Hanteer die Bybel as ‘n seën en nie ‘n las nie

Christ looks more at the good in them which he means to cherish than the ill in them which he means to abolish. —Richard Sibbes

 

Hanteer die Bybel as ‘n seën en nie ‘n las nie

Billy Graham sê Christene moet die Bybel met entoesiasme lees. Die Bybel is ‘n groot boek om te takel, maar dit is vol wysheid. Net omdat daar dinge is wat ons nie verstaan nie, beteken nie dat ons niks kan verstaan nie. Daarom moet ons elke dag tyd inruim om te bid en Bybel te lees.

 

Graham glo dat ‘n nuwe Christen moet met die Psalms of Spreuke of die evangelies begin, want ons kan hierdie gedeeltes maklik op ons lewens toepas. Christene moet ook ander maniere gebruik om meer van die Bybel te leer – bywoning van eredienste en die bestudering van die Bybel met medegelowiges.

 

Die belangrikste is dat Christene God vra om hulle te help om die Bybel in hulle lewens toe te pas. Die Bybel is God se geskrewe woord en deur die Bybel leer ons vir Jesus Christus en sy wil vir ons lewens ken. Ons moenie met tweedehandse geloof tevrede wees nie. Hy sluit af met 2 Petrus 3:18: Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.

 

Graham is tans 97 jaar oud. Hy praat gereeld oor die belang daarvan om die Bybel te lees om jou geloof te versterk. Maar ons moet die Bybel met ‘n oop verstand en ‘n oop hart benader. God wil ons verander en Hy gebruik die Bybel om dit te doen.

Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself (Jakobus 1:22).

 

 




Moenie oordeel nie

 

“The theologian who labours without joy is not a theologian at all. Sulky faces, morose thoughts and boring ways of speaking are intolerable in this field.” Karl Barth

 

Moenie oordeel nie

Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie Matteus 7:1)

Craig Groeschel is besig met ‘n reeks wat handel oor Bybelverse wat dikwel verkeerd geïnterpreteer word.

 

Nie-Christene haal dikwels hierdie vers aan om te sê dat Christene veroordelend is, terwyl die Bybel duidelik sê dat hulle nie mag oordeel nie. Is dit die korrekte interpretasie van hierdie vers? Hierdie vers is meer ingewikkeld as hierdie oppervlakkige siening. Dit is belangrik dat ons duidelikheid oor hierdie vers kry, want dit is een van die belangrikste redes waarom mense die kerk verlaat – Christene is altyd besig om ander te oordeel.

 

Om hierdie vers reg te verstaan, moet ons na die konteks van die vers en na ander verse oor hierdie onderwerp kyk. Hierdie vers sê nie dat Christene glad nie mag oordeel nie, maar lê spesiale riglyne neer vir wanneer ons moet oordeel. As ons hierdie riglyne volg, kan ons sondaars na die waarheid teruglei.

 

  1. Moenie oppervlakkig oordeel nie

Moenie van ‘n afstand oordeel nie; moenie oordeel as jy net beperkte inligting het nie.

 

  1. Moenie vals oordeel nie

Christene het die reg om sonde in ‘n medegelowige uit te wys, maar voordat hulle dit doen, moet hulle eers na binne kyk. Het ons nie hier met ‘n weerspiëling van ‘n sonde in ons eie lewe te doen nie? Christene is baie geneig om ander aan te kla en hulleself te verskoon. Die plek waar jy die swaarste oordeel, openbaar dikwels jou grootste swakheid.

 

  1. Moenie Christene aan dieselfde standaard as nie-Christene hou nie

Christene word geroep om aan ongelowiges God se liefde te wys. Laat God toe om hulle harte te verander.

 

  1. Probeer altyd om gelowiges wat geval het, te herstel.

Hoe kry ons dit reg? Deur ‘n balans tussen genade en die waarheid. Dit is baie belangrik, want elke Christen sal op een of ander stadium hulp en rigting met sy geloof nodig hê. As iemand geval het, skop ons hom nie. Hoekom nie? Ons sondig ook. Ons moet hom liefhê.

 

Ons preek dikwels vir ongelowiges met te veel waarheid en te min genade of met te veel genade en te min waarheid. Beide het negatiewe gevolge. Waar daar net waarheid sonder genade is, lei dit tot opstand en dit dryf mense weg. As daar net genade sonder waarheid is, gee ons aan mense die toestemming om hulle te gedra net soos hulle wil.

 

Ons moet bid dat die Here ons sal bystaan as ons probeer om iemand na die geloof terug te lei sonder om hulle verder weg van sy boodskap te druk.

 

 

 




Psalm 9 (4)

 

If you love deeply, you’re going to get hurt badly. But it’s still worth it. —C.S. Lewis

 

Psalm 9 (4)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

9:14 – 19: ‘n Gebed om hulp en getuienis dat God gehelp het

Die psalm kon by vers 13 opgehou het. Dit gaan nie alleen voort nie, maar verander in ‘n gebedspsalm. Die lofprysing se funksie is nou om God te oortuig om te luister na sy gebed. Die erkenning van God se optrede in die verlede, is die rede vir die gebed.

 

9:14 – 15: Get. Wees my genadig, Here, kyk hoe my haters my verdruk – U wat my kan wegruk uit die poorte van die dood –

Sodat ek van al u lofwaardige dade kan vertel in die poorte van die dogter van Sion.

Ek wil juig oor die verlossing wat U bring.

 

Die implikasies van wees my genadig word uitgespel in die oproep kyk. God sal sekerlik in deernis optree as hy die psalmis se ellende aanskou as gevolg van wat sy haters aan hom gedoen het. God ruk hom letterlik uit die poorte van die dood weg. Wegruk is letterlik wat nodig is, want die psalmis staan reeds in die poorte van die dood.

 

Die psalmis verwag dat God sal optree. Dan sal die psalmis van God se dade kan vertel. God se roemryke dade is sy heil/uitkoms. Hy word gered uit die poorte van die dood en kan juig in die poorte van die dogter van Sion. Sion is die plek van lewe, want dit is onder andere die plek van getuienis. Die dogter van Sion is ‘n verpersoonliking van die stad wat God liefhet as vader.

 

Hierdie is die tweede hoofdeel. Vs 14 – 17 bevat nie net ‘n gebed om hulp en ‘n getuienis dat God gehelp het nie. Twee uiterstes woord ook geskets:

  • Die poorte van die dood wat na die doderyk toe lei en wat die bestemming van die skuldiges is.
  • Die poorte van Sion waar die Here woon en waar uitkoms is. Daar kan die vrome juig en getuig, want daar laat die Here reg geskied.

Die skuldiges in die doderyk dink egter nie aan God nie.

 

9:16 – 17:  Tet. Nasies het weggesak in die vangkuil wat hulle gemaak het; in daardie vangnet wat hulle versteek het, is hulle voete vasgevang.

Die Here het Homself bekend gemaak: Hy laat reg geskied; goddelose mense raak in hulle eie handewerk verstrik. Higgajon Sela

 

Hier herroep die psalmis God se dade in die verlede wat dien as basis vir sy gebed. Dit wys hoe mense se verkeerde planne op hulleself omgekeer kan word. Vers 17 maak dit duidelik dat deur hierdie optrede God Hom in die verlede bekend gestel het. Hy het strafgerig geoefen – Hy laat reg geskied.

 

In hierdie verse sien ons hoe die goddelose op sy plek gesit word. Dit mag twee maniere wees om dieselfde gebeure te beskryf. As mense ‘n strik stel en hulle trap per ongeluk in hulle eie strik, is dit God wat dit doen – dit is Hy wat sy strafgerig beoefen.

 

Die digter spreek ‘n aantal voornemens uit oor sy eie verhouding met die Here: hy wil van God se reddingsdade getuig; hy wil vrolik en bly wees; hy wil God se Naam besing. Vyf werkwoorde – prys, vertel, verbly, vrolik wees, besing – dui op die bidder se opregte – met my hele hart – en uitbundige blydskap en dankbaarheid, en sy gewilligheid om te getuig van die Here se verlossingsdade. [In vs 20 – 21 rig hy ‘n aantal versoeke.] Die gedeelte tussen inleiding en slot is ook twee pole wat mekaar goed balanseer.

 

9:18 – 19: Jod. Goddelose mense keer terug na die doderyk, al die nasies wat God vergeet.

Kaf. Maar die behoeftiges sal nie vir altyd vergeet word nie; die magteloses se hoop is nie vir altyd verlore nie.

 

Die erkenning van God se  getroue optrede in die verlede lei tot ‘n geloofstelling. Die psalmis is by die poorte van die dood, maar  dit is die goddelose wat op pad daarheen is. Teruggaan na die doderyk beteken dat die goddeloses sal omdraai en vlug, maar hulle sal omkom. Uiteindelik gaan almal doderyk toe, maar nie een van die twee partye gaan nou reeds daarheen nie. Die konflik beteken dat of die aanvallers of hulle slagoffers moet gaan. God ignoreer nie die swakkes nie. Die aanvallers ignoreer egter vir God; hulle erken Hom nie.

 

Die want waarmee vers 19 begin, beklemtoon die band tussen die dood van die goddeloses en die verlossing van die swakkes. Die aanvalle sal nie vir altyd/vir ewig aangaan nie. Verlossing sal kom. Die swakkes se hoop word nie uitgeblus nie, want hulle word nie geïgnoreer nie. Die vyande en die nasies sal vernietig word voordat die hoop van die swakkes vernietig word.

 




Oorprofessionaliseer ons evangelisasie?

 

The hard sayings of Jesus are not hard to understand, just hard to swallow. —Steven Lawson

 

Oorprofessionaliseer ons evangelisasie?

Min van ons kan professionele sportmanne wees. Tog neem ons aan sport deel, want ons is lief daarvoor. Wat sou gebeur as daar besluit word dat sport net deur professionele sportmanne gespeel kan word? Ons kan tog nie ‘n algemene praktyk professionaliseer nie. Dit beteken die einde van deelname deur ons gewone sportmanne.

 

Maar in die kerk het ons die algemene praktyk van evangelisasie geprofessionaliseer – tot ons nadeel. Sodra jy iets wat ‘n algemene praktyk is, professionaliseer, onderdruk jy die passie daarvoor by die gewone mense. Die deelname verminder ook. Professionalisering van evangelisasie het gelei tot ‘n afname in passie en deelname. Daarom kry ons dat min gelowiges hulle geloof in Jesus Christus met ander deel.

 

Hoe het die kerk evangelisasie geprofessionalseer? Ed Stetzer noem drie maniere.

  1. Deur personeel in gemeentes aan te stel, het mense die indruk gekry dat jy betaal moet word om evangelisasie te doen. Daarom glo mense dat evangelisasie die verantwoordelikheid van die leraar of ander voltydse personeel is. Evangelisasie in die gemeente is dus beperk tot ‘n paar individue – gewone lidmate raak onbetrokke. Gelowiges moet evangeliseer in hulle werk en daar waar hulle invloed het. Die praktyk van evangelisasie moet gedesentraliseer word. Wat nodig is, is dat lidmate toegerus moet word om die evangelie met ander te deel waar hulle ook al is.
  2. Die kerk het evangelisasie geprofessionaliseer deur te sê dat net sekere mense die gawe van evangelisasie het. Almal het die verantwoordelikheid om te evangeliseer – dit is deel van die taakbeskrywing van elke gelowige.
  3. Die kerk het die indruk geskep dat evangelisasie by die kerk en nie deur die kerk gebeur nie. Ons beklemtoon die praktyk om familie, vriende, bure, medewerkers uit te nooi om ‘n erediens by te woon, sodat hulle die evangelie kan hoor. Die waarskynlikste plek vir evangelisasie in nie by die kerk nie, maar in ons buurt, werk, koffiewinkels, ens. Maar ons moet die lidmate hiervoor voorberei. Lidmate moet verander van ‘n “kom en sien” groep na ‘n “gaan en vertel” groep.

 

Evangelisasie is nie tot professionele, begaafde persone beperk nie. Ook nie tot ‘n spesifieke plek nie. Dit is die taak van elke gelowige en elke omgewing. Gemeentes moet dit kommunikeer en elke lidmaat hiervoor toerus.