Luther se gunsteling prediker

 

“Joy is the simplest form of gratitude.” Karl Barth

 

Luther se gunsteling prediker

Luther beskryf by geleentheid sy gunsteling prediker – ‘n voëltjie.

My gunsteling prediker van wie ek meer hou as enige ander prediker is ‘n Janfrederik. Hy is mak en preek elke dag vir my. Ek sit krummels op my vensterbank, veral snags. Hy kom na die vensterbank as hy sy daaglikse voorraad wil hê, hy neem soveel as wat hy nodig het om aan sy behoefte te voorsien. Vandaar vlieg hy na ‘n klein boompie daar naby en begin vir God sing – sy lied van lof en dankbaarheid. Daarna druk hy sy klein koppie onder sy vlerk en slaap. Hy laat môre om vir homself te sorg. Hy is die beste prediker op aarde.

 

 

 




Kan Christene God hoor praat?

 

People may not agree with our theology but they shouldn’t be able to argue with our lives. —John McGowan

 

Kan Christene God hoor praat?

Christene kan God hoor praat en sy leiding volg. Perry Noble noem vier maniere waarop dit moontlik is.

  1. God se woord

Die Bybel is ‘n lewende voorbeeld van God se boodskap aan ons. God wil met ons praat; God wil hê dat ons Hom reg hoor. God se woord is sy wil.  God het aan ons die Bybel as instrument gegee om Hom beter te ken en te verstaan; wie Hy is en wat sy planne vir ons is. Deur op die Bybel te fokus, spandeer ons minder tyd om te fokus op wat ons graag wil hê God moet sê. Die rede waarom baie van ons nie kan hoor as God praat nie, is omdat ons te besig is om self te praat. Dit is ‘n groot versoeking om vir God te vra om te sê wat ons graag wil hoor dat Hy moet sê. Ons moet eerder fokus op wat God reeds gesê het en hoe ons dit in ons lewens kan toepas. As jy God se stem wil hoor, maak jou Bybel oop.

 

  1. Die Heilige Gees

Die Heilige Gees woon in elke gelowige en dien as ons gewete. Die Heilige Gees praat met jou in situasies om jou te help om God se wil te ken en uit te leef.

 

  1. Deur medegelowiges

God het ons gemaak om deel van ‘n geloofsgemeenskap te wees. Hy gebruik hierdie gemeenskap om die waarheid met ons te praat. Meestal doen Hy dit sonder dat ons eers daarvan bewus is. As jy met ‘n vriend praat en Hy sê iets in ooreenstemming met die Skrif en wat ‘n situasie waarin jy verkeer, hanteer, is dit God wat met jou praat. Jy hoor God deur jou vriend praat.

 

  1. Prediking

Christene hoor God deur sy kerk praat. Dikwels praat God direk met ons tydens ‘n erediens. God praat met ons, sy kinders, deur sy kerk. Die kerk bestaan en groei reeds oor 2000 jaar.

 

Ons moet God toelaat om met ons en deur ons te praat. God glo in ons potensiaal. Jy het wat nodig is om God te hoor praat … en ja vir Hom te sê.

 

 




Obed-Edom

 

“Working hard for something we don’t care about is called stress; working hard for something we love is called passion.” -Simon Sinek

 

Obed-Edom

In die Bybel lees ons van ‘n verskeidenheid mense wie se lewe God se mense verteenwoordig. Dink aan Ragab, die prostituut, wat die Here vertrou het en gered is.  Dink aan Mefiboset wat kreupel was en tog genooi is om elke dag aan die koning se tafel te eet. Dink aan Gomer, die gewoonte owerspelige vrou, wie se man haar uit slawerny teruggebring het.

 

En dan is daar Obed-Edom. Min van ons weet iets van hierdie Ou Testamentiese persoon. Sy naam is ‘n samevoeging van twee name.  Obed was Dawid se oupa; Edom was Esau se bynaam. Hy wys vir ons wat met ons deur Jesus gebeur.  Ons lees van hom in 2 Samuel 6. Dit is net na een van die verbasendste stories in die Bybel. Ussa, die Leviet, het pas gesterf omdat hy aan die ark geraak het. Dawid was diep ontsteld.  Hy word bang vir die Here en vra: Hoe kan die ark van die Here nou na my toe kom?  Hy laat die ark vir drie maande in die huis van Obed-Edom. Die Here het hom en sy hele gesin voorspoedig gemaak.

 

Obed-Edom was ‘n Gittiet van Gat afkomstig – nie Israel nie. Hy is dus ‘n Filistyn, ‘n nasie wat vir geslagte lank ‘n doring in die vlees van Israel was. Hy, ‘n Filistyn, dien as gasheer vir die woonplek van Israel se God – die ark. Hy het God se teenwoordigheid in sy voorkamer. Sy huis word in wese ‘n tempel. Oorvloedige seën volg.

 

In Christus is dit ook wat met ons gebeur. Ons is buitestanders, vyande van God. Maar ons het die wonderlike vooreg om as gasheer vir Israel se God op te tree. Ons het as ‘t ware sy teenwoordigheid in ons voorkamers. Ons is sy tempel. Elke geestelike seëning is ons s’n. Ons is Obed-Edom.

 

Dawid hoor dat God vir Obed-Edom geseën het. Dawid gaan toe terug om die ark van die Here te gaan haal en na Jerusalem te bring. God se guns teenoor ‘n heiden lei daartoe dat Israel, die regmatige tuiste van die ark, gehoorsaam is.

 

Dit is wat met Israel gebeur deur die heidene. As hulle sien dat God die heidene seën, word hulle jaloers en keer na Hom terug. As die teenwoordigheid van God na sy stad terugkeer, sal die feesvreugde selfs dié van Dawid oortref.

 

Daar is iets meer aan Obed-Edom se storie. Na die ark na Jerusalem geneem is, het Obed-Edom nie afskeid geneem van God se teenwoordigheid nie. Hy gaan saam met die ark na Jerusalem. Daar tree hy op as poortwagter vir die ark (1 Kronieke 16:37 – 38). Hy en sy familie word soos Leviete behandel. Hulle word by Israel ingesluit en kan  God aanbid – saam met Dawid en Asaf.

 

 

 




Psalm 10 (1)

 

“Prayer without study would be empty. Study without prayer would be blind.” Karl Barth

 

Psalm 10 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema: Al voel God somtyds vir ons ver weg, is Hy tog bewus van alle onreg.

Psalm 10 sluit in sekere opsigte by die vorige psalm aan. Waar Psalm 9 afsluit met die gebed dat God Hom sal openbaar sodat die mens homself nie kan verhef nie, handel hierdie psalm nou oor die hoogmoediges wat die vrome vervolg. In Psalm 9 het die bidder sy dank aan God betuig. In Psalm 10 smeek en kla hy by God.

 

Vers  1 – 2 sit die alfabet en die gebed van 9:19 – 20 voort, want dit lyk asof God nie ingryp nie. Vers 12 – 15 sit ook die alfabet en gebed voort, maar nou is die teenstander die goddelose man. Vers 16 – 18 voltooi die alfabet. Die hulpeloses het nuwe moed, want die Here het hulle gesmeek gehoor.

 

In hierdie alfabetiese gedig kom daar ‘n beskrywing van ‘n goddelose man voor (vers 3 – 11). Dit volg na die vermelding van die goddeloses in vers 2. Dit is ‘n omvattende beeld wat die begeerte en trots agter sy bose dade ontleed. Dit ontbloot ook sy verwerping van God, sy selfvertroue, sy onderdrukking van die hulpeloses, die swakkes en diegene wat onbeskermd is. Hy glo dat God nie sien of omgee nie.

 

Die rangskikking word moeilik verduidelik, maar die bedoeling is duidelik. Tussen nasies en in die Israelse gemeenskap lyk dit asof die goddeloses ongehinderd vooruitgaan. Maar oorwinnings in die verlede wys dat God se oordeel aan die werk is. Die psalmis se gebed is dat God nasionaal en internasionaal sal optree.

 

Psalm 10 is soos ‘n lemoen wat middeldeur gesny is. Die eerste en laaste strofes is soos die skil buite om. Die twee hoofdele is soos die vrug aan die binnekant. Die skil bestaan uit twee dele wat mekaar balanseer: ‘n klaaglied en ‘n loflied. Ons begin by die skil in die volgende blog.