God se voorsiening

 

The man that is most busy in censuring others is always least employed in examining himself. —Thomas Lye

 

God se voorsiening

In Jakobus 4:13 – 17 kry ons vyf beginsels om die werklikheid van God se voorsiening in ons lewens te verstaan. Wat is hierdie beginsels?

  1. Dit is vir God belangrik hoe ons oor ons toekomsplanne dink – net soos die werklike najaag van hierdie planne belangrik is

As ek sê my lewe is in God se hande beteken dit dat ek nie verder hoef te beplan nie? Hoe jy oor jou huidige bestaan en toekomsplanne praat, is belangrik. Hoekom? Omdat God ons  gemaak het, nie net op sekere dinge te doen nie, maar om sekere oortuigings en gesindhede te hê. Jou gedagtes, gesindhede en woorde moet die regte siening van die lewe en van  God weerspieël. In vers 14 sê Jakobus dat ons gedagtes en optrede een waarheid moet weerspieël: Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Ons is maar broos; ons is maar vir ‘n kort tydjie op aarde. En dan gaan die lewe sonder ons voort.

 

Vers 15 sê dan wat ons siening van God moet wees as ons ons toekoms beplan: As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen. As ons ons planne vir die toekoms maak, moet ons die regte siening van die lewe – ons is maar ‘n damp – en van God hê. Maar ons moet uitdrukking gee aan hierdie siening van God: Julle moet eerder sê …  Dan moet ons optree in ooreenstemming met God se oppermag in ons lewens.

 

  1. Ons is onkundig oor die toekoms en dit is goed so

Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal  wees nie! Môre mag aardbewings, ‘n motorongeluk, ‘n bevordering, ens bring. God het aan jou ‘n geheue gegee sodat jy uit jou suksesse en mislukkings van die verlede kan leer. Maar die toekoms is vir ons weggesteek, sodat ons ten volle op Hom moet vertrou.

 

  1. Moet nooit vergeet dat die lewe maar kort is nie

Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Ons lewe is nie soos dié van die berge en sterre nie. Jakobus is nie die enigste Bybelskrywer wat dit sê nie. Job (7:7; 9:25) en die psalmis (39:4 – 6; 102:11) sê dit ook. Hierdie skrywers sê nie dat die lewe nie belangrik is nie, maar wel dat dit kort is.

 

  1. Onderwerp jou doelbewus en doelgerig aan die oppermag van God se voorsiening

Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” Alles wat ons doen, is aan God se wil onderworpe. As die Here wil, is nie ‘n onegte cliché nie. Dit is ‘n wêreldsiening waarin ons ons nederig aan God se wil onderwerp. Die probleem is dat ons gewoonlik aanmatigend is oor die lewe. Ons vergeet die lewe is ‘n gawe van God en is onderworpe aan God se wil.

 

  1. Om God se oppermagtige oorsig oor ons lerwens en dood te verontagsaam, is arrogant, boos en sondig

Dit is arrogant, want ons neem krediet vir dinge wat die gevolg van God se genade en voorsiening was. Al sulke grootpratery is verkeerd.

 

Vertrou ons nog op God se voorsiening of maak ons op ons eie vermoëns staat?




Psalm 11 (1)

 

Our relationship to God is to be the supreme cause of joy (David Martyn Lloyd-Jones toe hy terminale kanker gehad het).

 

Psalm 11 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Psalm 11 is ‘n uitdrukking van vertroue. Dit bevat geen pleidooi nie.

 

11:1a: Opskrif

Vir die musiekleier. Van  Dawid

 

11:1 – 3: Waarskuwings van die ander mense van die gemeenskap. Waar is die mens veilig?

 

11:1: By die Here skuil ek; hoe kan julle dan vir my sê: “Vlug soos ‘n voël na die berge.”

By die Here skuil ek. God/die Here is dus die direkte of indirekte onderwerp van elke reël in verse 4 – 7. Sy Naam word vier maal genoem in daardie gedeelte. Drie maal kom sy Naam aan die begin van die reël voor. Dit is ‘n verwysing na God se plek in die lewe van die gelowige – eerste. Die vriende noem nie eers God se Naam nie.

 

‘n Verklaring dat die psalmis op die Here vertrou, kom meestal aan die begin van ‘n psalm. Dit dien gewoonlik as basis vir die psalmis se oproep tot God vir beskerming. Hier is dit egter die basis vir die psalmis se reaksie op vriende wat dit goed bedoel. Hulle stelling bring die vraag van vertroue en die behoefte aan ‘n veilige plek na vore. Die psalmis word voorgestel as ‘n voël. Die verwysing na vlug soos ‘n voël na die berge suggereer dat die psalm se begin – ek skuil by die Here – reeds hierdie vermaning in gedagte het. Berge is plekke van skuiling – hoog, onbereikbaar, baie bome en grotte, baie plekke om weg te kruip. Die psalmis is reeds in Jerusalem en die berg. Dit is waar die gevaar vir hom skuil. Maar voëls kan in die berge skuiling vind – of op die kranse of in die bome. Hierdie hele vers is dus ‘n beeld. Sy vriende moedig die psalmis aan om hom soos ‘n voël te gedra – soek skuiling in jou geliefkoosde berg. Waarheen die spreker in werklikheid sou gaan, is ‘n ope vraag.

 

11:2: 2 Want kyk, die goddelose mense span die boog, hulle sit die pyl op die boogsnaar om in die donker op die opregtes van hart te skiet.

Hoekom moet die spreker vlug? Die beeld van die voël word verder ontwikkel. Die goddeloses is soos jagters wat hulle regmaak om die voël te skiet – hulle span hulle boë, hulle lê aan met hulle pyle. Hulle is gereed om te skiet – die boog is oorgehaal. Maar hoekom jag hulle? Hulle skiet in die donker. Hulle skuil in die donker; hulle mislei en bedrieg. Hulle teiken is die opregtes van hart.  Hier is dus ‘n teenstelling tussen jagters wat in die donkerte jag en opregtes wat met integriteit optree. Almal wat opreg van hart is, moet vlug.

 

11:3: 3As die fondamente afgebreek word, wat kan die regverdige dan doen?”

Ons is nie seker wie hier praat nie – die vriende of is dit die psalmis se nadenke? Die fondament waarna hier verwys word, is die fondament van die gemeenskap. Die regverdige is iemand wie se saak voor God reg is. As mense die regverdige aanval net vir persoonlike gewin is die fondamente daarmee heen. Die wet van geweld heers. Die regverdige kon niks gedoen het om hierdie verval te keer nie. Hy het elke rede om te vlug.

 

In die volgende blog gaan ons na die psalmis se geloofstelling kyk.

 




Psalm 10 (5)

 

As the social cost of claiming to be a Christian increases, the percentage of nominal Christians decreases. —D.A. Carson

 

Psalm 10 (5)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese Implikasies van Psalm 9 en 10

Die basiese temas van die psalms is – die heerskappy van God, die verteenwoordigende rol van die koning, die pleit vir hulp in tye van nood, die paaie van die goddeloses en God se geregtigheid ten opsigte van die swakkes en armes. Dit praat ernstig met magtige nasies en bemoedig swakkes.

  1. God is die een wat in die verlede op wonderlike maniere opgetree het in die geskiedenis van Israel. Hy het hulle verlos van nasies wat hulle aangeval het; Hy het hulle nooit in die steek gelaat as hulle sy hulp gesoek het nie. God het beslissend opgetree teenoor nasies wat goddeloos opgetree het – Hy het die nasies en hulle beskawings van sy land uitgewis. Dit beteken dat Hy dikwels die vernietigende mag van die nasies teen hulleself gebruik het.
  2. Hierdie dade bewys dat God die Allerhoogste is; Hy sit permanent op sy troon en vandaar oefen Hy gesag oor die wêreld en sy mense uit. Hy sit in Sion, die fokus van sy heerskappy, op sy troon. Daarvandaan tree Hy regverdig, beslissend  en getrou op. Sy optrede beïnvloed die individu – dit bring verlossing. God is ‘n toevlug vir mense met probleme. As die swakkes uitroep, reageer God op daardie uitroep en straf die goddeloses. Mense kan nie meer ander terroriseer nie – God laat dit nie meer toe nie. God kan die goddelose na hulle dood stuur; Hy kan die regverdiges wegruk by die poort van die dood. Hy versterk hulle hart en luister na hulle gebed. God is nie net by die eindtyd betrokke nie: God is nou betrokke.
  3. Die feit dat mense na God moet uitroep, beteken dit dat Hy soms net sit of selfs wegkruip. Hy moet opgewek word tot optrede. Ons mag dink dat God die geroep van die swakkes geïgnoreer het, maar dit is nie so nie.
  4. Die nasies word deur goddeloosheid gekenmerk. Hulle ignoreer en minag God; hulle is maar te bewus van hulle eie posisie; hulle weet hulle regeer die wêreld; hulle sien God as daar ver en nie betrokke by die wêreld nie. Hulle glo God weet nie wat hier aangaan nie. Eintlik is daar geen God nie. Hulle glo dat hulle mag nooit gebreek sal word nie; hulle sien hulleself nie as menslik nie.
  5. Hulle is ook ontrou in hulle verhoudings met die res van die mensdom – veral die swakkes. Hulle benadeel die swakkes; hulle innerlike begeertes is vir hulle baie belangriker as God. Hulle kombineer bedrog en onderdrukking deur gebruik te maak van wetlike, maar onderduimse, metodes.
  6. Die mense oor wie God bekommerd is, is diegene wat sy Naam erken. Hulle plaas hulle vertroue in Hom en roep uit na Hom, want hulle is swak, arm, gebroke en kwesbaar. Hulle verhouding met God sluit in dat hulle sy Naam erken: hulle weet wie Hy is en lewe dienooreenkomstig. In hulle swakheid nader hulle God om in genade op te tree.
  7. Die verhouding met God betrek die mense individueel en korporatief. Hulle erken wie God is en erken wat Hy in die verlede alles gedoen het. Dit beteken hulle juig van blydskap. Hulle vertel van God se dade in Sion en onder die mense.
  8. Dit beteken hulle is oortuig dat God sien as nasies aggressief optree en dat Hy sal optree en hulle verlos. Dit is ‘n vertrouensverhouding wat dinge aan God oorlaat.
  9. Dit behels dat God gevra word om beslissend op te tree in die lewe van nasies en om nie die lot van die kwesbares te ignoreer nie. God moet dus aangespoor word om rampe oor die goddeloses te bring. Hy moet hulle planne op hulleself laat terugslaan. Dan sal hulle erken dat hulle maar net menslik is. God moet die mag van die goddeloses breek – alle goddeloosheid moet uitgeroei word. Dit beteken dus die psalmis is bekommerd oor God se eer, wat is reg en wat is verkeerd en vir wat in hulle belang is.

 

Die naam van God is gereeld op die lippe van die psalmis. Dit is afwesig van die lippe van die goddeloses, want hulle wil God elimineer. Die feit dat God by sosiale verhoudings van die regverdige en goddelose betrokke is, verander hulle vooruitsigte. Dit gaan hier oor alternatiewe politiek.

 

Wat sê hierdie psalm vir ons wat ook, soos die digter, van tyd tot tyd gebuk gaan onder die haat en nyd van die goddeloses?

  1. Dit herinner ons dat ons nie alleen staan nie. Al voel dit soms vir ons of God ver van ons af is, is Hy nog steeds daar. En al dink ons teenstanders die meeste van die tyd dat niemand van hulle geknoei weet nie, sien God tog elke ding wat hulle doen.
  2. Dit verseker ons dat ons welkom is by God. Net soos die digter mag ons met al ons nood na Hom toe gaan en mag ons bid vir die hulpeloses: die wese en weduwees; die eenvoudiges; die armes.
  3. Dit beloof ons dat God uitkoms sal gee omdat Hy dit kan gee: Die Here bly altyd koning. Maar veral omdat Hy wil gee: Hy is ‘n barmhartige God wat gebede verhoor sodat niemand op aarde langer in vrees hoef te lewe nie.

 

 

 




Salomo en die inwyding van die tempel

 

By definition we cannot “qualify” for grace in any way, by any means, or through any action. —Sinclair Ferguson

 

Salomo en die inwyding van die tempel

In 1 Konings 8 lees ons van die inwyding van die tempel. Die gebeure wat vir ons aangeteken is, is: die ark word in die tempel geplaas, Salomo se toespraak gevolg deur sy gebed en dan word dit afgesluit met Salomo wat die volk seën.

 

Na sy gebed seën Salomo die hele gemeente van Israel (8:54 – 66). Om te seën beteken dat die Here met sy mense is en dat al sy deugde tot hulle beskikking is. Salomo loof die Here vir sy bereidwilligheid om sy mense na die beloofde land te bring en aan hulle rus te gee; dat Hy voortdurend by hulle is; dat Hy sy verbondswet aan hulle gegee het en hulle help om dit te onderhou; dat die Here Salomo en al sy mense se saak ondersteun in antwoord op hierdie gebed; dat Hy nasies toelaat om te besef dat Israel se God die enigste, ware, lewende God is. Aan die einde van die seën volg ‘n herinnering dat seën net kom vir diegene wat hulle volledig oorgee aan die Here en wat bereid is om ‘n verbondslewe te leef.

 

In hierdie slotgedeelte word die Here weer geloof. Die Here se trou word geïllustreer deur die vervulling van sy beloftes aan Israel. Die Here het hulle ‘n vaste woonplek gegee. Dit dui op die einde van die woestyntyd en die besitneming van Kanaän. Dit sluit die vredestyd van Salomo in.

 

Salomo spreek in hierdie seën drie hartsbegeertes uit:

  1. Mag die Here ons God by ons wees … mag Hy ons nooit verlaat of laat vaar nie. Hy moet help soos dit van dag tot dag nodig mag wees. Hierdie gebed moet dag en nag by Hom, die Here ons God, wees.
  2. Mag Hy ons gewillig maak om altyd volgens sy wil te leef en ons te hou aan sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings … mag julle met volle oorgawe voor die Here ons God leef.
  3. Dan sal al die volke van die wêreld besef die Here is God; daar is nie ‘n ander nie.

 

Is hierdie ook ons hartsbegeertes?