Hoe vergewe ek ander?

 

Adding more electronics to worship doesn’t mean adding more electricity. It’s when God-circuits are connected that electricity really flows – Leonard Sweet

 

Hoe vergewe ek ander?

Die Bybel sê dat Christene moet vergewe. Maar hoe doen ons dit? Rick Warren gee ‘n paar riglyne.

  1. Gee jou reg om wraak te neem, op.

 Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God (Romeine 12:19). Moenie dinge self probeer regstel nie; laat dit oor in God se hande.

 

  1. Reageer op die bose deur goed te doen

Hierdie  is die ware indikator van vergifnis. Kan jy vir iemand wat in die verlede iets verkeerd aan jou gedoen het, bid? Ons moet vergifnis ‘n gewoonte maak deur herhaaldelik te vergewe totdat dit natuurlik voel. Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer. Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie, maar selfs sewentig maal sewe keer.” (Matteus 18:21 – 22).

 

  1. Gebruik vergifnis om die evangelie te versprei

Ons kan die goeie nuus van Jesus versprei, want dit is deur Hom dat dit vir ons moontlik is om te vergewe.

 

God wil hê dat ons onvoorwaardelik moet vergewe. Ons moet barmhartigheid bewys aan mense wat ons leed aangedoen het – tot dieselfde mate wartoe Hy ons in Jesus Christus vergewe het. Ons wil gewoonlik voorwaardes heg aan vergifnis en barmhartigheid. “Jy moet eers dit doen, voor ek jou sal vergewe.” Dit is nie wat ons Verlosser gedoen het nie.

 

As ons baie seer gekry het, mag ons tyd nodig hê om te genees en te vergewe. Maar om te vergewe, is God se wil. Deur op die Heilige Gees te vertrou, kan ons vergewe.

 

 




Was die sondeval werklik belangrik?

 

Christ will hold us fast. But we need gospel friends to hold us close. —Albert Mohler

 

Was die sondeval werklik belangrik?

Hoekom is die lewe so moeilik? Hoekom is daar geen maklike antwoorde op al ons vrae nie? Teoloë haal gewoonlik Genesis 3 aan om hierdie vrae te probeer verduidelik. Brian Harris het na die gevolge van die gebeure in Gensis 3 gekyk.

 

Genesis 3 vertel vir ons van ‘n dramatiese dag toe dinge vir die mensdom verander het. Adam en Eva, verteenwoordigers van die mensdom, woon is ‘n pragtige tuin Die beperkings is min – hulle mag net nie van die boom van alle kennis eet nie. En toe die dramatiese dag toe Adam en Eva van die vrug van die boom eet. Toe verander alles. As ons vra waarom ons ly, verwys die Bybel na daardie dag toe die mens ongehoorsaam was. Wat was die gevolge van daardie dag?

  • Vers 7: Adam en Eva se oë gaan oop en hulle besef dat hulle naak was – hulle was nie meer gemaklik met hulle liggame nie. Dit is vandag steeds ‘n obsessie by baie mense. Dink net aan al die kosmetiese chirurgie wat vadag gedoen word.
  • Vers 8: Hulle is nie meer gemaklik met hulle verhouding met God nie – hulle probeer vir Hom wegkruip. Dit wat tot dusver vir hulle ‘n bron van vreugde was, word nou ‘n bron van vrees – hulle word bang vir God. Hulle kruip weg van Hom na wie se beeld hulle gemaak is! Hulle kruip weg van die verhouding waarin hulle hulle ware identiteit kon ontdek. As hulle van God wegkruip kon hulle nie meer weet wie Hy is nie.
  • Vers 12 – 13:Om ander te blameer, word die nuwe norm van verhoudings. Beide Adam en Eva blameer ander. Adam se verskoning is dat dit Eva was; Eva blameer die slang. Niemand aanvaar verantwoordelikheid nie – dit is altyd iemand anders se fout. Hierdie refrein hoor ons steeds.
  • Vers 14 – 15: Ons word bang vir slange. Hierdie gaan oor meer as net ons vrees vir slange. Die mens moes name aan al die diere gee en hulle moes die tuin bewerk. Nou word die mens se verhouding met sy omgewing verbreek.
  • Vers 16a: Kraam gaan met pyn gepaard. Ook hierdie gaan dieper. In Hoofstuk 4 lees ons van Kain en Abel. Kinders, aanvanklik bedoel as ‘n bron van vreugde, kan nou ook ‘n bron van pyn wees.
  • Vers 16b: Die man-vrou verhouding word moeiliker. Tot nou het Adam en Eva sy aan sy gewerk. Nou begin mans oor vrouens heers – dit is nie hoe dit veronderstel is om te wees nie. Let hierop dat manlike oorheersing hier as ‘n straf beskryf word en nie as ‘n lewenswyse nie.
  • Vers 17 – 19: Werk word pynlik en moeilik. Tot nou toe was werk ‘n bron van trots en bevrediging. Adam en Eva het ‘n groot taak gehad, maar dit was kreatief en vol vreugde. Nou sal die aarde net dorings en dissels produseer.
  • Dood kom die wêreld binne – die pynlikste gevolg van almal. Die loon wat die sonde gee, is die dood (Romeine 6:23). Kyk net na die eerste dood wat in die Bybel beskryf word: Kain vermoor sy eie broer.

 

Daar is mense wat sal sê dat Genesis 3 nie waar is nie – dit is nie geskiedkundig waar nie. Wat egter belangrik is, is dat hierdie storie in die Skrif ingesluit is – dit is ons storie. Dit is hoe ons die lewe moet verstaan. Ons weet die lewe is gebroke. Hierdie storie sê vir ons hoekom dit so is: ons vervreemding van God. Ons leef in ‘n wêreld soos Genesis 3 beskryf.

 

Hierdie is ‘n slegte verhaal, maar daar is tog hoop Daarna het die Here God vir die mens en sy vrou velklere gemaak, en hulle dit aangetrek. God gaan die mens uit die tuin wegstuur. Hy sien die vyeblare wat hulle gedra het om hulle te bedek. Hy besef dat hulle nie In die omgewing buite die tuin sal oorleef nie. God stuur hulle weg uit die tuin, maar Hy sorg steeds vir hulle.  Selfs as God hulle straf, verseker hy hulle oorlewing. Ons het ‘n wonderlike God.

 

 




Wysheid (2)

 

“The person who knows only his side of the argument knows little of that.” Karl Barth

 

Wysheid (2)

In die vorige blog het ons gekyk na wat wysheid is. Nou die vraag: Hoe kry ons wysheid?

 

Hoe kry ons wysheid? Selfverheffing bring vernedering; wie nederig is, het wysheid (Spreuke 11:2). Die Bybel leer vir ons dat ons wysheid by God moet soek (Jakobus 1:5). Ons moet ook die Skrif bestudeer om in wysheid te groei (Spreuke 7:1 – 5). Paulus sê dat die Skrif ons die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus (2 Timoteus 3:15).

 

Mense soek oral wysheid – Dr Phil en Oprah is bekende voorbeelde. Gaan na die Skrif: Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is (Psalm 19:8). Ons moet ook die geloofsgemeenskap opsoek om in wysheid te groei. Wie met wyse mense omgaan, kry self wysheid; wie hom met dwase ophou, word self sleg (Spreuke 13:20).

 

Wysheid word uiteindelik in en deur Christus gevind. Wysheid is nie net ‘n stel idees nie. Wysheid is in ‘n Persoon. Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind (Kolossense 2:3). In Christus kom ons in ‘n verhouding met God wat ons in staat stel om God met eerbied te aanbid. In Christus kry ons insig en ‘n onderskeidingsvermoë. In Christus sien ons hoe ‘n wyse, goddelike lewe lyk. In Christus kry ons die krag om hierdie lewe uit te leef. In Christus kan ons regverdig oordeel. Om van Christus weg te loop, is om van wysheid weg te loop.

 

Waar kry ons wysheid? Net by Christus.

 

 




Psalm 10 (4)

 

To be right with God the judge is a great thing, but to be loved and cared for by God the Father is greater. —J.I. Packer

 

Psalm 10 (4)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

 

10:12 – 15: ‘n Noodroep tot God.

10:12 – 13: KOF.12Staan op, Here; God, lig u hand; vergeet die magtelose tog nie!

13Waarom  verag ‘n goddelose mens God, maak hy homself wys: “U vra geen rekenskap nie”?

 

Hier volg nou weer ‘n pleidooi Die woorde van die goddelose in vers 11 druk die psalmis se eie vrese uit. God word uitgedaag om te bewys dat dit wat die goddelose sê nie waar is nie. Daarom word God weer aangemoedig om op te staan. Lig u hand  beteken dat God ferm moet optree. Die klem val op verlossing, maar in die proses moet God die goddeloses regsien.

 

10:14 – 15: RESJ. 14U sien tog self die moeite en verdriet, U sien dit raak. Deur dit in u hand te gee, laat weerloses dit aan U oor; vir weeskinders is U ‘n helper.

 

15SJIN. Breek die mag van die goddelose mense, ja, eis van ‘n bose mens rekenskap oor sy goddeloosheid totdat U niks meer vind nie.

 

Die oortuiging van die goddelose dat hy verkeerd kan doen en daarmee wegkom, is nie waar nie – God se dade in die verlede bewys dit. As mense aan ander verkeerd doen, sien God dit. Die psalmis vra vir God om te sien en op te tree. Op grond van hierdie feit kan die swakkes maar alles aan God oorlaat – die weeskind kan dieselfde doen. As daar opgetree moet word, moet die mag van die goddeloses gebreek word. God moet die arm van die goddelose breek. Die einddoel is dat daar geen goddelose dade meer oor is nie.

 

Omdat die digter net een toevlugsoord ken, vra hy God om sy mag te vertoon. Hy pleit vir die hulpelose; hy dra die ongelukkige en die weeskind aan God op; hy is verontwaardig omdat die goddeloses dink dat God nie van hulle boosheid weet nie: En die hele tyd het U dit gesien. En hy belowe: U let daarop en maak daar ‘n einde aan. Laastens pleit hy by God: Verbreek tog die magsgreep van die goddelose en van die misdadiger, straf sy misdade. Let daarop: God sien (vs 14); God let op (vs 14) en God maak ‘n einde daaraan – Hy tree op.

 

Vir die goddelose is daar net twee partye in hierdie wêreld: hulleself met al hulle brutaliteit en die swakkes – armes, wese, mense wat in vrees lewe vir die wreedaards. Daar is geen plek vir God in hulle lewe nie. Vir die vrome is daar ook net twee partye: hulle en die goddeloses. Maar God is aan die kant van die vromes en Hy vernietig die vrees wat die goddeloses in die lewens van die vromes wil indra.

 

In die volgende blog gaan ons let op die teologiese implikasie van Psal 9 en 10.