Wysheid (1)

 

“The Christian Church does not exist in Heaven, but on earth and in time.” Karl Barth

 

Wysheid (1)

Wat is wysheid? Hoe kry ons wysheid? Ek gaan twee blogs aan hierdie vrae spandeer.

 

Om die belang van wysheid te verstaan, moet ons ‘n paar vrae antwoord. Watter tipe persoon kan ons bewonder? Hoe evalueer ek of iemand betekenisvol is? Volgens die wêreld is uiterlike voorkoms belangrik. Ons soek almal na die volmaakte voorkoms. Spreuke sien dinge anders. Uiterlike skoonheid hou nie, ‘n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dan verdien ‘n vrou om geprys te word (31:30). Spreuke gaan verder: Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig (9:10).

 

Adonia en Absalom was mooi, maar hulle was nie die moeite werd om te volg nie (1 Konings 1 – 2). Hoekom nie? Hulle het nie goddelike wysheid gehad nie. Moenie jou betekenis en waarde bepaal deur jou eksterne voorkoms nie, maar deur jou interne onderwerping aan God.

 

Hoe moet Christene geestelike groei bepaal? Om ‘n klomp bekende Christene te ken is nie ‘n teken van geestelike volwassenheid nie. Om baie boeke en artikels te lees, beteken ook nie geestelike groei nie. Geestelike groei is meer as emosies. Jy kan ‘n kop vol teologie hê, maar tog kan jou lewe ‘n mislukking wees. Paulus het verlang dat Christus se kerk in wysheid moet groei (Efesiërs 1:17; Kolossense 1:9). As ‘n persoon nie in wysheid groei nie, groei hy ook nie volwassenheid nie.

 

Wat is wysheid? Dit is ‘n ingewikkelde konsep. Kom ons kyk na ses dimensies van Bybelse wysheid wat met mekaar verband hou.

  • Die dimensie van aanbidding. Wysheid begin deur die Here te dien. As jy nie die ware God aanbid nie, is jy nie wys volgens die Skrif nie. Jy kan intellektueel wees, maar as jy nie vir God aanbid nie, is jy nie wys nie.
  • Die dimense van insig. Wyse mense het insig in geestelike waarhede. Hulle dors na insig in geestelike waarhede. In die Nuwe Testament lees ons dat die Heilige Gees ons oë oopmaak en vir ons wysheid en insig gee sodat ons God beter kan ken.
  • Die dimensie van onderskeiding. Die wyse mens kan ‘n situasie lees en die regte besluit neem. ‘n Mens wat met wysheid bedeel is, word verstandig genoem, en as hy sy woorde reg kies, kan hy ander ook leer (Spreuke 16:21). Paulus bid dat die Filippense in kennis en onderskeidingsvermoë sal groei (1:9).
  • Die morele dimensie. Dwarsdeur Spreuke gaan wysheid en reinheid saam. In Jakobus sluit wysheid deugde soos reinheid en vredeliewendheid in (3:17 – 18). Die wyse persoon is oop vir regstelling.
  • Die dimense van geregtigheid. So sal hulle ‘n behoorlike opvoeding ontvang en ‘n sin vir geregtigheid, reg en billikheid (Spreuke 1:3).
  • Die dimensie van vaardigheid. Die Here het die fondament van die aarde met wysheid gelê, en die hemel gebou met insig (Spreuke 3:19). So sien ons dat Salomo vaardighede gehad het op politieke gebied – ook in die bou van die tempel.

 

Volgende keer gaan ons kyk na hoe ons hierdie wysheid kry.

 




Wat is ‘n dissipel?

 

Expect Satan to tempt you most viciously at those moments and periods when you are seeking God most vigorously. —Jeremy Walker

 

Wat is ‘n dissipel?

Hoekom so ‘n vraag? Ons weet tog wat ‘n dissipel is. Die antwoord is nie so eenvoudig nie. Die betekenis van die woord dissipel verander tussen die evangelies en Handelinge. In Johannes 6 lees ons dat baie van Jesus se dissipels Hom verlaat het. Hulle was mense wat Hom gevolg het om sy boodskap te hoor, maar nou het hulle probleme met sy boodskap. Hier is dissipels eenvoudig diegene wat Jesus gevolg en by Hom geleer het. Judas het ook vir Jesus gevolg en by Hom geleer. Omdat hy nie vir Jesus tot aan die einde gevolg het nie, kan hy as ‘n vals dissipel beskou word.

 

Maar ook in die Christendom vandag kry ons verskillende definisies van dissipelskap. Hoe besluit ons dan wat/wie ‘n dissipel is? Daar is veral drie verskillende maniere waarop dissipelskap gedefinieer word:

  • Dissipels is toegewyde gelowiges.

Verlossing is een ding; dissipelskap is iets anders. Daar is Christene en daar is dissipels. Hierdie pas nie in by die taal van die Bybel nie. Handelinge 4:32  beskryf die kerk as die getal gelowiges. Handelinge 6:2 sê dat die kerk die volle getal gelowiges is. Dissipels is gelowiges en gelowiges is dissipels – geen onderskeid nie.

 

  • Dissipels is dienaars

Dissipels word geroep vir ‘n spesiale bediening van diens. Daar is dus ‘n verskil tussen leraars en dissipels aan die een kant en gewone lidmate aan die ander kant. Hierdie skeiding is onbybels. In Jesus se groot opdrag roep Hy alle mense op tot dissipelskap – om as dissipels teenoor ander op te tree. Werk in die gemeente is vir almal. Die Christelike geloof is nie ‘n toeskouersport nie. Jesus roep al sy dissipels om sy ambag te leer en by Hom in sy werk aan te sluit.

 

  • Dissipels is Christene; Christene is dissipels

Elke volgeling van Christus is ‘n verskillende fase van hulle geestelike pelgrimstog, maar die Christelike geloof bestaan nie uit twee vlakke nie. Soos in ‘n familie is daar babas, kinders en volwassenes. Dieselfde geld vir die gemeente. Elke lidmaat van die gemeente moet as ‘n dissipel van Jesus Christus beskou word. Elke dissipel moet ‘n passie hê om meer dissipels te maak.

 

Hier is ‘n moontlike definisie vir ‘n dissipel:

‘n Dissipel is ‘n man of vrou wat ‘n nuwe skepping in Jesus Christus is en nie langer vir hom- of haarself leef nie, maar wat:

  • Op Christus vir die vergewing van sondes vertrou; en
  • Leef om Christus op alle lewensterreine te volg en na te boots en by Hom te leer.

 

As ons na die Groot Opdrag (Matteus 28:19 – 20) kyk vir leidrade kan ons sê: Dissipels:

  • Identifiseer hulle met Jesus Christus in hulle doop;
  • Werk, leer en pas God se opdragte toe; en
  • Dien ons Here met ons verskillende gawes en in die proses verkondig ons die boodskap van Jesus Christus en maak dissipels.

 

Vir die volgelinge van Christus is dissipelskap nie ‘n bykomende opsie vir Christene wat daarin belangstel nie. Dit is nie ‘n program in gemeentes nie. Dit lê aan die hart van wat Christus besig is om in die wêreld te doen. Dit is die middelpunt van wat dit beteken om ‘n volgeling van Christus te wees – om ‘n dissipel te wees wat dissipels maak.

 

 




Psalm 10 (3)

 

Pray and let God worry – Martin Luther

 

Psalm 10 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

In die vorige blog het ons die skil van die lemoen hanteer. Die vrug bestaan ook uit twee hoofdele:

  • ‘n Aanklag teen die goddelose (vs 3 – 11); en
  • ‘n Noodroep tot God (vs 12 – 15)

 

10:3 – 11: ‘n Aanklag teen die goddelose.

Hierdie is ‘n lang skets van die goddelose persoon Hier beskryf die swakkes die sterkes. Nou, vir die eerste keer is die strerkes oorgelewer aan die genade van die swakkes.

 

10:3 – 4: 3Ja, ‘n goddelose mens spog oor wat hy wil bereik, en terwyl hy onregverdige wins maak, vervloek en verag hy die Here.

Met sy neus in die lug dink ‘n goddelose mens altyd: “God vra nie rekenskap mie; daar is geen God nie.

 

In plaas daarvan dat die goddelose in God juig, juig hy oor dinge wat sy hart begeer – dit wat hy deur sy slinkse planne bekom het. Deur te spog hanteer die goddeloses hulle God met minagting. Die goddeloses minag God omdat hulle optree asof God glad nie by die wêreld betrokke is nie.

 

10:5: 5Sy pad is altyd voorspoedig. U oordele is ver buite sy gesigsveld. Hy minag al sy teenstanders.

Die goddelose persoon sê dat daar geen God is nie. Daarom hoef hy geen rekenskap van sy dade te gee nie. Hy laat God buite berekening, want Hy is nie betrokke by die alledaagse lewe nie. Geen wonder hy maak geen plek vir God in sy beplanning nie. Maar die regverdige weet dat God besluite neem al kan die goddelose dit nie begryp nie – die besluite is vir hom te ver buite sy gesigsveld. Regverdiges moet vertroue hê dat hulle sal slaag.

 

10:6: 6Hy maak homself wys: “Ek sal nie struikel nie; van geslag tot geslag is ek die een wat nie teenspoed sal ervaar nie.

Die goddeloses glo dit, want hulle het hulleself daarvan oortuig. Hy sweer ‘n eed by homself dat sy toekoms veilig sal wees. Hy sal nie struikel nie en sal nie teenspoed ervaar nie.

 

10:7: 7Sy mond is vol versoeking, bedrog en verdrukking; onder sy tong is kwaad en onreg

 

 Mond en tong vul mekaar aan. So ook verdrukking en bedrog.  Onder sy tong, beteken dat sy woorde vriendelik is, maar dit is bedrog.

 

10:8 – 9: 8Naby dorpies lê hy in ‘n hinderlaag; in skuilplekke vermoor hy die onskuldige; sy oë is op loer vir die weerlose.

Ajin. In sy skuilplek lê hy soos ‘n leeu in die ruigte; hy lê die magtelose voor om hom te vang; hy van die magtelose deur sy vangnet toe te trek.

 

 

Die goddelose is ‘n jagter. Hy kruip weg op soek na onskuldige mense. Hy vang nie wilde diere nie – hy tree op soos ‘n wilde dier, want hy kruip weg om die onskuldige te vang. Die goddeloses vang die swakkes soos ‘n jagter ‘n dier vang – deur sy net toe te trek.

 

10:10 – 11: 10Verpletter krimp die weerlose ineen; hy val in sy mag.

11Die goddelose mens maak homself wys: “God vergeet. Hy hou sy oë toe; Hy sien nooit iets raak nie.

 

Hier word die vangs in meer besonderhede beskryf. Die swakkes val in sy mag; die mag van die jagter is te veel vir hulle. Vers 11 keer terug na die tema van vers 4 – 6.

 

Die digter sê dat die goddelose homself al by voorbaat gelukwens met die rykdom wat hy ten koste van ander gaan bekom – Hy verag die Here omdat hy nog altyd met sy slinkse planne kon slaag. Dit lyk asof die goddelose reg is wanneer hulle sê: God vra tog geen rekenskap van die mens vir sy doen en late nie. Dit lyk asof God die goddeloses hulle sin gee: Dit gaan mos altyd goed met wat hy aanpak. Hy vervloek, bedreig en verdruk sy vyande. Hy lê onskuldige mense voor soos ‘n leeu agter ‘n bos. Hy trek die hulpelose vas en slaan hom dat hy inmekaar sak. En hy sê verwaand vir homself: God steur Hom nie daaraan nie, Hy kyk weg, Hy sal dit nooit raaksien nie. Hier word die optrede en denkwyse van die goddeloses beskryf, en daaruit blyk die swaarkry van die vrome. In hierdie skrikbewind is die vrome aan hulle uitgelewer – magteloos. Die optrede van die goddeloses, hulle gesindheid teenoor God en die manier waarop hulle die armes behandel, illustreer wat die bidder onder hulle moes ly. Die goddelose huldig ‘n lewensopvatting dat God niks doen om hulle in hulle bose planne te stuit nie. Dink maar hoe word sukses in die moderne literatuur uitgebeeld: baie geld, baie vrouens. Vir baie van ons, soos vir die digter, draai die wiele van God se meule te stadig.

 

In die volgende deel van die vrug gaan ons kyk na die psalmis se noodroep tot God.




Hoe lees ek die Bybel?

 

Satan knows that if he can get us to laugh at things we believe we would never do, our defenses will fall. —Kent Hughes

 

Hoe lees ek die Bybel?

Hierdie is nog ‘n artikel in Mel Lawrenz se reeks How to Study the Bible.

Die wêreld sou ‘n beter plek wees as miljoene Christene die Bybel ernstig bestudeer en soek vir die oorspronklike bedoeling van die skrywers. Dan ontdek ons die fondament om ons lewens op te bou. Maar die lewe is nie ‘n beter plek as hierdie studente van die Bybel nie hierdie waarhede akkuraat en getrou in hulle lewens toepas nie.

 

In Jesus se tyd was daar ‘n groep mense wat baie trots was op hulle kennis van die Skrif. Hulle toepassing was egter selfsugtig en skeef. Hulle was natuurlik die Fariseërs en skrifgeleerdes. Eendag het Jesus hulle oor hulle interpretasie van die Skrif gekonfronteer: Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie (Matteus 22:29). Dit was voorwaar ‘n skokkende stelling.

 

Om die Skrif te ken beteken versigtige lees, ontleding, agtergondinligting, ens. Daarna moet die betekenis van die Skrif in die ware lewe toegepas word. Daar is ‘n baie belangrike beginsel: Elke Skrifgedeelte het een spesifieke betekenis – dit het nie verskillende betekenisse nie. Dit kan wel baie geldige toepassings hê.

 

My liewe broers, dit moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie. ‘n Mens wat kwaad word,  doen nie wat voor God reg is nie (Jakobus 1:19 – 20). Wat is die spesieke betekenis van hierdie verse?  Ons sien die opdrag stem ooreen met dit wat ons in Spreuke kry. Dit word nie aan een spesifieke groep mense gerig nie, maar is ‘n beginsel vir ‘n gesonde leefwyse vir alle Christene. Die sleutelwoorde is luister… praat … kwaad word. Ons kom tot die gevolgtrekking dat hierdie gedeelte ‘n algemene oproep is dat gelowiges meer moet luister en minder moet reageer. Ons moet enige kwaad word reaksie vermy.

 

Nou moet ons hierdie betekenis toepas op die lewe. Die toepassing kan geld vir baie  situasies in ons lewens. Dit is reg so.  Mans en vrouens moet moet probeer om werklik na mekaar te luister. Dit beteken hulle moet vrae ter verduideliking vra eerder as om kwaad te word. As mense negatief reageer op ‘n kerkleier se besluite, moet so ‘n leier nie kwaad word nie, maar versigtig luister en probeer verstaan. Hy moet selfs bereid wees om die geldigheid van die beswaar te erken. Hy moet veral nie kwaad word nie. As jy deur ‘n medegelowige gekonfronteer word, probeer verstaan wat dit beteken en bespreek dinge eerder as om kwaad te word.

 

Die toepassing van hierdie verse kan verder uitgebrei word. Dit is wat die studie van die Skrif so interessant maak. As ons die Bybel bestuder, tree ons as objektiewe ontleders op. Ons soek die objektiewe betekenis wat die skrywers wou oordra. As ons die betekenis het, soek ons hoe ons dit kan toepas in verskillende situasies.

 

Jesus wou nie gehad het dat sy hoorders net die betekenis van wat Hy sê verstaan nie … Hy wil hê sy onderrig moet ons lewens verander.

Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.  En elkeen wat hierdie woorde van my hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes (Matteus 7:24 – 27).

 

Dit is waarom Jakobus sê:

Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in ‘n spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen (Jakobus 1:22 – 24)

 

Ons bestudeer die Skrif nie om een of ander spesiale, geheime kennis te kry nie. Ons bestudeer die Skrif sodat ons lewens uitgedaag en verander kan word. Dit is die kuns om die Bybel toe te pas.