Die gevaarlike gebed

 

It is a poor sermon that gives no offense; that neither makes the hearer displeased with himself nor with the preacher.” George Whitefield

 

Die gevaarlike gebed

Wat is die gevaarlike gebed? As ek God vra om my beskikbaar te maak. Ons moet meer soos kinders in God se diens wees – ons moet  Hom uitnooi, sonder vrees, om in ons lewens teenwoordig te wees.

 

Ons het gewoonlik baie verskonings om ons nie beskikbaar vir God te stel nie. Ons moet altyd onthou dat as God ons roep, Hy ons ook toerus. God is meer bekommerd oor jou beskikbaarheid as oor jou vermoëns. Ons moet ons beskikbaarheid met opgewondenheid, vreesloosheid en moed oor ons geloof benader. As ons vreesloos God se plan volg, kan Hy ons gebruik as instrument vir sy wil.

 

Hierdie gebed is gevaarlik, want God mag jou roep vir verskillende dinge. God kan jou roep om iets te doen wat jy nooit gedink het jy sou doen nie.

 

 




My perspektief op gebed

 

Paul  wants the church to be a proclaiming church not a complaining church C. J. Mahaney.

 

My perspektief op gebed

Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word (Johannes 14:13)

Ons moet ons perspektief oor gebed verander. Die doel van gebed is nie die vervulling van ons wense nie, maar die verheerliking van God. Bogenoemde vers word dikwels verkeerdelik gebruik. Daarom verlaat mense die kerk, want hulle glo dat hulle gebede nie beantwoord is nie – God het hulle in die steek gelaat.

 

Hoekom antwoord God ons gebede? Nie sodat ons lewens beter kan wees nie of sodat on meer geld kan hê nie. Hoekom dan? Die vers sê dit vir ons: sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. Ons bid nie om iets terug te kry nie. Al beantwoord God nie my gebed nie, moet ek steeds weet dat Hy my liefhet – ek moet steeds glo. My geloof in God berus nie op wat Hy vir my doen of nie doen nie. My geloof berus op wat Jesus reeds vir my aan die kruis gedoen het. Dit is afgehandel.

 

Ons interpreteer Johannes 14:13 verkeerd en word gefrustreerd met God omdat Hy nie ons gebede antwoord nie, want ons het die verkeerde perspektif op gebed. Ons maak onsself die hoofkarakters in ons gebede in plaas van God. Gebed is nie ‘n sleutel om toegang te kry tot dit wat ek begeer nie. In gebed eer ek vir Jesus wat vir my toegang tot God gegee het. As ek voor God staan en ek gebruik die Naam van Jesus het ek toegang tot God – Jesus gee vir my daardie toestemming.

 

Hoe ek na my gebed kom, is ook belangrik. Ons verhoudings, motiewe, geloof en God se wil maak saak as ons bid. In hierdie verband help 1 Johannes 5:14 ons ook: En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. Ons kan nie vir God vra wat ons wil hê en eis dat Hy dit vir ons moet doen nie as dit nie volgens sy wil is nie.

 

Gebed is nie ‘n wenslysie nie; gebed is die manier waarop ons God leer ken en Hom verheerlik.

 

 




Die onvergeeflike sonde

 

All my hopes and comforts may be summed up by saying, I have a rich and gracious Savior.” —John Newton

 

Die onvergeeflike sonde

Die Bybel sê dat God altyd gewillig is om sondes te vergewe as ons dit bely. Maar daar kom ‘n tyd in ‘n mens se lewe waar daar nie meer omdraaikans is nie. Daarom waarsku Jesus dat daar ‘n sonde is wat nie vergewe kan word nie. Wat is daardie sonde?

 

Greg Laurie verwys na Psalm 86:5: U is goed, Here, U vergewe altyd weer, U is getrou teenoor dié wat na U roep om hulp. God is gewillig om te vergewe. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Johannes 1:9). Die ergste sonde ooit was Jesus se kruisiging, maar Hy vra sy Vader om hulle wat Hom gekruisig het, te vergewe.

 

Die enigste sonde wat God nie sal verlos nie, is die sonde wat ons nie bely nie. Daar is egter een uitsondering: die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie (Matteus 12:31). In hierdie gedeelte bring die mense ‘n man  wat in die mag van ‘n bose gees was na Jesus. Hierdie man was blind en stom. Jesus genees hom – hy kon hoor en sien. Die mense was verbaas en vra: Is Hy nie miskien die Seun van Dawid nie?  Die Fariseërs hoor dit en sê dat Jesus dit doen met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die bose geeste. Jesus weet wat hulle dink en sê vir hulle dat ‘n koninkryk wat onderling verdeeld is nie sal bly staan nie. As die Satan dan die Satan uitdryf, is hy teen homself verdeeld; hoe kan sy ryk bly staan? Jesus sê vir hulle dat Hy deur die Gees van God bose geeste uitdryf. Daarom het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom. Hy sê dat ‘n mens tog net in ‘n sterk man se huis kan ingaan en sy goed plunder as jy hom vooraf vasgebind het. Jesus sê dan: Wie nie aan my kant is nie, is teen My;  en wie nie saam met My die skape bymekaar maak nie, jaag hulle uitmekaar. Daarna sê Jesus vir hulle: Elke sonde en lastering kan die mens vergewe word, maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie. As iemand iets teen die Seun van die mens sê, kan dit hom vergewe word; maar as iemand iets teen die Heilige Gees sê, kan dit hom nie vergewe word nie, nie in hierdie bedeling nie en ook nie in die toekomstige nie.

 

In hierdie gedeelte praat Jesus met die Fariseërs wat Hom gehaat het. Hulle was jaloers op sy toenemende gewildheid. Anders as hulle was Jesus vol liefde – die mense kon Hom verstaan en nader. Soos mense Hom meer en meer verstaan het, was hulle aangetrek na Hom. Die Fariseërs verheug hulle nie oor die man wat genees is nie, maar was kwaad. Hulle sê wat Jesus regkry, kry Hy reg met die hulp van die duiwel. In vers 37 lees ons: Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.

 

Laurie sê dat daar drie waarhede in hierdie gedeelte is waaraan ons aandag moet gee:

  • Ons moet na die kerk toe kom om God te aanbid en geestelik te leer. Daarom moet ons met ‘n gevoel van afwagting kom.
  • Moet nooit sommer net aanvaar wat God vir jou gedoen het nie. Moenie jou verlossing of jou gemeente of die woord van God of jou geloofsvryheid sommer net aanvaar nie.
  • In plaas daarvan dat ons die Heilige Gees weerstaan, moet ons met die Heilige Gees gevul word. Ons moet altyd onthou dat daar ‘n tyd sal kom, en ons weet nie wanneer nie, en ‘n plek, en ons weet nie waar nie, wanneer ‘n mens se lot verseël sal word

 

Maar ons kan nou stop. Moenie teen die Heilige Gees laster en Jesus Christus verwerp nie. Hou op sondig.

 




Die toekoms van musiek in die kerk

 

If you are going to walk with Jesus Christ, you are going to be opposed … In our days, to be a true Christian is really to become a scandal.” – George Whitefield

 

Die toekoms van musiek in die kerk

Musiek verander in elke geslag en ons moet dit waardeer. Ed Stetzer sê dat ons vandag in die kerk drie geslagte musiek kry. Ons kan by enige kerkdeur instap en dadelik sien in watter geslag hy val.  Dit hou ook verband met die aanbiddingstyl in daardie kerk. Wat is hierdie drie tipes?

  1. Die tradisionele formaat

Gelowiges wat in ‘n tradisionele kerk aanbid, trek op ‘n meer konserwatiewe manier aan. Hulle is meer bekommerd oor eerbied as ander kerke. Die musiek is tradisionele liedere. Hierdie stem ooreen met ‘n erediens van 1960.

 

  1. Die kontemporêre kerk

Mense wat hierdie dienste bywoon is meer ontspanne in hulle benadering. Hulle trek meer gemaklik aan. Die erediens is ook meer gemaklik. Hulle musiek is ook kontemporêr. Die liedere moet maklik kan sing; die lirieke moet uitdrukking aan passie gee.

 

  1. Die ontluikende eklektiese benadering

[Eklekties = die uitkies van die beste uit verskillende style, denkrigtings, idees, opvattings, ens – HAT]

Hierdie is moeilik om te beskryf, want hulle is doelbewus nie voorspelbaar nie. Die musiek is ‘n mengsel van moderne aanbiddingsliedre. Teologiese diepte word in die liedere verwag.

 

Tydens ons leeftyd het ons deur ‘n monumentale skuif in musiekstyle gegaan. Is die huidige patrone volhoubaar? Musiek het nog altyd sentraal in hierdie skuiwe gestaan. Dit het dikwels tot twispunte gelei. Die Wesley’s, Luther en Calvyn is almal gekritiseer. Larry Norman het gekla dat die duiwel al die goeie musiek gehad het.

 

Elke geslag hou nie van die musiek van die volgende geslag nie. Die kontemporêre kerk het daarin geslaag om die musiek meer toeganklik te maak vir diegene wat onbekend met die kerk en kerkmusiek is. Meeste gemeentes gaan die oorgang van tradisioneel na kontemporêr maak.

 

Die oorlewing van die gemeente hang nie van die musiekstyl af nie. Jy leer mense primêr deur woorde en nie deur melodieë nie. Woorde is belangrik. Wat dus belangrik is in ons liedere is teologiese diepte. Al beweeg ons in die rigting van kontemporêre gemeentes is daar sekere dinge wat ons nie moet vergeet nie – meer diepte, meer verskeidenheid en ‘n gemeente waarin die verskillende geslagte saam sing.