Is ek volmaak?

“Jesus does not give recipes that show the way to God as other teachers of religion do. He is Himself the way.” Karl Barth

 

Is ek volmaak?

Deur  een offer het Hy dan dié wat heilig  gemaak word, vir altyd perfek gemaak (Hebreërs 10:14 – Interliniêre Bybel)

Beteken dit ons is nou reeds volmaak in ons gedrag en gesindhede? Kom ons kyk na twee aspekte:

 

  1. Op watter manier is ons volmaak/perfek?

Die mense wat perfek/volmaak gemaak word, is diegene wat heilig gemaak word. In Hebreërs 5:1 het die skrywer gesê dat sy lesers so traag is om te leer. Hulle is alles behalwe VOLMAAK. Ons kan dus aanvaar  dat volmaak in Hebreërs 10:14 nie beteken dat ons sondeloos volmaak is nie.

 

Wat beteken dit dan? Die antwoord kry ons in verse 15 – 18. Die skrywer verduidelik dat in die nuwe verbond , wat deur Christus met sy bloed verseël is, is daar totale vergifnis vir al ons sondes. Dan sê Hy verder: “ Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit weer dink nie.” Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie (Hebreërs 10:17 – 18). Die skrywer verduidelik die huidige volmaaktheid in terme van vergifnis.

 

God se mense is volmaak in die sin dat God hulle sondes weggeneem het. Hy vergewe hulle en bring dit nooit weer na vore as gronde vir veroordeling nie. Hy skryf nie enige van ons sondes aan ons toe nie.

 

  1. Versekering in volmaaktheid

Vir wie het Christus sy werk aan die kruis gedoen? Hebreërs 10:14 is baie duidelik: Deur  een offer het Hy dan dié wat heilig  gemaak word. In Hebreërs 10:10 sê die skrywer dat ons vir Hom afgesonder is deur die offer van Jesus Christus – eens en vir altyd.

 

Wat beteken dit? Ons kan volmaak in die oë van ons hemelse Vader voor Hom staan as ons wegbeweeg van die huidige onvolmaaktheid; ons neem toe in heiligheid deur geloof en God se genade. Hierdie is ‘n wonderlike bemoediging vir onvolmaakte sondaars soos ons.

 

Hou moed. Hou jou oë op God en sy werk om ons volmaak te maak. Draai jou rug op die sonde.

 




Is God in my teleurgesteld?

 

“To clasp the hands in prayer is the beginning of an uprising against the disorder of the world.” Karl Barth

 

Is God in my teleurgesteld?

Hierdie is ‘n algemene vraag wat mense vra as hulle besef dat hulle foute gemaak het en nie aan God se standaarde voldoen het nie. Sommige mense sê selfs die mens is “niks meer as ‘n wandelende teleurstelling vir ons hemelse Vader nie.” Hierdie is nie waar nie. Dit mag selfs ‘n rede wees waarom sommige mense die kerk verlaat. As dit al is wat hulle kan bereik, hoekom moet hulle nog probeer.

 

Jy kan tog nie ‘n verhouding met ‘n agtjarige kind bou as jy die hele dag vir haar vertel  dat sy vir jou ‘n teleurstelling is nie. Geen wonder sommige mense beskryf God as “wreed en onregverdig” nie. In werklikheid het ons die volmaakte Vader. Wat sal gebeur as die kerk eerder mense bemagtig in plaas daarvan om elke Sondag skuldgevoelens by hulle op te wek? Wat sal gebeur as die kerk eerder oor God se liefde praat? Hoe kragtig sal dit nie wees om mense se lewens te verander nie.

 

Mense is nie ‘n wandelende teleurstelling vir God nie. Jesus het vir ons gesterwe. In Jesus Christus het jy ‘n lewe vol vreugde en vrede wat God verheerlik.

 

Rick Warren het ook oor hierdie gevoel van teleurstelling en hoe om dit in die lewe te hanteer, gepraat. Maak nie saak hoe hard ons probeer nie, ons kan nooit  die wêreld so volmaak soos die hemel maak nie. Ons probeer volmaaktheid bereik deur ons verhoudings en besittings. Dit is nie die hemel nie. Natuurlik moet ons probeer om die wêreld ‘n beter plek te maak. Moet ons verwag om volmaak te wees? Nee. Omdat dinge nie reg uitwerk nie, is ons gespanne. Ons het nie genoeg tyd om alles te doen nie wat ons graag wil doen nie. Daar is vertragings en probleme en doodloopstrate … en teleurstellings.

 

Alles is hierdie wêreld is gebroke. Niks werk volmaak omdat die wêreld vol sonde is nie. Maar een ding is seker: God is nie in my teleurgesteld as ek glo dat Jesus Christus my Verlosser is nie – al doen ek nou nie alles wat ek dink ek behoort te doen nie.

 




Verkeerde gebruik van teksverse

 

“God has not revealed himself in any religion, including Christianity. He has revealed Himself in his Son. In Jesus Christ, God has spoken for himself, and we must hear that speech.” Karl Barth

 

Verkeerde gebruik van teksverse

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! (Jeremia 29:11)

Graig Groeschel is besig met ‘n reeks oor die verkeerde gebruik van gewilde verse. Hierdie keer kyk hy na Jeremia 29:11. Hierdie vers moet in sy konteks gelees word. Dit is deel van ‘n brief wat Jeremia aan die ballinge in Babilonië geskryf het.

 

Ons moet verstaan dat ons in die Bybel spesifieke en algemene beloftes kry. Spesifieke beloftes is beloftes gemaak aan spesifieke mense op ‘n spesifieke tyd. Algemene beloftes is beloftes wat vir alle mense en alle tye geld.

 

Jeremia 29:11 is ‘n spesifieke belofte gemaak aan Jode in ballingskap. Tog is daar dele van hierdie belofte wat ook vir ons geld. Ek weet wat Ek vir julle beplan. Het God planne vir ons? Beslis. Het Hy ‘n doel vir ons? Beslis. Het God planne om mense te seën? Beslis. God is goed en hy gee graag goeie dinge vir sy kinders.

 

Die Bybel is vol wysheid, maar mense is geneig om hulle gunsteling verse verkeerd te interpreteer. Ons lees hierdie vers asof God Kersvader is.  Ons gebruik hierdie spesifieke beloftes en gebruik hulle buite hulle konteks en maak hulle op ons van toepassing. So dikwels maak ons ons eie planne en sê dat dit God se planne is.

 

 




Psalm 8 (4)

God uses men who are weak and feeble enough to lean on Him – Hudson Taylor

 

Psalm 8 (4)

 

Teologiese Implikasies van Psalm 8

Die Nuwe Testament gebruik Psalm 8 om te help om sekere aspekte van God se belang uit te druk (1 Korintiërs 15:27; Hebreërs 2:6 – 8). Hierdie psalm kyk nie vooruit na ‘n nuwe tyd nie – dit is ‘n visie wat by die huidige hoort. Dit wys vir ons wat die mens tans is. Dit gaan van die veronderstelling uit dat ons nie mensekind kan sê voor ons God kan sê nie. Die psalm plaas ‘n verantwoordelikheid op en maak ‘n belofte aan die mens.

 

Hierdie psalm impliseer dat Genesis 1 nie as gevolg van die sondeval nietig verklaar is nie. Menslike ongehoorsaamheid beteken nie dat God nie meer die wêreld onder die gesag van die mens plaas nie. Net so is die mens steeds die beelddraer van God. Daar word ‘n band tussen die skepping en ons huidige ondervindings gemaak. Wat God bedoel het die mens moet wees, is steeds sy bedoeling vir die mens.

 

As ons na die heelal kyk, kan ons deur ons eie nietigheid oorweldig word. God wil hê dat ons anders na die heelal moet kyk – ‘n heelal waarin ons ‘n beduidende rol moet speel. Ons roeping is om saam te werk aan die voltooiing van God se skeppingsprojek; ons kan nie God se projek frustreer deur God se skepping te bederf nie. Ons kan deel wees van hierdie projek wetende dat die huil van kinders wat ly by God uitgekom het. Ons kan in geloof sê dat God oppermagtig is – ook oor die wêreld. God is nie ‘n laaste uur Verlosser nie.

 

Psalm 8 het ‘n wonderlike boodskap vir elke gelowige. Ons het ‘n spesiale status in die oë van God: aan die een kant, ‘n nikswerd sondaar, maar tog ook kind van God, koningskind. Ons moet ons status voor God aanvaar en die verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan ten volle uitleef. Ons kan dit doen, want ons weet dat God die gehuil van kinders en suigelinge hoor en dat God grense opgerig het om te verhoed dat die teenstanders oorwin.