Egte verhoudings

 

That is what marriage really means: helping one another to reach the full status of being persons, responsible and autonomous beings who do not run away from life. – Paul Tournier

 

Egte verhoudings

Sommige mense bou mure om hulle om te verhoed dat ander mense te na aan hulle kom. Dit is nie hoe God wil hê dat ons moet lewe nie. God het ons vir Hom, maar ook vir mekaar gemaak. Na alles wat God gemaak het, sê Hy dat dit goed is, behalwe vir een. Nadat Hy vir Adam gemaak het sê Hy dat dit nie goed is vir hom om alleen te wees nie. Daarom maak Hy vir Eva as sy helper en metgesel. Toe sê Hy dat sy hele skepping goed is.

 

Ons kultuur maak dit maklik om mense op ‘n afstand te hou. In plaas van gesprekke verkies ons vinnige SMS’e en e-posse. Ons maak baie vriende op Facebook. Ware intieme vriendskap vereis meer as dit. Dit vereis ‘n dieper kommunkasie waarin ons die ander persoon se stem hoor en sy gesigsuitdrukkings sien. Ons weet nie net van mekaar nie, maar ken mekaar se harte. Christene het die potensiaal om egte vriendskappe te ontwikkel.

 

In sy finale opdragte voor sy kruisiging gee Jesus ‘n patroon vir vriendskappe (Johannes 15:12 – 15). Die fondament vir hierdie soort verhoudings kry ons in vers 12: Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. Om ander so lief te hê, moet ons aan vier vereistes voldoen.

 

  1. Ons het sensitiwiteit nodig

In plaas daarvan dat ons met onsself en ons belangstellings en verantwoordelikhede besig bly, moet ons leer om bewus te wees van ander se behoeftes, hartseer, begeertes en laste. Almal van ons wil graag hoor dat iemand vir ons sal sorg. Die probleem is dat ons deur ons besige skedules beheer word.

 

  1. Ons moet ons onderwerp

Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig (Efesiërs 5:21). Ware vriendskap is onmoontlik as die een persoon die ander oorheers. Ons moet ons vriende se sienings en voorkeure in ag neem. In plaas daarvan om die ander persoon te probeer verander of om die verhouding te beheer, moet ons leer om mekaar lief te hê en te aanvaar. God het elkeen van ons uniek gemaak.

 

  1. Ware vriendskap vereis opoffering

Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê (Johannes 15:13). Ons mag nie ons lewens fisies vir ons vriende aflê nie, maar daar kom tye wanneer ons ons eie begeertes en planne moet opoffer om ‘n vriend se las te help dra. Vriendskap is nie altyd gemaklik nie. Ware vriende is bereid om te erken wanneer hulle verkeerd is en om vir vergifnis te vra.

 

  1. Vriende deel

Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het (Johannes 15:15). Jesus het vir drie jaar met sy dissipels saamgeleef. Gedurende hierdie tyd het Hy sy lewe, sy hart en sy Vader se woord met hulle gedeel. Dit is die oopheid wat in intieme verhoudings verwag word. Ons waag dit om kwesbaar te wees as ons ons aan ander openbaar.

 

Om hindernisse te bou, hou mense uit, maar dit verhoed ook die seëning wat die gevolg van Godgegewe vriendskappe is. In plaas van hindernisse moet ons geestelike vriendskappe bou – vriendskappe wat God se liefde vertoon en ons en ons vriende na sy beeld vorm.

 

 

 




Ons en die kultuur om ons

 

It is quite clear that between love and understanding there is a very close link. He who loves understands and he who understands loves. One who feels understood feels loved and one who loves feels sure of being understood. – Paul Tournier

 

Ons en die kultuur om ons

Tog het niemand openlik oor Hom gepraat nie, omdat hulle bang was vir die Jode (Johannes 7:13)

Dit is nie altyd maklik om openlik die evangelie te verkondig nie. Ons lees in Handelinge 18:9: Een nag het die Here in ‘n gesig vir Paulus gesê: “Moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie stilbly nie.” In ons huidige kultuur is dit nog meer intimiderend om op te staan en die Bybelse waarhede te verkondig – dit word as polities verkeerd gesien. Om dit te doen, moet gelowiges ‘n deeglike verstaan van God se woord hê.

 

Almal kyk na die wêreld deur ‘n besondere lens. Ons verwys na hierdie lens as iemand se wêreldsiening. In ons huidige kultuur het meeste mense ‘n nie-Christelike wêreldsiening. Ons moet mense help om die wêreld deur ‘n Bybelse lens en wêreldsiening te sien.

 

Rick Warren identifiseer enkele wêreldsienings wat ons vandag algemeen teenkom.

  1. Materialisme

Volgens hierdie siening is al wat saakmaak die materiële wêreld. Wat belangrik is, is geld en die bymekaarmaak van besittings. Die ekonomie is koning: dit bepaal hoe ons optree en dink. Jesus waarsku hierteen: Want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie (Lukas 12:15).

 

  1. Genotsug

Hierdie is die filosofie dat alles wat goed voel, goed moet wees. Hier is plesier ons god. Die doel van die lewe is om gelukkig en gemaklik te wees. Geluk kan nooit die primêre doel in jou lewe wees nie. Wie plesier voorop stel, word arm (Spreuke 21:17)

 

  1. Individualisme

“Ek is eerste.” Ons doen wat ons wil, wanneer ons wil. Niemand kan vir my voorskryf wat om te doen nie. God het ons nie gemaak om vir onsself te leef nie. Ons is gemaak vir iets groter as onsself. Individualisme vernietig huwelike en verhoudings. Julle moenie net elkeen aan julle eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was (Filippense 2:4 – 5).

 

  1. Kollektivisme

[‘n Leer wat die staat verantwoordelik hou vir die sosiale en ekonomiese welsyn van sy burgers – HAT] Die regering is god en moet alles beheer. Daar is niks verkeerd met regering nie; dit is ‘n goeie ding wat deur God ingestel is. Maar die regering is nie God nie. Die regering is nie jou verlosser nie. Die Bybel sê dat die regering drie doelwitte het: om vryheid te beskerm, om geregtigheid te verseker en om die vrede te behou. Jesus verduidelik die rol van die regering in Matteus 22:21: Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort. Ek moet aan die regering respek bewys, my belasting betaal en die wette  van die land gehoorsaam. Ons het nie meer ‘n keiser nie. Die kiesers is die keiser in ‘n demokrasie. Die mag berus by diegene wat mense verkies tot sekere poste. Ons verkondig die evangelie aan mense met dubbele burgerskap – hulle is burgers van Suid-Afrika en van die hemel. My grootste lojaliteit is aan God. ‘n Bybelse wêreldsiening verwerp enige ooruiging dat God en land ewe belangrik is.

 

Ons kultuur is besig om te verkrummel – krisisse in ons skole, korrupsie, verbrokkelde families, ens. Wat is die Bybelse wêreldsiening? Ons kry dit in die Bybel. Daar is baie dinge in die Bybel wat niemand ontstel nie. Die Bybel sê dat ons moet omsien na die armes, die siekes moet versorg, die waarheid moet vertel, ander respekteer, almal liefhê, die omgewing versorg, ens. Hiermee het niemand probleme nie. Daar is drie aspekte van die Christelike wêreldsiening wat die wêreld haat.

  1. Die lewe is heilig

Dit sê vir ons dat God ‘n doel met elke ongebore baba het. God het ons lewens nog voor ons geboorte beplan. Ons is verantwoordelik om te praat vir diegene wat nie vir hulleself kan praat nie – ook die ongebore babas. Maar ook in Suid-Afrika is aborsies wettig en ons hoor selde dat gelowiges daarteen beswaar maak.

 

  1. Die heiligheid van seks

Die heiligheid van seks leer vir ons dat seks net vir die huwelik bedoel is. Seks was God se idee; dit bind man en vrou aanmekaar. Seks is nie sleg of vuil nie. Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom (Hebreërs 13:4). God se opdragte het nie verander nie. Voor-huwelikse seks is vir God onaanvaarbaar. Owerspel is vir God onaanvaarbaar. Jy kan vergifnis in ‘n verhouding met Jeus Christus kry. In ‘n liefdevolle geloofsgemeenskap wat mense aanvaar, kan jy genesing kry.

 

  1. Die heiligheid van die huwelik

God se oorspronklike ontwerp was die vereniging van een man en een vrou. Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? Daarby het Hy gesê:Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees. Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie (Matteus 19:4 – 6).

 

Ons moet God se waarhede verkondig al is dit ongewild. Ons moet God se goedkeuring eerder as dié van mense soek. Die beloning duur vir ewig. Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in (Hebreërs 10:35).

 




Genesis 3 en die kruis

 

God has always saved the church, not by theological pacifists but by sturdy contenders for the truth.— Machen

 

Genesis 3 en die kruis

In ‘n vorige blog het ons na die vernietigende gevolge van die sondeval gekyk. Genesis 3 op sy eie is ‘n treurige storie.  As gevolg van Jesus moet alle gedeeltes in die Bybel in die lig van die kruis gelees word. Dit geld veral vir Genesis 3.

 

Die kruis gaan oor verlossing en versoening. Versoening beteken die herstel van stukkende verhoudings. Dit geld nie net vir ons verhouding met God nie, maar ook ons verhoudings met die hele skepping. Die kruis keer dus die impak van die sondeval om en open die moontlikheid om ‘n lewe te leef in ooreenstemming met die oorspronklike bedoeling van die skepping. Ons leef egter in ‘n tyd waar die volle herstal van alle dinge nog wag vir Christus se wederkoms. God sal egter sy oorspronklike doel bereik.

 

Kom ons kyk weer na die agt negatiewe gevolge van die sondeval en wat die kruis beteken in elke gebied.

  • Van ongemaklik met ons liggame na leef in vrede met ons liggame. Dit beteken ons verander die manier waarmee ons na onsself kyk. Oë wat versoen is, sien oral skoonheid. Vra God dat jy die skoonheid wat reeds aan jou gegee is, sal raaksien. Sien dit ook in elke ander persoon raak.
  • Van wegkruip vir God tot die omhelsing van sy teenwoordigheid. In die nuwe aarde wat kom, is ‘n groot bron van vreugde juis dat God by ons is. As Christus regeer, verdwyn die skeiding tussen hemel en aarde en God se teenwoordigheid is meer ooglopend.
  • Van blameer na belydenis en aanvaarding van verantwoordelikheid. Adam en Eva blameer ander, want hulle het geen konsep van vergifnis gehad nie. In die herstelde wêreld sal ons verantwoordelikheid aanvaar. Hoekom? Ons het ‘n beeld van God wat ons roep vir verantwoording sodat vergifnis en versoening moontlik is.
  • Van slange na ‘n wêreld met ‘n beter naam. Voor die sondeval was Adam nie bang vir slange nie – hy het immers hulle name vir hulle gegee. Met versoening kom ‘n opdrag om ‘n beter wêreld te bou, al verlang ons na ‘n nuwe hemel en aarde. Ons is immers op pad na daardie nuwe aarde.
  • Van geboortepyn na die kerk as familie. Diegene wat in Christus versoen is, vorm nou ‘n nuwe familie – die kerk. Die kerk moet ‘n model wees van hoe ‘n familie werk. Die kerk se inklusiwiteit, aanvaarding van diversiteit en viering van elke lidmaat se gawes, sowel as sy staan langs mense in vreugde en hartseer, is ‘n teken van hoe families veronderstel is om te werk.
  • Van dominerende manlik-vroulike verhoudings tot langs mekaar. Ons vergeet dikwels dat Adam wat oor Eva heers ‘n gevolg van die sondeval was. Ons moet weer aanspraak maak op die oorspronklike visie van sy-aan-sy verhoudings. Elke persoon moet weer volledig word waarvoor hy/sy geroep is.
  • Van werk wat dorings produseer tot werk as roeping. Oorspronklik was werk ‘n vreugde. Na die sondeval word dit ‘n stryd teen dorings en dissels. Ons moet die oorspronklike visie van werk as ‘n roeping herwin. Ons moet ook verseker dat dit vir alle mense moontlik is.
  • Van dood as die vyand na dood as die ingang na die ewigheid. As die gevolg van sonde die dood is, is God se gawe deur die kruis die toegang tot ‘n ewige lewe. Die bewustheid van hierdie sekerheid moet elke gebeurtenis omkeer – dit gee aan ons krag en hoop om in die lig van die ewigheid te leef.

 

Die kruis verander alles. Dit herstel wat verlore was; dit maak alles beter as wat dit vantevore was. Aan die kruis sien ons hoe diep God se liefde vir ons is – dieper as wat ons ooit verwag het.

 

 

 




Psalm 12 (1)

 

Prayer and sinning will never live together in the same heart. Prayer will consume sin, or sin will choke prayer. —J.C. Ryle

 

Psalm 12 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Psalm 12 is ‘n gebed om hulp. Hier ontmoet ons ‘n mens wat ontnugter is deur die valsheid van mensewoorde. In ons moderne taal sou ons sê hy ly aan depressie. Hy herinner ons aan Elia: Ek het my hart en siel gewy aan U saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring (1 Konings 19:10.). Maar hy herinner ons ook aan onsself. Hy besef God en sy beloftes is die enigste betroubare bron waarop ons ons hoop kan bou.

 

Opskrif

Vir die musiekleier. Op die Sjeminiet. ‘n Psalm. Van Dawid

Sjeminiet beteken agste en is waarskynlik ‘n musiekterm. Die NAV en OAV vertaal dit met basstem.

 

12:2 – 4: Die onbetroubaarheid van mensewoorde.

2Verlos tog, Here, want daar is nie meer getroue volgelinge nie; die betroubares onder die mense het verdwyn.

3Die een mens belieg die ander; met vleiende lippe praat hulle uit twee monde.

4Mag die Here al die vleiende lippe uitroei, die tonge wat grootpraat.

 

Die gedig begin met ‘n gebed om hulp: Verlos tog, Here. Soos Elia voel dit vir hom asof hy die enigste een is wat nog getrou bly aan die diens van God. Daar is twee redes vir hierdie hulpgeroep:

  • Daar is nie meer getroue volgelinge nie – mense wat vashou aan hulle besondere verbintenis met God nie; ‘n lid van die ware verbondsvolk; en
  • Die betroubare onder die mense het verdwyn. Bedrog en misleiding deur vleitaal – dus leuens, grootpraat en oormoed – het die algemene gebruik onder mense geword. Hulle maak staat op hulle eie woorde en nie op die woorde van die Here nie.

Die samelewing is siek. Mense is nie meer lojaal aan God of mekaar nie. Die mense bedrieg en mislei mekaar. Mense en hulle woorde is onbetroubaar – sonder inhoud. Daarom smeek die gelowige: 4Mag die Here al die vleiende lippe uitroei, die tonge wat grootpraat. In ‘n siek samelewing praat mense baie, maar hulle sê niks nie. Hulle mislei mekaar omdat hulle geen positiewe verhouding met God het nie. Is dit nie maar hoe ons samelewing vandag lyk nie? Ons breek mekaar met woorde af. Die psalmis vra dat die Here hierdie proses sal omkeer.

 

Volgende keer kyk ons na mensewoorde teenoor God se woord en na die betroubaarheid van God se woord.