Diversiteit moet onvermydelik wees

 

“What! Get to heaven on your own strength? Why, you might as well try to climb to the moon on a rope of sand!” George Whitefield

 

Diversiteit moet onvermydelik wees

Plaaslike gemeentes is nie gewoonlik bakens van diversiteit nie. Hoe kan dit verander word? Wat moet ons doen? Niks nie; God het reeds alles gedoen. Ons moet dit net uitleef. Hoe het God eenheid en diversiteit geskep? Kyk na Efesiërs 2 – 3. Let op die woorde wat Paulus in hierdie gedeelte gebruik – uitgesluit …ver van God … sonder hoop (2:12). In 2:13 – 14 lees ons van naby …  een gemaak  … vyandskap afgebreek. Elke werkwoord is beskrywend. Paulus beskryf net wat by ons verlossing gebeur het.

 

Efesiërs 2:11 – 12 sê vir ons onthou: Hou dan in gedagte wat julle vroeër was.  Ons moet onthou hoe ons was sodat ons ten volle kan verstaan wat Jesus Christus alles gedoen het. Dit is al wat Paulus vir ons sê.

 

Wat is hierdie eenheid? Dit is eenheid tussen alle ware Christene. Dit is nie organisatoriese eenheid nie – ons hoef nie almal aan dieselfde gemeente te behoort nie. Dit is die eenheid wat ons met ander gelowiges voel wat ons nog nooit ontmoet het nie. Eenheid in diversiteit vloei onvermydelik voort uit die evangelie Dit beteken nie dat ons gemaklik kan terugsit nie. Nadat Paulus gesê dat net God die eenheid tussen Jode en nie-Jode kan bewerkstellig sê hy in 4:3: Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. Leef soos iemand wat in Christus is. Ons het ‘n rol te speel om eenheid te bevorder. Wat ons doen hou die plantjie van eenheid aan die lewe.

 

Hoe dikwels weerstaan ons nie die natuurlike eenheid van die evangelie nie. Hoe? Hier is drie belemmernisse

  1. Bediening deur uniformiteit

Gewoonlik is ons probleem nie ‘n gebrek aan optrede nie, maar aan geloof Paulus beskryf eenheid as ‘n feit – ‘n werklikheid wat bestaan waar die evangelie aan die werk is. Maar ons glo nie die evangelie kan so ‘n diverse groep Christene verenig nie. Daarom voeg ons mense met sekere ooreenkomste bymekaar – ouderdom, enkelouers, beroep, ens. Die band hier is ooreenkomste en nie die evangelie nie.

  1. Verbruikersmentaliteit

Die Bybel gee baie voorbeelde van goeie dinge wat groei uit die evangelie, maar steeds opoffering vereis. Ons glo egter dat diversiteit sonder opoffering sal plaasvind. Ons moet dikwels ons gemaak, voorkeure, hulpbronne, tyd, gewoontes opoffer.

  1. Onsigbaarheid van die meerderheidskultuur

Die kultuur van die gemeente word dikwels deur mense buite die gemeente, maar nie deur mense binne die gemeente raakgesien nie. Ons sien nie dat die kultuur van die meerderheid oorheers nie. Ons sien nie dat minderhede randfigure word nie.

 

Diversiteit in ‘n gemeente is ‘n sterkpunt en nie ‘n bedreiging nie. Eenheid in diversiteit is ‘n Bybelse opdrag wat ons moet uitleef.

 

 

 

 

 

 




Psalm 8 (2)

 

Some wish to live within the sound of a chapel bell. I want to run a rescue shop within a yard of hell – C. T. Studd, bekende sendeling

 

Psalm 8 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

8:2 – 3: God word direk as die magtige Skepper geloof. Klein mensies maak God groot

Drie ernstige reëls loof God as oppermagtig. Vs 2 a – b sê dat die skepping soos ons dit sien, getuig van God se majesteit of van God se optrede  in die geskiedenis soos die psalmis dit ondervind het. Vers 2c – 3 verbind hierdie twee moontlikhede aan die skepping in die verlede. Die verklaring in 2a – b berus juis op die wonder van die skepping.

 

8:2 a, b: Here, ons Heer, hoe magtig is u Naam oor die hele aarde.

Om God as Here aan te spreek, is nie so algemeen nie. Die implikasies van God as Here word uitgespel – sy Naam is wonderbaar oor die hele aarde. Dit gaan dus nie net oor wonder of bewondering nie, maar onderwerping. Hierdie implikasie is betekenisvol vir alles wat gaan volg. Die psalm gaan oor God se mag en krag as Skepper. Daar is iets wonderlik aan die skepping wat mense aan God se heerlikheid herinner. Hierdie psalm verklaar ook dat God in mag heers oor die aarde – Hy is hier teenwoordig.

 

Die psalm begin en eindig met lof aan die Skeppergod. Dit sê baie oor die plek van die mens in God se skepping. Hy is die Here wie se koninklike mag oor die hele aarde sigbaar is. Hy regeer. Sy Naam word vol eerbied aangeroep: Here, ons Heer. Met hierdie woorde bely die digter dat hy en sy mense, asook alles wat deur God geskep is, aan Hom behoort en aan Hom onderdanig is. Die psalm begin dus met die openbaring waarin God Homself deur die bekendmaking van sy Naam geopenbaar het. [Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob, het aan my verskyn – Eksodus 3:15.] Daarna let die digter op die skeppingswerk van God.

 

8:2c – 3a:U wat u luister aan die hemelruim vestig. Met die stemme van kinders en suigelinge

By die skepping het God heerskappy oor die hele kosmos uitgeoefen. Hier word God se majesteit weer beklemtoon – mag en gesag. Dit geld nie net vir die aarde nie, maar ook vir die hemele. Hierdie is meer as net ‘n hiperbool – dit is ‘n erkenning dat God groter is as alles wat geskep is en as alle bonatuurlike kragte. God se mag is ‘n werklikheid in die hede. Dit kan teruggevoer word na die skepping.

 

Hoe is die kinders en suigelinge betrokke by dit alles? As die Ou Testament verwys na babas is dit gewoonlik as slagoffers van onderdrukking, oorlog en dood. Ons lees elf maal van suigelinge in die Ou Testament – dikwels saam met babas en as slagoffers. In die Ou Testament skeeu die monde van babas en suigelinge nie vir melk of as teken van lewe nie – hulle skreeu uit vir beskerming of geregtigheid of van pyn. Die huil van kinders is ‘n dominante noot in die geskiedenis. God se mag en gesag word by die begin uitgeoefen – die skepping. Dit is gedoen in afwagting van die belang hiervan vir die kwesbares.

 

8:3:b – c: Het U ‘n vesting opgerig teen u teenstanders om vyande en wraakgieriges te stuit

God het die heelal geskep. Dit is soos ‘n gebou wie se fondamente diep in die rots gelê is. Om die heelal te skep, beteken ook dat God beheer oor magte verkry het wat sy doel met die heelal – orde en stabiliteit – wou teenwerk. Majesteit en sterkte hoort bymekaar as Goddelike eienskappe. Die verwysing na teëstanders maak dit duidelik dat God se skeppingsdaad nie sonder teenstand geskied het nie. Diegene wat kinders mishandel, is diegene wat God se skeppingsdoel teenstaan. As gevolg van die teenstanders moet God ‘n plan ontwikkel om die vyand en wraakgieriges stil te maak.

 

God se optrede aan die begin, tydens die eksodus en in Israel se lewe is een. God se voortgaande oppermag en sy oorwinning oor sy teenstanders is die gevolg van ‘n gebeurtenis reg aan die begin. Toe het God sy oppermag uitgeoefen en die chaosmagte reggestel.

 

Klein mensies maak God groot. Die verhouding tussen God en mens is paradoksaal. Wanneer klein mensies – kinders en suigelinge – God se heerskappy erken en sy lof besing, gebeur daar ‘n wonderwerk: God maak magtige mense (teëstanders, vyande, wraakgieriges) stil. Waar ek my nietigheid besef en God se heerskappy erken, bring Hy ‘n bolwerk tot stand, openbaar Hy sy mag, verslaan Hy sy vyande. Maar terwyl ek nog self in beheer wil wees, ontken ek God se heerskappy in die wêreld en in my lewe. Dit is die paradoks van menswees: hoe nederiger ek oor my prestasies is, hoe groter kan ek God in my lewe maak.

 

8:4 – 5: Sal God by gewone mense betrokke wees? Die mens is niks nie.

Hier kry ons ‘n wending in die psalm. Die psalmis word nou ek.

 

8:4: 4Wanneer ek na u hemelruim kyk, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U gevestig het

Met verwondering kyk die psalmis na die skepping. Die verwysing na God se vingers beklemtoon die persoonlike aard van die skepping – God het nie opdragte gegee en gewag vir iemand anders om die werk te doen nie. Hy was persoonlik betrokke. Die hemel verwys moontlik na die blou lug van die dag en die maan en sterre na die nag. Werk en gevestig is ‘n verklaring dat die elemente van die skepping vas en seker in plek is.

 

 

8:5: Wat is die mens dan dat U hom in gedagte hou, ‘n mensekind dat U aan hom aandag skenk

As ons na God se mag en majesteit kyk, hoe kan ons verwag dat Hy Hom aan die mens moet steur? Die tweede reël herhaal die eerste. Aandag skenk gaan egter verder as in gedagte hou – God dink eers en dan tree Hy op. Miskien is hierdie psalm soos ‘n klaaglied – dit gee aan mense die geleentheid om hulle onsekerhede oor hulle plek as mense te artikuleer voordat hulle geloofstellings maak. Die mens is niks in vergelyking met die grootsheid van die skepping nie. Die twee Hebreeuse woorde vir mens en mensekind dui onderskeidelik op die swakheid en verganklikheid van die mens. Dit staan teenoor God wat sterk en ewig is.

 

Ons kan maar net in verwondering staan oor God aan klein mensies aandag gee. Daarna kyk ons volgende keer verder.

 

 




Watter soort diversiteit verkondig die kerk?

 

“For, if we have not charity, we are not Christians: charity is the great duty of Christians.” – George Whitefield

 

Watter soort diversiteit verkondig die kerk?

Meeste van ons dink onmiddellik in etniese diversiteit. Hierdie bekommernis is edel. Maar as ons diversiteit net as etniese diversiteit sien, mis ons ‘n groot deel van die boodskap van Efesiërs 3. Hier word na die veelvuldige agtergronde verwys waar eenheid net moontlik is deur die evangelie. Daar is ‘n groot verskeidenheid van hindernisse wat die plaaslike gemeente moet oorbrug:

  • Ouderdom: Ons sien dit nie dikwels in die wêreld nie. Daar kry ons dikwels ‘n skeiding tussen oud en jonk. Selfs in ons gemeentes skei ons die jeug van die seniors.
  • Ekonomie: Ons weet dat ryk mense dinge vir arm mense doen, maar dan onttrek hulle hulle na die gemak van ander ryk mense. Dit mag nie in die gemeente gebeur nie. Lees net Jakobus 2:8 – 9: Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders.
  • Politiek: Die plaaslike gemeente moet hom sterk oor morele sake uitspreek, maar nie oor die openbare politiek nie.
  • Sosiale vermoë: Vind mense met min sosiale vermoëns die gemeente koud en onpersoonlik – net soos die wêreld daar buite?
  • Kultuuragtergrond: Almal moet iets opoffer. Ons moet dikwels ons belange vir ons broers en susters opoffer.

 

Hierdie oorbrugging van grense, as die gemeente dit suksesvol deurvoer, verbaas die wêreld om ons. Dat ‘n gemeente bestaande uit mense van so baie verskillende agtergronde as ‘n enkele gemeenskap kan funksioneer, verbaas mense

 

 




Laat die Skrif die Skrif interpreteer

 

God forbid that I should travel with anybody a quarter of an hour without speaking of Christ to them.” George Whitefield

 

Laat die Skrif die Skrif interpreteer

Hierdie is nog ‘n artikel in Mel Lawrenz se reeks oor hoe ons die Bybel moet lees.

As jy ‘n gedeelte lees en jy wonder wat die opstanding of onsedelikheid of die antichris beteken, is daar net een plek om te kyk: die res van die Skrif. Die Skrif is die beste interpreteerder van Homself.

 

Die Nuwe Testamentiese gedeeltes oor doop kan die beste verduidelik word deur die ander gedeeltes oor doop en deur die ritueel van reiniging in die Ou Testament. Die nagmaal word beter geïnterpreteer deur die ander gedeeltes daaroor en deur Jesus se “Ek is die brood” onderrig en deur die maaltye in die Ou Testament. Meeste van die ongelooflike beelde en getalle in Openbaring waaroor mense wonder, het reeds vantevore in die Bybel verskyn. In elke geval is daar ‘n duidelike betekenis, mits ons na die ander gedeeltes wat dieselfde taal gebruik, kyk.

 

Kuns en teologie gaan oor herhaling en verskeidenheid. God gee aan ons ‘n waarheid soos “Ek is julle Verlosser,” en herhaal dit dan op baie verskillende maniere deur die Skrif. Herhaling en verskeidenheid. Die woorde verskil effens, beelde word gebruik, maar deur dit alles kom God se woord duidliker deur. Ons denke en harte word oortuig.

 

Daarom moet ons die Skrif as ‘n ritmiese dissipline in ons lewe lees. Dit is ‘n groot boek vol epiese stories, preke, profesieë, briewe, liedere en spreuke wat die hele lewe hanteer. Dit openbaar God se optrede en eienskappe. Die Bybel is ‘n mosaïek van persoonlike stories van mense wat probeer om God te vind of wat probeer om hulle eie God te maak. Dit is die beste lewensgids vir die mens. Dit is die enigste direkte en ware uitdrukking van God se denke.

 

Soos ons die Bybel lees bou ons ‘n omvattende struktuur van waarheid vir ons lewens. Soos ‘n lappieskombers kom die verskillende stukke metteryd bymekaar. Ons sal die verskil tussen ‘n hooftema wat God wil hê ons moet verstaan omdat dit so dikwels voorkom en ‘n kleinere tema verstaan. ‘n Hooftema is dinge soos heiligmaking en vergifnis van sonde. ‘n Mindere tema is soos waar Christus tussen sy dood en opstanding was.

 

Die Bybel is God se woord oor Homself aan ons. Dit is die soewereine Here en liefdevolle Vader wat praat. Dit is die woord oor Jesus en die asem van die Gees.