Skyn teenwoordigheid teenoor ware teenwoordigheid

 

“Nothing makes us so lonely as our secrets.” – Paul Tournier

 

Skyn teenwoordigheid teenoor ware teenwoordigheid

Hierdie is ‘n ernstige saak in die gemeente. Dit is veral die mense op die rante wat

eerste ons onttrekking aanvoel – onttrekking ten gunste van die geselskap van invloedryke mense. Teenwoordigheid beskryf ‘n betrokkenheid waar die teenwoordigheid van twee of meer mense ‘n vlak van hart-tot-hart verbintenis bereik wat nie sommer vanself gebeur nie. Dit is ‘n verbintenis diep genoeg om te besef dat God in ons midde is en aan ons gesprek deelneem.

 

Die gevolg van ware teenwoordigheid is dat mense voel dat hulle waardeer word; hulle voel daar word vir hulle omgegee en hulle word versorg; dat mense sal agterkom as hulle nie teenwoordig is nie; dat hulle beïnvloed word om geestelik te groei. Dit is duidelik dat teenwoordigheid baie verskillende dinge beteken. Onderliggend is die gevoel dat die Heilige Gees teenwoordig is in die gesprek.

 

Wat is die kern van teenwoordigheid? ‘n Moeder wat haar baba teen haar bors vashou – die kind voel veilig, gevoed; die kind weet sy moeder het hom lief. Die moeder het dit laat gebeur.

Die herder wat sy skape oppas. Omdat hy in hulle midde is, is die skape kalm – hulle voel hulle word beskerm en teer behandel as hulle siek is. Dit gebeur as gevolg van die herder.

 

Jesus het die belang van teenwoordigheid besef.

Vir Saggeus, die korrupte belastinggaarder, sê Hy dat Hy daardie dag by Saggeus kom eet.  Implikasie: ek en jy moet bymekaar wees en praat oor die rigting van jou lewe.

Jesus ontmoet die Samaritaanse vrou by die put. Hy ignoreer die kulturele reëls en verskuif die gesprek van putte en drinkwater na ‘n gesprek wat op haar geestelike lewe fokus. Met sy vrae en antwoorde is Hy teenwoordig sodat sy, en die mense van haar dorp, ‘n geestelike geboorte mag ondervind.

 

Jesus was teenwoordig by die siekes en diegene met gebreke en diegene met geestesversteurings. Hy was teenwoordig by die een misdadiger aan die kruis toe Hy aan hom belowe het dat hulle daardie dag saam in die paradys sal wees.

 

Wat beteken dit in die praktyk? Ons is sensitief vir mense. Ons lees hulle gesigsuitdrukkings, die boodskap in hulle oë, hulle stemtoon, wat gesê word en wat nie gesê word nie. Ons is geduldig. Ons glo ons rol is om te luister; om saam met ‘n ander persoon deur donker dae te loop Ons tree in vir ander mense. Ons dien hulle.

 




Stilte is goed vir jou brein

 

The more clearly we see sin’s horror, the more we shall treasure the cross. —D.A. Carson

 

Stilte is goed vir jou brein

Om ‘n plekkie van stilte te kry, is nie maklik in ‘n wêreld vol lawaai en afleidings nie. Die wetenskap bewys dat stilte jou minder gespanne, meer gefokus en meer kreatief kan maak. Die Wêreld Gesondheidsorganisasie het in 2011 lawaai as ‘n ”modern plague” beskryf. Hulle gevolgtrekking was dat omgewingsgeraas nadelige gevolge vir die gesondheid van die bevolking het.

 

Ons vul gedurig ons ore met musiek, TV, podcasts, ens. Hoeveel oomblike spandeer jy elke dag in totale stilte? Waarskynlik baie min. Soos ons omgewing harder word, soek meer mense stilte. Wetenskaplik is daar vier maniere waarop stilte goed is vir die brein.

 

  1. Stilte verlig spanning

Florence Nightingale, die Britse verpleegster van die 19de eeu, het gesê: “Unnecessary noise is the most cruel absence of care that can be inflicted on sick or well.” Geraasbesoedeling mag lei tot ‘n verhoogde bloeddruk en hartaanvalle. Natuurlik kan dit die gehoor belemmer. Stilte het die teenoorgestelde effek – dit verlig spanning in die brein en liggaam.

 

  1. Stilte vernuwe ons hulpbronne in die brein

Ons kry sensoriese insette van alle kante. As ons dan uit hierdie onderbrekings wegkom, kan die sentra in die brein verantwoordelik vir aandag hulleself weer herlaai. Die aanhoudende eise vir aandag plaas baie spanning op die prefrontale korteks van die brein. Hierdie gebeid is betrokke by besluitneming, probleemoplossing en hoë-orde denke. As hierdie hulpbronne uitgeput word, kan ons nie meer aandag gee nie – ons sukkel om te fokus, om met nuwe idees na vore te kom en om probleme op te los. Stilte lei tot herstel van hierdie gebied.

 

  1. In stilte kan ons in die brein se verstekmodus (default mode) tap

Hierdie modus word geaktiveer as ons mediteer, dagdroom, fantaseer oor die toekoms of net toelaat dat ons brein dwaal. Ons tap nou in ons innerlike gedagtes, emosies en idees. Om in hierdie modus te tap, help ons om sin uit ons ondervindings te maak, met ander deernis te bewys en meer kreatief te wees. Maar dan moet ons van die afleidings wegbreek. Herman Melville skryf: “All profound things and emotions of things are preceded and attended by silence.”

 

  1. Tydens stilte kan breinselle regenereer

Navorsing in varke toon dat twee uur stilte per dag lei tot die ontwikkeling van nuwe selle in die hippocampus – die deel van die brein geassosieer met leer, geheue en emosies. Alhoewel die studies nog net voorlopig is, mag stilte dalk voordelig wees vir toestande soos depressive en Alzheimer wat gepaard gaan met vermiderde regenerasie van selle in die hippocampus.

 

Die twee moeilikste dinge vir die modern mens is stilte en om te wag. Raak gereeld stil – dit is goed vir jou gesondheid.

 

 




Psalm 12 (3)

 

The gospel calls us to “man down” more so than to “man up.” There is no masculinity without a core of humility. —Scotty Smith

 

Psalm 12 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese implikasies

Hierdie psalm praat nie van ‘n regverdige nie, maar wel van getroue volgelinge, die betroubares, die magteloses en die behoeftiges. Die bidder vereenselwig hom met hierdie groepe. Met hierdie viertal benamings bedoel die bidder telkens maar dieselfde groep – dié wat in gehoorsaamheid en toewyding aan God lewe en op Hom vertrou. Dit is die regverdiges. Teenoor hulle staan diegene met ‘n negatiewe gesindheid teenoor God, sy Woord en sy volgelinge. Hulle word ook by ‘n verskeidenheid van name genoem en ook hulle vorm maar een groep – die vyande van die gelowiges, die goddeloses.

 

Die toestand in die gemeenskap bedroef die psalmis.  Daar is geen getroue volgeling … geen betroubare mens meer oor nie. Bedrog, leuens en vleitaal is orals. Mense sê dat hulle lippe hulle help; hulle spog dat hulle tot alles in staat is – ons buig vir niemand nie.  In ‘n gemeenskap wat hoofsaaklik ongeletterd was, was die ongeletterde armes veral kwesbaar vir vals uitsprake – in besigheid, in die hof, in arbeidsake en in persoonlike reputasie.

 

Maar die Here sien die gevolge vir die kwesbares en beloof om hulle te beskerm – sy woorde is soos silwer wat oor en oor in ‘n oond gesuiwer is. Die Here beskerm sy mense, alhoewel die goddeloses in die gemeenskap pronk en al heers gemeenheid nog tussen mense.

 

Die psalmis weet dat die Here ‘n belofte gemaak het en dat mense op sy beloftes kan vertrou. Die psalmis is ontsteld oot die situasie in die sameleweing, veral die bedrog en leuens. Dit vernietig die samelewing. Nog steeds word swakkes en behoeftiges uitgebuit – selfs ook in die geloofsgemeenskap. Kleinlikhede is aan die orde van die dag.

 

God gryp in om ‘n einde te maak aan goddeloosheid; Hy is betroubaar; sy Woord bring genesing vir ‘n siek samelewing. Dit is die boodskap van Psalm 12. Maar die psalm waarsku ook: God maak duidelik ‘n onderskeid tussen onbetroubare mense en sy kinders. Daarom vra Psalm 12: Op wie vertrou ek – op mense of op myself? Of vertrou ek op God en sy betroubare Woord? Die keuse is duidelik: tussen mensewoorde en God se Woord; tussen die leuen en die waarheid.

 

 




Hoekom konsentreer ons op dit wat minder belangrik is?

 

The most loving thing we can do for people is to introduce them to Christ. —Mack Stiles

 

Hoekom konsentreer ons op dit wat minder belangrik is?

Die Fariseërs het die klem van Bybelse geregtigheid verdraai om hulle eie gedragspatroon van selfregverdiging te pas. Daarom het Jesus dikwels die Fariseërs gekonfronteer. Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid (Matteus 23:23). Jesus het gereeld erken dat die Fariseërs sekere aspekte van die wet nagekom het: hulle het hulle tiendes betaal, hulle het die Skrif gereeld gelees. Hy sê vir hulle: Juis hierdie dinge moet ‘n mens doen (23:23).

 

Die probleem was dat hulle die klem op verkeerde dinge geplaas het. Hulle gee nougeset hulle tiendes maar gebruik dit om hulle weiering om die belangriker sake te doen, te regverdig. Ons doen dit steeds. Hoekom doen ons dit? As Christene wil ons erken word vir ons groei in heiligmaking en vir ons geregtigheid.

 

Wat is makliker om te doen: om barmhartigheid te bewys of om tiendes te gee? Natuurlik vereis die gee van tiendes ‘n finansiële opoffering. Dit is egter makliker om my geld in die kollektebordjie te plaas as om my lewe te wy aan die najaag van geregtigheid en barmhartigheid. Ons is geneig om die goedkoopste gawes vir God te gee. Ons wil ook duidelike meetinstrumente vir ons groei in geestelike volwassenheid hê. Hoe meet ons groei in geduld of deernis? Dit is baie moeiliker om die gesindheid van ons harte te meet as hoeveel geld ek vir die kerk gee.

 

Ons heg veral waarde aan daardie deugde  waarin ons ‘n mate van sukses behaal het. Ek glo graag dat my morele sterkpunte die belangrikste punte van belang is – my morele swakpunte is nie so belangrik nie. Dit is vir ons baie maklik om die dinge wat God beklemtoon te verdraai.