Kleingroepe

Troops of unclean spirits break forth in all directions, who, in order that they may escape from healthy discipline, which they can in no way submit to, seek every sort of pretext for slipping away from the authority of the Church. — Johannes Calvyn

 

Kleingroepe

Kleingroepe is nie dieselfde as Bybelstudie nie – kleingroepe is ‘n sleutelelement in dissipelskap. Meeste ondoeltreffende kleingroepe fokus net op gemeenskap en inligting. Natuurlik is beide goed, maar dit is nie voldoende nie. Bybelse kleingroepe moet op transformasie en gedragsverandering konsentreer. Wat is die elemete van doeltreffende kleingroepe wat lei tot dissipelskap, leierskap en vermenigvuldiging? Bill Easum noem ‘n paar van hierdie elemente.

 

  • Gemeenskap

Hierdie is ‘n noodsaaklike element, want om bande te vorm met ander gelowiges is noodsaaklik vir geestelike groei. As ‘n groep ‘n band vorm, kry mense ‘n veilige plek om oor ‘n gevaarlike evangelie en hulle eie geestelike pad te gesels. Dit is veral in groter kerke noodsaaklik dat mense ‘n plek kry waar almal hulle name ken.

 

  • Ontwikkeling van vakleerlinge

Hierdie verwys na mense wat hulle ambag by ‘n kundige leer. ‘n Goeie leier weet dat een van die maniere waarop hulle aanspreeklikheid getoets gaan word, is deur die aantal vakleerlinge wat hulle opgelei het om die stelsel van kleingroepe uit te brei.

 

  • Die ontwikkeling van dissipels

Almal kan doeltreffende dissipels wees, maar nie alle dissipels is leiers nie. Die opleiding en ondervinding is dieselfde. Beide verstaan dat die doel van dissipelskap is die gewilligheid om soos Jesus te word. Dissipels bereik die punt waar hulle gereed is om uitgestuur te word – binne en buite die vier mure van die kerkgebou. Hulle reageer op Jesus se opdrag: “Gaan.” Die eindresultaat van vakleerlinge in elke kleingroep is hulle voorbereiding vir bediening.

 

  • Vermenigvuldiging

Kleingroepe moet voortdurend vermenigvuldig. Hoekom?

  • Dit is hoe die Nuwe Testamentiese kerk gegroei het en hoe meeste kerke vandag steeds groei.
  • As groepe nie vermenigvuldig nie, stagneer hulle en word ‘n kliek.
  • Groepe wat reeds vir ‘n lang tyd bymekaar was, verwelkom gewoonlik nie nuwe mense nie.

Kleingroepe vermeerder gewoonlik nie deur te verdeel nie – hulle vermeerder as die vakleerling of leier die groep verlaat en ‘n nuwe groep vorm.

 

  • Toegerus om gestuur te word

Vermenigvuldiging beteken altyd dat mense buite hulle groep gaan. Bybelse dissipels is altyd gewillig om te gaan en na verskillende bedienings gestuur te word. Hulle begin ‘n nuwe groep of hulle word deel van die gemeente se uitreikbediening.

 

  • Uitreik

Doeltreffende kleingroepe reik gereeld uit na die omliggende gemeenskap. Hulle kies vir hulle ‘n projek. Dit is een ding om te leer van gemeenskap en ‘n ander ding om dit te beoefen.

 

Hierdie is enkele doelwitte van ‘n doeltreffende sisteem van kleingroepe wat lei tot persoonlike en korporatiewe groei.

 




God kommunikeer

 

My house shall be called a house of prayer, but you have turned it into a nursery for coddled Millennials” – Jim West

 

God kommunikeer

God is ‘n kommunikeerder. Deur te praat, het Hy alles gemaak. Sy woord is doeltreffend. Ons weet nie alles en verstaan nie alles van Hom nie, maar wat ons weet, het Hy aan ons bekend gemaak. Alles wat Hy van Homself bekend gemaak het, is genade vir ons. Wat ons van God weet, is in sy woord aangeteken. Die woord van God en die Heilige Gees om dit te verlig vir ons, is twee van die grootste gawes wat God aan sy kinders kan gee.

Net omdat God kommunikeer, beteken nie dat almal gretig is om sy woord te hoor nie. Party reageer soos die ryk jongman – hulle verwerp dit en loop weg. Ander, soos Feliks, wou nie dit wat hy gehoor het hanteer nie – hy het aanvaar hy sal nog ‘n geleentheid kry om te reageer (Handelinge 24:24 – 26). Die ideale reaksie is soos dié van Maria – in geloof en aanvaarding: Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat U gesê het (Lukas 1:38).

Die reaksie op God se boodskap is dikwels ongeloof, ontkenning, verontagsaming en verwringing. Hoe ons op God en sy woord reageer, is van ewigheidsbetekenis. As ons sy boodskap verwerp, verwerp ons Hom; as ons sy woord gehoorsaam, gehoorsaam ons Hom.

Hoe reageer ons op God se woord? Kan ander sien dat God se woord ‘n prioriteit in my lewe is? Onderwerp ek my met blydskap aan wat Hy sê? Mag God in ons die begeerte wakker maak om sy boodskap te gehoorsaam; laat ons ons verheug in die grootste Woord wat God nog ooit met ons gepraat het: Jesus Christus.

 

 




Hoe sien ons die wêreld?

 

Silence in the face of evil is itself evil – Bonhoeffer

 

Hoe sien ons die wêreld?

In 1969 het die neuroloog, Oliver Sacks, ‘n boek Awakenings gepubliseer. Dit is ‘n verhaal van ‘n eksperiment wat hy gedoen het. Hy het die middel L-dopa aan pasiënte wat al vir dekades katatonies was, gegee. [Katatonie = ‘n Vorm van kraksinnigheid gekenmerk deur abnormale spierspannings en stereotipe bewegings – HAT.] Die resultate was dramaties. Die pasiënte het letterlik “wakker” geword. Hulle het beter verstaan en op ‘n hoër vlak gefunksioneer en gekommunikeer. Hulle het ‘n wêreld ontdek wat baie verander het sedert hulle oorspronlike siekte.

 

Die resultate was tydelik. Al die pasiënte het mettertyd teruggeval in stilte of hulle het ander mediese toestande ontwikkel. In daardie venster van duidelikheid het hulle die wêreld gesien soos dit werklik is. Hulle het die wêreld met al sy wonder, lyding, vrees en blydskap wat aan die lewe sy grootsheid gee, ervaar.

 

Wat moet ons as gelowiges doen om vorentoe te gaan? Begin deur aan daardie pasiënte te dink. Ons moet mekaar wakker maak om ons volk en die wêreld te sien soos hy werklik is – die goeie en die slegte. Ons moet mekaar ondersteun in die werk wat ons saam vir sy koninkryk doen. Ons moet mekaar as vriende en nie as vyande of vreemdelinge behandel nie. Ons moet uit mekaar se suksesse en mislukkings leer. Ons moet, anders as Sacks se pasiënte, mekaar help om nie terug te val in die alledaagse lewe nie.

 

Dit is belangrik vir ons en ons land se integriteit om te veg vir ons oortuigings – in die openbaar. Ons grootste taak is om dit wat ons glo uit te leef – liefde vir God en ons naaste, vrygewigheid aan die armes, eerlikheid in ons verhouding met ander mense, dissipline en nederigheid.

 

Klink na vroom praatjies. Probeer hulle uitleef. Dan sien ons dat hulle iets kos en moeilik is. Maar ons skep ‘n kultuur van waardigheid as ons vir ander leef. Volke verander as mense verander. Mense verander deur die getuienis van ander mense. Ons maak die toekoms – storie vir storie deur die keuses wat ons maak.

 

 




Wat is die probleem met die wêreld?

 

If you board the wrong train, it is no use running along the corridor in the opposite direction – Bonhoeffer

 

Wat is die probleem met die wêreld?

Kom ons kyk na twee dinge.

Peter Drucker, die bestuursghoeroe, het gesê dat every succees bears the seeds of failure. Wat hy hiermee bedoel het, is dat suksesvolle mense vergeet dat hulle feilbaar is. Hulle het te veel selfvertroue. Hulle word of lui of hoogmoedig. Hulle vergeet dat wat gister gewerk het dalk nie more sal werk nie. Maar die omgekeerde is ook waar: elke terugslag of mislukking dra in hom die saad van sukses – as ek die regte lesse daaruit leer.

 

Optimisme is nie dieselfde as hoop nie. ‘n Bietjie pessimisme is ver van hopeloosheid. Optimisme is dikwels ‘n soort wensdenkery. Hoop is gebou op die sterk fondament van geloof. Mense wat waarlik in ‘n liefdevolle God glo, is altyd mense van hoop en die blydskap wat daarmee gepaard gaan. Augustinus was ‘n uitgesproke kritikus van die Romeinse wêreld. In sy preke het hy egter die wêreld  “’n glimlaggende plek” genoem. Hoekom sou Augustinus die wêreld so gesien het? Augustinus het die wêreld liefgehad, want hy het die Skepper van al die skoonheid en goedheid liefgehad.

 

Wat beteken dit vir ons? Augustinus sal vir ons sê dat die werklike probleem van die wêreld groter, en meer hardnekkig, as klimaatverandering of terrorisme of armoede is. Die ware probleem van die wêreld is … ons.

 

In sy preke het Augustinus gesê dat dit nie help om oor die tye te kla nie – ons is die tye. Hoe ons leef, vorm die tye. As ons dan uiteindelik ons harte met meer as die gewone geraas en dwelms van ons gewonde sameleing vul (wat ons help skep het), dan en eers dan begin die wêreld verander. Ons harte moet eers rus in God kry voor die wêreld sal verander. Hoekom? God gaan die getuienis van ons lewens gebruik om die wêreld te verander.