Die Ou Testamentiese stories (1)

 

We are not to simply bandage the wounds of victims beneath the wheels of injustice, we are to drive a spoke into the wheel itself – Bonhoeffer

 

Die Ou Testamentiese stories (1)

Alle mense hou van stories. Die Bybel is vol stories. Hierdie gedeeltes, net soos die res van die Bybel, is deur God geïnspireer.  Die hele Skrif is deur God geïnspireer (2 Timoteus 3:16). Hierdie stories is teologies – hulle openbaar God. Soms is Hy die hoofkarakter van die storie (die skepping); soms verskyn Hy op die toneel en verlaat dit weer (die toring van Babel); soms is Hy afwesig (Ester). Al is Hy oënskynlik afwesig is Hy tog besig om gebeure te beïnvloed, dade te oordeel en om mense te motiveer.

 

Hierdie stories is ook literêre tekste. Hulle gebruik ‘n verskeidenheid van literêre instrumente om waardes, optrede en oortuigings te beïnvloed. Die primêre doel van die stories is om mense te ooruig.

Stories het drie sleutelkenmerke: intrige, karakter en omgewing.

 

  • Intrige

Intrige is die ketting van gebeure wat verbind word om ‘n konflik van versteurde ewewig na herstelde ewewig te beweeg. Die intrige kry lesers betrokke deur ‘n gevoel van afwagting te wek – wie gaan wen. Ons weet egter al wie gaan wen, maar die intrige is steeds belangrik, want dit skep verwagtings. Al is daar miskien nie dieselfde afwagting nie is daar steeds beweging na die ontknoping van die storie. Daarom word gemeentes steeds geraak deur die klassieke stories wat hulle al vantevore gehoor het: Dawid en Goliat, Elia op Karmelberg, ens. “Vertel my die ou ou storie!”

 

‘n Intrige beweeg gewoonlik deur verskillende stadia:

  • ‘n Ruk na die vorige gebeurtenisse het God vir Abraham op die proef gestel (Genesis 22:1). God toets sy vriende – dit skep ‘n mate van versteurde ewewig.
  • Vat jou seun … en offer jou seun as brandoffer (22:2). Nou is dinge beslis onstabiel.
  • Die reis na Moria, Isak dra die hout, Isak vra sy vader: waar is die lam om te offer? (22:7), Abraham bou die altaar, hy bind Isak vas om geoffer te word.
  • Die Engel van die Here stop vir Abraham (22:11 – 12)
  • Abraham slaag die toets en God voorsien ‘n ram vir die offer. God herhaal sy verbond met Abraham (22:13 – 19).

 

Die Ou Testamentiese skrywers “wys” wat die waarheid is. Hulle “wys” idees. Voorbeelde: sondaars wat skuldig voel probeer hulle sonde wegteek (Dawid en Batseba); God vereis absolute gehoorsaamheid (Saul en die Amalekiete). Meestal moet die leser die beginsels uit die storie aflei.

Die skrywer van 1 Samuel 17 vertel die storie van Dawid en Goliat. Hiermee kommunikeer hy dat God magtiger is as enigiets waarmee sy vyande na vore kan kom. Hy seën ook diegene wat vreesloos in geloof na vore kom. Die eerste twee stadia van die intrige – agtergrond en konflik –  begin met ‘n skets van Goliat van naby. Jy kan nie anders as bang wees vir hom nie. Hy domineer die hele slagveld. Nou neem die aksie toe: Israel bewe; Dawid, feitlik sonder wapens, hardloop na Goliat; hulle praat met mekaar; die geveg begin. Dan volg die klimaks: die reus val. Die groot domino val en al die kleintjies val daarna. Die skrywer beskryf tonele. Daarom word die impak nie deur enkele verse of woorde bereik nie, maar deur die hele toneel te lees.

 

In die volgende blog gaan ons na karakter en agtergrond kyk.

 




Josef van Arimatea

 

There is meaning in every journey that is unknown to the traveller – Bonhoeffer

 

Josef van Arimatea

Wat weet ons van hierdie man? Daar is baie dinge wat van hom gesê word, maar baie daarvan is eers eeue later geskryf. Meeste daarvan is volksoorlewerings. Die vier evangelies is die beste beskikbare bron – en die vroegste. Al vir evangelies vermeld Josef – ‘n seldsame onderskeiding vir  ‘n mindere persoon. Hy was egter deel van ‘n gebeurtenis wat die geskiedenis van die wêreld verander het.

 

Die verhale in die evangelies stem breedweg ooreen. Ons lees dat Josef ryk en gerespekteer was en dat hy vir Pilatus gevra het of hy Jesus se lyk mag verwyder om te begrawe. Hy gebruik sy eie nuwe graf – ‘n kelder uitgekap in die rots; hy begrawe Jesus persoonlik en rol ‘n steen voor die opening; twee vroue was ooggetuies van die begrafnis.

 

Markus sê Josef was ’n vooraanstaande lid van die Joodse Raad – juis die mense wat vir Pilatus gevra het om Jesus te kruisig. Lukas voeg by dat hy nie met hulle besluit en optrede saamgestem het nie. Net Johannes sê dat Nikodemus, ook ‘n lid van die Joodse Raad, ook nie met hulle besluit saamgestem het nie. Hy het ook saam met Josef vir Jesus begrawe.

 

Oënskynlik het Jesus se dissipels uit vrees gevlug. Misdadiges wat tereggestel is se lyke is dikwels in gemeenskaplike grafte gegooi. Josef tree in en maak die begrafnis so waardig as wat onder die omstandighede moontlik was. Dit beteken dat hy sy politieke, godsdienstige en persoonlike reputasie op die spel geplaas het. Onthou destyd het die hantering van lyke beteken dat ‘n persoon onrein was. Tog was Josef se optrede as Jood verstaanbaar. Wanneer iemand tereggestel word vir ‘n oortreding wat die doodstraf verdien, en jy hang hom aan ‘n paal op, mag sy lyk nie die nag daaraan bly hang nie. Jy moet hom dieselfde dag nog begrawe (Deuteronomium 21:22 – 23).

 

Lukas beskrywe Josef  as ‘n goeie en opregte man en het die koms van die koninkryk van God verwag. Matteus sê hy was ‘n volgeling van Jesus. Johannes sê dat hy ‘n dissipel van Jesus was, maar in die geheim, want hy was bang vir die Jode.

 

Waar was Arimatea geleë? Dit was waarskynlik ‘n dorpie noordwes van Jerusalem op die plek waar Rama geleë was. Rama was die tuisdorp van Samuel. Moontlik het hy toe reeds in Jerusalem gewoon  of hy was ‘n besoeker aan die stad.

 

 




Psalm 6

 

I am talking about being busy doing Christian things. We have spiritual activity with little productivity –Dawson Trotman

 

Psalm 6

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.]

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Die Sjeminiet of agste in die opskrif verwys waarskynlik na speel in oktawe of na ‘n instrument met agt snare.

 

Hierdie psalm begin deur na die Here se woede en toorn en die psalmis se siekte te verwys.

 

6:2 – 4: Die psalm begin met ‘n oproep dat die Here nie sy woede en toorn oor die psalmis uitoefen nie. Hier word geen melding van ‘n spesifieke sonde gemaak nie. Die Here se toorn gaan gewoonlik gepaard met straf vir die verkeerde dade van die persoon. As jy die slagoffer van verkeerde dade is, is dit grond vir gebed.

 

Die psalmis pleit: Wees my genadig … genees my. Hoekom? Want ek kwyn weg … want ek is tot in my gebeente beangs. God se genade word gewoonlik konkreet in genesing uitgedruk. Deur God te vra vir genade en genesing erken die psalmis dat Hy van God afhanklik is. As die mense en die lewe teen ons is, kan ons net op de vrygewigheid van die Here staatmaak. Hy herhaal dat hy heeltemal vreesbevange is.  Hierdie herhaling maak sy ondervinding duideliker.

 

6:5 – 8: Hier herhaal die psalmis tot ‘n mate die eerste gedeelte, maar in ander woorde. Hy beklemtoon sy bekommernis. Vers 7 – 8 fokus op die psalmis sonder enige vermelding van die Here. Die psalmis gee ook ‘n nuwe rede vir sy oproep: die Here se beloftes. Waarvan moet die psalmis verlos word? Die dood. As ons eers dood is, is enige verhouding met die Here onmoontlik. Dit is nie in belang van God en wat Hy gedoen het dat die psalmis doodgaan nie. Moegheid is ‘n algemene gevolg van swaarkry en huil. Die psalmis wag vir God om op te tree.

 

6:9 – 11: Hier sien ons dat die Here op die psalmis se oproep gereageer het. Die psalmis het nog nie God se optrede gesien nie, maar dit gehoor. Gaan weg van my almal wat onreg pleeg, want die Here het gehoor hoe hard ek huil. Die Here het my smeking gehoor, die Here aanvaar my gebed. Die gevolg van die Here wat die psalmis se pleidooie gehoor het, is dat die teenstanders beskaamd staan – hulle is heeltemal vreesbevange. Hoekom is die psalmis se teenstanders beskaamd en vreesbevange? Hulle basiese godsdiensperspektief is verkeerd.

 

Wat ons uit hierdie psalm leer, is dat die Here sulke gebede hoor en daarop reageer.

 No one who has not been profoundly terrified and forsaken prays profoundly  – Martin Luther.

 

 




Wat is armoede?

 

The beauty of the gospel is that while we were infinitely sinful we were also unfathomably loved. —Erik Raymond

 

Wat is armoede?

Ons hoor dikwels die woord armoede. As ons dit hoor flits ‘n aantal beelde voor ons verby: ‘n hawelose man wat op straat woon; ‘n kind sonder skoene wat in die strate ronddwaal; ‘n werklose weduwee in ‘n krotbuurt. Ons wil graag help, maar goeie bedoelings help niks nie, omdat ons glo dat armoede is ‘n gebrek aam materiële dinge soos geld, kos en behuising. Daarom gee ons hierdie dinge vir diegene wat arm is. Dit hanteer net die probleme en simptome van armoede. Ons moet versigtig wees om nie mense van skenkings afhanklik te maak nie.

 

Hier is ‘n paar dinge om te onthou:

  • Ons is almal op een of ander wyse arm. God het ‘n volmaakte wêreld gemaak, maar die sondeval het ons verhouding met God, ander mense en die skepping geskend. Almal van ons is in wese arm, want ons ondervind nie die volheid wat God vir ons bedoel het toe Hy die mens gemaak het nie. Vir ons neem ons armoede dikwels die vorm van materialisme en die begeerte om “God te speel” aan.
  • Jesus het gekom om die gebrokenheid wat tot armoede lei, te genees. Die goeie nuus is dat deel van Jesus se sending op aarde was om die evangelie aan die armes te verkondig. God versoen alle dinge deur die werk van Jesus Christus. Hy genees armoede in almal van ons. Daarom is verkondiging van die evangelie deel van die verligting van armoede.
  • Ons gemeentes en bediening moet deur nederigheid gekenmerk word. Ons mag nie diegene wat materieel arm is met ‘n gesindheid van meerderwaardigheid benader nie. Ons hanteer hulle so dikwels soos projekte wat reggemaak moet word.. Ons vergeet ons eie afhanklikheid van God se genade en in die proses vererger ons net die armes se skaamte en hulpeloosheid. Die oomblik wat ons besef dat ons self arm is, kan ons diegene wat materieel arm is waarlik help. Beide helpers en dié wat gehelp word, sal dan verstaan dat God hulle liefhet, dat hulle menswaardig is, want hulle is na die beeld van God gemaak. Dan besef ons mense is gemaak vir gemeenskap met mekaar en dat hulle rentmeesters van die skepping is.

 

As ons aan armoede dink, moet ons altyd ons eie afhanklikheid van Christus onthou – Hy moet ons lewens herstel. Ons sien nie meer ons hulp aan armes as ons poging om hulle uit hulle armoede te trek nie. Inteendeel, ons besef dat ons langs hulle loop en ons sê vir hulle: “Ek is gebroke en jy is gebroke. Ek het Jesus Christus gevind, die enigste een wat ons beide kan genees.”