Ek weet nie wat my roeping is nie

God is well pleased when all our actions proceed from love, love to Himself, and love to immortal souls.” – George Whitefield

 

Ek weet nie wat my roeping is nie

Ons hoor dikwels woorde soos roeping en sending, maar weet ons wat dit beteken? Ken ek my roeping? Hier is ‘n paar dinge om te onthou:

  • Om ons roeping te ontdek vereis tyd

Geduld en volharding is eienskappe wat ons nodig het tydens ons reis om ons roeping te ontdek. Daar is natuurlik mense wat onmiddellik geweet het wat hulle roeping is, maar die meerderheid van ons het tyd nodig. Geduld en volharding is nodig, want ons moet nuwe dinge leer, ontwikkel, ens. Ons begin dikwels sonder ‘n idee wat ons moet doen.

 

  • Ander mense se roeping lyk goed

Soms is ons haastig. Ons wil nie uitvind wat ons spesifieke gawes is nie. Ons wil die wêreld verander – nou. Dan kyk ons na ander se roeping om kitsantwoorde te kry. In plaas daarvan om stil te staan, na te dink en te bid daaroor, begin ons sommer in ‘n rigting loop. Jy aanvaar sommer ‘n ander persoon se identiteit – jy loop in dieselfde rigting na dieselfde plek. Maar mettertyd vind jy uit dat jy besig is om in die verkeerde rigting te loop. As ons nie die tyd gebruik om uit te vind wat ons ware roeping is nie, sal ons allerhande interessante dinge vir die verkeerde redes najaag. Ons doen nie dié dinge wat ons veronderstel is om te doen nie. Ons mag vir ‘n tydjie goed voel, maar mettertyd vervaag alles.

 

  • Ons word geroep om in ons huidige konteks te lewe

Om die wêreld te verander lyk nie altyd soos ons dink dit moet lyk nie. Dit gebeur ook selde in ons tydsraamwerk. Ons word geroep om geduldig lief te hê en te werk. Maak nie saak wat die omstandighede en plek is waar ons ons bevind nie, ons het take om te doen – nou en hier. Al hierdie take verander die wêreld. Ons mag groter drome hê, maar ons sal nie daar uitkom as ons nie eers leer hoe om nou goed te leef nie.

 

Om my roeping te ontdek, is nie maklik nie. Volhard in jou soeke. Daar is dinge wat ons kan doen om ons met die proses te help.

  • Praat daaroor. Bespreek jou drome, idees, frustrasies en teleurstellings met ‘n groepie mense Dit gee vir jou ruimte om alles te verwerk; dit bemoedig jou; mense sal vir jou sê as jy op die punt staan om iets dwaas te doen.
  • Trek voordeel uit situasies wat met ons doel verband hou. God eer ons rentmeesterskap en getrouheid om ons roeping te koester.
  • Herinner jouself wie jy vir God is. Maak nie saak wat jou huidige situasie en roeping is nie, jy is ‘n kind van die Koning. Van die gerusstellendste woorde wat ons kan hoor, is God se versekering dat Hy ons lief het. Hy sien ons getrouheid raak. Hy gebruik ons nou om ons vir later voor te berei – al sien ons dit nie raak nie.

 

 

 




Wie is my rolmodel?

 

There is no saint without a past, no sinner without a future – Augustinus

 

Wie is my rolmodel?

Nabootsing is ‘n tema in Paulus se brief aan die Filippense. Later gebruik Paulus vir Timoteus en Epafroditos as voorbeelde wat geëer en nagevolg kan word. In Hoofstuk 3 sê Paulus dat die gemeente sy voorbeeld moet volg. Wees my navolgers, broers, en let op die mense wat lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel (3:17).

 

Ons kan baie rolmodelle in die lewe navolg, maar ons moet altyd onthou dat Jesus ons voorbeeld par excellence is. In Filippense 2:6 – 11 lees ons van sy nederigheid, sy volmaakte lewe, sy kruisiging en sy verheerliking.

 

Is ons bereid om sy voorbeeld na te volg?

 




Spoor mekaar aan

 

The God who was disgraced and shamed has eyes for those who have been disgraced and shamed. —Ed Welch

 

Spoor mekaar aan

 Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie.  Maar solank daar nog ‘n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie (Hebreërs 3:12 – 13).

Almal van ons weet wat dit is om teen sonde te baklei. Almal van ons weet hoe dit voel asof ons verlore is. Almal van ons weet hoe dit voel om tou op te gooi en nie meer vir Jesus Christus te volg nie. Die Hebreërskrywer sê dat ons mekaar elke dag moet aanspoor in ons stryd vir wat reg is.

 

Hoe kan ek nou iemand aanspoor: SMS, e-pos, telefoonoproep? As daar ‘n naam by jou opkom, doen dit nou dadelik. Daar is baie min mense wat nie ‘n goeie dosis aansporing nodig het nie. Maar wat daarvan as ek self aansporing nodig het? Die beste ding wat jy kan doen as jy aansporing nodig het, is om aansporing te gee.

 

Doen dit. Kontak een persoon so gou as moontlik en spoor hom aan. Dit sal ‘n verskil in hulle lewe maak … en in joune.

 




Psalm 7 (5)

 

As Christ was born of the Virgin’s womb, so must He be spiritually formed in our hearts. As He died for sin, so must we die to sin. And as He rose again from the dead, so must we also rise to a divine life.” – George Whitefield

 

Psalm 7 (5)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

7:18: Belofte van danksegging as verlossing kom – ʼn Loflied

 

7:18: 18Ek wil die Here loof vir sy regverdige optrede; ek wil die Naam van die Here, die Allerhoogste, besing.

Al wat nog nodig is, is om te getuig van God wat dit alles moontlik maak. Loof/prys is wat die bidder voortdurend doen, omdat hy weet wie God is. Die bidder sal God loof as hy sien dat God optree. Sonder musiek – psalmsing – is lof onvolledig. Die Naam van die Here verwys na God se karakter. God se regverdigheid word weereens beklemtoon. Die hoop is die gevolg van ‘n kombinasie van God se trou en mag. Die een sonder die ander is onvoldoende; saam gee hulle vir die bidder vertroue en versekering.

 

Teologiese Implikasies

Hier kry ons verwysing na regsprosedures, oorlog en jag. ʼn Regsgeding word dikwels as ʼn geveg of jagtog ondervind. Dit gaan oor ʼn potensieel dodelike konfrontasie en die soeke na iemand anders se dood of lewe. Jag beteken een skepsel probeer die ander doodmaak deur geweld of deur hom te uitoorlê. Dit stem dus ooreen met regsprosedures en oorlog.

 

Regsteenstanders word dikwels beskryf as vyande of roofdiere. Hierdie psalm begin met die beeld van ‘n jagtog. Die bidder verkeer in gevaar. Hy het geen redder nie en hy moet ‘n toevlug kry. Daarna verskuif die beeld na die hof. Die bidder praat soos een wat voor die hof verskyn omdat hy verkeerd gedoen het.  So wissel die beelde.

 

Hierdie psalm skilder gebeure as Goddelike dade (God het ingetree) en as die natuurlike gevolg van vroeëre gebeure. God is aktief by die wêreld betrokke en dat die wêreld ʼn plek is in wie se werking ʼn morele orde geskryf is.

 

God borg die regspraak en daarom kan elkeen wat onregverdig ly of vervolg word na Hom toe gaan. Hy help. Naas die Verbondsnaam – die Here – word God ook nog die Allerhoogste genoem. Dit is die Naam wat Abraham gebruik het. Hy het dit by Melgisedek geleer toe hy hom in Salem besoek het. Die stad is later deur Dawid verower en Jerusalem genoem. Met hierdie Naam word bely dat daar niemand soos Hy is nie, dat Hy die God van alle volke, die Wêreldregter, is. Die psalm eindig met mense wat God dank omdat Hy is wat Hy is – die God van geregtigheid.

 

Dit is waar dat iemand wat onreg koester en kwaad vertroetel, besig is om ʼn monster groot te maak. Daardie monster gaan weldra sy eie lewe verwoes. ʼn Mens sien dit in die lewe van diegene wat deel geword het van bendegeweld of dié wie se bedrog hulle later self inhaal. Maar selfs al word ʼn Christen voortdurend verontreg, hoef hy nie na vergelding te soek nie. Hierdie psalm leer my om alle onreg rustig in die hande van die regverdige Regter te laat.

 

Ons God is nie soos die gode van mense nie:

As flies to wanton boys, are we to the gods;

            “They kill as for their sport.” Shakespeare: King Lear