Hoe om die Bybel te bestudeer

 

The more outrageous the wicked are against the truth, the more courageous the godly are for it. —Thomas Watson

 

Hoe om die Bybel te bestudeer

Hierdie is nog ‘n artikel in hierdie reeks van Mel Lawrenz.

Ons glo dat die Skrif geïnspireer is: die skrywers van die Bybel is deur die Heilige Gees geïnspireer om te skryf wat die volle waarheid is en die gesag van God se woord dra. Daar is nog ‘n belangrike beginsel: verligting.

 

Tydens inspirasie gebruik die Heilige Gees die skrywers om God se waarheid te openbaar. Tydens verligting bemagtig die Heilige Gees die denke van lesers om te verstaan wat neergeskryf is.

Wanneer ek in my gebede aan julle dink, bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het (Efesiërs 1:17 – 18).

Psalm 119 is feitlik in sy geheel ‘n gebed vir die verstaan van God se wil, weë en woord

 

As ons die Bybel lees, gebruik ons die normale metodes om enige teks te verstaan. Gelowiges stop nie hier nie. Hulle weet dat die woord van God die menslike verstaansvermoë oortref. Om werklik te verstaan vereis die werk van die Heilige Gees. Daarom moet ons voor en na ons die Skrif lees, bid. Hier is twee voorbeelde:

Voor ons die Bybel lees: O Here, maak my oë oop as ek u woord lees. Ek verlang om U te ken; om u woord te verstaan; om verander te word. Ondersoek my, o Here. Amen.

Na ek die Bybel gelees het: Mag die woorde wat ek gelees het, o Here,  diep in my gedagtes en hart geplant word. Help my om nie sommer te vergeet nie, maar om na te dink oor u woord en dit te gehoorsaam en om my lewe op u waarheid te bou. Amen.

 

 




Ontvang God alle mense met oop arms?

 

It is a sign of the age that we preachers are far more adept at humor than tears –  John Piper

 

Ontvang God alle mense met oop arms?

Billy Graham, tans 97 jaar oud, skryf onlangs op die webblad van die Billy Graham Evagelistic Assosiation dat God altyd mense met oop arms ontvang. Hoe ver hulle afgedwaal het, is nie belangrik nie. Maar Hy kan nie diegene wat weier om na sy boodskap te luister, red nie.

 

Hy verwys dan spesifiek na die twee misdadigers wat saam met Jesus gekruisig is. Die een het berou oor sy sonde en vra om vergifnis. Hy ontvang die ewige lewe. Die ander een het geen berou nie. Hy ontvang nie die ewige lewe nie.

 

God verwelkom enigeen wat na Hom in opregtheid kom met berou en geloof – selfs op die laaste minuut. God kan nie iemand red wat weier om gered te word nie. As iemand herhaaldelik sy rug na God draai, word sy hart net harder en harder. Dit word vir so iemand al hoe makliker om God se stem te ignoreer.

 

Net God het die mag om waarlik die harte van hardkoppige ongelowiges te verander. Net Hy kan deur die skanse breek wat ons om ons harte bou.

 




Skep ‘n etos vir evangelisasie

 

The more we get what we now call “ourselves” out of the way and let Christ take us over, the more truly ourselves we become (C. S. Lewis)

 

Skep ‘n etos vir evangelisasie

Gesonde dinge groei. ‘n Gemeente wat nie groei nie, kan nie evangelisties gesond wees nie. Ons moet altyd onthou dat evangelistiese groei nie altyd met ‘n dramatiese toename in getalle gepaard gaan nie. Om dissipels te maak is ‘n lang en geleidelike proses wat tyd nodig het. Dit is die gevolg van gewone lidmate wat betrokke raak by ander mense se lewens.

 

  1. D. Grear identifiseer vyf aspekte wat nodig is om ‘n gesonde evangelistiese etos in ‘n gemeente te skep.

 

  1. Doegerigtheid en sensitiwiteit vir die Gees

Die belangrikste faktor in persoonlike evangelisasie is om met die Heilige Gees saam te werk. Ons bou nie die koninkryk van God nie; ons laat toe dat God dit deur ons bou. Geen wonder die eerste opdrag aan die apostels in Handelinge is wag. Totdat die Heilige gees uitgestort is, kan hulle niks doen nie. Dit is die enigste manier waardeur ons nie deur die massiewe taak oorweldig sal word nie. God verwag nie dat ons mense moet bekeer nie. Hy nooi ons uit om saam met Hom te loop en sy instrument te wees terwyl Hy sy gemeente bou. Soms is daar ‘n oop deur; soms nie. As jy waarneem dat ‘n deur as gevolg van gebed oopgaan, bid gedurig en luister as jy bid.

 

  1. Praktiese maniere om ‘n gesprek te begin

So dikwels begin ons met geforseerde vrae soos: “As jy vannag doodgaan waar sal jy die ewigheid deurbring?” Dit is nie verkeerd nie, maar daar is beter maniere om mense te benader. Bou eers ‘n verhouding met hulle voor jy met sulke vrae kom.

 

  1. Modelle

Die beste manier om te leer hoe om Christus met ander mense te deel, is deur iemand dop te hou. ‘n Boek of kursus is nie ‘n model nie.

 

  1. Die vermoë om jou eie storie kort en bondig te deel

Ons moet ‘n kort – honderd woorde of minder –  storie hê om te vertel hoe Christus ons behoeftes hanteer het. Ons storie is nie dieselfde as die evangelie nie, dit is ‘n reaksie op die evangelie. Dit dien gewoonlik as inleiding om die evangelie met ander te deel.

 

  1. ‘n Vermoë om die werklike evangelie kort en bondig met ander te deel

‘n Nuttige manier is deur daarop te wys dat godsdienste gaan oor wat gedoen moet word; die evangelie gaan oor wat reeds gedoen is. Jy moet die hoorders betrokke kry. Jy kan altyd later die besonderhede invul. Moenie probeer om die hele evangelie by die eerste ontmoeting te hanteer nie. Jy gaan mense verwar en afskrik.

 

 




Psalm 9 (1)

 

Worship is designed to remind you that in the center of all things is a glorious and gracious king, and this king is not you. —Paul Tripp

 

Psalm 9 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Baie geleerdes beskou Psalms 9 en 10 as ‘n eenheid. In die Septuagint is dit een psalm. Die belangrikste redes hiervoor is:

  • Die beginletters van tien van Psalm 9 se verse is alfabeties gerangskik van die begin van die Hebreeuse alfabet tot by die letter K. Die beginletters van sewe van Psalm 10 se verse loop van die letter I tot die einde van die alfabet. Elke tweede vers begin met ‘n volgende letter van die alfabet. Dit vergemaklik memorisering. [Daar is 22 letters in die Hebreeuse alfabet.]
  • Psalm 9 het ‘n lang inleiding; Psalm 10 het geen inleiding nie – die enigste van Psalm 3 – 32 sonder inleiding.
  • Aan die einde van Psalm 9 en die begin van Psalm 10 word God direk aangespreek.
  • Beide psalms praat oor die driehoeksverhouding – God, gelowige, goddelose.
  • In beide gebruik die digter parallelle sinne en kontraste om uitsprake te beklemtoon.

 

Om die psalm beter te verstaan, moet ons weet dit is ‘n kombinasie van ‘n loflied en ‘n klaaglied. In hierdie psalm maak die digter uitsprake oor die driehoeksverhouding tussen God, die gelowige en die ongelowige/goddelose. Om sekere dinge te laat uitstaan, rangskik hy baie van sy uitsprake in parallelle sinne. En om God se goedheid sterk te beklemtoon, maak hy gebruik van kontraste. Die eerste en laaste strofes is twee pole wat mekaar balanseer.

 

Ons gaan die twee psalms as ‘n eenheid behandel. Hierdie inleiding en die teologiese implikasies wat aan die einde van Psalm 10 volg, geld vir beide psalms. Die psalms begin met ‘n onderneming om God te loof  en eindig in lof (9:2 – 13; 10:16 – 18). Die psalmis loof God vir sy verlossingsdade. Die lang lofprysing gaan oor in ‘n pleidooi en klaaglied. Drie maal smeek die psalmis God om weer op te tree (9:14 – 15; 9:20 – 10:2; 10:12 – 15). Hierdie psalm is ‘n gebed en soos alle ander gebedspsalms sluit dit ‘n herinnering aan God se groot dade in. Daar is ook die vooruitsig om terug te keer en weer vir God te loof vir ‘n verlossingsdaad. Die kombinasie van lof en gebed is algemeen. Hierdie wisseling tussen lof en gebed maak dit moeilik om te fokus op twee stelle feite – beide die erge feite oor die psalmis se huidige ondervinding en die bemoedigende feite oor God se verlede en sy ware natuur.

Die psalm vertel vir ons wat God in die verlede gedoen het, treur oor hoe dinge tans is en pleit by God om op te tree soos Hy in die verlede opgetree het en spreek dan die oortuiging uit dat God dit sal doen.

 

Die alfabetiese struktuur in hierdie psalms is onvolledig en oneweredig. Van die letters is omgeruil; die reëls wissel in lengte; verandering in die letters gaan nie altyd gepaard met verandering in inhoud nie. Die psalm praat in beide die meervoud en enkelvoud van die aanvallers en hulle slagoffers. Daar word ook woorde gebruik wat op ‘n individuele of nasionale krisis mag verwys.

 

9:1: Opskrif

Vir die musiekleier. Almoet Labeen.’n Psalm van Dawid.

Almoet labeen kan vertaal word met “op die dood van die seun.”  Wie die seun is, is onseker. Dit verwys waarskynlik na die melodie waarop die psalm gesing is. ‘n Moontlike verklaring is: Dit is ‘n dankpsalm uitgespreek deur ‘n digter (?Dawid) wat deur die Here gered is. Hy getuig nou daarvan in die tempel in Jerusalem ten einde die toehoorders te onderrig.