Jesus Christus verskil van ander godsdiensleiers

 

A Jesus who never wept could never wipe away my tears. —C.H. Spurgeon

 

Jesus Christus verskil van ander godsdiensleiers

Billy Graham sê dat daar oor die eeue baie ander godsdiensleiers was, maar Jesus verskil van hulle, want Hy is volledig God en volledig mens en Hy kan sondaars verlos. Hy sê dat mense nuuskierig is oor ander godsdienste, maar hy glo dit is as gevolg van mense se honger na God. God sal daardie honger breek as jy Hom opreg soek.

 

Graham sê dat daar veral twee redes is waarom Jesus van ander godsdiensleiers verskil.

 

  • Hy was volledig God en volledig mens. Dink daaraan: Die God wat die heelal gemaak het, het na die aarde gekom om volledig mens te word.
  • Nadat Hy die reiging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel (Hebreërs 1:3). Self is ons nie in staat om van ons sondes ontslae te raak nie. Jesus kan dit doen, want Hy was die finale offer vir vergifnis vir ons sonde.

 

Om die uniekheid van Jesus te beklemtoon, sê Graham dat Hy die enigste mens was wat dood was en weer lewend geword het. Hy is die enigste godsdiensleier wat die dood oorwin het. Christene het geen grafte om te besoek nie, geen stowwerige oorblyfsels om te aanbid nie. Daar is net een Man wat die dood oorwin het – Jesus Christus en Hy lewe vir altyd.

 




Twee gewaagde eise wat ons aan God stel

 

Christian character is not created in the moment of adversity. Christian character is revealed in the moment of adversity. —Daniel Akin

 

Twee gewaagde eise wat ons aan God stel

In Eksodus 33:12 – 23 nader Moses vir God met twee van die gewaagste eise: Maak my u wil bekend en Laat ek tog net u magtige verskyning sien. Om sy mense doeltreffend te lei, moes Moses die wil van God ken. Hy wil weet wat die doel agter God se planne was. Daarom wou hy voortdurend met sy Maker kommunikeer. Dit was noodsaaklik vir sy leierskap as ‘n man van God.

 

Enige mens wat God se roeping wil ken, moet soos Moses bid. Ons moet bid dat ons Hom intiem sal ken. Dit wat ons doen, sal net suksesvol wees as God daarby betrokke is. Moses wou ook God se heerlikheid, sy verskyning, sien. Genadiglik het God nie sy volle heerlikheid aan Moses gewys nie. Vir  My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie (33:20). God plaas Moses in ‘n rotsskeur en maak hom met sy hande toe totdat Hy verby is. Moses sal God net van agter sien. Moses kry so ‘n verbygaande blik op God van agter.

 

Eendag sal ons sien wat Moses graag wou gesien het: die heerlikheid van God. Ons sal Jesus van aangesig sien en met vreugde gevul wees. In die hart van elke mens is daar ‘n verlange dat hierdie belofte vervul moet word. Ons weet daar is meer vir ons om te sien.

 

 

 




Stuur my!

 

It is on prayer that the promises wait for their fulfillment, the kingdom for its coming, the glory of God for its full revelation – Andrew Murray

 

Stuur my!

Graig Groeschel sê dat dit een van die gevaarlikste gebede is wat ons kan bid. Baie Christene bid oor dit wat God vir hulle kan doen. Is dit nie tyd om te vra wat ons vir God kan doen nie? Soos: Gee my oë om die behoeftes van ander raak te sien; Gee my ‘n hart wat betrokke raak daar waar U aan die werk is; God my lewe behoort aan U, wat U ook al wil en waar U my ook al lei, hier is ek.

 

Om te bid dat God jou moet stuur, mag beteken dat Hy jou na ‘n ander plek toe stuur. Hy mag jou in ‘n rigting lei wat jou hele lewe verander. Kom ons kyk na drie mense in die Bybel wat verskillend gereageer het op God se oproep om Hom te volg.

  • Jona 1:1 – 3: Jona stel dit duidelik dat hy nie op God se roeping gaan reageer nie.
  • Eksodus 3:4: Moses sê vir God dat dit beter sou wees as Hy dalk iemand anders sou stuur.
  • Jesaja 6:8: Hier is ek! Stuur my!

 

Streef ons om soos Jesaja te wees in ons daaglikse lewens? Om sonder huiwering ons beskikbaar te stel? Hoe moet ons ons volledig aan Hom gee? Om dit te kan doen, moet ons waarlik God se teenwoordigheid ondervind, moet ons bewus wees van ons eie sondigheid en moet ons God se genade verstaan. Hierdie is nie ‘n eenmalige besluit nie – dit is ‘n besluit wat ons daagliks moet neem.

 




Wat sou gebeur het as jy werklik geglo het dat God by jou is?

 

The price of diluting God’s wrath is diminishing God’s holiness. —D.A. Carson

 

Wat sou gebeur het as jy werklik geglo het dat God by jou is?

Hoe sou jou uitkyk op die lewe verander het as jy waarlik geglo het God is by jou in elke situasie. Dit is die vraag wat Josef se lewe aan elkeen van ons stel. Hoe sou ons verander het as ons geweet het dat God ‘n plan met ons het – selfs midde in ons pyn.

 

Josef se lewe kan as een van die pynlikste en onregverdigste lewens in die Ou Testament beskou word. Sy eie familie verkoop hom as ‘n slaaf aan vreemdelinge; hy sit jare in die tronk vir ‘n misdaad wat hy nie gepleeg het nie. Tog weet hy dat God in beheer van sy hele lewe is. Aan die einde van sy lewe kon hy vir sy broers sê: Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen (Genesis 50:20).

 

God wou goed doen met die slawerny, die vals beskuldiging, die jare in die tronk? Josef glo dit, want hy sien die hand van God in alles. Hoekom? Want hy weet dat God met hom in die tronk net soos in die paleis is. Sou jy dit glo? Josef verontagsaam nie die pyn in sy lewe nie – soos ons dikwels probeer doen nie. Ons moet aanvaar dat mense teen ons sondig, maar dit is nie waar die bespreking eindig nie. God gebruik daardie boosheid vir sy plan en vir ons welstand.

 

Ons sien dikwels nie God se hele plan vir ons nie. Josef sien dit eers aan die einde, maar tot dan hou hy vas aan die belofte van God se teenwoordigheid. Dit was vir hom genoeg. Corrie Ten Boom was in ‘n Duitse konsentrasiekamp. Toestande was haglik – almal was met vlooie besmet. Hulle het Bybels gehad. Die wagte het nooit hulle barakke deursoek nie. Hoekom nie? Hulle was bang hulle word ook met vlooie besmet. Later sou sy sê dat selfs in die vlooie God aan die werk was.

 

Kan ons God dank vir die vlooie in ons lewens? Al sien ons nie hoekom Hy hulle daar gesit het nie? Miskien wil Hy hê dat jy iewers moet groei; miskien wil Hy hê dat jy mense in soortgelyke omstandighede moet bedien. Luister hoe stel Paulus dit: Ons weet dat God alles ten geode laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28). Wat is God se doel? Dit kry ons in die volgende vers: Dié wat Hy lank tevore gekies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun. God se doel in ons lewens is nie om elke slegte gebeurtenis vir iets beter te verruil nie. Dit is dat ons gelykvormig aan Jesus Christus moet wees.

 

In Josef se lewe het God nie een gebeurtenis verspeel nie. Hy was by Josef in die tronk. Hy beheer alles in Josef se lewe en Hy doen dit waar Hy langs hom is. As ons in Christus is, kan ons dieselfde vertroue hê. God is met jou selfs onder die moeilikste omstandighede. Hy is besig om iets wonderlik te skep al sien jy dit nog nie raak nie.