Geweld in die Ou Testament

 

“Don’t walk in front of me… I may not follow
Don’t walk behind me… I may not lead
Walk beside me… just be my friend” 

– Albert Camus

 

Geweld in die Ou Testament

“The God of the Old Testament is … a petty, unjust, unforgiving control-freak; a vindictive, bloodthirsty ethnic cleanser; a misogynistic, homophobic, racist, infanticidal, genocidal, filicidal, pestilential, megalomaniacal, sadomasochistic, capriciously malevolent bully.” (Richard Dawkins)

Geweld in die Ou Testament is vir baie mense ‘n probleem. Lees deur Josua en dit lyk vir ons asof God volksmoord aanbeveel. Wat moet ons doen met die grootskaalse geweld wat deur God bepaal word? J. D. Greear sê die antoord berus op drie woorde: gesag, oordeel en ras.

 

  1. Gesag

Die reg of verkeerd van ‘n besondere reaksie word dikwels bepaal deur die gesag agter die optrede. Het jy byvoorbeeld die gesag om namens jou maatskappy tjeks te skryf? As jy die gesag het, is dit nie ‘n probleem nie. As jy nie die nodige gesag het nie, is dit verkeerd. Gesag kan ‘n optrede wat moreel verkeerd is, verander in een wat moreel noodsaaklik is.

 

As dit kom by menselewens het niemand op aarde absolute gesag nie. Ons is nie die outeurs van lewe nie. Daarom het ons nie gesag oor lewe nie. Net Hy wat die mens gemaak het, het gesag oor die mens se lewe. Die plekke waar God hierdie gesag aan ‘n mens oordra is uniek – soos Josua tydens die inname van Kanaän. Daar is ook duidelike opdragte om dit nooit weer te doen nie (Deuteronomium 4:2 – 9). As jy hierdie verhale lees, sien jy dat die ergste vernietiging gewoonlik van God self kom. Hy slaan die mure plat; hy stuur reuse haelstene op die vyand. God wil hê dat Israel moet besef dat Hy en Hy allen gesag oor lewe en dood het.

 

  1. Oordeel

God sê herhaaldelik vir Israel dat die inname van Kanaän die gevolg is van die Kanaäniete se goddeloosheid. Ons weet dat die volke van Kanaän ander volke onderdruk het So het hulle byvoorbeeld gereeld kinders aan hulle gode geoffer. Hierdie was nie onskuldige mense nie. Ons vind die oordeel oor Kanaän oordadig, want ons verbind nie hulle straf met hulle oortredings nie. Miskien moet ons Kanaän met ISIS of Nazi Duitsland vervang. Natuurlik is ons verontwaardig as ons ongeregtigheid en verdrukking op ‘n groot skaal sien. In ons oproep vir geregtigheid mag ons dink God se optrede is te erg. Dit is nooit erger as wat die oortredings vereis nie.

 

  1. Ras

Dit gaan nie oor ras nie. In sy optrede teen Jerigo spaar Josua vir Ragab en haar hele huishouding. Sy was ‘n Kanaänitiese vrou. Hoekom? Omdat sy haar bekeer en glo. As ander in Jerigo dieselfde gedoen het, sou God hulle ook gespaar het. God het ook herhaaldelik vir Israel gesê dat hulle dieselfde oordeel sal ondervind as hulle, soos die Kanaäniete, afgode aanbid. Hulle het en God straf hulle. God straf ons nie oor ons velkleur nie, maar oor ons sonde.

 

Jy mag vra: Maar wat van al die onskuldige mense wat in hierdie gevegte dood is? Wat van die kinders? Dit is moeilik om te aanvaar, maar sonde het kommunale gevolge. As ek sondig deur my vrou te verneuk, is my kinders onskuldig, maar hulle gaan sekerlik daaronder ly. Die kinders van Kanaän ly as gevolg van die keuses van hulle ouers.

 

God sê dat Hy nooit die onskuldige verantwoordelik sal hou vir die sondes van die skuldiges nie (Esegiël 18:20). Ons moet onthou dat die aardse lewe, alhoewel kosbaar,  is nie al wat daar is nie. Alle mense moet sterf. Miskien het God hierdie onskuldige mense vroeg bymekaar gemaak. As dit wat ons oor die ewigheid glo waar is, is die ergste lyding op aarde maar gering in die lig van die hemel.

 

Ek moet sê ek het hierdie verduideliking gelees, maar voel maar ongemaklik.

 




Die strik van tradisie

 

Make no mistake: to be at peace with your sin is to be at war with God. —Kevin DeYoung

 

Die strik van tradisie

Tradition is the living faith of the dead, traditionalism is the dead faith of the living. And, I suppose I should add, it is traditionalism that gives tradition such a bad name –  Jaroslav Pelikan

Jesus se kwaaiste woorde was vir die godsdiensleiers van sy dag. Van sy kwaaiste woord vir hulle was dat hulle tradisie bo God verhef het. Tradisie kan goed of sleg wees. Tradisie herinner ons aan belangrike gebeure en waarhede. Daar is sekere gesinstradisies wat baie doen om die verhoudings in die gesin te versterk.

 

Die probleem is wanneer tradisie sy betekenis verloor het. Dan kan tradisie ‘n negatiewe impak hê. Die boodskap is net te belangrik dat die metode van oordrag die betekenis daarvan ondermyn. Dieselfde geld vir die kerk en die evangelieboodskap wat aan ons toevertrou is.

 

Wat is tradisie? Daar is sekere tradisies – soos die liturgie in sekere kerke – wat goed is. Die probleem kom as ons tradisies nie op die fondament van die evangelie gebou is nie, maar op die kultuurmilieu, maar as die waarheid van die evangelie voorgehou word. Die probleem is dat as ‘n gemeente groei, word dit in daardie tyd vasgevang – dit hou aan om die kultuur van daardie tyd uit te druk. So mag ons glo dat ons Europese struktuur van kerkmusiek vereis word van alle ware Christene. Dit is tog nie reg nie.

 

Baie denominasies het vyftig jaar gelede gefloreer. Omdat sekere denominasie gefloreer het, hou hulle styf vas aan die tradisies van daardie tyd. Hulle word in daardie tyd vasgevang. As ons lief is vir ‘n besondere tyd wat vir ons van sosiale betekenis is, sukkel ons altyd met die huidige kultuur – dit verskil net te veel. As ons vasklou aan ons tradisies beteken dit dat ons meer waarde heg aan ons kultuuruitdrukkings as die mense wat God tans op ons pad plaas.

 

As gemeentes in hierdie strik trap, skep dit ‘n waardesisteem wat homself bevestig. As so ‘n gemeente planne maak vir die toekoms kyk hulle terug na wat in die verlede gewerk het. So byvoorbeeld sal so ‘n gemeente dieselfde liedere oor en oor sing. Daarom het gemeentes wat “suksesvol” was in een tydperk, probleme om aan te beweeg in ‘n nuwe tydperk. Hoekom? Hulle weet wat werk en weier om te verander.

 

Baie van ons gemeentes is ‘n sigbare herinnering dat ons meer waarde aan ons subkulture as aan die mense wat God tans op ons pad stuur, heg. Kultuur is altyd besig om te verander. As ons die boodskap van die evangelie op ‘n betekenisvolle manier wil oordra, moet gemeentes ook verander. Ons moet dieselfde boodskap oordra, maar op wyses wat relevant vir die huidige kultuur is. Die boodskap moet sin maak vir die kultuur om ons. Ons moet altyd getrou aan die boodskap bly. Ons moet geloofsgemeenskappe word wat God se koninkryk weerspieël vir die mense om ons.

 




Psalm 10 (2)

 

“The goal of human life is not death, but resurrection.” Karl Barth

 

Psalm 10 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Ons kyk nou na die skil om hierdie psalm.

10:1 – 2: ‘n Klaaglied.

Lamed. Waarom, Here, bly U so ver staan,

Waarom verberg U Uself in tye van nood?

In hulle hoogmoed vervolg goddelose mense die magtelose.

Mag hulle vasgevang word in die planne wat hulle beraam

 

In vers 1 het ons twee retoriese vrae – waarom.  God sit nie meer nie; Hy staan, maar ver weg. Hy kyk en luister, maar tree nie op nie. As God gesien en gehoor het, sou Hy sekerlik opgetree het. Psalm 9:10 het immers verklaar dat God ‘n toevlugsoord vir die onderdrukte sal wees. Nou gebeur dit nie so nie.

 

Die goddeloses in hulle hoogmoed tree op ‘n gevoellose manier op teen die hulpeloses – hulle vervolg hulle. Die goddeloses smee planne. Dit herinner nogal aan die planne om Nabot se wingerd te steel en om Nehemia te verhoed om die muur te herbou. Regverdigheid vereis dat hulle vasgevang word in hulle eie sluwe/listige planne.

 

Die digter vra vir God waarom Hy so ver staan en waarom Hy Hom terugtrek in tye van nood – die geloofswaarom wat die dringendheid van sy hulpgeroep beklemtoon. Dit is ‘n vraag wat ons ook vra by geleentheid. Toe Bonhoeffer in Nazi Duitsland in die tronk sit, wagtend op sy teregstelling as Hitler se baie spesiale gevangene, skryf hy dat hy nie God se teenwoordigheid aanvoel nie – God is nie bewus van wat met hom gebeur nie. Maar deur sy geloof het hy oorwin. Die toon van die waarom is smekend, nie opstandig nie. Omdat God nie dadelik ingryp nie, lyk dit asof hy padgegee het. Die goddeloses is verwaand en vervolgsugtig – hulle vervolg die magtelose. Hy smeek God dat hulle  vasgevang word in die planne wat hulle beraam

 

10:16 – 18: ‘n Loflied.

Hier kry ons ‘n aantal stellings oor geloof. Ons lees ook vir die eerste keer dat God koning is. [In 5:3 was Hy my Koning.] Hy is Koning vir altyd – nie soos die nasies wat vergaan nie.

Die Here is koning vir altyd en ewig; nasies verdwyn uit sy land.

TAW. U het gehoor wat die verdruktes graag wil hê, Here.

U versterk hulle hart, U luister aandagtig om aan die weeskind en onderdrukte reg te laat geskied.

Niemand sal meer voortgaan om mense uit die land te verdryf nie.

 

Die verlange van die goddeloses en die verlange van die verdruktes staan teenoor mekaar. God het lank gelede al gewys dat Hy aan die kant van die verdruktes staan. God se luister is nie beperk tot die verlede nie – Hy luister tans en sal aanhou luister. Dit is die soort optrede wat ‘n mens van ‘n koning verwag. Hy het immers die mag om die verkeerde reg te stel. God neem besluite wat die belange van die weeskind en onderdrukte beskerm. God is altyd die potensiële verlosser van die swakkes.

 

Die digter verkondig God se majesteit – nasies verdwyn uit sy land.; hy prys God omdat Hy gehoor het wat die verdruktes graag wil hê, Here. Hy het hulle gebed verhoor. Hy prys God omdat Hy hulle regsaak so behartig het dat niemand sal meer voortgaan om mense uit die land te verdryf nie.  Die Here bly altyd koning – selfs as dit lyk of die goddeloses se terrorisme oënskynlik hoogty vier. Al wat die vromes moet doen, is om op God te vertrou en ernstig by Hom te pleit om hulp. God is aan die kant van die vromes en Hy vernietig die vrees wat die goddeloses in die vromes se lewe wil indra.

 

Noudat ons die skil hanteer het, gaan ons in die volgende blog na die vrug kyk.

 




Kyk en lewe

 

You can only protect your liberties in this world by protecting the other man’s freedom. You can only be free if I am free. -Clarence Darrow (18 Apr 1857-1938)

 

Kyk en lewe

Charles Spurgeon was seker een van die grootste predikers ooit. Hy was baie lief om mense na God te bring. By geleentheid het hy gesê:  “I would sooner bring one sinner to Jesus Christ than unravel all the mysteries of the divine Word.” Hy het geweet hoe belangrik dit was om mense na God te bring, want hy het nooit vergeet hoe God hom tot by Jesus gebring het nie. Luister na sy storie en laat dit jou aanmoedig om ook jou storie aan ander te vertel.

 

So vertel hy sy storie:

Ek sou nog in die duisternis en wanhoop gewees het as dit nie vir God was wat een Sondagoggend, terwyk ek op pad was om te gaan aanbid, ‘n sneeustorm gestuur het nie. Toe ek nie verder kon gaan nie, draai ek in ‘n klein systraatjie en kom by ‘n klein Primitive Methodist Chapel. Daar was so ‘n dosyn of vyftien mense. Ek het van hulle gehoor – gehoor dat hulle so hard sing dat jou ore eintlik pyn. Dit pla my nie – ek wou weet hoe word ‘n mens verlos en as hulle dit vir my kon sê, kan my ore maar pyn.

 

Die leraar het nie opgedaag nie – seker vasgevang in die storm. ‘n Maer man, ‘n skoenmaker of kleremaker of so iets, stap na die preekstoel om te preek. Natuurlik moet predikers opgelei word, maar hierdie man was dom. Hy moes by sy teks hou, want hy het niks anders gehad om te sê nie.

 

Sy teks was: LOOK UNTO ME, AND BE YE SAVED, ALL THE ENDS OF THE EARTH.

Hy kon nie eers die woorde reg uitspreek nie, maar dit het nie saakgemaak nie. In hierdie teks sien ek ‘n flikker van hoop. Hy begin so:

My liewe vriende, hierdie is inderdaad ‘n baie eenvoudige teks. Dit sê: Kyk. Nou om te kyk is nie moeilik nie. Dit sê nie ek moet my voet of vinger lig nie. Dit sê net kyk. ‘n Mens hoef nie universiteit toe te gaan om te leer hoe om te kyk nie. Jy mag die grootste dwaas wees, maar jy weet hoe om te kyk. Almal kan kyk, ook ‘n kind.

 

Die teks gaan verder en sê: Kyk na My. Baie van ons kyk na onsself. Dit is nutteloos om daar te kyk Ons sal nooit vertroosting in onsself kry nie. Die teks sê: Kyk na My.

 

Die man gaan toe verder:

Kyk na My; Ek sweet groot drupels bloed; Ek hang aan die kruis; kyk na My, ek is dood en begrawe. Kyk na My, Ek het opgestaan. Kyk na My, Ek het na die hemel opgevaar; Kyk na My, Ek sit aan die regterhand van die Vader. Arme sondaar kyk na My! Kyk na My!

 

Toe hy daar kom was hy klaar – dit was so tien minute later. Hy kyk toe na my. Met so min mense teenwoordig moes hy geweet het dat ek ‘n vreemdeling was. Hy kyk na my asof hy my hart ken,

Hy sê: “Jongman, jy lyk ongelukkig.”

Natuurlik was ek ongelukkig, maar ek is nie gewoond daaraan dat opmerkings oor my persoonlike voorkoms van die kansel gemaak word nie. Maar dit was ‘n hou wat getref het. Hy gaan verder: “Jongman jy sal altyd ongelukkig wees – ongelukkig in die lewe en ongelukkig in die dood – as jy nie hierdie teks gehoorsaam nie. As jy nou, hierdie oomblik, gehoorsaam, sal jy gered word.’

Hy lig sy hande op en skreeu soos net ‘n Primtive Methodist kan doen: “Jongman, kyk na Jesus Christus. Kyk. Kyk. Kyk. Jy moet niks doen nie, net kyk en lewe.”

 

Omiddellik het ek die pad na verlossing gesien. Ek weet nie wat hy nog gesê het nie – ek het nie aandag gegee nie. Ek was vasgevang met daardie een gedagte. Soos toe die koperslang opgelig is, het die mense net gekyk en hulle was genees.. So was dit met my. Ek het gewag om vyftig dinge te doen, maar toe hoor ek daardie wonderlike woord: “Kyk.’ Ek het gekyk tot ek nie meer kon kyk nie. En toe is die wolk weg en die duisternis ook. Ek het die son gesien. Ek kon opstaan en saam met die entoesiastieste van hulle saamsing – sing van die kosbare bloed van Christus en die geloof wat net na Hom kyk. As iemand dit net vantevore vir my vertel het.

 

Maar dit was hoe God dit beplan het en nou kan ek sê: ‘Ever since by faith I saw the stream Thy flowing wounds supply, Redeeming love has been my theme, and shall be till I die.”

[Hierdie kom uit Spurgeon se outobiografie.]