 

Die gewone man het eintlik nie die tempel binnegegaan nie. Wie die tempel wou besoek, moes aan sekere voorwaardes voldoen. Hierdie vereistes het ook betrekking gehad op die mens se gesindheid.

  • Die Allerheiligste – hier het die ark gestaan. Die hoëpriester alleen kon hier ingaan en dan ook net een maal per jaar op die groot versoendag.
  • Die heilige – slegs diensdoenende priesters het hier gekom. Hier was die reukoffer-altaar, die tien tafels met toonbrode, en die tien goue kandelare.
  • Die binneste of boonste voorhof – rondom die allerheiligste en heilige. Hier het die brandofferaltaar, die koperbak en die afspoelwaentjies gestaan. Ook hier kon net priesters kom.
  • Die buitenste of groot voorhof – rondom die binneste voorhof. Hier het die volk gestaan; hier het die bidder sy hande op die kop van die offerdier gesit, dit geslag en die offerdele aan die priester oorhandig.

 

Die Sionsberg waarop die tempel staan, is heilige terrein, want hier is die aardse woonplek van God. Hier is ‘n mens in die teenwoordigheid van God; hier sal die Here met die mens praat. Die pelgrim kom hierheen, nie net om te offer nie, maar ook om te ontvang. As gelowige neem hy saam met ander gelowiges deel aan die tempeldiens waarmee God vereer word. Hier ondervind hy ook die goedheid van God. Dit is ‘n saak van heilige erns en vra opregtheid van die mens – al is hy ‘n sondaar.

 

In die volgende blog gaan ons kyk na die verrassende antwoorde wat die psalmis op sy vrae kry.

 

 




Geluk is om te dien

 

Unity which is obtained by the sacrifice of truth is worth nothing. It is not the unity which pleases God. —J.C. Ryle

 

Geluk is om te dien

Neurowetenskaplikes sê dat as jy werklik gelukkig wil wees, moet jy vergeet van jou eie begeertes en ander dien. Glo ons dit? Tree ons dienooreenkomstig op? In ‘n onlangse studie gepubliseer in die tydskrif Emotion is 472 deelnemers gewerf. Hulle is vir ses weke lank opgevolg. Anders as die groep wat op hulleself gefokus het, het die groep wat tyd en energie aan ander spandeer het, meer positiewe emosies ondervind. Hierdie gevoel het vir ten minste twee weke na die proefneming voltooi is, voortgeduur. As mense goeie dinge vir ander doen, voel hulle meer tevrede en ondervind hulle meer vreugde en liefde. Dit lei tot verbeterde welstand.

 

Hierdie studie het veral op drie optredes gefokus:

  • Doen goeie dinge aan ander – besoek ‘n siek familielid is ‘n voorbeeld.
  • Doen goeie dinge om die wêreld te verbeter – soos om rommel op te tel of klere vir ‘n welsynsorganisasie te skenk.
  • Doen drie goeie dinge vir jouself – soos om tyd aan jou stokperdjie te spandeer.

 

Deelnemeers moes ten minste drie dinge in elke kategorie elke week doen. Die verskil was betekenisvol. As jy werklik gelukkig wil wees moet jy ander dien.